Читать книгу Spoor - Деон Мейер - Страница 15

9

Оглавление

(4 September 2009. Vrydag.)

Hulle sit in die Bizerca Bistro, die elegante swart advokaat, Tau Masilo, en die onkreukbare wit vrou, Janina Mentz, met koppe bymekaar soos minnaars. Hulle is ’n eiland van erns in die lighartigheid van middagete.

Masilo se stem is sag: “My bron sê óns minister se aanbeveling is dat ons met rus gelaat word in die samesmelting, maar daar’s van die ander kabinetslede wat verskil.”

“Wie?”

“Die Minister van Verdediging, blykbaar, en die Minister van Binnelandse Sake.”

Senior kabinetslede, weet Mentz. Sy verteer dié inligting voor sy vra: “Wie steun ons nog?”

“Die adjunkpresident.”

“En dis al?”

“U moet verstaan, die inligting is tweedehands, en ek vermoed daar is heelwat spekulasie. Maar die belangrike ding is, die president is nog nie seker of ons ingesluit is nie.”

Hulle eet in stilte, Masilo met sigbare genot. Hy sit eindelik sy mes en vurk neer. “Geen wonder die Minister van Finansies eet ook hier nie. Mevrou, mag ek ’n voorstel maak?” vra hy.

“Natuurlik, Tau.”

“Dit is nou die tyd om ’n ophef te maak. Om die president te oortuig …”

“Hoe?”

“Met wat ons het. Ek weet, ek weet, objektief beskou is dit nie veel nie. Maar ’n kort verslag, slim geskryf …”

“Dis gevaarlik.”

“Maar waarom?”

“Tau, hoeveel geloofwaardigheid gaan ons inboet as ons die Moslem-pot heeltemal missit?”

“Sal dit oor ’n maand of twee saakmaak?”

“Ons het eenvoudig nog nie genoeg nie,” sê sy met kwalik bedekte verwyt.

“Ek weet nie of ons veel langer kan wag nie, mevrou. Dit is ’n window of opportunity, en dit gaan nie lank oop bly nie. Die president se besluit kan nou enige dag geneem word …”

Janina Mentz skuif aan haar bril. Nie oortuig nie.

Masilo se selfoon lui. Hy antwoord, luister en sê dan in die instrument: “Van waar?” Dan weer: “Ek is netnou daar.”

Hy bêre die selfoon. “Dit was Quinn. Ek dink die meeluistering in Gauteng het vrugte afgewerp.”

* * *

Quinn, in ’n swart rolnektrui en kakie-chino’s geklee, se sagte stem gaan vertroetelend met die feite om: “Inkunzi Shabangu en sy mense is slim, soos dit lede van georganiseerde misdaad betaam. Hulle vervang elke week simkaarte. Dit neem Raj se mense drie tot vier dae om die nuwe nommers te isoleer, want ons kan net Shabangu se huis monitor, dit is ons enigste vaste punt. Dan bly daar net drie dae van meeluistering oor voor ons weer van voor af moet begin. Terloops, hulle gebruik nooit dieselfde simkaart twee keer nie, en ons vermoed elke nuwe nommer word op Sondagaande aan belangrike kontakte ge-SMS. Hierdie is vanoggend opgeneem. Die een stem is dié van Shabangu self. Die oproep kom uit Harare uit, dit is ook ’n tipiese Zim-aksent …”

Quinn klik met die muis. Die klank kom uitstekend deur die indrukwekkende stelsel.

“Hallo.”

“Mhoroi, Inkunzi, how are you?”

“I am very well, my friend, and how are you?”

“Not so well, Inkunzi, times are tough over here.”

“I know, my friend, I know, the newspapers are full of it.”

“What can you do … ?”

“So, my friend, ndeipi?”

“The news is that you were right, Inkunzi. Chitepo is working on a new route, and it will go through South Africa.”

Quinn stop die terugspeel van die opname vir ’n oomblik. “Bes moontlik Johnson Chitepo, hoof van Zim se Joint Operations Command, en Mugabe se regterhand. Maar luister hier …” en hy aktiveer weer die opname.

“And you are sure?” sê die stem van Julius Shabangu oor die luidsprekers.

“Almost sure. Ninety-nine per cent. But it looks like he is keeping Comrade Bob in the dark.”

“Chitepo?”

“Yebo.”

“He’s stealing from Mugabe now?”

“He is looking after himself.”

“O.K. So when is it going to happen?”

“Soon, I think. But we will try to find out more.”

“And the route? How does it work?”

“All I know is, he’s working with a South African. Someone in nature conservation. So it could be through Kruger, you know, the transfrontier park. They are connected now, Gonarezhou and Kruger. That is what we think, they will take it through there.”

