Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 16

12

Оглавление

Wolhuter tel ’n benerige hand stadig op en vryf oor sy bokbaard. Dan erodeer sy gesig tot ’n versigtige glimlag. “Emma,” sê hy, met respek.

“Dis reg,” sê juffrou Le Roux.

“Jy gaan daardie houding nodig hê, want jy het geen idee in watter bynes jy jou kop insteek nie.”

“Dis wat inspekteur Jack Phatudi ook gesê het.”

Wolhuter kyk betekenisvol vir Branca. Dan vra hy vir Emma: “Wanneer het julle met hom gepraat?”

“Vanoggend.”

“Wat weet jy van hom?”

“Niks.”

Frank Wolhuter skuif sy maer lyf uit die stoel uit op en plaas sy voorarms op die lessenaar. “Emma, ek hou van jou. Maar ek sien op jou besigheidskaartjie jy kom van die Kaap af. En ek moet vir jou sê, dis nie die Kaap hierdie nie. Dis ’n ander wêreld. Jy gaan nie daarvan hou nie, maar laat ek vir jou sê julle Kapenaars leef nie in Afrika nie. Ek weet. Ek gaan elke jaar Kaap toe en dan … dis soos om Europa te besoek.”

“Wat het dit met Jacobus te doene?”

“Ek kom daarby. Ek wil net eers vir jou ’n prentjie teken van Limpopo, van die Laeveld, sodat jy die hele ding kan verstaan. Dis nog Ou Suid-Afrika dié. Nee, dis ook nie heeltemal waar nie. Die meeste se koppe, almal, swart en wit, is nog in die ou bedeling, maar al die probleme is Nuwe Suid-Afrika. En dis ’n lelike kombinasie. Rassisme en vooruitgang, haat en samewerking, agterdog en versoening .… dié goed wil nie in een bed slaap nie. En dan is daar die geld en die armoede, die gierigheid …”

Hy tel weer sy pyp op, maar doen niks daarmee nie.

“Julle het geen idee wat hier by ons aangaan nie. Kom ek vertel jou van jou inspekteur Jack Phatudi. Hy’s van die Sibashwa-stam, ’n groot kokkedoor, seun van die hoofman. En net toevallig is die Sibashwa besig met ’n grondeis. En die grond wat hulle wil hê, is deel van die Krugerpark. En net toevallig is die Sibashwa nie groot aanhangers van Cobie de Villiers nie. Want Cobie is wat sekere mense ’n aktivis sal noem. Nie jou gewone groene, jou tipiese bunny hugger nie. Hy betoog nie en hy skree nie van podiums of nie. Hy’s ’n sluiper, hy’s stil, hy’s hier en hy’s daar en jy sien hom nie. Maar hy’s meedoënloos, hy hou nie op nie, hy kry nie end nie. Hy sal hier luister en daar hoor en hy sal sy foto’s neem en sy notas maak – en as jy weer sien, dan weet hy alles. Hy’s die een met bewyse dat die Sibashwa al klaar ’n ooreenkoms geteken het met ’n eiendomsontwikkelaar. Ons praat honderde miljoene. En toe gee Cobie sy inligting vir Nasionale Parke en hul regsmense, want hy glo as die Sibashwa-eis slaag, is dit die begin van die einde vir Kruger. Jy kan nie ’n klomp huise daar gaan bou en dink dit sal nie impak hê nie. Jy kan nie …”

Hy val homself in die rede. “Laat ek nou nie vir julle preek nie. Die feit van die saak is, die Sibashwa hou nie van Cobie nie. Hy’t al voor die aasvoël-ding met hulle moeilikheid gehad oor goed. Oor slagysters vir luiperds en vangstrikke vir bokke en hulle honde wat rondloop en verniel. Hulle weet dis hy wat hulle gaan aangee het by die owerhede, dis hy wat die honde vrekskiet. Hulle ken hom. Hulle weet hoe hy is. En toe gaan staan en vergiftig hulle die aasvoëls, want hulle het geweet die mense bel vir Cobie as dit gebeur. Dit was ’n lokval. Hulle wou vir Cobie daar hê, sodat hulle dit kan laat lyk of hy die mense, die sangoma en die gifstrooiers doodgeskiet het. Maar dit was nie Cobie nie. Hy kan nie. Hy kan niks doodmaak nie.”

“Ek weet,” sê Emma, met gevoel. “Maar hoekom kruip hy dan weg?” Die regte vraag om te vra.

“Hoekom dínk jy? Kom ek sê jou, die sangoma wat doodgeskiet is, is Sibashwa. Maar hulle wou hom óók uit die pad uit hê, want hy was nét so teen die ontwikkeling. Hy was nie ’n pampoen nie. Hy’t geweet dit gaan alles verander, dit gaan die einde wees van hom en hulle lewenswyse en hulle kultuur en gebruike as die groot geld begin vloei. So hoe los jy die probleem op? Jy raak ontslae van Cobie en die sangoma, twee vlieë met een klap. Hoekom dink jy is al die sogenaamde getuies van die skietery Sibashwa-mense?”

