Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 7

“EK IS JOU VADER”

Оглавление

Party liedjies bly jou by soos tatoes – die Cowboy Junkies se “A Horse in the Country”, byvoorbeeld. ’n Strofe uit daardie ballade van hul wonderlike vierde album, Black Eyed Man (1992), is met ’n passer in die kougombeplakte skoolbank van my hart uitgekrap:

And all my friends have settled down

become their mothers and their fathers

without a sound

Except for Cathy,

she bought a one-way subway ticket

and left us all behind

Dié strofe neem my oombliklik terug na iemand wat ek was, of liewer wou wees. Ek en my beste vriende het daardie hele plaat uit ons kop geken toe ons studente was, en ons was almal destyds oortuig dat ons Cathy sou wees. Douglas Coupland se debuutroman, Generation X (1991), het ons diep beïndruk. Ons het ons skeptisisme en allesverterende ironie daarin erken, uitdagend oorbelle ingeskiet en/of hare lank en deurmekaar gedra, swart leerbroeke begeer en in Europa gaan sukkel omdat ons eenvoudig moes wegkom van al die leuens wat ons ouers so skynbaar heel gesluk het – nie net apartheid nie, maar die hele calvinistiese ding van jou sweet, bloed en beste gee vir die vrot maatskappy so asof jy jou sieldodende, ondankbare werk eintlik vir die koninkryk in die hemel doen. Wat, behalwe backpacker-toere, presies ons plan was met die goor, sieldodende en ondankbare joppies wat ons in oorsese fabrieke en restaurante gaan doen het, was onduidelik. Net een ding was seker: Ons wou geen goue horlosie vir getroue diens aan ’n bankrot idee hê nie. Nee, ons was die mense vir wie Beck so lekker gesing het: “I’m a loser, baby, so why don’t you kill me?”

Die wortel van hierdie houding van Generasie X, gebore tussen 1965 en 1975, vind jy volgens die Amerikaanse popfilosoof Chuck Klosterman treffend weerspieël in The Empire Strikes Back (1980) – die (destyds) tweede fliek in George Lucas se Star Wars-reeks. Daardie rolprent, waarin die goeie ouens nie net romanties nie maar ook polities verloor, is integraal aan die X’ers se lewensuitkyk, meen Klosterman in sy spitsvondige essaybundel Sex, Drugs and Cocoa Puffs – A Low Culture Manifesto (2003).

Luke Skywalker was volgens hom die oorspronklike X’er. Later, in ons twintigs, wou ons die koel-ironiese smokkelaar-huursoldaat Han Solo wees, maar ons het die neulerige, opreg gewroegde Skywalker reeds as kinders verinnerlik. Wanneer jy as agtjarige The Empire Strikes Back sien, is die slot verpletterend. In daardie “lightsaber”-tweegeveg aan die einde word Luke deur Darth Vader verneder – “Darth Vader beats Luke the way Ike used to beat Tina [Turner].” Luke is ’n held wat veg teen elke ideologie wat hy haat, pak slae kry en aan die einde van sy nederlaag deur Vader vertel word: “I am your father”.

In hierdie toneel stel Luke se aartsvyand-vader hom voor ’n keuse: Hy kan aanhou om ’n waarskynlik hopelose oorlog te voer, of hy kan sy beginsels verraai en by sy pa aansluit in ruil vir skouspelagtige sukses.

“Vele jong gegradueerdes,” skryf Klosterman, “staan voor ’n soortgelyke keuse, en dié wat as ‘verantwoordelik’ beskou word, slaan noodwendig die laasgenoemde weg in. Maar ’n agtjarige sal nooit uitverkoop nie. […] En wat fassinerend is van die X’ers is dat soveel van hulle wel probeer het om getrou aan hul beginsels te bly.”

Alles wat destyds oor die X’ers geskryf is – positief én negatief – was waar, meen Klosterman:

“Mense in hul twintigs het in die 1990’s die tradisionele Amerikaanse leefstyl verwerp omdat (a) hulle slim genoeg was om te besef daardie waardes is onbevredigend en (b) hulle bleddie lui was. Mense in hul twintigs het in die 1990’s ’n album soos Nirvana se Nevermind omhels omdat (a) dit ’n aanklag teen die sinloosheid van die Reagan-era-paradigma was en (b) dit eenvoudig gerock het. Mense in hul twintigs was in die 1990’s oorwegend terneergedruk oor die toekoms, hoofsaaklik omdat (a) hulle geweet het daar min is om na uit te sien en (b) omdat hulle so graag obsessief in die oë van hul eie selfgesentreerde weltschmerz gestaar het.”

Maar dis nou twee dekades later en ek’s seker daardie fiktiewe Cathy word nes al my ou vriende en nes hul ouers voor hulle deur die sorge van die lewe verdruk. Rebellie of selfverwesenliking is eintlik nie nou meer ’n opsie is nie – daar is kinders om groot en geleerd te maak, terminale siektes om te vrees, verbande om af te betaal en ouer, brose geliefdes om te versorg en te begrawe.

Dat die oorweldigende, waansinnig komplekse toekoms toe geen grap of roostuin was nie, is duidelik. Wat die blote feit dat ons dit voorspel het, ons in die sak gebring het, is egter nie duidelik nie. Ons het net die fotoalbums wat bewys lewer van die eksotiese backpacker-toere.

Ek het toe wel nie in my ma of pa verander nie – my lewe is baie meer chaoties as hulle s’n ooit was. My pa was ook nooit Darth Vader nie. Die man met die swart suurstofmasker was immers maar net ’n intimiderende pion van die Empire. En daardie Empire van turbokapitalisme en transnasionale korporasies was in my pa se tyd al te magtig om deur enige rebellegroepie of enkele dwarstrekker tot ’n val gebring te word. Al wat die Empire nou nog kan (en waarskynlik gaan) kelder, is sy eie blinde, hulpbronverterende en mensveragtende logika van profyt.

Tot tyd en wyl braai ek dus maar en brom vir die seweuurnuus, soos my pa my geleer het.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх