Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 7
3
ОглавлениеSy herstel gou, dit moet ek haar toegee. Wanneer sy sien dat ek nie reageer nie, skud sy die emosie met ’n beweging van haar kop af en sê: “My broer se naam was Jacobus Daniël le Roux …”
Haar sinne is nou weer minder vloeiend, haar storie kursories, asof die detail ’n fontein is waar sy nie wil gaan drink nie. Sy sê haar broer het in 1986 verdwyn. Sy was toe 14, Jacobus 20. Hy was ’n soort tydelike wildbewaarder, een van ’n paar dienspligsoldate wat as vrywilligers gewerf is om te gaan help, want die Parkeraad was nie opgewasse teen die olifantslagting in die Krugerwildtuin nie. En toe raak hy net weg. Hulle het agterna die tekens van ’n skermutseling met ivoorstropers gekry, koeëldoppies en bloed en die haastig agtergelate oorblyfsels van die wilddiewe se kampplek. Hulle het twee weke lank gesoek en gejag, tot hulle die enigste sinvolle afleiding gemaak het: dat Jacobus en sy swart assistent dood is tydens die konfrontasie, dat die stropers hul lyke saamgeneem het uit vrees vir die reaksie wat dit sou ontlok.
“Dis meer as twintig jaar gelede, meneer Lemmer … Dis ’n lang tyd, dit moet jy verstaan. Dis wat alles so moeilik maak … In elk geval, verlede week, die 22ste, het die ding gebeur wat ek die polisie nie vertel het nie …”
Daardie Saterdagaand, net ná sewe, sit sy in haar huis se tweede slaapkamer. Sy het dit as kantoor ingerig, met ’n ingeboude lessenaar, liasseerkabinette en boekrakke. Emma is besig op haar skootrekenaar, sigbladwerk met statistieke wat groot konsentrasie verg. Sy is vaagweg bewus van die TV-nuus se hooftrekke wat in elk geval vir die kyker met ’n gevoel van déjà-vu laat: President Mbeki en die vennote van sy alliansie is haaks, ’n selfmoordbom in Bagdad, Afrikaleiers wat kla oor die G8 se voorwaardes vir skuldafskrywing.
Sy kan later nie onthou wat dit is wat haar laat opkyk nie. Dalk omdat sy ’n grafiek voltooi het en vir ’n oomblik haar fokus kon skuif, dalk net toeval. Maar as sy haar aandag op die televisieskerm vestig, is dit net sekondes voor die foto verskyn. Sy hoor die nuusleser sê: “… by Khokhovela naby die Krugerwildtuin in ’n skietvoorval betrokke was waarin ’n tradisionele geneser en drie plaaslike mans dood is. Veertien karkasse van beskermde en bedreigde aasvoëls is op die toneel gevind.”
Die foto, in swart-wit, verskyn. ’n Wit man, laat dertigs, vroeë veertigs, staar emosieloos vir die kamera, soos wat mense vir die neem van identiteitsfoto’s doen.
Dit lyk soos Jacobus sou gelyk het. Dit is wat sy dink, op daardie oomblik, ’n blote kalm observasie, ’n sweem van … heimwee, amper.
“Die Limpopo-polisie is op soek na ’n mnr. Jacobus de Villiers, ook bekend as Cobus, ’n werknemer by ’n dierehospitaal by Klaserie, om hulle met die ondersoek te help. Enigiemand met inligting kan die polisiekantoor op Hoedspruit …”
Sy skud haar kop. Sy grynslag. Toeval.
Die nuusleser behandel die kommoditeitspryse van die dag en sy skuif haar aandag na die rekenaar voor haar en die groot stuk werk wat nog moet klaarkom. Sy trek die loper oor ’n blok data. Sy kies die grafiekikoon.
Hoe sou Jacobus gelyk het op … veertig, hy sou vanjaar veertig gewees het? Haar herinnering van sy gelaatstrekke is nou dalk meer gebaseer op foto’s in haar ouers se huis, haar eie geheue daarvan onbetroubaar. Maar sy kan die verstommende intensiteit van haar broer onthou, sy gees, sy oorweldigende persoonlikheid.
Sy manipuleer die grafiek tot veelkleurige stawe van data wat insig moet bring van verkoopspatrone teenoor mededingers.
Toeval. Dat die man in die foto op televisie se naam ook Jacobus moet wees.
Sy selekteer nog selle syfers. Sy het nodig om ’n sirkelgrafiek hiervan te maak, skywe van markaandeel wat daarop sal dui dat haar kliënt se slaaisous die agteros is wat net-net in die kraal kom: die probleem wat sy moet oplos.
Veertien karkasse van beskermde en bedreigde aasvoëls is opdie toneel gevind.
Dit sou Jacobus ontstel het.
Sy maak ’n fout met die opstel van die grafiek en klik haar tong vir haarself. Dit is toeval, blote toeval, dit sal gebeur as jy elke dag vir twintig jaar ’n duisend stukke inligting inneem. Die syfers sal sekerlik saamsweer om een of dalk twee keer in ’n leeftyd die draak met jou te steek.
Sy onderdruk die gedagtes vir byna twee uur, tot sy al die syfers verwerk het. Sy kyk of daar nuwe e-pos is en skakel die rekenaar af. Sy gaan haal ’n skoon handdoek uit die linnekas en kom klim op die oefenfiets, selfoon in haar hand. Sy lees SMS’e, luister na boodskappe. Sy trap stelselmatig harder, kyk sonder konsentrasie na die televisie, verander die kanaal met die afstandbeheer.
