Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 17
11
Оглавление(8 September 2009. Dinsdag.)
In Rajkumar se kantoor sit Janina Mentz die Report Squad se verslag voor die gesette Indiër neer en sê: “It’s not good enough.”
En dan vertel sy vir hom van die veranderinge wat sy wil hê, die groter klem op moontlike wapentransaksies. Sonder om vir Raj in te lig oor die bron van haar inspirasie. Want ’n uur vroeër het sy die jongste berig in Die Burger gelees, die een wat sê ’n parlementêre storm het losgebars oor die DA-LP wat beweer die ANC-regering verkoop wapens aan sogenaamde muishondlande. “Nasionale veiligheid is op die spel geplaas. Maynier kan strafregtelik vervolg word,” het ’n lid van die regerende party gesê.
Janina Mentz is verheug oor dié wending, oor die hele kwessie van wapentransaksies wat opnuut in die kollig is. Sy weet dit is die laaste ding wat die president sal wil hê, gegewe die stigma wat ook kleef aan Mo Shaik, wat dalk die nuwe intelligensie-superstruktuur moet lei, al is dit net deur assosiasie met sy veroordeelde broer.
As sy dit reg hanteer, bied dit ’n hefboom.
* * *
(9 September 2009. Woensdag.)
D-dag vir Operasie EAM Quinn sit voor die drie monitors, met die kommunikasie-kopstuk op. Net hy, want hulle soek nie getuies as dié ding verkeerd neuk nie. Gespanne, want die operasie is sy idee, en dit is riskant. ’n Klein mislukking kan hulle nog toesmeer, bestuur as ’n tydelike terugslag. Maar as dinge lelik skeefloop, is die hele Supreme Committee-projek in sy maai.
Die doelwit is om ’n elektro-akoestiese mikrofoon (EAM) in die muur van Chamberlainstraat 15 te plant – ’n toestel wat ook bekend staan as ’n “beton”-mikrofoon en soms deur loodgieters gebruik word om na waterlekke in mure te soek.
Hy het self ’n week gelede met die oplossing gekom: Gebruik die bestaande struktuur om die mikrofoon diep in die beton en steen van no. 15 se voorste muur te plant – die TV-satellietskottel, wat deur ’n vorige eienaar aan die buitemuur vasgeskroef is, net links van die voordeur.
Die tweede stap was die voorbereiding. Die PIA se tegniese afdeling, onder leiding van ’n geesdriftige Rajkumar, het ’n identiese replika van die skottel en stut-arm gemaak, gebaseer op foto’s wat van oorkant deur die venster geneem is. Een van die vier skroewe huisves nou die mikrofoon. ’n Radiosender en battery is in die stut-arm se pyp ingebou. Die radio-ontvanger is reeds by die waarnemingshuis in Chamberlainstraat 16A geïnstalleer.
Die derde stap moet nou begin. Die een waar die groot risiko lê. Hulle moet die ou skottel met die nuwe vervang. En hulle het net nege minute waarin dit gedoen kan word.
Nege minute, want dit is hoe lank Baboo Rayan, die Supreme Committee se “dogsbody” en terreinopsigter, elke oggend die huis onbewaak laat om melk en ’n koerant by ’n kafee in Victoriastraat te gaan koop. Soms is dit langer, afhangende van die verkeer in Mountainstraat, maar dit was nog nooit vinniger as nege minute nie.
Op die monitors voor hom is drie verskillende beelde. Die een in die middel kom van nommer 16A, ’n videovoer wat die Supreme Committee-huis oorkant die straat wys, waar Baboo Rayan se wit 1998 Hyundai Elantra nou staan. Die tweede monitor, links, kom van binne die paneelwa om die hoek en gee die bestuurder se aansig van die straat. En die derde, regs, is die vooraansig van die kafee waar Rayan elke oggend sonder uitsondering sy inkopies gaan doen.
Daar is geen video in die ou, verslete bakkie op die hoek van Chamberlain en Mountain nie. Dit is Quinn se krisisbeheer, sy Plan B – ’n manier om die straat te blokkeer en Rayan te vertraag. Hy wil dit glad nie gebruik nie, want dit kan maklik agterdog skep by die ekstremiste, wat die afgelope weke hiper-agterdogtig en oorversigtig is. Oor alles.
