Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 17
13
ОглавлениеDit is stil in die kar as ons by Wolhuter en Branca wegry. Ek oordink die feit dat Emma le Roux net voor ons vertrek so seepglad en behendig gepraat het toe sy vir hulle vertel het van hul groot posisioneringsfout – geen hortende, onvoltooide sinne, geen gebrek aan ritme nie. Met daardie mooi musikaliteit van haar stem en die lig van kennis in haar oë het sy vir hulle gesê Donnie Branca se lesing aan die publiek is uitstekend, maar daar is een groot leemte. Sou hulle dit regstel, sal die donasies aansienlik kan toeneem.
Sy het dadelik hul aandag gehad.
En toe verduidelik sy vir hulle hoe branding werk, handelsmerkposisionering. Elke produk het een “posisie” in ’n klant se kop. Soos met motorfabrikate: Een besit die posisie van “veiligheid” – Volvo. Een besit “bestuursplesier” – BMW. Een besit “betroubaarheid” – Toyota. Maar geen handelsmerk kan meer as een posisie besit nie. Mense se manier van dink laat dit nie toe nie. En wanneer ’n handelsmerk dit probeer, dan misluk dit, sonder uitsondering.
Vir Mogale, het sy met soveel kundige geesdrif gesê, geld dieselfde. Aasvoël-rehabilitasie is perfek. Dis oorspronklik, uniek, sterk, vars, aweregs – alles wat sterk posisionering vereis. Branca se lesing is die perfekte toonhoogte, dit vermaak, dit voed op, dis emosioneel, dit spreek sterk tot mense se harte. Tot hy die ander diere noem – die jagluiperds, wildekatte, luiperds en wildehonde. Dan word Mogale maar net nóg ’n handelsmerk wat alles vir almal probeer wees.
“Julle het twee keuses. Gee die soogdierprogramme ’n ander handelsmerk, of los dit heeltemal uit in die lesing. Julle maak die potensiële donateur sag vir aasvoëls. Hy sit daar en hy dink klaar hoeveel hy gaan gee vir dié fantastiese saak … en dan vermenigvuldig julle sy keuses skielik, sonder rede, en hy weet nie meer waarvoor sy geld gebruik gaan word nie. As dit mý plek was, het ek die ander diere uitgeskuif, weg van die roofvoëls af, dit ’n ander sentrum met ’n ander naam gemaak, waar die lesing en die toer net op daardie spesie fokus.”
Ek het, op pad uit, gedink dit is bevestiging van my vermoede dat sy oor die ander dinge, die aanval, Jacobus … “lieg” is seker nie die regte woord nie. Dit was my werk, vir amper twee dekades lank, om mense te lees vir bedreigende gedrag. En die beste rigtingwyser daarna is ’n verbreking van ritmes. Iemand wat uit pas is met ’n skare se vloei, mense wie se asemhaling, liggaamsbewegings of gesigspiertjies vreemde danse dans. En die ritmes van spraak – elkeen het sy eie, maar wanneer daar skielike en groot veranderings is, beteken dit spanning en stres, die boesemvriende van die leuen.
Waarom en waaroor sy lieg, kan ek maar net spekuleer. Mense fabriseer vir soveel onverklaarbare, ingewikkelde of eenvoudige redes. Soms net omdat hulle kan. Maar Emma moet ’n motivering hê. Dis wat ek dink op pad uit. Die volgende item op die oordenkingslys sou die formulering van ’n nuwe Lemmer-wet gewees het oor dierefanatici, maar ek kom nooit daarby uit nie, want toe ons uitry by Mogale se hek, staan die silwer Opel Astra oorkant die pad en wag, blatant en opvallend.
Swart man agter die stuur, wit passasier.
Maar dit is die geweerloop wat die adrenalien aan die gang kry. Dit staan vertikaal voor die passasier, die loop sigbaar voor sy gesig, die vorm van die visier en blitsbreker identifiseer dit as ’n R4, of een van sy boeties.
