Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 10

6

Оглавление

Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe is ’n verrassing, ondanks die effens pretensieuse naam. Die lughawegebou, tussen groen heuwels en bonkige rotsformasies, is modern en nuut. En aanskoulik. ’n Afrika-motief van reusegrasdak en oker mure, maar nie kitsch nie. Die hitte langs die aanloopbaan is dik, die humiditeit hoog. Ek sit my selfoon aan terwyl ons na die aankomssaal stap. Daar is ’n SMS van Jeanette. DOSSIER BESTAAN.

Binne in die terminaal is dit koeler, draaglik. Ons wag vir bagasie. Ek staan half agter Emma. Daar is sensualiteit in die ronding van haar denim en die vorm van die fraai nek en skouers wat die poeierblou kamisool ten toon stel. Maar trek jy jou fokus terug, sodat jy haar teenoor die groter, growwer mense om haar sien, en daar is ’n kwesbaarheid aan haar, ’n tengerige weerloosheid wat om beskerming roep, of dan minstens ontferming, ondanks die subtiele selfversekering van ’n mooi, ryk vrou.

Op die vliegtuig was sy sjarmant, opreg, nederig, ’n altruïs: Ek stel belang in jou as mens, Lemmer, al is jy net die gehuurde handlanger.

Vele fasette. Waar lê haar ware kleure?

Lemmer se Wet oor Klein Vroue: Moet hulle nie vertrou nie. Nie professioneel nie en nie persoonlik nie. Hulle leer van kleins af twee Pavloviaanse truuks aan: Die eerste is ’n produk van mense se reaksie: “Ag, maar is jy nie ’n oulike ou dingetjie nie,” veral as die gesiggie rond en die oë groot is. Mense behandel hulle soos skattige klein diere, sodat hulle dit leer ontgin, met maniertjies en gebaartjies wat die oulikheid onderstreep en die gebruiksaanwending slyp soos ’n sosiale lem. Die tweede is die gevoel van fisieke magteloosheid. Die wêreld is groot en sterk; hulle is tenger en relatief swak. Groter, voller vroue se ronde lyne van borste en heupe is vuurtorings vir manlike belangstelling, klein vroue se silhoeëtte trek nie aandag nie. Om te oorleef, ter selfbeskerming en selfhandhawing, moet hulle noodgedwonge uit ander bronne put. Daarom leer hulle om die krag van die kop te gebruik, hulle leer om te manipuleer, ’n voortdurende slim spel te speel met die wêreld om hulle.

Jeanette sê die dossier bestaan. Daar is dus waarheid aan Emma se storie. Maar hoeveel? Beantwoord dit genoeg van die vrae? As haar lewe dan regtig in gevaar is, waarom het sy Body Armour se goedkoopste beskermingsopsie gekies? Want volgens Carel die Grote het sy in die oortreffende trap geërf.

Gee ek haar die voordeel van die twyfel en sê Carel het oordryf? Of wil Emma nie glo sy is in werklike gevaar nie – al is sy ’n klein vroutjie met ’n predisposisie? Dalk is sy finansieel konserwatief. Of net suinig. Of te beskeie of skaam om die teenwoordigheid van twee of vier mans met vuurwapens en oorfone om haar te hê.

Of dalk speel sy ’n spel.

Ons bagasie kom aan. Ons loop na Budget-motorhuur. Terwyl Emma vorms invul, lui my selfoon. Ek herken die nommer, loop ’n entjie weg en antwoord.

“Hallo, Antjie,” sê ek.

“Waar’s jy?” vra Antjie Barnard in haar diep, onmoontlik sensuele stem.

“Ek werk. Dit gaan ’n week of wat vat.”

“So gedink. Wie gaan jou leibeurt doen? Dis warm hier.”

“Ek sal vir jou moet vra.”

“Dan doen ek dit. En as ek jou nie betyds sien nie, voorspoedige Nuwejaar.”

“Dankie, Antjie, vir jou ook. Pas jouself op.”

“Hoekom?” Sy lag en beëindig die oproep.

As ek omdraai, staan Emma reg agter my, met die lig van nuwe kennis in haar oë. Ek sê niks, neem net die sleutel van ’n wit BMW 318i wat sy na my uithou. Dit staan buite in die son. Ek laai die tasse in die kattebak en doen ’n opname van 360 grade. Niemand stel in ons belang nie. Ek klim in en kry die enjin aan die gang sodat die lugversorging kan inskop. Emma vou ’n kaart op haar skoot oop.