Op die middelste skerm gaan die voordeur van Chamberlainstraat 15 oop en Rayan verskyn.
“Stand by,” sê Quinn in die klein mikrofoon voor sy mond.
Hy kyk hoe Rayan oudergewoonte op die sypaadjie gaan staan, op en af in die straat kyk. Dan die Elantra se deur oopsluit en inklim. Eers aan die radio verstel. Die motor aansit, die rathefboom skuif.
Hy ry.
Quinn druk die stophorlosie se knoppie. “O.K., Handyman, it’s a go,” sê Quinn.
Die paneelwa begin beweeg, die een met die fiktiewe TV-installeringsmaatskappy se logo op die sypanele.
Rayan se Elantra verdwyn van die middelste monitor.
Quinn kyk na die beeld heel links. Die paneelwa draai in Chamberlainstraat in. Daar kom Rayan se motor van voor af aan. Rayan steur hom nie aan die voertuig nie, ry verby.
“Let’s speed it up.”
Middelste monitor. Chamberlain 15. Hy wag vir die paneelwa om te verskyn. Sekondes tik verby.
“T minus eight,” lees Quinn die tyd van die stophorlosie af.
Die paneelwa maak ’n U-draai voor nommer vyftien, parkeer só dat die videokamera daarin die straat wys en die voordeur en satellietskottel van nommer 16A af sigbaar is.
Die tegnikus en sy handlanger spring uit, draf om na die agterste deure.
“Take it easy. Don’t rush. Act normal.”
Hulle beweeg effens rustiger. Maak agter oop, haal die eerste leer en die gereedskapkis uit.
Quinn kyk senuagtig na die videovoer van die kafee, al is dit nog te gou vir Rayan om daar te wees.
Sy span dra die leer en kis tot by nommer vyftien se hekkie. Een maak dit oop. Hulle gaan in. Begin die leer oopvou, want die skottel sit hoog. Plaas die leer teen die muur. Die tegnikus klim op, kyk aandagtig na die skroewe, sê dan vir sy kollega onder: “Thirteen socket.”
Rayan nog nie by die kafee nie.
Die tegnikus maak die TV-kabel los, begin die boute losdraai, die handlanger loop terug na die paneelwa om die nuwe skottel en voetstuk te gaan haal.
“T minus seven.”
Rayan se Elantra hou voor die kafee stil.
“He’s a little ahead of schedule. Let’s focus,” sê Quinn.
“Bolts are rusty,” sê die tegnikus op die leer. “Pass me the Q20.”
Quinn sê niks. Kyk net. Die handlanger is weer op pad terug na die paneelwa toe, om die tweede leer te kry. Alles volgens plan.
Rayan klim uit, loop na die kafee toe.
Mag daar ander kliënte ook wees, dink Quinn.
“Bolts are a bit of a problem,” sê die tegnikus.
“What?”
“Rust. Can’t move two of them.”
Rayan verdwyn in die kafee. Quinn kyk na die stophorlosie. “You have one minute to make the abort call.”
“Roger.” Quinn sien hoe die tegnikus weer Q20 op die bout spuit. Die handlanger plaas die tweede leer langs die eerste.
Tegnikus sukkel met die losdraai. Inspanning.
Sekondes tik verby.
Tegnikus spuit, probeer weer. Die bout sit vas. Spuit weer, op al die boute. Lank. Koppel die sok, draai met mening.
Vordering te stadig.
“T minus six.”
Steeds sukkel hy met die skroewe. Quinn se palms sweet. Rayan is nog in die kafee.
“Damn,” sê die tegnikus.
“Thirty seconds to make the call.”
Hy sien hoe die man spook met die gereedskap. Kry ’n bout los. “One down.” Hy draai dit met groot haas uit.
Rayan nog in die kafee.
Miskien moet hy die span in die bakkie op bystand plaas, dink Quinn. Meer roes as wat hulle gedink het.
Nog nie. Hou dit vir ’n laaste uitweg.
“Two down.”
“Too slow.”
“Hang on, I’ll get them …”
“T minus five approaching. This is the point of no return. What’s your call?”
