Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 14

DIE VIDA E-CAPPUCCINO-BLUES

Оглавление

“So, jy wil regtig nie ’n hipster-haarsnit hê nie?” vra die haarkapper gemoedelik nadat ek die eerste keer in drie jaar my hare in die Kaapse middestad laat sny. “Nee, regtig nie,” antwoord ek effe verbaas oor die vraag.

“Ek glo jou,” sê sy asof sy haar solidariteit met my in ’n lig beledigende kompliment verklaar. Sy lyk om en by veertig met gitswart gekleurde hare. Só asof sy ook in die 1990’s laas jonk en werklik oor haar haarstyl en klere begaan was. Jethro Tull se 1976-albumtitel, Too Old to Rock ’n’ Roll, Too Young to Die, som ons twee in ons generiese jeans en T-hemde netjies op. “Jy weet,” sê sy, “as ’n jong ou vra ek moet vir hom asseblief net nie ’n hipsterstyl sny nie, dan weet ek presies wat hy wil hê. Dan gee ek hom ’n absolute hipster-haarsny – kort aan die kant met ’n rockabilly-Elvis-eendstert bo – en hy gaan doodgelukkig huis toe.”

Hipsters in stede is nie ’n nuwe verskynsel nie – Robert Lanham se satiriese gids, The Hipster Handbook, het al in 2003 verskyn. Dit het net besonder algemeen geword om hipsters te verpes – almal van my ouers tot ek en my Generasie X-vriende tot die ambassadeur van zef, Jack Parow, is deesdae dik geïrriteerd. In “Eksie Ou” spot Parow só met die Moederstad se hipsters wat in plekke soos Power and Glory, Superette en & Union uithang:

ons dra brille sonder lense, bly in open plan flats

vol bal-en-klou-tafels en opgerolde yoga mats

side path hairstyles en sailor tattoos

ons facebook vol geplak van foto’s van ons shoes

rook net tabak deur ou-oom-pype

dit proe dalk soos kak ma’ dit lyk baie greater

nog ’n kak fotograaf, nog ’n Ice fokken model

nog ’n graphic designer, nog ’n Valpré-bottel

vintage fokken klere, ryk soos homeless shelters

probeer almal different wees, ma’ lyk die fokken selfde

praat met ’n aksent ma’ kom van die Kaap af

jy kan ons drop in ’n music video straight vannie straat af

ons is almal self-conscious omdat niemand ons onthou nie

Maar wat is dit aan die geaffekteerde hipster met sy effe aangeplakte groen houding, musiek-, koffie-, kos- en biersnobisme en boheemse pretensies wat mense so vreeslik laat kriewel?

Dalk is dit omdat ons besef die selfbewuste hipster met sy voorliefde vir vintageklere, Apple-produkte, retrobromponies, sy geloof in individualistiese antiverbruikerskultuur-verbruik is ’n soort verpletterende parodie van simboliek en die moontlikheid van betekenis. Hipsters herinner implisiet hoe kosmeties en hol byna alle tendense en fenomene is wanneer jy dit van nader bekyk.

Jack Parow weet hy hou hom simpel en speel ’n rol, maar hipsters lyk belaglik terwyl hulle blykbaar glo hulle is almal ’n paar treë vooruit. En hulle lyk nie belaglik in die naam van een of ander saak nie. Almal het geweet waarvoor en waarteen die eendsterte, hippies of punks gestaan het, maar hipsters staan vir niks nie behalwe om in die regte plek vir die korrekte koffie te wag. Hul anti-mode verskyn as ’n soort stedelike lugspieëling; ’n groot, volkome leë gebaar; ’n vertonerige fasade sonder ’n gebou.

Die hipster se absurditeit rus op die aanname dat stilistiese verskille werklik belangrik is; dat stylvoorkeure en smaak reële gevolge het; dat die verkeerde antihoofstroom-styl dus as ’t ware moreel verwerplik is soos die eet van ’n vis op die rooi lys. Hipsters wys ons die meeste subkulture is in der waarheid smaakkulture.

Maar toe kom ek tot ’n nuwe insig nou die oggend in ’n Kaapse koffieplek. Terwyl ek by Vida e Caffè wag vir ’n wegneem-cappuccino, sien ek ’n hipster met ’n sorgvuldig gestileerde woeste baard en ’n bolla (!?) in sy lang hare.

Net voor ’n nare hipster-allergie my oorweldig, tref dit my: Ek leef in ’n gerusstellende simbiose met Kaapstad se hipsters. Hulle maak my bly, selfs innig dankbaar, dat ek 42 en al minder gespin is en ek laat hulle jonk en hip voel. As toegewyde rock ’n’ roll slacker in my twintigs met my lang grunge-hare, leerbroek en oorbelle het ek waarskynlik ’n soortgelyke guns aan ouer generasies bewys, maar by terugskoue was dit nie ’n plesier nie. Dit was harde werk om so selfbewus verlore te wees.

Ek sal egter wat wou gee om weer soos die regte man op die regte plek te voel terwyl ek vir hopeloos te duur wegneemkoffie staan en wag.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх