Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 8

DIE GROOTSTE KOMEDIE NOG?

Оглавление

“Ghostbusters is die grootste fliek tot nog toe en nie Star Wars nie,” verklaar die Britse joernalis, TV-persoonlikheid en kultusfiguur Caitlin Moran in haar onderhoudende rubriekbundel Moranthology (2012).

Erg soos ek is oor min of meer enige fliek met Bill Murray in, is dit moeilik om haar stelling ernstig op te neem. Die topverkoperskrywer van How To Be a Woman (2011) het egter ’n paar punte beet.

Sy wys daarop dat Ghostbusters in 1984 $229,2 miljoen (meer as 2 miljard rand) by die loket verdien het, wat dit die mees suksesvolle komedie ooit maak en, beklemtoon sy, komedie is die koning van alle genres. Ja, daar is diegene wat sal redeneer kuns moet klinkende waarhede oor die menslike toestand onthul, en dit kan ook, soms, as dit wil, maar hoeveel diep insigte in die menslike natuur het jy in een leeftyd nodig, vra sy.

“Sodra jy besef niemand het eintlik ’n idee wat hulle besig is om te doen nie en dat liefde geheel en al sinloos kan wees, raak enige verdere insigte in die menslike aard regtig terneerdrukkend.”

Ja, hoe ouer jy word, hoe wilder woed die werklikheid buite én binne jou huisie van strooi. Sekere flieks, musiek en boeke begin dan eerder na tweedehandse trauma as verheldering voel. Ek het juis onlangs die hoogaangeskrewe The Stoning of Soraya M van my PVR afgevee, want ek kon my eenvoudig nie ’n aand voorstel waarop ek kans sou sien om te kyk na die “ware verhaal” van ’n vrou wat gestenig word deur fanatiese godsdienstige fundamentaliste nie. Ek verstaan ook al hoe beter hoekom ons geteisterde mense Leon Schuster se platvloershede en poetse verkies bo die seweuurnuus of die jongste bekroonde dog triestige drama met onderskrifte. Toe my ma ná ’n breinbloeding in die waaksaal gelê het, was Molly en Wors al televisie wat ek en my pa kon verteer.

Dit is eintlik ’n eienaardige fenomeen dat kritici so dikwels net kunswerke wat “gewaagd”, “skrikwekkend” of “gevaarlik” is as noodsaaklik ag. Is hierdie obsessie met gevaar nie bloot ’n luukse wat deur vrede, welstand en oor-opvoeding moontlik gemaak word nie?

Volgens Moran, het ons – veel eerder as insigte in die ongeneeslike ou menslike toestand – “amusante, triviale sêgoed nodig, wat soveel mense moontlik in ’n vertrek so ontspanne en gulhartig moontlik laat voel”.

En in hierdie opsig, reken sy, is Ghostbusters ’n wenner. Wanneer iemand, sê nou, reken jy vang iets onverantwoordeliks aan, veral in die kombuis, sê jy eenvoudig: “Back off, man – I’m a scientist.” Wanneer jy ’n ete voorberei en wonder oor die tafelplasing, onthou: “Never cross the streams.” Wanneer jy met platsakvrinne aansit vir ’n laatnag-wegneemete, lig jy jou blikkie bier en sê: “This magnificent feast represents the last of the petty cash.”

Moran skryf natuurlik spottenderwys, maar dit is dikwels flieks met die mees aanhaalbare dialoog wat die grootste kultusaanhang geniet. ’n Goeie aanhaling, veral wanneer dit effe absurd buite konteks ingespan word, skep nie net ’n gesellige atmosfeer nie – dit verleen ook ’n tikkie waardigheid aan die aanhaler en laat hom/haar ’n oomblik in beheer voel van ’n lewe wat die meeste van ons gereeld oorweldig en magteloos laat steier.

Maar Ghostbusters is nie in hierdie opsig die grootste komedie ooit nie. Daardie eer moet die Coen-broers se meesterstuk The Big Lebowski (1998) toekom. Tussen The Dude (gespeel deur Jeff Bridges) en sy kegelbal-kameraad Walter (John Goodman) is daar genoeg aanhalings om hierdie hele vreemde lewe met waardigheid op sy plek te sit. In Amerika kan ’n mens selfs as ’n Dudist-priester kwalifiseer en mag jy daarna mense in die huwelik bevestig. (Google gerus “Dudeism” of “The Church of the Latter-Day Dude” as jy wil sien hoe ernstig sommige mense dié storie opneem.)

Want die Dude en sy onambisieuse kegelbalmal vriende het ’n semi-Taoïstiese, half-hippierig-gelate antwoord op alles.

Wanneer iemand jou aan die strot wil gryp en jou intiem persoonlik beledig, antwoord jy rustig: “Yeah, well, you know, that’s just, like, your opinion, man.”

Wanneer dit tyd is om grense neer te lê – privaat of by die werk – sit jy jou sonbril op en sê: “I do mind, the Dude minds. This will not stand, ya know, this aggression will not stand, man.” Of jy haal vir Walter aan: “This is not ’Nam. This is bowling. There are rules.”

Wanneer konflik onafwendbaar bly, onthou jy Walter se woorde aan die stomme Donny (Steve Buscemi): “Pacifism is not something to hide behind.”

Wanneer die pôpô die goedkoop tafelwaaier op jou bedkassie tref, gebruik jy die woorde van die sogenaamde “Stranger”: “Sometimes you eat the bar and sometimes, well, the bar eats you.”

Wanneer die lewe of jou baas jou dwing om iets onaangenaams en vernederends te doen, behou jy jou waardigheid deur te verklaar: “The Dude abides.” En as alles regtig te veel raak, sê jy: “Dude, let’s go bowling.”

Woody Allen was waarskynlik reg toe hy geskerts het: “Life doesn’t imitate art, it imitates bad television.” Juis daarom het ons die teengif van oneerbiedige, vergewensgesinde komedies soos The Big Lebowski (en selfs Schuster) net so nodig soos goeie skole en meer werksgeleenthede. Maar ignoreer gerus – dit is maar net my mening, man.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх