Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 8

2

Оглавление

(1 Augustus 2009. Saterdag.)

Transkripsie: Ondervraging van Ismail Mohammed deur A.J.M. Williams. Veilige huis, Tuine, Kaapstad.

Datum en tyd: 1 Augustus 2009, 17:52

M: Ek wil in die program ingaan, Williams. Soos in nóú.

W: Ek verstaan, Ismail, maar …

M: Niks van “maar” nie. Hierdie fokkers wou my doodskiet. Hulle gaan nie ophou met try nie.

W: Ontspan, Ismail. Sodra ons jou ge-debrief het …

M: How long is that going to take?

W: Hoe gouer jy kalmeer en met my praat, hoe gouer is dit klaar.

M: En dan sit julle my in witness protection?

W: Jy weet ons kyk na ons mense. Kom ons begin by die begin, Ismail. Hoe het dit gebeur?

M: Ek het hulle hoor praat …

W: Nee, hoe het hulle uitgevind jy werk vir ons?

M: Ek weet nie.

W: Jy moet darem ’n spesmaas hê.

M: Ek … Miskien het hulle my agtervolg …

W: Met die drop?

M: Miskien. Ek was versigtig. Met alles. Met die drop het ek drie switchbacks gedoen, twee keer op ander treine geklim, ma’ …

W: Ma’ wat?

M: Nee, ek … you know … Ná die drop … ek het gedink … I dunno … Miskien het ek vir iemand gesien. Ma’ agterna …

W: Een van hulle?

M: Dit kan wees. Maybe.

W: Hoekom het hulle jou verdink?

M: Hoe meen jy?

W: Kom ons veronderstel hulle het jou agtervolg. Daar moet tog ’n rede wees. Jy moes iets gedoen het. Te veel vrae gevra? Verkeerde plek op die verkeerde tyd?

M: Dis julle skuld. As ek op die selfoon kon gereport het, was ek nou nog daar.

W: Selfone is gevaarlik, Ismail, jy weet dit tog.

M: Hulle kan nie al die fokken fone in die Kaap afluister nie.

W: Nee, Ismail, net dié wat saak maak. Wat het die selfone daarmee te maak?

M: Want elke keer as ek moet report, dan moes ek wegloop. Vir die drop.

W: Wat het ná die drop gebeur?

M: My laaste drop was Maandag, Dinsdag, toe begin die kak, toe’s da’ so discreet silence tussen hulle. Eers het ek gedink dis ander tension. Dalk oor die shipment. Toe, gister, toe begin ek sien, nee, dis net wanneer ek da’ rond is, dat hulle só raak. Subtle, jy moet verstaan, baie subtle, hulle try dit wegsteek, ma’ dit was da’. Toe begin ek worry, toe dog ek, lat ek my ore oophou, something’s wrong. En toe gister, toe sit Suleiman in council en hulle sê ek moet in die kombuis wag saam met Rayan …

W: Suleiman Dolly. Die “Shaykh”.

M: Ja.

W: En Rayan … ?

M: Baboo Rayan. ’n Dogsbody, ’n driver. Net soos ek. Ons het saam gewerk. Anyway, toe praat Rayan nie ’n woord met my nie, which is really strange. En toe roep hulle vir Rayan ook in, for the very first time, ek meen, hy’s ’n dogsbody, nes ek, ons word nie ingeroep nie. Toe dag ek, lat ek by die deur gaan luister, want hier’s die moeilikheid nou. Toe loop ek in die gang af en ek gaan staan daar en ek hoor die Shaykh … Suleiman … hoe hy sê: “Ons kan geen risiko loop nie, the stakes are too high.”

W: “The stakes are too high.”

M: Dis reg. Toe sê die Shaykh vir Rayan: “Vertel vir die council van hoe Ismail wegraak.”

W: Gaan aan.

M: Da’s nie van aangaan nie. Want toe vang hulle my.

W: Hoe?

M: Die Imam het my by die deur gevang. Hy was supposed to be binne. Hulle was almal supposed to be binne.

W: Toe hardloop jy.

M: Toe hardloop ek, ja, en die fokkers skiet op my, ek sê jou, dis ruthless mense dié. Intense.

W: O.K. Kom ons gaan terug na Maandag. By die drop het jy gepraat van “lots of sudden activity …”

M: Die laaste twee weke, ja. Iets broei.

W: Hoekom sê jy so?

M: Die Committee het een keer per week bymekaargekom, maande lank. En nou’s dit skielik drie, vier keer. What does that tell you?

W: Maar jy weet nie hoekom nie.

M: Moet die shipment wees.

W: Vertel my weer van die oproep. Suleiman en Macki.

M: Last Friday. Macki het vir die Shaykh gebel. Toe staan die Shaykh op en hy loop uit en hy gaan staan in die gang, so ek kon nie alles hoor nie.

W: Hoe het jy geweet dit is Macki?

M: Want die Shaykh het gesê: “Hallo, Sayyid.”

W: Sayyid Khalid bin Alawi Macki.

M: Dis hy. Die Shaykh het so in die wegloop vir Macki gevra: “Any news on the shipment?” En toe sê hy: “September.” So asof hy dit wil confirm.

W: Is dit al?

M: Dis al wat ek van hulle conversation gehoor het. Toe kom die Shaykh terug en hy sê vir die ander: “Bad news.”

W: “Bad news.” Weet jy wat dit beteken?

M: Hoe sal ek weet? Dit kan wees omdat die shipment klein is. Of die timing verkeerd. Dit kan enigiets wees.

W: En toe?

M: Toe loop hulle, die Shaykh en die twee Supreme Committee members. Toe gaan hulle af na die basement toe. Dan moet jy weet, dis top secret.

W: Sou jy sê die shipment kom in September? Is dit die afleiding wat jy gemaak het?

M: Best guess.

W: Is dit ’n “ja”?

M: Dis wat ek dink.

W: En die shipment. Het jy ’n idee wat dit is?

M: Jy weet, as dit Macki is, is dit diamonds.

W: Wat wil die Committee met diamonds doen, Ismail?

M: Net die Supreme Committee weet daai.

W: En niemand anders het daaroor gepraat nie?

M: Of course het hulle gepraat, op die lower levels. Ma’ dis dicey intell, hy weet dit.

W: Waar ’n rokie trek … Wat het die lower levels gesê?

M: Hulle sê dis weapons. For local action.

W: Hoe bedoel jy?

M: Dit was die rumour. Hulle wil weapons inbring. Vir ’n attack, hier. Vir die eerste keer. Ma’ ek glo dit nie.

W: ’n Muslim attack? In Suid-Afrika?

M: Ja. Hie’. Cape Town. Die mooiste Kaap.

Spoor

Подняться наверх