Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 11
7
ОглавлениеOns stap in die skemer na Mohlolobe se Honey Buzzard Restaurant. Daar is ’n neerslagtigheid aan Emma. Gisteraand in Hermanus was sy ook met etenstyd stil. Miskien is sy nie ’n aandmens nie. Miskien is dit die hitte.
Wanneer ons by die kerslig van ’n tafel sit, sê sy: “Jy is seker baie honger, Lemmer.”
“Ek sal kan eet.”
’n Kelner bring spyskaarte en ’n wynlys. “Ek vergeet soms van kos,” sê sy.
Sy skuif die wynlys na my toe. “Jy is welkom om wyn te drink.”
“Nee dankie.”
Sy bestudeer die spyskaart lank en sonder geesdrif. “Net ’n slaai, ’n Griekse slaai,” sê sy vir die kelner. Ek bestel ’n bottel vonkelwater teen die prys van ’n klein motortjie – en die beesfilet met groen-pepersous en kapokaartappels. Ons kyk vir die ander mense in die vertrek, middeljarige buitelanders in groepe van twee en vier. Emma torring die wit linneservet uit ’n ring van nagebootste ivoor. Sy draai die ring met haar delikate vingers om en om, kyk na die fyn blaarpatroon daarop.
“Jy moet my verskoon …” sê sy en kyk op. “Toe ek vandag die bokke sien …”
Ek onthou die oomblik toe sy haar hand oor haar mond gesit het. Sy bepaal weer haar aandag by die wit ring in haar hand. “Ons het ’n wildplaas in die Waterberge gehad. My pa …”
Sy trek haar asem diep in en laat dit stadig uit, asof sy beheer wil kry oor die emosie agter die woorde.
“Nie ’n groot plaas nie, net drieduisend hektaar, net ’n stuk grond met ’n paar bokke op sodat ons naweke … My pa het gesê dit is vir ons, sy kinders, sodat ons nie hééltemal dorpsjapies is nie. Sodat ons kan weet wat klitsgras is. Vir Jacobus was dit … Op die plaas was hy nooit in die huis nie – hy het buite geslaap en geloop en gebly en … Hy het altyd twee of drie van sy maats daar gehad, maar hy het net vir my in die middag gevat as die son begin sak. Aan my hand. Ek was nege of tien, hy was amper klaar met skool. Dan gaan stap hy en sy sus … Hy’t geweet waar die bokke was, al die troppies, dan het hy gesê wat wil jy sien, sus, watter bokke wil jy sien? Dan het hy my vertel van hulle, hoe hulle maak, wat hulle doen. En die voëls, ek moes hulle name leer … Dit was vir my lekker … maar ek het ook partykeer so ’n bietjie skuldig gevoel omdat ek nie heeltemal soos hy kon wees nie … so heeltemal … Dit was asof hy nie geleef het as hy nie op die plaas was nie. Elke vakansie … Ek wou nie áltyd plaas toe gegaan het nie, nie elke naweek en elke vakansie nie …”
En dan is sy weer stil, tot die kos kom. Ek val my biefstuk met geesdrif aan. Sy krap rusteloos met haar vurk tussen die slaaiblare, sit dit eindelik neer.
“My pa … Vir hom was die ergste dat hulle nie vir Jacobus gekry het nie. Miskien sou dit vir hom beter gewees het as daar ’n … ’n liggaam was. Iets …”
Sy tel die servet van haar skoot af op, druk daarmee op haar mond. “Hy’t die plaas verkoop. Toe daar niks hoop meer was nie. Hy het nie met ons daaroor gepraat nie, hy het net een aand by die huis gekom en gesê die plaas is … Dit was die eerste keer … vanmiddag toe ek die bokke sien. Dit was die eerste keer van die plaas se tyd af … Van Jacobus se dood af.”
Ek bly stil. My geluide van simpatie was nog nooit betroubaar nie. En ek sit daar en ek is daarvan bewus dat ek nie ’n uitverkorene is nie. Ek is bloot die enigste beskikbare oor.
