Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 9
5
ОглавлениеNiemand agtervolg ons lughawe toe nie.
Ons ry met Emma se Renault Mégane, ’n groen Cabriolet. My bakkie staan in Carel se motorhuis. “Hier is meer as genoeg plek vir hom, Emma,” was die boodskap. Hy het my vanoggend geïgnoreer.
“Bestuur jy, meneer Lemmer?” het sy gevra.
“As dit vir u aanvaarbaar is, juffrou le Roux.” Dit is ons laaste formele interaksie, want terwyl ek tussen Fisherhaven en die N2 vrede maak met die outomatiese ratkas en die verrassing van die tweeliterenjin se krag, sê sy: “Jy moet my asseblief Emma noem.”
Daar is altyd ongemaklikheid aan dié oomblik, want mense verwag ’n voornaam, wat ek nie gee nie. “Ek is Lemmer.”
Ek hou aanvanklik die truspieël met groter aandag dop, want dit is waar die amateurs sal wees – sigbaar, gretig. Maar daar is niks. Ek wissel die spoed, tussen 90 en 120. Teen die Houwhoekpas op begin ek wonder oor ’n wit Japannese sedan voor ons wat ondanks my maatreëls op dieselfde afstand van ons bly, ’n vermoede wat anderkant af sterker word as ek die Renault 140 toe stoot.
’n Paar kilometer voor Grabouw word dit tyd om finaal vas te stel. Kort voor die afdraai sit ek die flikker aan, ry stadiger asof ek gaan afdraai en hou die wit motor dop. Geen reaksie nie, hy hou net aan met ry. Ek sit die flikker af en versnel.
“Jy ken die pad?” vra Emma hoflik.
“Ja dankie,” sê ek.
Sy knik tevrede en krap in haar handsak tot sy haar donkerbril kry.
* * *
Kaapstad Internasionaal is chaos – te min parkering weens die aanbouings, te veel mense, ’n miernes van angstige Kersreisigers wat iewers heen op pad is en die vlug so gou moontlik agter die rug wil kry. Onmoontlik om skaduwees raak te sien.
Ons boek Emma se aansienlike tas en my swart sportsak in. “En jou wapen?” vra sy op pad na die vertreksaal.
“Ek het nie een nie.”
Sy frons.
“Carel het gisteraand ’n aanname gemaak,” sê ek.
“O,” sê sy. Maar sy is nie gelukkig nie. Sy wil die gemoedsrus hê dat haar beskermer toegerus is. Ek bly stil tot anderkant die bagasieskandeerder, waar ons by die Nescafé-koffiewinkel wag vir twee mense om ’n tafeltjie te ontruim.
“Ek het gedink jy is gewapen,” sê sy met ’n vae kommer.
“Wapens maak dinge moeilik. Veral as jy reis.” Dit sal nie help om nou vir haar te sê my paroolvoorwaardes verbied die besit van ’n wapen nie.
Die tafel raak beskikbaar en ons gaan sit. “Koffie?” vra ek. “Asseblief. Cappuccino, as hulle het. Sonder suiker.”
Ek gaan staan in die ry, maar só dat ek haar kan sien. Sy sit met die instapkaart in haar hande, staar daarna. Waaraan dink sy? Aan wapens en die vlak van beskerming wat sy verwag? Aan dit wat voorlê?
Dan sien ek die man. Sy oë, sy fokus is op Emma. Hy vleg tussen die tafeltjies deur, groot, wit, netjiese baard, vaalgeel T-hemp, gestrykte denim, sportbaadjie. Vroeë veertigs. Ek beweeg, maar hy is te naby om te onderskep. Hy loop tot langs haar, steek sy hand na haar skouer uit en ek onderskep hom, vat sy pols en swaai sy arm terug, kry my gewig teen sy rug, druk hom teen die pilaar langs Emma vas, maar sonder geweld. Ek wil nie aandag trek nie.
Hy maak ’n geluid van verbasing, kyk na my. “Hei,” sê hy.
Emma kyk op. Sy is verward, haar lyf verstyf van die skrik. Maar sy herken vir baardbek. “Stoffel?” sê sy.
Die man kyk na haar, dan weer na my. Hy beur terug, probeer sy arm loskry. Daar is krag in sy lyf, maar ongekoördineerd. ’n Amateur. Ek bly vloeibaar, gee effe skiet.
“Ken jy hom?” vra ek vir Emma.
“Ja, ja, dis Stoffel.”
Ek verslap my greep en hy ruk sy arm los.
“Wie’s jy?” vra hy.
Ek bly intimiderend naby aan hom, kyk hom in die oë. Hy hou nie daarvan nie.
Emma staan op, hou haar hand verskonend in die lug. “Dis ’n misverstand, Stoffel, dis goed om jou raak te loop. Kom sit.” Stoffel is nou verontwaardig. “Wie’s dié ou?”