Sy wonder hoeveel die foto regtig na Jacobus gelyk het. Sy wonder oor haar vermoë om hom te eien. Sê nou maar hy was nie dood nie en hy moet nou hier instap? Wat sou haar pa gesê het oor die nuusinsetsel? Watse werk sou Jacobus gedoen het as hy geleef het? Wat sou hy gedoen het by veertien karkasse van bedreigde aasvoëls?
Meer as een keer dwing sy haarself om aan ander dinge te dink, om die volgende dag te beplan, om reg te maak vir die paar dae op Hermanus oor die Kerstyd, maar Jacobus kom spook oor en oor by haar tot sy eindelik, enkele minute ná tien, in ’n kas gaan grawe en die twee albums uithaal. Sy blaai vinnig daardeur – sy wil nie talm by die foto’s van haar ouers, of hulle as gesin nie. Sy soek net die een van Jacobus met sy boshoedjie op.
Sy haal dit uit, sit dit eenkant, kyk daarna.
Herinneringe. Dit neem aansienlike wilskrag om dit te onderdruk. Lyk hy na die man wat netnou op TV was?
Skielik is sy heeltemal seker. Sy loop met die foto na haar studeerkamer en skakel Navrae om die nommer van die polisie-kantoor op Hoedspruit te kry. Sy kyk weer na die foto. Nou twyfel sy weer. Sy bel die Laeveldse nommer om te vra of hulle seker is dit is Jacobus de Villiers en nie Jacobus le Roux nie. Dit is al. Net sodat sy die ding uit haar kop uit kan kry en gaan Kersfees hou sonder frustrerende verlange na haar oorlede familie, almal van hulle, Pa en Ma en Jacobus.
Sy praat eindelik met ’n inspekteur. Sy vra om verskoning. Sy het nie inligting nie, sy wil nie tyd mors nie. Die man op die TV het gelyk soos iemand wat sy ken, wat ook Jacobus genoem was. Jacobus le Roux. Sy bly dan stil, sodat hy kan reageer.
“No,” sê die inspekteur met die oordadige geduld van iemand wat sy soveelste eienaardige oproep moes hanteer. “He is De Villiers.”
“I know he is De Villiers now, but he might have been Le Roux, that is what I’m saying.”
Die geduld raak minder. “How can that be? He has been here all his life. Everybody knows him.”
Sy sê weer jammer en dankie en beëindig die oproep. Nou weet sy minstens.
Sy gaan slaap met ’n verlange in haar, asof haar verliese ná al die jare weer op ’n manier nuutgemaak is.
* * *
“En toe, gistermiddag, het ek by die ou gestaan wat my deur kom vervang het. Die sersant, die polisie-ou, hy’t iemand uit Hanoverpark gekry, ’n houtwerker … skrynwerker, toe hoor ek my telefoon in die studeerkamer lui. Toe ek optel, is daar ’n geraas op die lyn, ek kon nie veel hoor nie, ek dink hy’t gesê ‘Miss Emma?’. Dit het geklink soos ’n swart man. Toe sê ek ‘ja’. Toe sê hy iets wat klink soos ‘Jacobus’ en ek sê ek kan nie hoor nie. Toe sê hy ‘Jacobus sê jy moet …’ en toe sê ek weer ek kan nie hoor nie, maar hy bly stil. Toe vra ek ‘Wie praat?’ maar toe is die lyn net weg …”
Vir ’n oomblik is sy op ’n ander plek in haar kop, haar oë ver, en dan kom sy terug na my, draai haar kop, kyk na my en sê: “Ek is nie eens seker dit is wat hy gesê het nie. Dit was … die oproep was kort.” Sy praat skielik vinniger, asof sy die hele ding wil klaarkry. “Ek het gisteraand deurgery hiernatoe. En toe Carel die storie hoor …”
Sy laat dit daar. Sy wil nou ’n reaksie hê, ’n aanduiding dat ek glo en verstaan, ’n versekering dat ek haar teen dit alles sal beskerm. Dit is die oomblik van kopersberou, soos iemand wat ’n nuwe ryding aanskaf en weer die advertensie gaan lees. Ek ken dit, dié moment waarin jy jou verbind aan die ongeskrewe deel van die kontrak wat sê “ek aanvaar sonder voorbehoud”.
Ek knik my kop ernstig en sê: “Ek verstaan. Ek is jammer …” en ek beduie met my hande, ’n halwe sirkel om te wys ek wil alles daarby insluit, haar verlies, haar pyn, haar dilemma.
Daar is ’n klein stilte tussen ons, die ooreenkoms gesluit. Sy sal nou aksie verwag, ’n sekere leiding.
“Die eerste ding wat ek moet doen, is om die huis te bestudeer, buite en binne.”
“Natuurlik,” sê sy en ons staan op.
“Maar mnr. Lemmer, ons gaan net een nag hier wees.”
“O.”
“Ek wil weet wat aangaan, mnr. Lemmer. Dit … ek vind dit alles ontstellend. En ek kan nie net hier sit en wonder nie. Ek wil weet of ons mag reis. Of jy mag saamreis. Want ek gaan Laeveld toe, môre.”