Emma neem weer die servetring tussen haar vingers. “Ek … Gisteraand het ek gelê en dink miskien maak ek ’n groot fout, miskien wil ek so graag hê daar moet nog iets van Jacobus iewers wees dat ek … Hoe sien ’n mens al dié goed objektief? Hoe kan jy seker wees dis nie jou emosie en jou verlange … Ek mis hulle, Lemmer. Ek mis hulle as mense en ek mis hulle as idees. As broer en pa en ma. ’n Mens moet familie hê ... Maar dan wonder ek ... is ek hier omdat ek dáárna soek? Het die ou op televisie regtig soos Jacobus gelyk? Ek ... hoe ... ek kan nie seker wees nie. Maar ek kan dit ook nie net ... Daardie telefoonoproep ... as jy nou vir my moet vra wat die man gesê het, wat het ek definitief gehoor? Dit is waarvoor jy ’n pa nodig het, sodat jy kan sê: Pa, is ek . . . is dit die regte ding?”
My bord is leeg. Ek sit die mes en vurk met verligting neer. Nou hoef ek nie meer skuldig te voel dat die kos lekker is, en ek eet terwyl sy met haarself worstel nie. Maar ek kan haar vraag nie antwoord nie. Daarom sê ek: ‘Jou pa ...” Net ’n klein aansporing.
Sy antwoord nie dadelik nie. Sy vou eers die ring in haar hand toe en dan kyk sy op na my en sy sê: “Hy was ’n stoker se kind.”
’n Kelner kom neem my bord weg en sy skuif haar slaai ook oor na hom toe en sê: “I’m sorry ... the salad is great ... it’s just my appetite …”
“Not a problem, madam. Would you like to see the dessert menu?”
“Jy moet poeding eet, Lemmer.”
“Nee dankie. Ek is versadig.”
“Coffee? Liqueur?”
Ons wys dit van die hand. Ek hoop Emma sal opstaan. Maar sy sit die servetring neer waar haar bord gestaan het en plaas haar elmboë op die tafel. “Dit voel vir my of almal vergeet het hoe arm baie Afrikaners was. My ouma ... sy het ’n groentetuin in die agterplaas gemaak en my oupa het ’n hoenderhok tussen die treinspore ... dit was teen die reëls, maar daar was nie ’n ander plek nie, daardie spoorweghuisies in Bloemfontein ...”
En dan vertel sy my die familielegende, die vodde-na-rykdom-sage van Johannes Petrus le Roux. Ek vermoed dit is ’n hervertelling van ’n bekende verhaal, een waarna sy seker dikwels as kind grootoog gesit en luister het. Dit is ook vir haar op hierdie oomblik ’n manier om die hoeksteen van haar verlore gesin weer aan te raak, om haarself en haar speurtog te herdefinieer.
Haar pa was die tweede oudste van vyf kinders, ’n groot gesin wat te hoë eise aan die salaris van ’n stoker gestel het. Op vyftien was daar nie ander genade nie, hy moes gaan werk. Vir ’n jaar het hy as handlanger by die Spoorweë se reuse loodse in Bloemfontein se Oos-Einde gewerk, binne stapafstand van sy nederige ouerhuis tussen die sidings. Sy koevertjie met karige ponde het hy elke maand in sy ma se hand gedruk. Hy het saans self sy enkele werkshemp uitgespoel en voor die koolstoof gaan hang om uit te droog. Op sestien het hy as vakleerling begin met opleiding as passer en draaier, waar sy belangstelling gelê het.
En toe, langsamerhand, gebeur die klein wonderwerk. Johan le Roux en sy leermeesters het gaandeweg besef hy het ’n aanvoeling vir ratte, ’n “brein” vir die vele verhoudings en variasies wat dit met mekaar het, en die masjiene wat dit aandryf. Teen die tyd dat hy as fitter gekwalifiseer het, was sy reputasie al wyd bekend en sy oplossings in ’n dosyn of meer Spoorweg-werktuie besig om duisende te bespaar.
Op ’n someroggend in 1956 het twee Afrikaner-sakemanne uit Bothaville in die groot werkswinkel ingestap en oor die lawaai van hamerslag en slyp en sny geskree dat hulle na die Le Roux-kêrel soek wat so goed is met ratte. Want hulle bou plaasimplemente vir die mielieboere in die Noord-Vrystaat en hulle soek sy talente om te kan kers vashou by die duur masjiene wat van Amerika en Engeland ingevoer word.