“Ek het gedink ons moet eers Hoedspruit toe gaan,” sê sy. Haar wysvinger soek die pad. Sy dra nie naellak nie. “Hier, oor Hazyview en Klaserie, dit lyk na die kortste pad. Of ken jy dié wêreld, Lemmer?”

“Nie goed nie.”

“Ek sal navigeer.”

Ons ry. Daar is meer verkeer as wat ek verwag het, bakkies, 4x4’s, vragmotors, minibustaxi’s. Geen teken van agtervolging nie. Deur Witrivier, die kontras met die Kaap is skril – hier is die natuur se kleure helder en oordadig in die lower van die eindelose bome, die bloedrooi van bykans elke blom, die diep, donker mahonie van mense wat stalletjies langs die paaie bedryf. Lelike, amateuragtige bemarkingsborde skree name, tariewe en aanwysings uit na kampeerplekke, gastehuise en private wildtuine.

Emma gee aanwysings, ons kry die R538 en ry, aanvanklik in stilte.

Wanneer die vraag eindelik kom, verras dit my nie. Want daar is sekere dinge waaroor geen vrou haar nuuskierigheid kan bedwing nie.

“Was dit jou …” ’n Oomblik se huiwering om aan te dui dat die term wyd inklusief sal wees. “… vriendin?”

Ek weet waarna sy verwys, maar ek hou my dom.

“Wat netnou gebel het?” Emma se stemtoon is in ditjies-en-datjies-modus, daardie neutraal-vriendelike trant wat sê sy is sommer net nuuskierig, sy wil net vir die interessantheid weet. Wat nie noodwendig onwaar is nie. Dit is hoe vroue se koppe werk. Hulle gebruik die inligting om prentjies mee in te kleur. As hy ’n vriendin het, kan hy nie ’n totale psigopaat wees nie. Die kuns is om op só ’n manier te antwoord dat jy die irriterende opvolgvrae vermy: Wat doen sy? (Om jou en jou “vriendin” se status te bepaal.) Is julle al lank bymekaar? (Om die erns van die verhouding te bepaal.) Hoe het julle ontmoet? (Om hul hunkering na die romantiese te bevredig.)

My antwoord is net ’n grinnik en ’n “Hû”. Dit werk elke keer, want dit sê vir hulle dit is nie die soort “vriendin” wat hulle in gedagte het nie en dat dit eintlik niks met hulle te doene het nie. Emma aanvaar dit moedig.

Ons ry deur Nsikazi, Legogoto, Manzini, gehuggies, uitgestrekte eentonigheid van armoedige huisies en rustelose mense wat in die onmoontlike, broeiende hitte drentel, kinders wat langs die pad op hul hurke sit, onder ’n brug in ’n rivier swem.

Emma kyk links na die horison. “Weet jy watse berg daardie is?” Sy is vasbeslote om ’n gesprek te voer.

“Mariepskop,” sê ek.

“Ek dog jy ken nie dié omgewing nie.”

“Ek ken nie die paaie nie.”

Sy kyk na my, sonder verwagting.

“Wanneer die ministers Wildtuin toe gekom het vir ’n naweek, het hulle ingevlieg Hoedspruit toe. Daar is ’n militêre lughawe.”

Sy kyk weer terug na die berg. “Vir hoeveel ministers was jy lyfwag, Lemmer?” En dan, met groot versigtigheid: “As jy daaroor mag praat …”

“Twee.”

“O?”

“Vervoer en Landbou. Meestal Landbou.”

Sy kyk terug van die berg af na my. Sy sê nie ’n woord nie, maar ek weet wat sy dink. Nie noodwendig wat ’n mens hoërisikowerk sou noem nie. Haar lyfwag – ’n wapenlose voormalige oppasser van die Minister van Landbou. Ek weet sy voel veilig.

* * *

“I’m looking for Inspector Jack Phatudi,” sê Emma vir die konstabel in die Hoedspruit-aanklagkantoor.

Die stewige polisievrou het ’n ondeurdringbare uitdrukking. “I do not know that man.”

“I think he works here.”

“No.”

“He is investigating the Khokhovela murders.” Emma se stemtoon bly lig en vriendelik, asof sy met ’n geliefde praat.

Die konstabel kyk sonder begrip na Emma.

“The traditional healer and three other men.”

“Oh. That one.”

“Yes.”

Die vrou beweeg traag, asof die versengende hitte van die vertrek haar terughou. Sy trek ’n telefoon nader. Die instrument was moontlik oorspronklik wit. Dit is nou vuilbruin en gehawend. Sy druk ’n nommer in en wag. Dan praat sy in staccato sePedi-sinsedes, soos sarsies uit ’n masjiengeweer. Sy sit die telefoon neer.

“He is not here.”

“Do you know where he is?”

“No.”

“Will he be coming back?”

“I do not know.”

“Is there somewhere I can find out?”

“You will have to wait.”

“Here?”

“Yes.” Steeds sonder infleksie.

“I … uh …” Emma kyk na die harde houtbank teen die muur, dan terug na die konstabel. “I’m not sure …”

“They will phone,” sê die konstabel.

“Oh?”

“To say where he is.”

“O.K.,” sê Emma met verligting. “Thank you.” Sy stap na die houtbank. Haar sonbruin vel het ’n glans van sweet. Sy gaan sit en kyk na die konstabel met ’n glimlag van geduldige welwillendheid. Ek gaan staan langs die bank en leun teen die muur. Dit is nie koel soos ek verwag het nie. Ek kyk na die konstabel. Sy is besig om in ’n dossier te skryf. Sy sweet nie. Twee swart mans kom in en loop na die toonbank. Hulle praat met haar. Sy frons en skiet op hulle in verwytende woordgrepe. Hulle antwoord haar apologeties. Die telefoon lui. Sy hou haar hand in die lug. Die mans bly stil en kyk vir hul skoene. Sy antwoord die telefoon en luister. Sy sit dit neer.

“He has gone back to Tzaneen,” sê sy in Emma se rigting. Maar Emma kyk by die deur uit.

“Lady!”

Emma skrik en staan op.

“He has gone back to Tzaneen.”

“Inspector Phatudi?”

“Yes. That is where his office is. Violent Crimes.”

“Oh …”

“But he will come tomorrow. Early. Eight o’clock.”

“Thank you,” sê Emma, maar die konstabel is al weer besig om met die twee mans te praat, asof hulle seuns is wat kwaadgedoen het.

* * *

Met ’n uitgedrukte webwerfbladsy in haar hand navigeer sy die pad na die Mohlolobe Private Game Reserve. “Hier is so baie plekke,” sê sy as ons verby die dramatiese ingangshekke van die Kapama Game Reserve, die Mtuma Sands Wildlife Lodge en Cheetah Inn ry, elkeen ’n variasie op die postmoderne Laeveldse tema van ruwe klip, grasdak, dieremotiewe en sierletters. Ek vermoed die oornagtariewe is direk eweredig aan die subtiliteit van dié poorte tot Eden.

Mohlolobe se unieke verkoopsproposisie is twee slanke, smaakvolle olifanttande van beton wat die ingang bewaak. Daar is ’n hekwag in ’n uniform van kakie en olyfgroen. Hy dra ’n wyerandhoed wat effens te groot is vir hom en ’n houtbord wat ’n paar velle papier vasknyp. Op sy bors is ’n metaalnaamteken. Daarop staan Edwin. Security Official. “Welcome to Mohlolobe,” sê hy met ’n breë, skitterwit glimlag aan my kant van die BMW. “Do you have a reservation?”

“Good afternoon,” antwoord Emma hom. “It is in the name of Le Roux.”

“Le Roux?” Hy raadpleeg sy lys, wenkbroue hoopvol gelig. Sy gesig verhelder. “Indeed, indeed, Mr and Mrs Le Roux, you are most welcome. It is seven kilometres to the main camp, just follow the signs, and please do not leave the vehicle under any circumstances.” Hy maak die groot hek oop en wink ons deur met ’n swierige swaai van die arm.

Die grondpad slinger deur digte mopaniebos, hier en daar ’n stukkie oop grasveld. ’n Troppie rooibokke draf vies die ruigtes in. “Kyk,” sê Emma. En dan sit sy haar hand onverklaarbaar oor haar mond. Neushoringvoëls swiep tussen die bome deur. ’n Trop buffels staar ons herkouend en verveeld aan. Emma sê niks. Ook nie wanneer ek na die hopies verteerde gras wys en sê “Olifantmis” nie.

