Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 16

DIE SKOENE MOET JY DRA

Оглавление

“Pa, ek wil ’n kunstenaar word,” is woorde wat ek ys om eendag te hoor.

Ek verkneukel my weliswaar daarin wanneer my vyfjarige dogtertjie met ’n wilde entoesiasme vir tekengoed vra; wanneer sy gloeiend vir my haar bont prente wys en uitlê; wanneer sy verdiep raak in goeienagstories, obsessief raak oor flieks of liedjies of sonder waarskuwing in ’n vuurspuwende pers drakie verander.

Maar ek ken so baie kunstenaars en dromers wat teen veertig in teleurgestelde romantici verander het; sjarmante, talentvolle mense wat vanweë ’n sameloop van ongelukke, verspeelde kanse, markkragte en die wet van gemiddeldes eenvoudig nie daarin kon slaag om hulself te verwesenlik of geld te maak in die proses nie.

En nee, geld maak nie noodwendig gelukkig nie, maar ’n uitsiglose gespartel maak bitter, en wanneer die middeljare jou tref, besef jy deeglik niks behalwe geld kan op hierdie aarde die honger op ’n afstand hou of jou loskoop van ’n stelsel wat op al jou tyd beslag lê nie.

Om ’n droom uit te leef wat geen gemoedsrus of gemak kan koop nie ontaard in ’n nagmerrie – al sê die selfhelpboeke wat. En om ’n bestaan te maak uit kuns is enkelinge beskore.

Stel dit so: As geluk afhang van realistiese verwagtinge en sukses afhanklik is van hoe groot jy droom, is daar ’n probleem. Want as geluk die somtotaal is van die werklikheid minus verwagtinge, kan die droom van suksesvolle kunstenaarskap nie anders as om in 99 persent van gevalle op ’n minusgetal in die gelukafdeling te eindig nie.

Dan is daar nog al die ander gevare: Hoeveel kunstenaars raak nie verlief op hul eie pyn of hopeloos selfbehep ten koste van verhoudings of die day jobs wat later al genade word nie? En hoeveel ander raak nie sinies en sielsmoeg wanneer hulle ter wille van finansiële oorlewing uitverkoop en hulself in kommoditeite verander wat hulle self nie sou koop nie?

Die Amerikaanse skrywer James Baldwin het dit mooi saamgevat: “Die prys wat ’n mens betaal vir die najaag van enige beroep of roeping is intieme kennis van daardie strewe se donker kant.”

Hoekom ’n mens jou vrywillig op ’n pad sou begewe wat jou gedurig in voeling dwing met die dikwels ondraaglike menslike toestand en die soektog na ’n ewig ontwykende waarheid wat jy nog moet probeer verkwansel, het vir my ’n raaisel begin word.

Maar toe gaan luister ek na Kris Kristofferson in die Kaap se GrandWest Arena en daar verstaan ek weer hoekom mense bereid is om hulle dood te bloei en broodgebrek te ly vir kuns. Want kyk, wanneer jy iets skep wat waaragtig waar is en hóú, systap jy vir ’n transendentale oomblik of twee die vergetelheid. In Goodwood het ek gesien hoe ’n brose ou man van 77 deur sy eie brose woorde, dronk deuntjies en vals note huis toe gedra en vir alles vergewe word; hoe hy kuns soos asem in sy longe trek en ’n saal vol vlees en bloed vul met daardie gees.

Kuns is dalk tog al aardse manier om jou verraderlike liggaam en drome met ’n tikkie waardigheid te oorleef. Hel, ’n liedjie soos “Me and Bobby McGee” maak dit selfs moontlik vir ’n man wat nie kan sing of waffers kitaar speel nie om ’n groot musikant te wees.

En toe kry ek wraggies die kans om met Kristofferson ná die konsert ’n onderhoud te voer en dié innemende, nederige man straal wanneer hy oor mense, musiek, Bob Dylan en Hank Williams praat soos wanneer my dogtertjie vir my haar prente van drakies, haaie of hasies wys. Hy voel geseënd, sê hy, absoluut geseënd om met liedjies wat uit sy siel kom ’n bestaan te kon maak en hom te kon uitdruk. Maar hoekom dit alles so goed uitgewerk het, kan hy hoegenaamd nie verklaar nie.

“My kind,” wou ek in daardie oomblik sê, “word enigiets behalwe ’n kunstenaar tensy jy ’n Kristofferson kan wees.”

Maar toe tref die cowboystewels wat oom Kris aanhet my – ek het nog nooit ’n paar meer afgeloopte, verrinneweerde skoene gesien wat so gemaklik en noodsaaklik lyk nie. Toe dag ek, liewe dogter, wat jy word, is nooit volledig ’n keuse nie. Dié skoene sal jy dra – as jy baie gelukkig is. Sterkte!

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх