Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 14

8

Оглавление

(25 Augustus 2009. Dinsdag.)

Dieselfde karakterlose, vaagweg neerdrukkende onderhoudkamer, hierdie keer met vier mense: Die vrolike mev. Nkosi, ’n swart man wat homself net as “Ben” voorgestel het, en agter teen die muur twee ongeïdentifiseerde toeskouers, ’n baie vet Indiër en ’n wit vrou in haar vyftigs.

“Ek moet sê, die klaring was ’n bietjie van ’n verrassing,” wend Milla haarself versigtig na die gemoedelikheid van mev. Nkosi.

“Understood,” sê Ben, wat vir Milla aan Shakespeare laat dink, een van Julius Caesar se “lean and hungry men”. “Unavoidable. Giving notice would defeat the purpose. Undermine the credence.” Sinne wat soos soldate marsjeer.

“Maar die goeie nuus is, jy het die kortlys gemaak,” sê mev. Nkosi. “Die pos is net soos ek dit vir jou beskryf het. En nou kan ons vir jou ’n bietjie meer vertel. ”

“It’s for a government agency. A very important one. Are you willing to work for the government?” vra Ben.

“Yes, I … May I ask which other people you spoke to? About me?”

“Usually, we take a look at your body of work as a journalist. Talk to previous employers and colleagues. Your case was different. Spoke to your ex-husband. A former schoolteacher. Former lecturer. You passed. Flying colours.”

Sy wil vra watter onderwyser, want op Wellington was daar konserwatiewe Broederbonders …

“Now. The job. For a State Department. Secrecy is essential. The major factor here: You won’t be able to talk about your work. The real work. You will have to lie. To your friends. Your family. All the time. It can be a strain.”

“Aan die begin, eintlik net aan die begin,” sê mev. Nkosi paaiend. “ ’n Mens raak gewoond daaraan.”

“Of course, you will be trained. To manage. But perhaps this is not what you had in mind at all.”

“It’s … I had no idea …”

“Ons verstaan, dit is skielik, dit is onverwags. Moenie bekommer nie, jy sal baie tyd hê om na te dink. Maar as jy op hierdie oomblik voel dit is iets wat jy glad nie sal wil doen nie …”

“Nee,” sê Milla Strachan. “Ek … Dit klink … opwindend.”

* * *

(27 Augustus 2009. Donderdag.)

Rajhev Rajkumar ken vir Janina Mentz goed. Hy weet hoe om haar guns te wen.

“About the Report Squad appointment …”

“Yes?”

“This one, I think, was the strongest candidate,” sê hy en tik met ’n vingernael op ’n lêer.

“Why?”

“She’s intelligent, little bit flustered, but Ben can be difficult. She’s politically almost neutral, with a liberal background. Living on her own. And, of course, she can start on the first, which is a bonus.”

“She has no real applicable experience.”

“None of them had. As you know, it’s a blessing in disguise. No bad habits, no media ideology.”

“Mmm …”

Rajkumar wag geduldig, want hy weet Mentz het die volle transkripsies gelees. Hy weet watter paragrawe die deurslag sal gee.

Personnel interview: Vacant position – Report Squad

Transcription: M. Strachan, interviewed by B.B. and J.N.

Date and time: 25 August 2009. 10:30

BB: Will you receive alimony?

MS: No.

BB: Why not? Surely, you deserve it. And your husband is a wealthy man.

MS: Taking money from him would be an acknowledgement of dependency. And submissiveness. Weakness. I am not weak.

“Yes,” sê Janina Mentz oplaas, “appoint her.”

* * *

(1 September 2009. Dinsdag.)

Veertien stoele in die opleidingslokaal, ’n kateder voor, maar sy en die induksiebeampte sit langs mekaar. Sy stem draal, sy gesig ’n frons van erns. “Your primary cover is what you tell your family, and your friends. In your case, your primary cover is News This Week. It is a publication that actually exists, it is produced by the government’s Department of Communication, distributed to Ministers and Directors General and their staff. So you tell people that you work there, that you scan the print and electronic media daily for grass-roots level news from Limpopo and Mpumalanga, your focus section. And that you write a weekly page on this in the newsletter. You should know, the Government really cares, they actually want to know these things. And you should also study the actual newsletter every week, so that you know its contents. Now, it is essential for a cover to have aspirational aspects, so you can also tell people that you hope to move on to one of the bigger sections one day, like the Western Cape, and perhaps become the assistant editor in a few years’ time.”

Milla wonder waarom sy nie maar fiktief hoër kan mik nie, na die redakteurspos.

* * *

Net voor middagete ontmoet sy haar nuwe baas, mev. Killian, die bestuurder van die Report Squad, soos die induksiebeampte dit noem. Milla herken haar, sy was met die laaste onderhoud een van dié wat stil teen die muur gesit het, die een wat goedig lyk, soos iemand se ouma. Daar is net tyd vir haastige handdrukke met haar ander kollegas – die skouspelagtige Jessica, wilde rooi hare en ’n manjifieke boesem, en twee bleskop-omies wie se name te vinnig verbykom.

Sy besef sy is te deftig aangetrek, want Jessica dra ’n ou, oorgroot trui en denim, een van die ooms ’n krawat saam met ’n blokpatroon-kortmoutrui.

* * *

(2 September 2009. Woensdag.)

Janina Mentz staar lank na die berig in Die Burger, onder die opskrif Nuwe vrae oor wapens.