Hy hoor hoe die tegnikus kreun van inspanning. “Three down, it’s a go.”
“Roger. Speed it up.”
Rayan kom uit die kafee uit, plastieksak met melk hang van sy voorarm, koerant in die hande, oë op die opskrifte.
Vat jou tyd, Baboo.
“Four down. It’s out.”
Quinn sien hoe die ou skottel vir die handlanger afgegee word. Hy plaas dit op die grond, klim teen die tweede leer op met die nuwe een. Kom bo. Haal die nuwe skroewe versigtig uit sy sak, gee hulle een vir een aan die tegnikus. Met die kleedrepetisie het hulle twee keer van die skroewe laat val, wat kosbare sekondes verloor het.
Baboo Rayan is by die Elantra. Laat die koerant sak. Kyk oor die straat heen, vir ’n oomblik reg in die TV-kamera se lens. Hy is ’n aap, dink Quinn, ’n moroon wat deur die prosedures van waarneming gaan, maar niks sien nie. Hulle het al ’n maand lank die GPS-sender aan sy kar, hulle is al amper twee weke lank besig met observasie, reg onder Rayan se neus, en hy weet van niks. Hy kyk, maar hy sien niks.
Rayan haal sy sleutels uit, sluit die Elantra se deur oop. Gooi die koerant na die passasiersitplek, haal die plastieksak van sy arm af …
“T minus four.” Agter skedule.
Rayan klim in die voertuig.
Die handlanger druk die nuwe voetstuk teen die muur vas. Die tegnikus stoot die eerste skroef in.
Rayan vroetel weer met die radio.
Die tegnikus druk twee ander skroewe in, een ná die ander. Die vierde een is die mikrofoon, fyn werk, dun draadjies wat gekoppel moet word.
Begin die drie skroewe vasdraai.
Die handlanger laat los, klim af, neem die leer, vou dit toe.
Rayan se Elantra begin beweeg.
Handlanger dra die leer terug paneelwa toe.
“Microphone going in.”
Handlanger kom terug vir die ou skottel.
“T minus three.”
“Microphone in. Connecting now.”
Handlanger bêre die ou skottel, kom terug vir die gereedskapkis. Tegnikus sukkel met die fyn draadwerk.
“Dammit,” sê die tegnikus.
“Connect the TV cable now. We can connect the microphone tomorrow.”
“I’ll make it.”
“Do it.”
“Roger.”
Die tegnikus maak die TV-kabel vas.
Handlanger kom staan onder die eerste leer, reg om dit te gryp.
“TV connected.”
Quinn kyk na die stophorlosie. Rayan is nog minstens ’n minuut weg van die hoek af.
“You have 30 seconds.” Hy besluit om die onderskepspan in die bakkie op bystand te plaas. “Interceptor team, start your engine.”
“Roger.”
Die tegnikus werk weer aan die koppeling van die mikrofoon se draadjies.
“Twenty seconds.”
Quinn kyk na die linkermonitor. Hy sal die Elantra om die hoek kan sien kom.
“Ten seconds.”
“Damn, damn, damn.”
“Nine, eight, seven, interceptor team, stand by …”
“Roger.”
“Connected,” roep die tegnikus met groot verligting.
“Get the fuck out of there!” Quinn kan nie die spanning uit sy stem hou nie.
Tegnikus gly teen die leer af. Handlanger gryp die leer. Hulle draf na die paneelwa toe, skuif die leer in, slaan die deur toe. Loop na die kajuit.
“Close the gate,” sê Quinn skerp. Die tegnikus hardloop.
“Don’t run!”
Loop. Maak die hekkie toe. Loop terug paneelwa toe. Klim in.
Tyd is verby. Paneelwa ry.
Tien sekondes later kom Rayan om die hoek.
Quinn sluk, sit terug in sy stoel. Vee sy hande aan sy broek af.
“Interceptor team, stand down. Gentlemen, that was magnificent. Please test the microphone.”
Vir die eerste keer, die stem van die vroulike operateur in nommer 16A. “Microphone is a go.”
“Well done,” sê Quinn. “Very well done.”
Hy skakel sy kopstukmikrofoon af. Sodat hy sy asem kan uitblaas.