Emma is met haar padkaart besig. Sy sien dit nie. Ek sê niks.
Die vuurwapen is die lyfwag se grootste enkele probleem, die ongewapende lyfwag se diepste vrees. Maar dit is nie my enigste bekommernis nie. Daar’s ook die moontlikheid dat ek verkeerd is oor Emma, oor haar bedreiging, oor haar interaksie met die waarheid. Dit sal moet wag.
Ek draai in die teerpad in en ry. In die truspieël sien ek die Astra kom. Geen diskresie nie. Tweehonderd meter agter ons. Slegte teken.
Ek versnel stadig, ek wil nog nie hê Emma moet weet nie.
Die pad Klaserie toe is breed en reguit. Verby 130, die Astra raak vir ’n oomblik kleiner en dan vernou dit weer die gaping. Verby 150 en dit sit steeds daar.
“Ons sal deur Nelspruit moet ry, Barberton toe, en dan die R38 vat,” sê Emma ingedagte. “Dit lyk na die kortste …” En dan kyk sy op en sê: “Ons is nie so haastig nie …”
Ek haal my voet van die versneller af. Ek weet wat ek wil weet. Sy kyk na my. “Is jy O.K., Lemmer?”
“Ek wou net sien wat die BMW kan doen.”
Sy knik, goedgelowig, en begin die kaart opvou.
“Wat dink jy van Wolhuter-hulle?”
Selfs al was daar nie ’n gewapende bedreiging kort op ons hakke nie, sou dit nie nou my gunstelingonderwerp wees nie. Ek hou nie van Wolhuter-hulle nie. Daar’s ’n Lemmer-wet wat konstateer dat hy wat moet sê: “Ek is nie ’n rassis nie, maar …” júis een is. Daar’s die vaste wete dat Wolhuter en Branca nie vir haar alles vertel het wat hulle weet nie, en ek wil nie die een wees wat die nuus aan haar breek nie. Daar’s my beskeie mening dat die Mogale-rehabilitasiesentrum ’n ekologiese herrangskikking van die dekstoele op die Titanic is, soos die meeste groen inisiatiewe, maar nie een van dié dinge is nou baie belangrik nie.
Ek sal die Astra-probleem moet oplos. Ek hou my stem egalig, lig wanneer ek sê: “Emma, ek gaan netnou iets moet doen en ek het twee goed van jou nodig.”
“O?”
“Die eerste is dat jy presies moet doen wat ek sê, sonder om te twyfel en sonder om vrae te vra. Verstaan jy dit?”
Sy is nie dom nie. “Wat gaan aan?” vra sy met ’n bekommerde noot in haar stem en dan kyk sy om, agtertoe. Sy sien die Astra. “Is dit ... agtervolg hulle ons?”
“Die ander ding wat jy sal moet doen, is kalm bly. Asemhaling help. Hou jou asem stadig en diep …”
“Lemmer, wat is dit?” vra sy benoud.
Stadig en rustig sê ek: “Luister wat ek sê. Kalm.”
“Ek ís kalm.”
’n Argument gaan nie nou help nie. “Ek weet jy is, maar ek soek jou nog kalmer. Ek soek jou so koel soos ’n … komkommer.” Nie op my welsprekende beste nie. “Of ’n tamatie, of ’n blaarslaai, of iets,” sê ek, en dit werk.
Sy lag kort en senuagtig. “Ek dink dis die langste sin wat jy nog vir my gesê het.” Die benoudheid het afgeneem. Sy haal diep asem. “Ek is O.K. Wat gaan aan?”
“Die Astra is van Mogale se hek af al agter ons … Moet asseblief nie weer omkyk nie. Ek sal dit moet hanteer. Afskud is nie ’n opsie nie, want hierdie Opels kan byhou en ek ken nie die paaie goed genoeg nie …”
“Ry polisie toe.” Só maklik. Hoekom het ek nie daaraan gedink nie?