Sy stoker-pa was teen die ding. Die staat was ’n konstante werkgewer, ’n versekeringspolis teen Depressie en oorlog en ellende. Die private sektor was vir Engelse en Jode en uitlanders, almal volgens hom Boereverneukers, ’n onsekere bestaan. “Pa, ek kan my eie goed ontwerp. Ek kan self die planne optrek en die vorms sny en die masjiene stuk vir stuk aanmekaar sit. By die Spoorweë gaan ek dit nooit kan doen nie,” was sy argument. Aan die einde van die maand is hy met die trein weg na die dorpie langs die Valsrivier, waar die gode hom met ’n glimlag ingewag het.
Vir sy nuwe werkgewers was hy alles wat hulle gehoop het – hardwerkend, toegewyd en vernuftig. Sy planne was vernuwend, sy produkte suksesvol, sy reputasie het nog wyer uitgekring. En skaars ’n jaar later het hy vir Sara ontmoet.
Dié oomblik is ’n belangrike een in die Le Roux-verhaal, soos met so baie familievertellinge wat ek oor die jare gehoor het. Wanneer Emma dit aanbied, is daar ’n ou verwondering in haar vir die noodlot, die toeval wat haar ouers se paaie op ’n spesifieke plek en tyd laat kruis en haar genetiese beskikking bepaal het.
Die klein industriële gebied van Bothaville is noord van die dorp, aan die ander kant van die treinspoor. Om by sy losieshuis in die middedorp te kom, moes Johan le Roux die voetoorgang by die stasie gebruik en met die perron afstap. Vuil en gesweet, trommel in die hand, het hy laatmiddag sy gewone pad gevolg. In die verbystap het hy nuuskierig by die vensters van die stampvol, verligte stasiekafee ingekyk. En die mooi jong vrou daar sien sit. Hy het vasgesteek, want dit was vir hom ’n magiese toneel: die kleine, fyne meisie met die vrolike hoed, die spierwit bloes en die rooi mond, wat ’n koppie tee met haar delikate hande vashou.
Hy het lank vir haar staan en kyk uit die skemerte van die perron, geskeur tussen die wete dat sy vir hom bedoel is, maar dat hy in sy oliekol-oorpak nie die regte indruk gaan maak nie. Hy kon dit ook nie waag om eers te gaan skoonmaak nie, want as hy terugkom, was sy dalk vort met die trein.
Eindelik het hy die deur oopgemaak en tussen die tafels deur na haar toe gestap. “Ek is Johan le Roux,” het hy vir haar gesê, “en as ek gebad het, lyk ek beter.”
Sy het opgekyk en tot haar ewige krediet die man ágter die werkersgelaat raakgesien, die sagte glimlag, die intelligente oë en die lus vir die lewe. “Ek is Sara de Wet,” het sy haar hand uitgesteek en syne sonder skroom geskud, “en my trein is vertraag.”
Hy het gevra of hy vir haar nog ’n tee kon koop. Sy het, sou sy veel later vir haar kinders vertel, vir ’n onmeetlike oomblik gehuiwer, soos iemand voor ’n afgrond. Want sy het met ’n absolute sekerheid geweet haar “ja” of haar “nee” was soos ’n vurk op haar lewenspad. “Ja dankie, dit sal lekker wees,” het sy hom geantwoord. In die uur voor die trein haar met ’n lang fluit weggeroep het, het hulle lewensverhale gedeel en die eerste tree op die weg na liefde gegee. Sy was die oudste van twee dogters van Brandfort se enigste prokureur, op pad Johannesburg toe om vir ’n mynmaatskappy as tikster te gaan werk. Sy het ’n sekretariële sertifikaat van ’n kollege in Bloemfontein gehad – en ’n angstige opgewondenheid oor die groot avontuur van die stad wat wag. Hy het vir haar sy adres agterop die teerekening neergeskryf (nou ’n vergeelde, byna onleesbare flentertjie geskiedenis wat Emma in ’n verslete Familiebybel bewaar) en gesê as sy wil, kan sy vir hom skryf.
En sy het. Eers het hulle vir ’n maand of drie gekorrespondeer en toe het die langafstandromanse gestalte gekry: Hy het een keer per maand vir ’n naweek gaan kuier, elke week ’n lang brief ontvang en weer een weggestuur en nou en dan oor die raserige plaaslyne van Bothaville gebel om haar stem te hoor.
