Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 13

7

Оглавление

Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan

Inskrywingsdatum: 20 Augustus 2009

Die eerste ses danslesse afgehandel, die bekendstellingsiklus, en amptelik oorhandig aan mnr. Soderstrom, my nuwe, langtermyn-instrukteur. Ek weet nie wat sy naam is nie, dit is Arthur Murray-konvensie, die ouwêreldse aanspreekvorms, “meneer” en “mevrou” en “juffrou”, die galantheid, die waardigheid. Mnr. Soderstrom is skraal en so ’n verskriklike goeie danser. Ek het hom gevra, ná ’n sessie van sweet en sukkel, of hy dink ek sal kan? “O ja,” het hy gestraal, “jy gaan dáns!”

Hy sê dit sekerlik vir al sy studente.

Het drie ure lank voor die rekenaar gesit, probeer skryf aan die boek. Niks. Is daar skoolfigure vir skryf, die aanpak van ’n roman gereduseer tot one-two-three-backstep vir leke? My gedagtes het gedwaal na vreemde plekke. Die aard van vryheid, die relatiwiteit daarvan. Vryheid, gebonde deur gewete, deur verlange, deur skuld en afhanklikheid aan geld en stimulasie en struktuur en talent en doelwitte. En moed. Ek het dit verloor, iewers in die noordelike voorstede, jare gelede.

* * *

(24 Augustus 2009. Maandag.)

Milla is in die Pick n Pay in die Tuinesentrum toe Kemp, die prokureur, bel.

“Twee goed. Hier is ’n brief van jou seun. Vir jou. En Christo het gebel, baie kwaad. Hy sê daar het mense hom kom sien, by die werk. Oor jou klaring.”

“My klaring?” Heeltemal oorbluf.

“Jy het blykbaar iewers aansoek gedoen vir werk.”

Sy stoei om die kloutjie by die oor te bring.

“Het jy?” vra Kemp.

“Ja …”

“Hy sê hulle het kom vrae vra oor jou politieke agtergrond.”

“My politieke agtergrond?”

“Mag ek vra waar jy aansoek gedoen het?”

“Ek … die … die personeelagentskap kon nie veel sê nie. Dit is ’n joernalistieke pos … Wat het Christo vir hulle gesê?”

“Sy presiese woorde?”

“Ja.”

“Dat jy ’n fokken kommunis is, nes jou pa. En net so mal soos jou ma. Hy was blykbaar baie ontsteld, sê dit was vir hom ’n helse verleentheid, hy sê jy moes hom gewaarsku het …”

“Hoe kon ek … ?” Sy hoor die toon van nog ’n inkomende oproep. “Gus, ek moet gaan …”

“Ek stuur die brief aan met ons bode.”

“Dankie, Gus.”

Hy groet, sy kyk na die skerm. UNKNOWN CALLER.

“Hallo?”

“Hallo Milla, dit is mev. Nkosi …”

Milla wil haar vra oor die klaring, sy wil hoflik beswaar maak, maar voor sy kan reageer: “Ek het baie goeie nuus vir jou. Jy is op die kortlys. Kan jy môre kom vir nog ’n onderhoud?”

Te onverwags, sodat Milla vra: “Môre?”

“As dit jou pas.”

“Natuurlik.” Sy bevestig ’n tyd en groet, staan agter die trollie in die middel van die supermark, verwerk dit alles eers. Klaarblyklik het Christo se kommentaar oor haar pa, die kommunis, nie te veel skade gedoen nie.

Nadat Milla betaal het, loop sy vorentoe na die kiosk en gaan koop vir haar ’n pakkie sigarette en ’n Bic-aansteker. Vir die eerste keer in agttien jaar.

* * *

In die Presidensiële Intelligensie-agentskap se Opskamer, op die groot skerm, die foto van die man in ’n pak klere wat uit ’n motor klim. Hy is bruin, geklee in ’n smaakvolle donker pak, ’n wit hemp en grys das. ’n Swart dratas oor die skouer. Daar is grein op die beeld, en min diepte, wat die indruk van ’n telefotolens skep.

Janina Mentz en Tau Masilo sit en kyk. Langs hulle staan Masilo se regterhand, Quinn, Stafhoof: Operasies. Hy wys met sy vinger na die skerm.

“Dit is een van die lede van die Supreme Committee, Shahied Latief Osman,” sê Quinn. “Jy sien hom nie dikwels in ’n pak klere nie, gewoonlik is dit tradisionele Moslem-gewaad. Die foto is Sondag geneem, omstreeks halfeen, voor ’n vyfster-gastehuis in Morningside, Johannesburg. Osman het Saterdag ingeboek onder die naam van Abdul Gallie. Hier is hy op pad terug lughawe toe. Twintig minute vroeër het hierdie man …” Quinn klik met die skootrekenaar se muis, nog ’n foto verskyn. “ … ook die perseel verlaat.” ’n Swart man, groot, netjies in ’n donkerblou baadjie en grys broek, wat voor die gastehuis in ’n swart BMW X5 klim, aan die passasierskant.