“Ons kan dit doen. Maar die naaste polisie is sestig kilometer ver. En wat sê ons vir die polisie? Watter klag lê ons? Die probleem is, die passasier hier agter het ’n vuurwapen by hom. ’n R4-geweer. Hy het moeite gedoen om dit vir ons te wys. Dit laat my wonder waarom – en ek hou nie van een van die moontlike antwoorde daarop nie. Die beste ding wat ek nou kan doen, is om die geweer van hom af weg te neem. En dan hoor ons wat hulle storie is. Maar om dit te kan doen, moet jy my met die twee goed help. Kan jy dit doen?”
Haar reaksie is nie wat ek verwag nie.
“Hoekom kan jy nóú praat, Lemmer?”
“Ekskuus?”
“Twee dae lank gee jy voor jy’s die … stil, stupid tipe wat niks kan sê nie, oor niks kan gesels nie, en skielik stroom dit uit jou uit …”
Stil en stupid. Maar ek kan dit vat. “Emma, ek …”
“Ek sit en tjank voor jou, gisteraand, en jy sit net daar. Soos ’n klipmuur …”
“Dis miskien nie nou ’n goeie tyd nie …”
“’n Bouer? Wat huise regmaak? Jy kan dit vir Wolhuter sê, maar nie vir mý nie.”
“Kan ons later daaroor praat?”
“Definitief.”
“Dankie.”
Sy reageer nie, staar net voor haar uit.
“Hier is ’n vulstasie hier voor. Ons het vanoggend verbygery. As ek reg onthou, is daar ’n kafee ook. Ek gaan by die petrolpompe stilhou en ons gaan dadelik uitklim en ons gaan in die kafee inloop. Nie te stadig nie, nie te vinnig nie, net flink, soos mense wat ’n bietjie haastig is. Reg so?”
“Ja.”
“Die belangrike ding is dat ons nie vir die Astra kyk nie. Nie eens vinnig nie.”
Sy sê niks.
“Emma?”
“Ek sal nie kyk nie.”
“En dan moet jy vir my in die kafee wag. Jy moet daar bly tot ek terug is. Dit is baie belangrik.”
“Hoekom daar?”
“Want dit is ’n baksteengebou wat skuiling bied teen ’n vuurwapen. Dit is publiek. Daar sal ander mense wees …”
Sy knik, gespanne.
Ek haal my selfoon uit my sak. “Ek het nie jou selnommer hierop nie. Tik dit gou in.”
Sy neem die instrument en druk die nommer in.
“Druk nou die bel-knoppie.”
Dit duur ’n paar oomblikke voor haar selfoon lui.
“Nou kan jy dit weer afsit, dankie.”
Ek vat my selfoon by haar en sit dit terug in my sak.
“Onthou die asemhaling. Onthou die komkommer,” sê ek en dan sien ek die vulstasie en ek sit die flikkerlig aan.
* * *
Sy kyk nie vir die Astra nie, al is die versoeking groot.
Ons loop saam met die kafee se trappies op en in by die deur. Drie klante, ’n kort, gesette vrou agter die toonbank. Die reuk van sout en asyn.
“Bly daar agter,” beduie ek na die hoek waar die koeldrankkaste is, die stophorlosie in my kop wat loop.
Dertig sekondes.
Ek soek die agterdeur. ’n Wit houtafskorting bied toegang na ’n klein kombuisie, waar ’n swart vrou by ’n tafel ’n tamatie in skywe sny. Sy kyk verbaas op. Ek sit my vinger op my lippe en loop verby haar, na die houtdeur wat hopelik na buite lei. Ek draai die handvatsel, dit swaai oop.
Buite is vier, vyf motors in verskillende stadia van verval of herstel. Twee mans staan by een se enjinkap. Hulle hoor my voeteval as ek verbyloop na die soom van mopaniebos daaragter.
“Die toilet is daaikant,” roep die een.
Ek steek ’n duim in die lug, maar kyk nie terug nie, hou net aan stap, doelgerig, nie oorhaastig nie. Drukkend warm in die skerp son. Een minuut.
Die Astra sal my nie kan sien nie – dit is al wat belangrik is – want die motorhawe en kafee se gebou is tussen ons.
Ek haal die bome, stap nog twintig meter reguit aan, kyk vir die eerste keer om. Die bosse is dig, ek is onsigbaar. Ek swaai negentig grade regs en begin hardloop. Pyn in my voet waar die glasstuk gisternag gesny het. Daar is nie baie tyd nie. R4 en sy vriend sou hopelik stilgehou het. Hulle sal moet nadink oor die situasie, ’n besluit neem. Die logiese een is om eers te wag. Vier, vyf, ses minute, om te sien of ons uitkom. Dit is wat ek het om mee te werk.
Ek hardloop ver genoeg sodat die vulstasiegebou nie meer die Astra sal verskuil nie. Draai weer regs, pad se kant toe. Draf nou, terug na die soom toe. Wil net eers sien waar hulle is.
Die Opel is deur die lang gras en bome sigbaar. Dit staan oorkant die pad, honderd-en-twintig meter terug van die vulstasie. Deure nog toe, damp by die uitlaatpyp, die enjin nog aan.
Twee minute.
Ek sal agter hulle die pad moet kruis. Draf weer dieper die bosse in, draai parallel met die pad, hardloop ’n slingerroete tussen boomstamme deur, die plantegroei dig. Tel die treë saam met die sekondes. Miershope, digte gras, bome.
Do you remember that one we found in the ant hill last month? Dick, vanoggend, oor die swart mamba. Dit sit ’n huppel in my draf.
Drie minute, sewentig meter.
Ek kry ’n voetpaadjie. Beesspore. Ek versnel. Negentig meter, honderd, honderd-en-tien, honderd-en-twintig. Warm en klam in my skoen. Die wond bloei weer. Ek swaai pad se kant toe. Slaan oor na draf, dan na stappas. Sweet loop teen my gesig af, teen my bors, teen my rug.
Die bos maak skielik oop. Ek steek vas. Die Astra is dertig meter na regs, sy agterkant na my toe. Enjin steeds aan. Hulle kyk vir die vulstasie.
Ek staan vir ’n oomblik, haal doelbewus stadig asem.
Vier minute. Hulle sal begin onrustig raak.
Die geluid van ’n motor wat van links af aankom. Ek sal dit kan gebruik. Wag daarvoor, as dit reg voor my is, hardloop ek gebukkend oor die pad, agter die motor verby, ’n bakkie met relings en ’n bruin koei met ’n verveelde uitdrukking agterop.
Swaai regs na die Astra toe, hardloop teen ’n doringdraad af, hopelik die insittendes se blinde kol. Vee sweet uit my oë. Twintig meter, tien, vyf en dan swaai die bestuurder se kop om, swart man, sy oë kyk in myne, sy mond maak ’n “o”, hy sê iets. Passasiersdeur gaan oop en dan is ek daar, ruk dit verder oop. Die R4 is besig om uit te swaai, ek gryp die loop met my linkerhand, visier skraap diep in my palm, sweet en bloed maak dit glad, kry dit beet, ruk met geweld op en weg van my af. Slaan die wit man met my regterhand, so hard as wat ek kan, teen die neus. Harde kontak, pyn skiet teen my arm op, voel sy kraakbeen breek. Sy greep op die geweer verslap.
Dis ’n R5, die korter weergawe van die R4. Ek kry dit met albei hande beet en ruk dit uit sy greep. Stamp hom teen die oor met die opvoukolf, hy maak ’n geluid.
Ek swaai die geweer om, haal dit oor, druk met my duim teen die veiligheidsknip. Dit was aan. Ek klik dit af, rig dit op die bestuurder.
“Middag, kêrels,” sê ek.
Die witte sê “hû …” en bring sy hand stadig en onseker op na sy bloeiende neus wat nou teen sy regterwang sit.