Mohlolobe Main Camp ruik na groot geld: Die grasdakke van gaste-eenhede weggesteek teen walle van die Mohlolobe-rivier, geplaveide paadjies, versteekte beligting, geforseerde hartlikheid van personeel in die kakie-en-olyf-uniforms. Dit is Afrika vir die ryk Amerikaanse toeris, ekovriendelike vyfsterluuksheid, ’n oase van beskawing in die wilde, wrede bos. Ek volg die aanwysings na Reception en ons klim uit. Die hitte is ’n muur, maar binne is dit skielik koel. Ons stap in die gang af na die ontvangstoonbank. Daar is ’n internetkamer links. Hulle noem dit The Bush Telegraph. ’n Duur curiowinkel regs vertoon die naambord The Trading Post.

By ontvangs wag ’n mooi blondine. Op die olyf van haar hemp is ’n naamplaatjie. Susan. Hospitality Official. “Hi. I’m Susan. Welcome to Mohlolobe,” sê sy met ’n groot glimlag en ’n goed verskuilde Afrikaanse aksent. Sue-zin, nie Soe-san nie.

“Hi. I’m Emma le Roux and this is Mr Lemmer,” sê sy ewe vriendelik vir Sue-zin.

“You wanted a two-bedroom suite?” vra die blondine diskreet.

“That’s right.”

“We’re going to give you the Bateleur,” sê sy asof sy ons ’n groot guns doen. “It’s right in front of the water hole.”

“That would be wonderful,” sê Emma en ek wonder hoekom sy nie Afrikaans met die vrou praat nie.

“Now, I just need a credit card to capture, please,” sê sy en kyk na my. Wanneer Emma haar beursie uithaal, is daar ’n klein oomblik waar Sue-zin my met nuwe oë sien.

* * *

Die Bateleur-suite is onderbeklemtoonde weelde, en al wat Emma doen, is om effens te knik, asof dit min of meer voldoen aan haar standaarde. Die swart portier (Benjamin. Hospitality Assistant) dra ons reissakke in. Emma stop hom ’n groen noot in die hand en sê: “That’s fine, just leave them here.”

Hy wys vir my waar die lugversorging en die minikroeg se geheimenisse lê. As hy uitstap, sê Emma: “Sal ek hierdie een vat?” Sy wys na die slaapkamer wat links van die sitvertrek lê. Daar is ’n dubbelbed in.

“Dis goed.”

Ek dra myne na die ander een, wat regs uitgaan, twee enkelbeddens met dieselfde roomwit linne as Emma s’n. Dan neem ek inventaris. Die houtraamvensters kan oop, maar word toegehou vir die fluisterende lugversorging. Elke slaapkamer en die sit-en-kroegruimte in die middel het ’n skuifdeur na die stoep aan die voorkant. Die slotmeganisme is ongesofistikeerd, nie goeie sekuriteit nie. Ek maak dit oop en loop uit op die stoep. Buite is ’n gepoleerde klipvloer, twee banke en stoele in volstruisleer, twee gemonteerde verkykers en ’n uitsig oor die nou verlate watergat, behalwe ’n swerm duiwe wat rusteloos drink.

Ek loop om die eenheid. Drie meter se grasperk, dan begin die ruigte. Ontwerp en geplaas vir privaatheid. Nie een van die ander eenhede, elkeen genoem na ’n arendspesie, is sigbaar nie. Slegte nuus uit ’n lyfwag se oogpunt.

Maar as iemand teoreties gesproke vir Emma wil hê, sal hulle die hoofhek moet vermy, oor twee meter wilddraad moet klim en sewe kilometer deur die veld moet stap in leeu- en olifantwêreld. Daar is nie veel om my oor te bekommer nie.

Ek gaan in, die koel binnekant ’n lafenis. Emma se deur is toe, ek hoor die fluistering van ’n stort. Vir ’n oomblik, heeltemal ongevraagd, visualiseer my kop haar lyf onder die waterdruppels. Ek stap kamer toe om die koue water in my eie badkamer te gaan oopdraai.

Onsigbaar

Подняться наверх