Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 9
3
Оглавление(2 Augustus 2009. Sondag.)
Op die sesde verdieping van Wale Street Chambers, in die direkteurskantoor van die PIA, die Presidensiële Intelligensie-agentskap, bestudeer Janina Mentz die transkripsie met groot aandag. Toe sy klaar is, haal sy haar bril af, plaas dit op die lessenaar. Lig haar hande om haar oë te vryf.
Sy het nie goed geslaap nie; die nuus van die vorige aand vreet aan haar, die amalgamasie-gerug. Vreemd genoeg om waar te wees. Of gedeeltelik waar.
En wat sal dan van haar word?
Want die persepsie bestaan dat sy ’n Mbeki-aanstelling was. Die vorige president het die PIA geskep. En al het Mentz nie kant gekies in die leierskapstryd nie, al lewer sy en haar mense uitstekende werk, die stigma sal kleef. En sy is boonop nuut, dertien maande as direkteur, nog geen bewese rekord waarmee sy ’n nuwe pos kan beding nie. En sy is wit.
Hoeveel van die gerug is waar? Mo Shaik as hoof van die superstruktuur? Mo, broer van Schabir, die veroordeelde, korrupte Schabir, voormalige vriend van die nuwe president.
Niks is onmoontlik nie.
Soveel jare se diens. Soveel stryd en strewe, soveel harde werk om tot hier te kom. Net om alles te verloor?
Nee.
Janina Mentz laat haar hande sak, sit haar bril op.
Sy trek weer die Ismail Mohammed-onderhoud nader. Wat sy, wat die PIA nodig het vir oorlewing, is ’n Eksklusiewe Opskudding. ’n Groot Bedreiging. ’n Sensitiewe Saak. En hier is dit, gestuur deur die gode. Haar verantwoordelikheid om te ontgin.
Sy draai na haar rekenaar toe, gaan soek die historiese verslae in die databasis.
* * *
Report: South African Muslim extremism revisited
Date: 14 February 2007
Compiled by: Velma du Plessis and Donald MacFarland
Qibla in a new guise
Qibla was established in 1980 by radical Imam Achmed Cassiem to promote the establishment of an Islamic state in South Africa, using the Iranian re-volution as its model. During the 1980s, Qibla sent members to Libya for military training, and in the 1990s, operatives trained in Pakistan and fought alongside Hezbollah in South Lebanon. After 9/11, it also recruited fighters to send to Afghanistan.
Because of the clampdown on related organisation People Against Gangsterism and Drugs (PAGAD) between 1998 and 2000, and the arrest of over one hundred Qibla supporters for violent offenses, including murder, Qibla all but disappeared.
In its place, a new and far more secretive organisation was created. It is called The Supreme Committee.
* * *
(3 Augustus 2009. Maandag.)
Milla Strachan trek die sleutel uit die slot, stoot die voordeur oop, maar gaan nie dadelik in nie. Sy staan eers, haar liggaam stil, haar donker oë vir ’n oomblik ongefokus. Anderkant die oop deur is die woonstel se vertrekke leeg. Geen gordyne nie, geen meubels, net ’n verslete volvloertapyt, ’n byna kleurlose beige.
Steeds talm sy voor die deur, asof ’n groot gewig haar terughou, asof sy wag vir iets.
Tot sy meteens doelgerig afbuk, die twee groot reistasse weerskante van haar optel, en instap by die deur.
Sy gaan sit die bagasie in die slaapkamer neer, bewus van die neerdrukkende leegheid. Toe sy Saterdag hier was, het die vorige huurder se meubels dit nog gevul, opeengestapelde kartonbokse vir die haastige reis Duitsland toe, op kort kennisgewing teruggeroep na ’n hulpinstansie se hoofkantoor. “I am so grateful that someone saw the advertisement, this is such a crisis. You won’t be sorry, look at the view,” het die vrou gesê en gewys na die venster. Dit kyk uit op Davenportstraat in Vredehoek – en ’n dun skyf van die stad en die see, geraam deur die woonstelblokke oorkant.
Milla het gesê sy wil die woonstel hê, sy sal die huurkontrak oorneem.
“Where are you from?” het die vrou gevra.
“Another world,” het Milla sag geantwoord.
* * *
Die drie van hulle sit om die ronde tafel in Mentz se kantoor, so opsigtelik uiteenlopend. Die direkteur met haar streng gesig, ondanks die groot en wye mond, lipstiffieloos. Die strak staalraambril en die hare altyd vas na agter, die uitrusting konserwatief, los, grys en wit, asof sy haar vroulikheid wil wegsteek. Die fyn, ou spore van aknee teen haar kaaklyn af, verbloem met onderlaag, haar slanke vingers ringloos, die naels ongeverf. Haar uitdrukking meestal onpeilbaar.
