Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 19

IN DIE HAAI KAROO BEGIN JY WEER WONDER OOR ALLES

Оглавление

“Is ons nog die goeie ouens?”

In ’n tipiese western of die gemiddelde misdaadreeks op TV gaan niemand twee keer oor die antwoord dink wanneer een van die “goeie ouens” daardie vraag stel nie. Maar in die middel van Cormac McCarthy se Pulitzer-bekroonde postapokaliptiese roman, The Road (2006), galm daardie vraag soos ’n doodskoot. Die seuntjie wat só vra, is immers besig om saam met sy pa te dwaal oor ’n verskroeide aarde. Sy siek en al swakker wordende vader stoot hul laaste paar besittings in ’n ou supermarktrollie in ’n pad na nêrens. Alles lê onder ’n vaal laag as. Daar is geen elektrisiteit, werkende stede of infrastruktuur meer nie. Mense trek in kannibalistiese klein rowerbendes heen en weer op soek na enige vorm van kos en skuiling. Alles en almal wat die pa en seun teëkom, moet noodgedwonge geklassifiseer word as skadeloos, potensieel dodelik of van moontlike hulp in ’n nodelose stryd om oorlewing. Wanneer die pa dus sê: “Ja. Ons is nog die goeie ouens,” is sy antwoord so betekenisloos soos sy kind se vraag.

Dít het ek opnuut met ’n vreemde mengsel van skrik en verwondering besef op vakansie in die diep Karoo. Ons (ek en my lewensmaat en ons twee kinders van ses en sewe) het ’n paar nagte oorgebly in die korbeelhuisie op Droogeputs, ’n plaas tussen Williston en Carnarvon wat eens Johan van Rooyen, stigterredakteur van die De Kat-tydskrif, se geliefde Karoo-wegbreekplek was.

Korbeelhuise is tussen 1825 en 1875 deur pioniersboere in die Hantam-Karoo gebou. Dis ’n soort lae rondawel met baie dik mure en klein vensters – die soort skuiling wat jy prakseer wanneer jy jou soos die destydse setlaars in ’n byna boomlose omgewing sonder hout of dekriet bevind en klippe, dieremis en gras jou enigste boumateriaal is.

Op die tweede aand van ons verblyf was my sesjarige dogtertjie vuurwarm en slap van ’n grieperige koors. Terwyl daar nog in die plaasopstal gekuier is, het ek haar in die bed gaan sit langs ’n piepklein venster op die ysige, sterbesaaide winternag. Sy was knieserig en angstig. Ek het langs haar gaan lê tot sy met hortende asemhaling ingesluimer het; gelê en staar na die duiselingwekkende Melkweg buite my patryspoort op die heelal. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd was ek sonder selfoonsein en elektrisiteit in die middel van nêrens. Die afsydige Suiderkruis het nader gevoel as Kaapstad se see van nagliggies, nooddienste en swart snelweë.

In daardie korbeelhuisie se skamele skuiling langs my vurige dogtertjie kon ek my voorstel met watter kinderlike gebede ’n pionier sou pleit om die lewe van ’n kleintjie met maagkoors so ver van alle hulp.

Twee reëls uit Bruce Springsteen se “Hunter of Invisible Game” het aangemeld terwyl ek na Lea se effe benoude asemhaling lê en luister het: “Strength is vanity and time is illusion / I feel you breathin’, the rest is confusion”. Springsteen het hierdie liedjie op High Hopes (2014) blykbaar geskryf na aanleiding van die einste McCarthy se The Road – ’n boek wat ook die Boss deeglik geskud het.

In so ’n korbeelhuisie in ons wye, droewe land word dit moeilik om ’n duidelike idee te vorm van wie “ons” en die “goeie ouens” is; in ’n genadelose stryd om oorlewing vervaag kategorieë soos “goed” en “kwaad” in ’n waas van wilde vrees om eiebehoud. In so ’n pioniershut langs ’n siek kind op ’n snerpende Karoonag kan jy verstaan hoekom geslagte wit, swart en bruin ouers in hierdie land vir hul nageslag vertel het: “Ons is die goeie ouens,” terwyl hulle eintlik bedoel het ons gaan hopelik hierdie nag oorleef en verder sukkelend voortbestaan op hierdie woeste aarde.

Vreemd hoe ons op ’n gewone Saterdagoggend met ’n kind in die supermarktrollie deur een of ander enorme inkopiesentrum kan dwaal, ingestel op morsige, omgewingsverwoestende verbruik, maar diep onder die indruk dat ons die “goeie ouens” of ten minste onskuldig is.

Terwyl ek so wonder oor trekboere, kwynende natuurlike hulpbronne, die verbruikerskultuur en ’n moontlike armageddon, skrik klein Lea ylend wakker.

“Pappa! Pappa!” roep-huil sy. “Waar is jy?” vra sy verward.

Vir ’n oomblik weet ek self nie.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх