Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 13

HOOR MY BRUL

Оглавление

As jy verstom saam met Shakespeare se Hamlet wil uitroep: “What a piece of work is man!” hoef jy nie verder as ons popkultuur te soek nie. Dis alles dáár in die lirieke van ons grootste poptreffers.

“Wat sê hulle nou, Pappa?” is waarskynlik die vraag wat ek vanjaar die meeste moes beantwoord, want Lea, my dogtertjie van vyf, het ernstig begin belangstel in sekere liedjies. “The Eye of the Tiger” van Survivor was een van die lirieke wat ek moes uitlê nadat dit in Turbo – die animasieprent oor ’n onwaarskynlike ren-slakkie – gebruik is en sy dit gereeld in die motor begin versoek het.

“As jy wil wen, moet jy ’n oog soos ’n tier hê,” het ek probeer verduidelik.

Lea het daaroor gedink en met ’n ernstige frons gesê: “Maar ’n mens kan nie ’n oog soos ’n tier hê nie.” Toe haar maatjie Sam egter ’n volgende keer saamry en Survivor weer Rocky se temalied deur die luidsprekers jaag, het sy vir hom skoolmeesterlik my verduideliking van die refrein herhaal.

En toe tref Katy Perry se “Roar” haar. Op YouTube kyk sy oor en oor die video van Katy wat in haar Sheena-koningin-van-die-oerwoud-pakkie al wat ’n man en wilde dier is wegbrul. Die lirieke sing sy woord vir woord uit volle bors saam en natuurlik veral die refrein:

I got the eye of the tiger, a fighter, dancing through the fire

’Cause I am a champion and you’re gonna hear me roar

“Ek is ’n tier, Pappa” verklaar sy wanneer ek geamuseerd met haar in die truspieëltjie oogkontak maak. En dan dink ek aan ons wilde wêreld en die dapper muis op die agtersitplek in haar Hello Kitty-hemp en ek reken Anton Tsjechof was, soos gewoonlik, reg: “Selfs in Siberië is daar geluk.” Hy was ook reg toe hy in “Across Siberia” opgemerk het: “In Siberië brul nie net die bere nie, maar mossies en muise ook. ‘Die kat het hom gevang en hy brul,’ sê hulle van ’n muis.”

“Roar” herinner my nie net aan Tsjechof en Katy se eksman, Russell Brand, nie (“Roar” is glo geskryf nadat Perry terapie ontvang het om hul mislukte huwelik te verwerk), maar ook aan ’n essay van Chuck Klosterman in Sex, Drugs and Cocoa Puffs. In “Toby over Moby” wys Klosterman daarop dat die meeste toptreffers se woorde vir gewone mense tel, en bitter baie ook. Kultuursnobs glo volgens hom poplirieke is: “(a) heeltemal irrelevant of (b) slegs relevant indien dit moeilik verstaanbaar is”. Maar, sê hy, dis nie hoe gewone mense dink nie – gewone mense wil meesal presies verstaan wat kunstenaars sê en dit word duidelik wanneer jy sien watter liedjies regtig inslaan buite hipsterneste soos New York, LA en Seattle.

Die meeste mense, reken Klosterman, droom nie daarvan om soos intellektuele, boheme of kunstenaars hul lewe in iets dramaties, cool of metafories te transformeer nie. Hulle sien hul lewe as ’n werk wat hulle moet afhandel. Hulle wil hê hul lewe moet eenvoudiger wees as wat dit reeds is; dat hierdie lewe, anders as ’n goeie, genuanseerde gedig, net een betekenis moet hê.

Wanneer hulle dus droom van ’n beter bestaan, is dit óf geheel en al verbeelde versugting (soos die waansinnig gewilde countrysanger Toby Keith se 19de-eeuse Lone Ranger-fantasie), óf dis die uitdrukking van ’n verbete praktiese finansiële of emosionele behoefte. Dink byvoorbeeld aan Whitney Houston se enorme treffer “I Want to Dance with Somebody (Who Loves Me)”.

Klosterman kom tot die slotsom die rede hoekom country-popsterre soos Garth Brooks en Shania Twain al ongeveer 120 miljoen meer plate as Bob Dylan verkoop het, is nie omdat musiekkopers almal ’n klomp volslae idiote is nie. Dit is omdat Brooks en Twain beter daarin geslaag het om die menslike toestand onder woorde te bring: “Hulle mag minder talentvol wees, maar hulle verstaan meer mense.”

En nou’s ek in die versoeking om saam met Klosterman te sê ek het darem een ding met die groot Bob Dylan gemeen: Nie een van ons verstaan die mensdom nie.

Maar dit sou ’n halwe waarheid wees. Ek en baie van die grootste treffers verstaan mekaar uitstekend in al ons ingewikkelde, doodgewone menslike eenvoud – nes “Roar” my dogtertjie en miljoene ander begryp wat klein, onderdruk en magteloos voel.

Dit het ek deeglik besef by Neil Diamond en U2 se konserte toe ek saam met die hele Kaapstad-stadion “I am I said to no one there” en “I still haven’t found what I’m looking for” gesing het. En toe Bruce Springsteen met “Dancing in the Dark” op sy eerste Kaapse konsert laat waai, het ek geroar nes Katy en klein Lea, maar niemand het my gehoor nie, want duisende ander het saam met my gebrul: “I wanna change my clothes, my hair, my face”. En: “You can’t start a fire worrying about your little world falling apart / This gun’s for hire / Even if we’re just dancing in the dark”.

Ek vermoed Shakespeare en Tsjechof sou ook saamgesing het.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх