Читать книгу Pruimtwak en skaduboksers - Danie Marais - Страница 17

SHELLEY EN DIE GRAAD 11-MEISIES VAN ’N KAAPSE SPOGSKOOL

Оглавление

“Ironie is eintlik baie moeilik om te verduidelik,” sê my vriendin.

“Ja,” antwoord ek. “Een of ander komediant het nou die dag getwiet: ‘My vriende sê ek verstaan nie ironie nie en dis ironies, want ons was besig om te wag vir die bus.’”

My vriendin grinnik. “Ek dink my graad 11-klas sal, ironies genoeg, daardie twiet verstaan, maar Shelley se ‘Ozymandias’ is vir hulle heeltemal … whatever.”

Ek en sy het saam regte studeer, twintig jaar gelede, maar ons swak vir letterkunde het ons albei uiteindelik in minder winsgewende beroepe laat beland. Sy skryf nou, maar gee ook Engels by ’n privaat meisieskool in die Kaap.

Sy het ’n prys vir jeugliteratuur gewen, maar sê om vir daardie groep van heel gewillige sewentienjariges te verduidelik hoekom Shelley se sonnet hulle tot stilstand behoort te ruk, is ’n onbegonne taak.

Ozymandias verwys na die Egiptiese koning Ramses II, waarskynlik die farao van die Bybelse Eksodus. Volgens die Romeinse historikus Diodorus Siculus, wat tussen 60 en 30 v.C. geskryf het, was die standbeeld van dié vors die grootste in antieke Egipte.

Percy Bysshe Shelley (1792–1822) se gesprek oor Diodorus met ’n vriend, die bankier Horace Smith, het albei mans in die winter van 1817–1818 geïnspireer om gedigte te skryf oor daardie standbeeld wat deur tyd en woestynsand begrawe is. Ironies genoeg het Smith ’n intussen vergete sonnet oor die vergete standbeeld gekomponeer – “On a Stupendous Leg of Granite, Discovered Standing by Itself in the Deserts of Egypt, with the Inscription Inserted Below.”

Shelley se poging sou egter een van dié bekendste Engelse sonnette word.

Die beeld wat Shelley se gedig oproep – twee verlore steenbene in die woestyn as enigste oorblyfsels van die eens magtige koning se monumentale standbeeld én ryk – dít kan my vriendin se klas hulle as Indiana Jones-erige storie voorstel, maar daardie laaste ses reëls tref hulle eenvoudig nie:

And on the pedestal these words appear:

“My name is Ozymandias, king of kings;

Look on my works, ye Mighty, and despair!”

Nothing beside remains. Round the decay

Of that colossal wreck, boundless and bare

The lone and level sands stretch far away.

Dat die woestyn nou vertoon as die koning van konings se werk en dat dit die verganklikheid van mag simboliseer – daardie dubbele ironie kan die graad 11’s net nie kleinkry nie, sê sy.

Maar kan ’n mens haar klas regtig kwalik neem?

Toe ek sewentien was, het apartheid, christelik-nasionale onderwys, die NP en die NG Kerk my lewe met ’n ysterhand regeer. En vir daardie bevoorregte tieners lyk al die werke en uitvloeisels van die magtige kapitalisme – ons geselsprogramme, die internet, celebrity-kultuur en ons transnasionale korporasies met hul wolkekrabbers in alle wêreldstede – so indrukwekkend en stewig soos die standbeeld van Ozymandias wat oor die ou Egiptenare uitgetroon het. Dat al hierdie dinge waarskynlik tot ’n val gaan kom wanneer die aarde en sy hulpbronne binne ’n paar dekades uitgeput is en aardverwarming groot metropole laat wegsink, kan ons blykbaar net so min verstaan soos daardie graad 11-dogters Shelley se byna 200 jaar oue waarskuwing.

Kollektiewe waansin is eers by terugskoue vir die meerderheid sigbaar. Voor die Franse Revolusie is eeue lank aanvaar die feodale landhere, rowerbaronne en spandabel konings regeer met die seën van die kerk en dus Allerhoogste. Net so aanvaar miljoene tans steeds dat Amerika en sy een-dollar-een-stem-demokrasie die neoliberale wêreldorde bepaal wat die Weste se grypsug legitimeer; dat ons aan die kaal, korporatiewe keisers moet gee wat hulle toekom.

Maar wanneer slegs die gebluste fakkel van die Statue of Liberty nog sigbaar is bo die water van dit wat eens New York se hawe was, sal ons seker anders begin kyk na die effektiwiteit van die mark, die verraderlike vryhede van die 21ste eeu en die regverdiging van wins.

Met “Ozymandias” het die hopeloos idealistiese Shelley, ironies genoeg, bewys dat hy ’n punt beetgehad het toe hy in sy beroemde essay “The Defence of Poetry” (1821) geskryf het digters is “the unacknowledged legislators of the world”.

Maar dít, o magtige konings van die absurde, verdwaalde hede sal ook eendag, soos die ironie in Shelley se ou sonnet, van akademiese belang wees.

Pruimtwak en skaduboksers

Подняться наверх