“O.K. My friend, this is very good. But we need the details.”

“I know, Inkunzi. I will keep listening.”

“Tatenda, my friend. Fambai zvakanaka.”

“Fambai zvakanaka, Inkunzi.”

Quinn halt weer die terugspeel van die opname. “Die laaste is bloot ‘gaan jou goed’ in Shona. Die gesprek is redelik tipies, hulle hou dit kort, net soos die volgende een. Dit is Shabangu self wat bel, die nommer wat hy geskakel het is ’n huis hier in die Kaap, in Rondebosch-Oos, wat ons natuurlik voortaan gaan monitor. Die huis behoort aan ’n mnr. Abdallah Hendricks, wat tot nou toe glad nie op ons radar was nie.” Hy klik op ’n nuwe elektroniese lêer.

“Hendricks.”

Inkunzi se stem, diep en gesaghebbend: “I have a message for Inkabi.”

“Inka … ? Yes, Inkabi. What is the message?”

“Tell him he was right. Our friend in Zimbabwe is back in the export business, but he has new partners, and he wants to export to South Africa. Tell him this is ninety-nine per cent sure, but that is all we know. We will try to get more.”

“I will tell him.”

“O.K., my friend. That’s all.”

“Khuda hafiz.”

“O.K.”

Die elektroniese geluid van ’n oproep wat beëindig word. Quinn draai weg van die skerm, kyk na Mentz en Masilo. “‘Inkabi’ is die Zoeloe-woord vir ‘os’, soos in Osman. Dit is bes moontlik die kode waarop Shabangu en Osman ooreengekom het, met hul ontmoeting. Shabangu het dus ’n sin vir humor.”

Net Masilo glimlag.

“ ’n Mens kan ook aflei dat Hendricks ’n bietjie onkant betrap is. Hy het nie die kode dadelik herken nie. Ons dink dit is die eerste oproep van Shabangu na die nommer, die eerste keer dat hy die kode gebruik om aan Osman te rapporteer nadat hulle mekaar in Johannesburg ontmoet het,” sê Quinn.

“Wat beteken ‘khuda hafiz’?” vra Mentz.

“Dit is ’n Moslem-groetfrase. Iets soos ‘mag God jou beskerm’. Soos u kon hoor, het Shabangu ook nie geweet nie.”

“Ons het geen idee wie Inkunzi Shabangu se kontak in Harare is nie?”

“Nee, mevrou. Maar ons weet ’n hele paar ander dinge. Ons weet nou waarom Osman vir Shabangu gaan sien het.”

“Deel jou insig,” sê Janina Mentz.

“Dit is ’n nog ’n onvolledige prentjie …”

“Dié weet ek, Quinn. En dit is vir my ’n baie deurmekaar prentjie.”

“Take it from the top,” sê Masilo. “It’s very important that we all understand exactly what’s going on here.”

Quinn knik, dink ’n oomblik voor hy oorkant hulle kom sit.

“Nou goed,” sê hy. “Sien dit as ’n drama, met twee hoofspelers en twee byspelers. Hoofspeler nommer een is Johnson Chitepo. Hy is Zimbabwe se hoof van Joint Operations Command, hy was Mugabe se regterhand, hy was die man wat destyds die ooreenkoms beklink het om die diamantmyn-konsessies in die Kongo te bekom. Hy was ook die een wat die diamante in die sorgelose jare verkoop het, sodat hy en Comrade Bob geldjies kon wegsit. Baie, baie geld. Maar dit was toe. Nou lyk dinge aansienlik anders. Mugabe en Chitepo is besig om stadig maar seker hul mag in Zim te verloor. Hulle diamantafset is geknou deur sanksies en internasionale ooreenkomste, hulle bankrekenings is gevries, al daardie baie geld vir alle praktiese doeleindes verlore. Op die oomblik is Chitepo se brandendste begeerte om vinnig weer ’n neseier op te bou voor die einde kom – en die einde sál kom, dit is ’n kwessie van tyd. Hy sit met minstens ’n honderdmiljoen dollar se diamante, maar geen manier om dit uit die hand te verkoop nie. Maar nou het hy skynbaar nuwe vennote gekry. Iemand in natuurbewaring, iemand wat dit kan uitsmokkel deur die groter Krugerpark. Maak dit sin?”

Mentz knik.

