Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 11

KAN NIE KLA NIE

Оглавление

Die een gedig in Loftus Marais en Heilna de Plooy se Nuwe stemme 5-bloemlesing wat ek wens ek geskryf het, is Desmond Painter se “Aanvaarding”:

Ek aanvaar die lewe waarin ek gebore is.

Ek aanvaar my gesig, die kleur van my vel.

Ek aanvaar hier en daar, ek aanvaar

Brackenfell, ek aanvaar die tong wat toeval

vir my uitgesteek het, al die kwynende klanke.

Ek’s ’n man en ek aanvaar dit. Getroud, kinderloos

nog aanvaar ek, soos dat ek bogronds dwaal

maar ondergronds dood sal wees.

Ek aanvaar die slae van die lewe:

die fronsende gesig, die tewerige tong.

Ek aanvaar die bedelaar en die honger kind.

Daar’s ’n oorlog, ek aanvaar dit; die bittereinder,

die vredesduif, die koerantverkoper,

en elke slaaf van God aanvaar ek.

Kontinente en valleie, koepelsvol son.

Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar.

Painter se gedig is geskoei op “Acceptance” van die Turkse digter Ziya Osman Saba, maar soos ’n geïnspireerde cover-weergawe van ’n liedjie verstel hy die klem en die perspektief treffend. Saba se vers gaan oor essensiële magteloosheid en die menslike toestand; Painter s’n meer spesifiek oor die (oorwegend wit) Suid-Afrikaanse middelklasvariant van dieselfde toestand.

Die groot, spesifieke en allesbepalende verskil tussen Saba en Painter se verse lê in “ek aanvaar / Brackenfell, ek aanvaar die tong wat toeval /vir my uitgesteek het”. Die woord Brackenfell roep immers ’n hele wêreld en waardestelsel op vir enigiemand wat vertroud is met die noordelike voorstede van Kaapstad en die lewe agter die Boereworsgordyn. En soos die Nobelpryswenner Czesław Miłosz dit in The Witness of Poetry beklemtoon: “Ons konfronteer en begryp die menslike toestand met medelye en verskrikking nie in abstrakte terme nie, maar altyd met betrekking tot ’n gegewe plek en tyd, in een spesifieke provinsie, een spesifieke land.”

En ’n mens kan seker byvoeg: binne een gegewe sosio-ekonomiese klas en geslag. Of soos Painter dit tweeduidig stel: “Ek’s ’n man en ek aanvaar dit.”

Maar dié lakonieke vers se titel is “Aanvaarding” nie “Gemoedsrus” nie en die ontstemmende trefkrag lê in die suggestie van tierende frustrasie wat onder al dié teësinnige berusting lê. Dit het my met die eerste lees dadelik herinner aan dié een passasie uit Douglas Coupland se debuutroman Generation X (1991) wat my al twintig jaar lank bybly: “Ek kry die gevoel ons emosies, hoe wonderlik ook al, verdamp in ’n vakuum, en ek dink dis omdat ons middelklas is. Want sien, as jy middelklas is, moet jy saamleef met die feit dat die geskiedenis jou gaan ignoreer; nooit ’n kampvegter vir jou saak gaan wees nie en nooit vir jou gaan jammer voel nie. Dit is die prys wat jy betaal vir daaglikse gemak en stilte. En as gevolg van hierdie prys, is alle geluk steriel; bly alle hartseer onbeklaag.”

Aan die een kant oordryf Coupland natuurlik. Die wêreld se biblioteke en kunsgalerye kreun onder die klassieke boekstawing en uitbeelding van middelklaspyn, -ekstase en -versugting. En tog verstaan ek – en Painter se gedig – presies wat hy bedoel. Daar gaan nooit ’n middelklasantwoord op James Brown se “Say it loud: I’m black and I’m proud” wees nie; nooit ’n middelklastreffer met die hondsdol intensiteit van die Sex Pistols se punkkreet “Anarchy in the UK” nie. Middelklas kan nie die skouspelagtige dramatiese ironie van ’n Marie Antoinette troef nie en ook nie ’n martelaar soos Hector Pieterson of ’n held soos Mandela oplewer nie.

’n Wit middelklasman van ’n Brackenfell kan hom slegs as slagoffer binne die breër Suid-Afrikaanse konteks sien indien hy bereid is om bitter baie geskiedenis en statistieke te ignoreer; óf as hy in die geloof lewe dat kruipende, onmenslike armoede miljoene mense se verdiende loon is en hý die sondebok is wat aan die ontvangkant van ’n ideologiese sameswering staan. “We are the Champions” van Queen kan hy egter ook nooit uit volle bors met volle oortuiging sing nie. Selfs al het hy kennelik soveel om voor dankbaar te wees, voel hy allermins na die kaptein van hierdie skip of sy eie lot.

Vir die wit middelklas in Suid-Afrika is aanvaarding al genade en ek aanvaar – aanvaar dat arm mense my nie gaan jammer kry nie, ryk mense nie sal verstaan nie en middelklasmense uit die Eerste Wêreld eerder geïnteresseerd is in die stories van voorheen benadeelde Suid-Afrikaners; aanvaar dat daar nie ’n Oscarwenner-fliek of selfhelpboek van my lewe te maak is nie en ek eenvoudig myself sal moet jammer kry op maniere wat so min moontlik aanstoot gee.

Ek aanvaar die Edgars-rekening, die Thank U-kaartbonuspunte, die egskeidings, berading, antidepressante, buitensporige regskoste, gemoedelike bring-en-braais, paaiemente, petrolprysverhogings en oproepe van gemagtigde finansiëlediensverskaffers. Ek aanvaar die onverwagste oomblikke van verblindende skoonheid en vreugde saam met al die klein bekommernisse wat my laat wakker lê in my sagte, warm bed. Ek aanvaar graag die plastiekglasie wyn wat die lugwaardin my met ’n vals glimlag bedien hier in die ekonomiese klas van die geskiedenis-Boeing.

Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar – ook dat ek nie op my louere kan rus nie. Daar’s nie ’n Middelklas Anoniem waar aanvaarders kan gaan aansluit nie. Dis nie ’n uitgemaakte saak soos alkoholisme nie maar ’n taai promosie / relegasie-wedstryd. Die driester-kaartehuishotel van middelklas is nie verniet nie en daar’s ’n wilde ekonomiese rukwind wat waai.

Ek sal bleddie hard moet werk vir die voorreg om in hierdie prekêre posisie te loseer.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх