Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 10

4

Оглавление

(6 Augustus 2009. Donderdag.)

Sy ry tienuur die oggend terug Durbanville toe, want daar sal niemand by die huis wees nie. Sy wil die slaapsak en opblaasmatras in die motorhuis gaan bêre, Christo se goed, en haar sleutels vir die laaste keer gaan los.

Herta Ernastraat.

Christo het vir haar gelag toe sy sê sy bly nie in ’n straat met só ’n naam nie.

Hy werk met syfers, het nooit haar ding met woorde verstaan nie. Begryp nie dat woorde ritme en gevoel en dinamiek het nie. Dat die manier hoe mond en tong dit vorm, nie wegstaan van betekenis en emosie en klank nie.

Die Lombaards van Herta Ernastraat. Sy het geril toe hulle intrek.

* * *

Sy wag ongeduldig terwyl die motorhek stadig oopskuif. Daaragter, die groot dubbelverdieping. “Developer’s delight,” het ’n argitek dié boustyl in ’n tydskrif beskryf. “Of Transvaal-Toskaans. Ten beste, modern-voorstedelik.”

Hulle het destyds saam kom kyk. Twee maande van soek in dié area, want Christo wou met mag en mening hier kom bly. Sy enigste rede: “Ons kan dit bekostig.” Wat eintlik beteken: Ons is nou te ryk vir Stellenberg.

Die een Durbanville-huis ná die ander. Sy het hulle geweeg en te lig bevind. Luukse, koue, persoonlikheidlose plekke. En nie een het boekrakke gehad nie. Dit is wat sy die helderste onthou, al hierdie ryk wit mense, maar nie ’n boek in die huis nie. Kroeë, ja, omslagtige, duur monstrositeite van hout, enigiets van verwerkte dwarslêers tot ligte, gepoleerde Sweeds, die versteekte beligting dikwels met pynlike sorg, kundigheid en onkoste gedoen. Druk die skakelaar en dit ontwaak, ontluik, ontpop hier voor jou: ’n Heilige plek, ’n katedraal van drank.

Tot hulle hierdie huis gesien het en Christo gesê het: “Dít is die een wat ek wil hê.” Want dit lyk ryk. Sy het beswaar gemaak, teen alles, ook die straat se naam. Hy het dit afgelag en die aanbod geteken.

Milla ry in, tot voor die drie motorhuisdeure. Een vir Christo se Audi Q7. Een was vir haar Renault. En een vir Christo se speelgoed.

Sy druk die afstandbeheer vir die motorhuisdeur. Dit gaan oop. Sy neem die matras en slaapsak, netjies opgerol, klim uit, stap in.

Die Q7 se plek is leeg.

Verligting.

Sy loop haastig tot agter, waar Christo se goed so netjies gepak is. Bêre die beddegoed op hul plekke. Staan stil, bewus van die deur links van haar, die een wat na binne gaan. Sy weet sy moenie daar inloop nie. Sy sal vir Barend ruik. Sy sal sien hoe hulle nou leef. Sy sal die swaartekrag van haar lewe hier voel.

Geluid van keffende honde in die straat af. Die depressie kom lê ’n hand op haar skouer.

Die honde wat in dié buurt bedags onophoudelik blaf. Dogville. Dit was haar naam vir Durbanville toe sy dit weer gewaag het om haar lot teenoor Christo te bekla.

“Jissis, Milla, is jy met fokken niks tevrede nie?”

Sy loop haastig uit die motorhuis na haar kar toe.

* * *

By die Palm Grove Centre in Durbanville se middedorp, met die bedoeling om iets vir middagete by Woolworths te koop, glip sy in by die eerste oop parkeerplek. Toe sy uitklim, sien sy die uithangbord van Arthur Murray se dansstudio. Sy kyk net vir ’n oomblik daarna; sy het al vergeet hulle is hier – nog ’n bewys van die waas waarin sy geleef het.

Met die inkom by die supermark ruik sy die blomme en kyk daarna, die helder kleure, asof sy dit vir die eerste keer sien. Sy dink aan die woorde in haar dagboek gisteraand. Hoe kry ek terug wie ek was, v.C.? (voor Christo)

Terug by die Renault kyk sy weer op na die uithangbord.

Dans. Christo wou nie dans nie. Nie eens op universiteit nie. Waarom het sy dit so gelate aanvaar, sy keuses, sy voorkeure? Sy het soveel genot daaruit geput, destyds, voor alles verander het.

Sy sluit die motor oop, klim in, sit die blomme en die plastieksak met middagete-bestanddele op die sitplek neer.

Sy is vry van Christo.

Sy klim uit, sluit die deur, en gaan soek die studio.

* * *

Op die dansbaan, in die helder lig wat deur die vensters stroom, is ’n man en vrou. Jonk. Hy is in ’n swart broek, wit hemp, swart onderbaadjie. Sy het ’n kort wynrooi rok aan, haar bene lank en mooi. ’n Tango uit die luidsprekers, hulle gly oor die houtvloer, so moeiteloos en behendig.

Milla staar, vasgevang deur die skoonheid daarvan, die vloei, die sinchronisasie, die sigbare genot. Sy is gevul met ’n skielike verlange – om iets só te kan doen, so vaardig, een ding wat mooi is waarin jy kan wegraak, waarin jy kan vóél en gee en ervaar.

As sy maar só kon dans. So vry.

Sy loop eindelik voor na die toonbank toe. ’n Vrou kyk op en glimlag.

“Ek wil kom leer,” sê Milla.

* * *

(7 Augustus 2009. Vrydag.)

Haar hare geknip en gekleur. Sy het met sorg aangetrek. Haar doelwit was informele professionaliteit, toevallige elegansie met die stewels, langbroek, swart trui en rooi serp. En nou, terwyl sy vir Die Vriendin wag in Media24 se koffiewinkel, is sy onseker – die grimering is te lig, die serp is te veel, sy lyk té formeel, sy lyk soos iemand wat té hard probeer.

Maar wanneer Die Vriendin haar verskyning maak, sê sy, “Milla! Jy lyk wonderlik!”

“Dink jy so?”

“Jy wéét jy’s mooi.”

Maar sy weet dit nie.

Die Vriendin het saam met haar gestudeer, byna twee dekades gelede, en die joernalistiek haar loopbaan gemaak. Die Vriendin, fynbesnede, is nou senior assistentredakteur van ’n bekende vrouetydskrif en praat dikwels in aksent- en uitroeptekens.

“Hoe gáán dit met jou?”

“Goed.” En dan met ’n sekere angstigheid: “Ek wil werk.”

“Jou boek skryf? Uitéindelik!”

“Ek soek joernalistieke werk …”

“Nee! Milla! Hoekom? Probleme?”

Sy weet sy kan nog nie oor alles praat nie. Daarom haal sy net haar skouers op en sê: “Barend het my nie meer by die huis nodig nie.”

“Milla! Nie slim nie. Jy’s die verkeerde kleur. Jy het nie erváring nie, jy het nie ’n CV nie, die honneursgraad help jou niks, nie op ons ouderdom nie. Jy gaan meeding met trosse jong, ambisieuse, hoogs gekwalifiseerde mense wat bereid is om vir niks te werk nie. Hulle ken die digitale media, Milla, hulle lééf daarin. En die ekonomie! Die media wurg! Weet jy hoeveel tydskrifte hulle toegemaak het? Poste gevries, gesny. Jy kon nie ’n slegter tyd gekies het nie. Sê vir Christo jy wil ’n boetiek begin. ’n Coffee shop. Joernalistiek? Vergeet dit!”

* * *

(9 Augustus 2009. Sondag.)

Sy sit op haar nuwe bank in die sitkamer. Voor haar op die koffietafel is die Careers-deel van die Sunday Times. Haar oë gaan angstig oor die media-advertensies – maatskappye wat soek na ’n eCommerce Operations Manager, ’n WordPress/PHP Developer, Web Developer en ’n Web Editor (internet/mobile experience ess) …

Die beklemming is nou weer sterker, die vertwyfeling, sy gaan dit nie maak nie, nie oorleef nie. Die Vriendin was reg. En Vrydagmiddag het ’n personeelagentskap-konsultant vir Milla dieselfde gesê, verskuil agter politieke korrektheid en korporatiewe eufemismes: Sy het nie ’n kans nie.

Sy wou dit nie aanvaar nie. Sy het eers die tydskrifte gebel, direk, die een ná die ander. Teen haar voorkeurlys afgewerk tot by die dagblaaie, Afrikaans en Engels. Daarna, teësinnig, die plaaslike, weeklikse poniekoerante. En eindelik, desperaat, die maatskappytydskrifte se uitgewers probeer naspeur.

Sonder sukses. Dieselfde boodskap: Hier is nie poste nie. Maar stuur jou CV.

Heel onder op ’n binneblad sien sy eindelik die klein blokkie: Journalist. Permanent position in Cape Town. Relevant experience preferred. Excellent research and writing skills required. Must relish team work. Tertiary qualification essential. Market related salary. Please call Mrs Nkosi. Apply before 31/08/09.

Dit is die “preferred” wat haar effens moed gee, sodat sy regop sit, die koerant só vou dat die advertensie duidelik sigbaar is, en die koppie rooibostee optel.

Spoor

Подняться наверх