“Ons tweede hoofspeler is Sayyid Khalid bin Alawi Macki. Hy was die een wat destyds vir Chitepo gehelp het met die diamantafset, hy was die een wat die Kongo-diamante in kontant omskep het, wat die geld gewas het en na Mugabe-hulle se Switserse bankrekenings gestuur het. Maar toe sy kanale toegeknyp word, het die groot vriend-skap tussen hom en Chitepo versuur. Voor ek verder gaan: Daar’s ’n klompie dinge wat ons in gedagte moet hou as dit by Macki kom. Een: Sy kernbedrywigheid is geldwassery, en hy is diensbaar vir die hele Afrika. Ons weet hy doen dit vir die seerowers in Somalië, vir die bedrog- en dwelmnetwerke in Nigerië en vir die motordiefstal-sindikate in Mosambiek. Twee: Die internasionele ekonomiese krisis het hom baie sleg getref. Hy het reusebeleggings in Doebai verloor, sy omset is in die algemeen met meer as sestig persent af, hy wurg op die oomblik. Drie: Hy is ’n militante Moslem van Oman, tans die nuwe en grootste groeigebied vir Al-Kaïda. En vier: Macki het ’n baie sagte plekkie vir Al-Kaïda. Sy welvaart, sy rykdom en sy ondersteuning het hom groot aansien in daardie kringe gegee. Aansien wat hy baie graag nou wil herwin.”

Quinn gee vir Mentz kans om dit alles in te neem.

“Die hoofintrige van ons drama is Chitepo se begeerte om die diamante te verkoop, en Macki se siening dat die klippies eintlik aan hom behoort, of dat hy dan minstens ’n vyftig-persent-aandeel daarin het, volgens die oorspronklike ooreenkoms. Macki het op die een of ander manier van Chitepo se planne gehoor, en hy is vas van plan om die besending te onderskep. Die sogenaamde ‘shipment’. Sy probleem is, hy het nie meer vriende in Zimbabwe nie, hy sit daar bo in Oman. So, wat kan hy doen? Sy enigste uitweg is om te praat met sy kontakte wat die naaste aan die aksie is – sy Moslem-broers.”

“Die Supreme Committee,” sê Janina Mentz.

“Hier in die mooiste Kaap,” sê Masilo.

“Presies,” sê Quinn. “Dit is hoekom Macki die eerste byspeler op die verhoog gebel het. Suleiman Dolly, die voorsitter van die Supreme Committee.”

“Die oproep wat ons mol Ismail Mohammed gehoor het.”

“Dis reg. Macki weet Dolly en die Supreme Committee het fondse dringend nodig, vir die projek waarmee hulle besig is.”

“Die plaaslike projek, wat volgens Ismail Mohammed die insmokkel van wapens is.”

“En nou, vir die verskyning van ons tweede byspeler, Julius ‘Inkunzi’ Shabangu. My vermoede is, Macki het vir Shabangu aanbeveel. Onthou, Macki is ’n geldwasser. En deur die Mosambiekse motor-sindikate sou hy minstens bewus gewees het van Shabangu, maar het bes moontlik al direk of indirek sake met hom gedoen …”

“Ons weet ook,” sê Tau Masilo, “Inkunzi Shabangu het ’n klompie Zimbabwiërs wat vir hom werk in Gauteng. Motorkapers.”

“Presies,” beaam Quinn. “En volgens die dossiere van die Skerpioene word hy ook daarvan verdink dat hy vals paspoorte aan Zimmers en Nigeriërs verskaf. So hy sal goeie kontakte in Harare hê … In elk geval, toe Macki met Suleiman Dolly praat, het hy tien teen een vir Inkunzi aanbeveel as ’n moontlike vennoot in die hele skema. En toe stuur Dolly een van sy Supreme Committee-lede om met Inkunzi te gaan beraadslaag. Osman, in die gastehuis in Johannesburg. Inkunzi sal graag vir Macki wil gelukkig hou, maar hy is bowenal ’n sakeman. Hy sal ’n persentasie van enige transaksie vat. Osman se voorstel van samewerking was vir hom absoluut aanvaarbaar.”

“Mmm,” sê Janina Mentz.

“Inkunzi en sy eienaardige nuwe vennoot, die Supreme Committee, wil Chitepo se besending diamante onderskep,” sê Tau Masilo.

“Die ‘shipment’,” sê Quinn.

“En Inkunzi moet uitvind watter roete dit gaan volg. Watter Suid-Afrikaners betrokke is.”

Die twee mans kyk na haar. Sy skuif haar bril en staan op.

“Ek dink dit sal ’n baie interessante verslag kan oplewer,” sê Tau Masilo. “Vir die president.”

Mentz talm. Die twee mans wag in spanning.

“Julle maak een kardinale fout,” sê Mentz. “Met julle rolverdeling. Die verslag sal totaal misluk as julle vir Chitepo en Macki as hoofspelers aanbied.”

Masilo is vlug van begrip. “Vir ons doeleindes word die hoofrol vertolk deur die Supreme Committee en hul wapentransaksie.”

Spoor

Подняться наверх