Advokaat Tau Masilo, Adjunkdirekteur: Operasioneel en Strategie. Drie-en-veertig, die maag is plat, helder kruisbande, bypassende das, net ’n titsel flambojantheid. Die gesigstruktuur sterk, met gravitas, oë intens, sy hare kort en netjies. Masilo se personeel verwys na hom as “Nobody” – na aanleiding van “nobody’s perfect”. Want Tau Masilo, flegmaties en bevoeg, is in hulle oë perfek. Hy is SeSotho, maar hy praat vyf ander Suid-Afrikaanse tale moeiteloos. Mentz het hom met die hand gaan uitsoek.
En dan, Rajkumar, Adjunkdirekteur: Inligtingstelsels, met die lang swart hare wat tot op sy stuitjie hang. Mentz het hom geërf.
Rajkumar se redding is sy fenomenale intellek, sy insig in elektronika en digitale kommunikasie, want hy is geset in die oortreffende trap, fyngevoelig, en sosiaal onbeholpe. Hy sit nou met sy voorarms op die tafel, sy pofvingers verstrengel, staar intens na sy hande, asof hy volkome daardeur geboei word.
Mentz kyk stadig op. “Enige ander getuienis?”
Rajkumar, immer gereed en gretig: “The Supreme Committee’s e-mail traffic – there is a definite escalation. I think Ismail is right, they’re cooking up something. But I have my doubts about the target …”
“Tau?”
“Wat my pla is die verslae uit Zim uit. Macki is nie meer ’n speler nie – hy en Mugabe kan mekaar nie meer verdra nie.”
“So die goedere kom dalk nie uit Zim uit nie?”
“Moontlik nie. Dalk direk uit Oman, dalk uit ’n ander bron. Angola is ’n moontlikheid.”
“En die feit dat hulle iets in die Kaap beplan?” vra Mentz.
“Ek stem saam met Raj. Ten eerste, plaaslike terreur sal hul vennote baie ongelukkig maak. Hamas en Hezbollah is baie dankbaar vir ons regering se simpatie en ondersteuning. Ten tweede: Hoe baat hulle daarby? Wat is die doelwit? Ek kan niks logies sien wat hulle daarmee kan bereik nie. Ten derde: Wat sou die motivering wees? Nou?”
“Afghanistan,” sê die advokaat. “Dis die nuwe brandpunt. Die mujahedin het meer wapens en voorraad nodig, maar hoe kry hulle dit? Pakistan speel nou saam met die VSA, stop al die gate toe. NATO hou verkeer uit die Midde-Ooste met ’n valkoog dop, Somalië is danksy die seerowers nie meer ’n opsie nie.”
“Price of opium is down too,” sê Rajkumar. “Taliban cash flow is not what it used to be.”
“So van waar af stuur jy jou besendings?” vra Masilo, en antwoord sy eie vraag: “Van hier af.”
“Hoe?”
“Ek weet nie. Per skip?”
“Why not?” vra Rajkumar. “Afghanistan has no coastline, but Iran has.”
“Then why not ship the arms from Indonesia. Lots of angry Muslims there.”
“Good point. Perhaps because that is what the US will be thinking too. They have a big naval presence …”
Hulle kyk vir Mentz. Sy knik, skuif die dokumente op ’n netjiese stapel voor haar. “En tog, volgens Ismail praat hulle van ’n plaaslike aanval …”
“On the lower levels …”
“You know how information filters down from the top, Raj.” Sy kyk na Masilo. “Hoe maklik gaan ons vir Ismail Mohammed kan vervang?”
“Nie maklik nie. Die ding met Ismail het hulle benoud gemaak. Hulle vergader nie meer in Schotschekloof nie, ons sal eers moet vasstel waar die nuwe plek is. As daar een is.”
“Dis prioriteit, Tau. Spoor hulle op. En ek wil Ismail vervang hê.”
“Dit gaan tyd vat.”
“Jy het minder as ’n maand.”
Hy skud sy kop. “Mevrou, hulle was vir drie, vier jaar nie prioriteit nie. Dis ’n geslote kring. Ismail was klaar binne.”
“Daar moet nog iemand binne wees wat ons kan … bereik.”
“Ek sal ’n lys voorberei.”
“Raj, why can’t you read their e-mail?”
“They’re using an encryption we’ve never seen before. It might be a variant of 128 bit, but the bottom line is, we can’t crack it. We will continue to sniff every package. Sooner or later, they will make a mistake, and forget to encrypt. It happens. Eventually.”