Tot die mense van Sasol ’n jaar later, in 1958, by sy werkswinkeldeur kom staan het. Hul aanleg was al drie jaar aan die gang en van die ratte op die steenkoolbane wou maar net nie vlot nie. Hulle het kom soek na ’n kontrakteur vir instandhouding en verbetering, want gerugte wil dit hê dat Johan le Roux ’n rat se baas is.
Die kontrak wat hy losgelaan het, was groot genoeg om sy eie besigheid op Vanderbijlpark te begin, maar nie so ruim dat hy haar om haar hand kon vra nie. Daarvoor moes hy wag tot 1962, toe sy skuld afbetaal was. Maar in die vier jaar was hulle minstens elke naweek bymekaar, kon hulle daagliks oor die foon gesels.
In 1963 is hulle op Brandfort getroud en het toe saam Le Roux Ingenieurswerke bedryf – hy die werkwinkel, sy die administrasie en rekeninge. Drie jaar later is Jacobus Daniël le Roux gebore en Sara het voltyds ma en huisvrou geword. Teen 1968 was hulle reg vir nog ’n kind, maar Johan le Roux se steeds groeiende ratreputasie het weer gesorg vir ’n omwenteling in hul lewe. Dié keer was dit ’n lang swart motor voor die werkswinkel se deur – en drie wit mans in swart pakke en hoede wat kom praat het. Hulle was van die nuutgestigte Krygstuig Ontwikkeling en Produksie Korporasie, die voorloper van wat in 1977 Krygkor sou word. Hy moes ’n eed van stilswye onderteken voor hulle hom vertel het van die kanonne en pantservoertuie wat ontwerp en gebou moes word. En omdat hulle met versigtige navrae reeds vasgestel het dat hy ook ’n goeie Afrikaner is, het hulle vir hom die ratkontrak kom aanbied.
Dié nuwe inkomstestroom het twee gevolge gehad. Die eerste was dat Johan en Sara le Roux ryk geword het. Nie oornag nie en ook nie sonder verdienste nie, want die staat is ’n ongenaakbare kliënt en dit het lang ure van bloedsweet geverg. Maar oor die volgende byna drie dekades het Le Roux Ingenieurswerke gegroei tot ’n industrie met drie reusewerkwinkels en ’n afsonderlike gebou in Johannesburg vir navorsing, bestuur en administrasie.
Die tweede gevolg was dat hulle tot 1972 moes wag voor hulle aan nog ’n kind kon dink. Dit was die jaar waarin Emma de Wet le Roux gebore is. Op 6 April, ’n verjaardag wat sy in daardie dae met ’n hele land gedeel het.
“En toe trek hulle Johannesburg toe sodat my pa nie meer so baie hoef te ry nie …”
My eie vermoede is dat Groot Geld ook nie heeltemal tuis gevoel het in die middelklas-grouheid van Vanderbijlpark nie. Linden was die buurt van die opkomende ryk Afrikaner van daardie jare.
* * *
“En dit is waar ek grootgeword het,” sê sy met ’n verontskuldigende handgebaar wat aandui: Dit was my lotsbepaling. Ek kan sien die demper van vroeër het gelig, asof die vertelling haar op ’n manier verlos het. Sy glimlag, byna selfbewus, en kyk na haar horlosie. “Ons moet vroeg roer môre.”
Ons stap uit na buite. Die nag is ’n broeikas van hitte en humiditeit. Ver weg na die weste is daar weerlig. As ons langs die helder verligte paadjies terugstap na die Bateleur-suite, wonder ek oor haar verhaal. Ek wonder of sy ooit nadink oor die oorsprong van haar rykdom, gebou op die fondament van apartheid en internasionale sanksies en nou so heeltemal polities inkorrek. Is dit ’n skuldige gewete wat haar soveel klem laat lê op die armoede waaruit haar ouers gekom het?
Sou die oorsprong van haar welvaart een van die redes wees waarom sy haar eie loopbaan het, waarom sy nie bloot op haar rente leef nie?
By ons suite vra ek haar om haar kamerdeur van binne te sluit.
My selfoon biep in my sak. Ek weet dit is Jeanette Louw se daaglikse ALS REG?-SMS. Ek haal dit uit, stuur die gewone ALS REG vir haar terug. Dan loop ek nog ’n keer buite om die struktuur, voor ek in die bed klim. My eie binnedeur bly oop. Ek lê in die donker en wag vir die slaap en tob, nie vir die eerste keer nie, oor die voordele van ’n vertelbare familiegeskiedenis.