“Ons het hom vanoggend geïdentifiseer na aanleiding van die voertuig se nommerplate. Sy naam is Julius Nhlakanipho Shabangu. Hy gebruik die alias ‘Inkunzi’, wat ‘bul’ beteken in Zoeloe. Die grootste bron van inligting oor hom is in die SAPD se Misdaadintelligensiedatabasis, wat hom verbind met georganiseerde misdaad in die Gauteng-gebied. Hy het ’n kriminele rekord, twee gevangenisstraf-termyne vir gewapende roof. Hy word daarvan verdink dat hy die brein is agter ’n motorkapingsnetwerk en verskeie transitorooftogte die afgelope vier jaar. Daar is nog inligting in die voormalige Skerpioene se dossiere, maar dit gaan ’n rukkie neem om dit in die hande te kry.”

“Volgens ’n lid van die gastehuis se kombuispersoneel het Shabangu en Osman mekaar in die biblioteek ontmoet, agter toe deure,” sê die advokaat.

Quinn beaam dit met ’n wysvinger na die skerm: “Shabangu het die oggend teen tienuur by die gastehuis opgedaag. Sy motorbestuurder het buite gewag. Twee uur later het hy uitgekom, en kort daarna, Osman. Osman het sedert die vorige aand glad nie die gastehuis verlaat nie.”

“Interessant,” sê Janina Mentz.

“Ons het geen vorige rekord van ’n ontmoeting tussen dié twee nie. Osman gaan dikwels Johannesburg toe, maar dan hoofsaaklik na moskees in Newtown, Lenasia, Mayfair en Laudium. Shabangu is nog nooit by enige van dié plekke waargeneem nie,” sê Quinn.

“ ’n Nuwe vennootskap.” Janina Mentz is ingenome. Hier is vordering.

“Strange bedfellows,” sê Tau Masilo.

“En ek neem aan ons gaan nou vir Shabangu dophou?”

“Inderdaad.”

* * *

Sy wil eers ’n sigaret opsteek voor sy die brief oopmaak. Besef sy het nie ’n asbak nie. Loop kombuis toe, gaan haal ’n piering, kry die sigaret aan die gang, trek diep daaraan. En hoes.

Sy rook die sigaret eers klaar, staar na die brief op die koffietafel. Tel dit teësinnig op, skeur dit oop.

Liewe Ma

Ek is baie jammer, Ma. Ek het lelik met Ma gepraat en ek het nie reg gemaak nie. Ek het Ma nie waardeur nie, eers toe dit te laat was. Ma, ek het my les geleer, dit belowe ek vir Ma. As Ma my kan vergewe, sal ek regmaak. Ek sweer dit, Ma. Pa sê as julle net kan praat, kan ons alles weer regmaak. Asseblief, Ma, ek mis jou en ek het jou nodig in my lewe. Ek weet nie wat om vir my maats te sê nie.

Bel my, Ma.

Barend

Sy handskrif is gewoonlik slordig, soms onleesbaar. Maar hier, op papier wat hy weet-nie-waar gekry het, duur en dun, kan sy sien hy het met groot sorg geskryf. Ondanks die spelfout.

Milla skuif dit van haar weg oor die koffietafel, want die skuld en die verlange brand deur haar.

* * *

Laataand lê sy in haar bed, staar verwytend na die dak, bou keerwalle teen die skuld deur vir Barend ’n antwoord in haar kop te skryf.

Laat ek vir jou die volle waarheid vertel: Dit help nie ek en jou pa praat nie, want ek het hom nie meer lief nie. En ek weet, tot my skande, nie of ek hom ooit liefgehad het nie. Ek haat hom ook nie, ek is lankal daar verby. Ek voel vir hom niks.

Vir jou het ek lief, want jy is my kind.

Maar liefde is soos ’n boodskap. Dit bestaan net as daar ’n ontvanger is. En jy moet erken dat jy lankal nie meer ontvang nie. Jy, Barend, wat nou so smeek en pleit en vol berou is, waar was dit alles toe ek keer op keer met jou gaan sit het, in liefde en deernis, en gevra het, asseblief, praat net mooi met my, want hoe ’n man met ’n vrou praat, definieer hom. Jy is groter en sterker as ek, fisiek is ek bang vir jou. Ek wil nie jou sondes lys nie, want ek kan al jou gesig sien as jy dit moet lees, die niksseggende, voorstedelike, huishoudelike sondes van die tiener: Jou varkhok-kamer, jou wasgoed immer op die grond in die badkamer, ondanks my gesmeek. Jou botheid, jou afsydigheid, jou meerderwaardigheid, asof ek gemors is, verduur moet word, met moeite. Jou algehele gebrek aan konsiderasie, jou selfgesentreerde bestaan, jou gedurige versoeke vir nóg geld, nóg besittings, nóg gunste. Jou reaksie as ek nee sê, die ontploffings, die vloekery. Jou verwyte, so bitter onregverdig, jou manipulasie, jou leuens. Jy is ’n boelie en ’n bedrieër en ek het jou lief ten spyte daarvan, maar dit beteken nie ek moet vir ewig daarmee saamleef nie.

Só skryf sy in haar kop, met die wete dat niks op papier sal kom nie.

Môreoggend sal sy vir Barend ’n regte brief skryf. Sy sal vir hom sê dat sy hom vir eers nie gaan bel nie. Hy moet haar asseblief tyd gee, sodat sy haar voete kan vind. Maar hulle kan korrespondeer, sy sal elke keer terugskryf.

Dat sy hom reeds vergewe het. Dat sy vir hom oneindiglik lief is.

Spoor

Подняться наверх