Dan trek sy met ’n effense glimlag haar lessenaar se laai oop, haal ’n skêr uit en knip die berig uit.

Voor sy dit noukeurig in ’n nuwe lêer liasseer, lees sy dit weer. Veral die vyfde paragraaf, die aangehaalde woorde van David Maynier, ’n parlementslid van die Demokratiese Alliansie: Wat hier aangaan, is verkeerd. Ons is op die punt om vlugoorpakke aan vlieëniers van pres. Mahmoed Ahmadinedjad van Iran te verskaf, ons het reeds granaatlanseerders en sweefbomme wat gebruik kan word om kernwapens te lanseer aan kol. Moeammar Ghaddafi van Libië verkoop, asook gewere aan pres. Hugo Chávez van Venezuela. Die regering gaan gevra word om te verduidelik waarom hy wapens aan ’n rits “muishondlande” verkoop – en dít boonop onwettig.

* * *

Om 10:14 op die Woensdagoggend van die tweede September hou die rooi Toyota Corolla met ’n Oos-Kaapse registrasienommer voor Chamberlainstraat 16A stil. Die huis is een van ses enkelverdieping-skakelhuise, elkeen ’n ander, helder kleur geverf. No. 16A is ’n onbeskryfbare pienkpers, met rooi op die punte van die twee pilaartjies langs die ewe rooi tuinhekkie. ’n Bruin man en vrou in hul dertigs klim langsaam uit die voertuig, strek, asof die reis lank en vermoeiend was, en loop na die rooi hekkie, gaan daarby in. Die jong man haal sleutels uit sy sak, sluit die voordeur oop. Al twee verdwyn in die huis, wat sedert die vorige dag leeg staan.

Amper ’n kwartier later hou ’n vragmotor voor die huis stil. Op die sypanele staan die legende: Afriworld Removals, Port Elizabeth.

Die bruin paartjie kom uit by die oop voordeur, groet die bestuurder, en beduie na die huis.

Van skuins oorkant, by die boonste venster van nommer 15, hou Baboo Rayan, “dogsbody” van die Supreme Committee, alles stip dop – die oopmaak van die vragmotor se deure, die indra van die eenvoudige, middelklas-meublement.

* * *

Tydens die laatmiddag-vergadering rapporteer Masilo aan Mentz dat die twee operateurs suksesvol gevestig is oorkant die huis van die Supreme Committee. (Masilo het die woord “agent” uit die PIA se leksikon verban. “Ons verkoop nie versekering nie,” was sy onwrikbare standpunt.) “Die operateurs sal vir die volgende week of twee ’n baie lae profiel handhaaf, mevrou. Hy sal môre begin werk by ’n motoronderdele-maatskappy in Victoriastraat. Sy gaan vir eers oënskynlik huisvrou speel en met foto-monitering van Chamberlainstraat 15 begin. Ons het die stem- en selfoon-waarnemingsapparaat in die meubels versteek. Hy sal vanaand opstel, ons behoort teen môre operasioneel te wees. Dan is dit nog net die vestiging van die elektro-akoestiese mikrofoon, maar dit sal ons eers kan doen as ons doodseker is van hulle bewegings …”

“Dit is goeie werk, Tau.”

“Dankie, mevrou.”

Sy kyk na Rajkumar. Sy weet die Indiër het goeie nuus. Hy sit sedert die begin van die vergadering met daardie selftevrede glimlag. “Raj?”

“Julius Shabangu, our crime kingpin in Jo’burg. We’ve obtained very interesting insights …”

Mentz lig haar wenkbroue.

“We’ve had two vehicles, disguised as private security patrols from the Eagle Eye company, in Shabangu’s neighbourhood for the past week,” sê Rajkumar en wag dat Janina Mentz die ironie en skerpsinnigheid moet waardeer.

Sy knik net haar kop.

“Anyway, they’ve been monitoring cell phone traffic. We’ve been processing a lot of data, and the good news is, we have two cell numbers that probably belong to him or his people …”

“Probably?”

“Madam, we have more than twenty houses in the block, and a lot of cellular traffic. But the calls in question correspond to the times Shabangu and his staff have been at home. We have now isolated them, and will eavesdrop as from tonight. But here’s the interesting thing. They’ve been talking to Harare. Two calls from two different cellular phones, to the same number in Zim.”

“My, my,” sê die advokaat.

“But we don’t know who the Harare number belongs to,” sê Mentz.

“We don’t have access to infrastructure in Zim. But we will now start listening to any future calls from those numbers …”

Mentz gee hom ’n volle glimlag. “Raj, that is good work.”

“I know,” sê die Indiër.

* * *

Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan

Inskrywingsdatum: 2 September 2009

Gedaan. Moeg. Wat ’n dag. Nege ure van opleiding – rekenaargeletterdheid, internetvaardigheid, soektogprosedures, verslaggewing, skryfstyl, alles in een vertrek, voor een rekenaar, met vier verskillende, sieldodende instrukteurs.

* * *

Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan

Inskrywingsdatum: 3 September 2009

Hoogtepunt van die dag: Ek sien vir die eerste keer die woorde “Die Ysterkoei Moet Wéét”. Dit stap stadig oor oom Theunie, my bleskop-kollega, se rekenaarskerm. Sy screen saver. Ek vra hom wat dit beteken. Hy glimlag en sê die direkteur het ’n bepaalde smagting na inligting …

Hy ruik na pyp, soos my pa.

Spoor

Подняться наверх