Sy dink eers na voor sy sê: “Hier is iets aan die broei, menere. Al die tekens is daar. Die e-pos-verkeer, die skielike optrede teen Ismail, die gerugte, die sogenaamde shipment, ná twee jaar se stilte. En ek wil weet wat dit is. As julle nog mense en middele nodig het, praat met my. Tau, verdubbel ons observasie. Ek wil iemand in Ismail se plek hê, ek wil weeklikse vorderingsverslae hê, ek wil fokus en toewyding hê. Dankie dat julle vroeër ingekom het.”
* * *
Sy gaan haal nog twee tasse, dan die slaapsak en opblaasmatras, uit die wit Renault Clio wat in die straat geparkeer staan. Buite voel sy selfbewus. Wat dink die mense wat hier sien: ’n Vrou van veertig wat alleen intrek. En die vae angs in haar, ongedefinieer, dit lê net daar, soos ’n sluimerende reptiel onder die wateroppervlak.
Sy pak haar klere in die ingeboude kaste van goedkoop wit melamien. In die badkamer is daar nie genoeg plek in die kassie bo die wasbak vir haar goed nie. Toe sy die deurtjie toestoot, vang dit haar vas in die spieël – ’n amper-vreemdeling. Swart hare, tussen lank en kort, nie goed gestileer nie. Ongekleur, die grys sigbaar. Die soel Mediterreense vel, die plooitjies langs die oë, twee kepe langs die hoeke van die mond af, grimeringloos, leweloos, tam. ’n Gewaarwording, Here, Milla, geen wonder nie, jy het jouself laat gaan, watter man sal by jou bly?
Sy draai haastig om, wil die matras gaan opblaas.
In die slaapkamer gaan sit sy op die vloer, rol dit oop, plaas die klep teen haar lippe. Blaas. Woorde deur haar, soos altyd, te veel.
Sommige sal sy vanaand in haar dagboek skryf: Ek is hier omdat die vrou in die spieël kléin gefaal het, dag ná dag. Soos ’n tou in my hande, die onsigbare gewig aan die ander kant van die afgrond net swaar genoeg dat dit bietjie vir bietjie gly, tot die punt deur my vingers glip. Die oorsaak, weet ek nou, lê net hier, onder my vel. In die tekstuur van my weefsel, in die vlegsel van my DNS. So gemaak, so gelaat staan. Onbevoeg. Onbevoeg, ondanks my beste pogings en my vrome voorneme. Onbevoeg vanweë my pogings en voorneme. ’n Inherente, onontsnapbare, ingewortelde, totale, frustrerende, klaaglike onbevoegdheid: Ek kan nie ’n vrou wees vir daardie man nie. Ek kan nie ’n ma wees vir daardie kind nie. Met die sterk moontlikheid dat ek niemand se vrou kan wees nie, dat ek in die algemeen onbevoeg is om ’n eggenoot en ’n ouer te wees.
Haar selfoon begin lui in haar handsak. Sy druk die klepdoppie versigtig toe, sonder haas. Want sy vermoed dit is Christo. Haar gewese man. Vir alle praktiese doeleindes.
Die koevert het by hom aangekom.
Sy haal die selfoon uit haar handsak, kyk na die skerm. Christo se werksnommer.
Hy sal in sy kantoor sit, haar brief voor hom. En die dokumente van die prokureur, Saterdagmiddag so haastig opgestel. Christo sal die deur toegemaak hê, daardie woedende uitdrukking op sy gesig, die jou-fokken-armsalige-dom-vrou-weergawe. Die kwetswoorde sal opgedam wees. As sy die oproep beantwoord, sal hy die sluise ooptrek met: “Jissis, Milla.”
Sy staar na die skerm, haar hart wat klop, haar hande wat bewe. Sy laat die foon sak, plaas dit terug in die handsak. Die skerm skyn daarbinne met die lig van onheil.
Eindelik gaan die lui oor na stempos, die lig verdoof. Sy weet hy sal ’n boodskap laat. Swetsend.
Sy draai weg van die handsak, neem die besluit: Sy sal haar nommer verander.
Voor sy weer by die matras gaan sit, kom die biep wat sê sy het ’n boodskap.
* * *
(5 Augustus 2009. Woensdag.)
Hulle kom lewer die Ardo-yskas laatmiddag af. Toe hulle weg is, staan Milla en luister na die gerusstellende geluid daarvan, sy kyk na die bonkige vorm en sy dink, dit is iets om aan vas te hou. Die eerste, vierkantige skans teen teruggaan, teen verswelging, teen die vrees vir die vormlose toekoms. En hierdie nuwe onrus in haar, die beklemming oor geld. ’n Bed, ’n bank, tafel, stoele, lessenaar, gordyne, dit alles is bestel, ’n klein fortuin.
Haar neseier, haar nederige erflating, het aansienlik verklein.
Sy sal ’n werk moet kry. Dringend. Vir die geld. Maar ook vir die bevryding.