Emma vat sy hand. “Kom, groet my, dis niks.” Sy trek hom weg van my af. Hy laat dit toe. Hy sien sy bied haar wang aan. Stoffel soen dit vlugtig, asof hy steeds dink ek gaan iets onverwags doen.
“Koffie?” vra ek, vriendelik.
Hy antwoord nie dadelik nie. Hy gaan sit eers stadig, statig, sodat hy sy waardigheid kan terugeis. “Asseblief,” sê hy. “Met melk en suiker.”
Daar is ’n effense glimlag op Emma se gesig, die kommer van netnou vergete. Sy kyk vlugtig na my, asof ons ’n geheim deel.
* * *
Die vlug na Nelspruit is op SA Express se 50-sitplek Canadair Jet. Ek sit langs Emma, aan die paadjiekant, sy by die venster. Die vliegtuig is amper vol. Daar is minstens tien passasiers wat volgens ouderdom, geslag en belangstellingsvlak kan kwalifiseer as lede van Emma se moontlik denkbeeldige opposisie. Maar ek twyfel. Om iemand op ’n vliegtuig as agtervolger te plaas, is oorbodig, want die vertrekpunt en bestemming is bekend.
Voor ons opstyg, sê sy: “Stoffel is ’n advokaat.” Ek het nie by hulle gesit met die koffiedrink nie. Daar was net twee stoele by die tafel en ek wou staan, vir die beter uitsig en die laaste bene rek. Hulle het gesels. Ek vermoed Stoffel wou weet wie ek is en sy het aangehou om die vraag te ontwyk.
“Hy’s ’n goeie ou,” sê sy nou. En dan: “Hy’t by my gekuier, ’n paar jaar gelede …” Met ’n nostalgie wat ’n geskiedenis aandui. Dan trek sy die vlugtydskrif uit sy vakkie en slaan dit oop.
Stoffel, die vlerksleper.
My afleiding was anders – ek het vermoed hy is ’n sakekennis, dalk ’n vriendin se eggenoot. Hy het my nie opgeval as die soort man tot wie sy aangetrokke sal voel nie. En hul interaksie was so … vriendskaplik. Maar ek kan my dit voorstel: Hulle ontmoet by een van die sosiale of kulturele watergate waar die rykes ná sononder versamel. Hy’s welsprekend en intelligent, met ’n bytende, selfironiserende humorsin en baie juridiese binnekennis-stories wat hy met kleur vertel. Sy aandag aan Emma sal subtiel wees, hy sal ’n Metode met vroue hê, ’n resep wat hy oor twintig jaar as vrygesel vervolmaak het. Sy sal haar dit laat welgeval. Wanneer hy vier of vyf dae later haar nommer by ’n gemeenskaplike kennis kry, sal sy onthou wie hy is. Sy sal “ja” sê vir die uitnodiging na die toptien-restaurant. Of die kunsuitstalling, of die simfoniekonsert. Sy sal van die begin af weet hy is nie regtig haar tipe nie, maar sy sal dit ’n kans gee, want in haar middeldertigs het sy al genoeg geleer van mense in die breë en mans in die besonder om te weet haar tipe het implikasies. ’n Vrou soos Emma se voorkeur is die Men’s Health-voorblad – ’n fynbesnede Griekse god net ’n halwe meter langer as sy sodat hulle saam ’n pragtige prentjie maak.
Haar soort is ’n metroman met ’n donker kuif, ligte oë en ’n perfekte glimlag, die sportiewe, fikse buitelugsoort wat met sy Staffie op die strand draf en ’n ou, tweedehandse Land Rover Defender voor Kampsbaai se uithangplekke parkeer, die graaf opsigtelik in die rak saam met die petrolkanne. Ná vier of vyf verhoudings met klone van Mnr. Men’s Health sal sy al weet die sielvolle stiltes en die lakoniese, traak-my-nieagtige gesprekke is meestal kamoeflering vir selfbeheptheid en gemiddelde intellek. Daarom sal sy die Stoffels van die lewe ’n kans gee en na ’n maand of wat van vermaaklike, dog onopwindende afsprake sagkens vir hom sê dit is beter as hulle net vriende is (“jy is ’n goeie ou”) terwyl sy heimlik wonder waarom dié soort man nie die vonk in haar kruitvat kan wees nie.
Ons styg op teen die suidooster in. Emma bêre die tydskrif en staar vir ’n rukkie by die venster uit na Valsbaai, waar die witperdjies nou al op galop is. Dan draai sy na my toe.
“Waar kom jy vandaan, Lemmer?” vra sy met opregte belangstelling.
Die lyfwag sit nie by die kliënt op vliegtuie nie. Die lyfwag, selfs wanneer dit ’n solo-opdrag is, vorm deel van die groter entourage wat meestal in aparte voertuie, altyd in aparte sitplekke, anoniem en onpersoonlik sy taak kan verrig. Sonder intieme kontak en gesprekke, Sonder vrae oor herkoms en geskiedenis. Dit is ’n noodsaaklike afstand, ’n professionele buffer, dit word georden deur Lemmer se Eerste Wet.
“Die Kaap.”
Dit stel haar nie tevrede nie. “Watter deel?”
“Ek het in Seepunt grootgeword.”
“Dit moes wonderlik gewees het.” ’n Interessante aanname. “Jy het nie meer die aksent nie.”
“Dis wat twintig jaar in die staatsdiens aan jou doen.”
“Broers en susters?”
“Nee.”
’n Deel van my hou daarvan, hierdie aandag, hierdie belangstelling. Asof ek haar gelyke is.
“En jou ouers?”
Ek skud net my kop, hoop dit sal ’n voldoende antwoord wees. Dis tyd om die fokus te verskuif. “En jy? Waar het jy grootgeword?”
“Johannesburg. Linden, eintlik. En toe is ek Maties toe. Stellenbosch was so ’n … romantiese moontlikheid toe ek dit met Tukkies en die RAU vergelyk het.” Sy bly vir ’n oomblik stil, haar gedagtes wat iewers gaan draai. “En toe bly ek in die Kaap. Dit is so anders as die Hoëveld. Soveel … lekkerder, ek weet nie, ek het net tuis gevoel. Asof dit is waar ek hoort. My pa het my gespot … hy’t altyd gesê ek bly in Kanaan terwyl hulle daar bo in Egipte in ballingskap moet leef.”
Ek kan nie aan nog ’n vraag dink nie. Sy spring my voor. “Soos ek van Jeanette Louw verstaan het, bly jy nou op die platteland?”
My werkgewer sou moes verduidelik waarom dit ses uur gaan neem voor ek kan aanmeld. Ek knik. “Loxton.”
Sy reageer voorspelbaar. “Loxton …” asof sy behoort te weet waar dit is.
“In die Noord-Kaap. In die Bo-Karoo, tussen Beaufort-Wes en Carnarvon.”
Sy het ’n manier van kyk, ’n opregte, oop nuuskierigheid. Ek weet wat die vraag op haar tong is. “Waarom gaan bly ’n mens dáár?” Maar sy vra dit nie. Sy is te polities korrek, te bewus van konvensie.
“Ek sal nie omgee om eendag ’n plekkie op die platteland te hê nie,” sê sy, asof sy my beny. En dan wag sy dat ek reageer, dat ek vertel, die redes en die voor- en nadele uitstippel. Dit is ’n ander manier om die “Hoekom bly ’n mens dáár?”-vraag te vra.
Ek word gered deur die vlugkelner, wat blou kartonboksies met eetgoed aflewer – toebroodjie, pakkie southappies, ’n vrugtesap. Ek vermy die brood. Emma drink net die sap. As sy die strooitjie met haar fyn, amper kinderlike vingers behendig deur die klein foelieteiken gedwing het, sê sy: “Jy het ’n baie interessante werk.”
“Net as ek kans kry om die Stoffels van die lewe teen ’n pilaar vas te druk.”
Sy lag. Maar daar is ook iets anders, effense verbasing, asof sy nou iets raaksien wat teenstrydig is met die persepsie wat sy van my opgebou het: Hierdie vaal man wat van meet of aan so teleurstellend as gespreksgenoot was, het ’n sin vir humor.
“Het jy al bekendes opgepas?”
Dit is wat almal wil weet wanneer hulle jou beroepskeuse verneem. Van my kollegas, vir wie ’n interaksie met beroemdes kosbare aandag-valuta is, antwoord dikwels “ja” – en sal dan ’n paar filmsterre en musiekmense se name soos speelkaarte oor die tafel uitdeel. Die vraer sal op een van hulle toesak en gretig vra: “Is sy/hy nice?” Nie “is sy ’n goeie mens” of “is hy ’n man van integriteit” nie. Maar “nice” – daardie allesomvattende, niksseggende, lui woord waarvoor Afrikaners so lief is.
Wat hulle eintlik wil weet, is of die roem en rykdom die onderwerp van bespreking in ’n selfgesentreerde monster verander het, nuus wat hulle weer vir ander wil gaan oordra as deel van die nimmereindigende markkragte van kennis wat sosiale status bepaal.
Of so iets. B.J. Fikter, die enkele ander Body Armour-werknemer met wie ek sonder te veel weersin kan saamwerk, se standaard-antwoord is: “Ek kan vir jou sê, maar dan sal ek jou moet skiet.” Dit is ’n ja-antwoord wat steeds status bied, maar vir hom ’n cliché-grap as verskoning gee om nie detail te verskaf nie.
“Ons teken ’n swygklousule,” sê ek vir Emma le Roux.
“O.”
Dit neem haar ’n rukkie om te besef sy het al die moontlike onderwerpe nou sonder sukses probeer. Daar daal ’n genadige stilte neer. Ná ’n rukkie haal sy weer die tydskrif uit.