“Dis net te convenient,” sê Branca.

“Presies,” sê Wolhuter. “Hoe objektief gaan inspekteur Jack Phatudi wees in sy ondersoek? As hy nie in elk geval deel is van die hele ding nie? En hoekom het hulle eergisternag by Cobie se kamer probeer inbreek? Hoekom het Jack Phatudi nie net met ’n lasbrief hier aangekom nie? Want hulle soek die kopie van die ontwikkelaar se kontrak. Hulle wil Cobie se foto’s en sy dagboeke hê, al sy bewyse. Nie vir die hof nie. Nee. Hulle wil dit laat wegraak. Soos hulle Cobie wil laat wegraak. Hulle wil vir Cobie uithaal met ’n belaglike beskuldiging en as hulle dit reggekry het, dan is ek en Donnie volgende, want ons is ook teen die eis en ons weet van die eiendomsontwikkeling. Hierdie grondeise-gemors …”

Hy tel sy vuurhoutjies ergerlik op, sy stemtoon stygend.

“Frank …” sê Branca paaiend, asof hy weet wat kom.

“Nee, Donnie, ek gaan nie stilbly nie.” Hy trek ’n vuurhoutjie, suig ergerlik aan die pyp en kyk deur die rook na Emma.

“Weet jy hoeveel daar is wat ’n stuk van Kruger wil hê? Amper veertig. Veertig fo … verdomde grondeise teen die Wildtuin. Vir wat? Sodat hulle dit ook kan opneuk? Gaan kyk wat het die swart mense gemaak met die plase wat hulle hier in die Laeveld gekry het. Met grondeise. Ek’s nie ’n rassis nie, ek praat net feite. Gaan kyk hoe lyk dit nou daar. Dit was spoggrond, suksesvolle, produktiewe wit boere wat moes padgee. En nou gaan daar niks aan nie, die mense vrek van die honger. Alles is stukkend – die boorgatpompe, die besproeiingspype, die trekkers, die bakkies, al daardie geld wat die staat gegee het, in die water. Gemors. En wat doen hulle? Hulle sê ‘gee nog’ en hulle doen niks en die helfte het teruggetrek na waar hulle voor die hele ding gebly het.”

Die pyp is dood. Hy trek nog ’n vuurhoutjie, maar dit kom nooit by die pyp uit nie. “Dis nou dieselfde mense wat ’n stuk van Kruger wil hê, omdat hulle oeroupagrootjie drie beeste gehad het wat daar gewei het in sewentien-voertsek. Gaan gee dit vir hulle en kyk wat gebeur. Gaan deel die park op in veertig stukke stamgrond en dis die einde, ek sê vir jou, ons kan maar almal ons goed vat en Australië toe trek, want hier sal niks oor wees nie.”

Hy leun terug in sy stoel. “Dis nie net die swartes nie. Gierigheid ken nie kleur nie.”

Hy wys met sy pypsteel na my. “Dis hoekom ek moeilik raak as ’n man hier kom sit en sê hy’s ’n bouer. Want hier sluip baie van hulle rond, sulke skraal wit stadsjapies, ge-collar en ge-tie, met rande in hulle oë en Development op hulle besigheidskaartjies. Hulle voel niks vir bewaring nie. Hulle kom nie agtergeblewenes ophef nie. Hulle kom en hulle verlei die mense, hulle skep hierdie visioene van ’n pot vol goud aan die einde van die grondeis-reënboog. En die mense is arm, hulle wil dit so graag glo, hulle raak blind.”

“Golf estates,” sê Donnie Branca met groot afkeer.

“Bid jou dit aan,” sê Frank Wolhuter, sy diep stem weer driftig. “Gaan kyk hoe lyk die Tuinroete. Gaan kyk wat het gholfland-goedere daar gemaak. Alles onder die vaandel van bewaring. Wys my een ding wat hulle bewaar het. Bemorsing, ja. Vermorsing. Hulle gebruik meer water per hektaar as enige ander soort ontwikkeling op die aardbol en nou hoor ek hulle gaan gholfplekke in die Klein-Karoo ook ontwikkel, want teen die kus is daar nie meer grond oor nie. Met watse water, vra ek jou. Daar’s net grondwater en dis ’n uitputbare bron, maar ontwikkel wil hulle ontwikkel, want die rande roep. En hier? ’n Golf estate in die Krugerwildtuin? Kan jy dit sien? Kan jy die opneuk van die fauna en die flora en die waterbronne sien, hier waar ons elke tweede jaar ’n droogte het wat skrik vir niks?”

“Wat gaan vir ons kinders oor wees?” vra Branca.

“Niks,” sê Wolhuter. “Behalwe 18 putjies en ’n paar rooibokke langs die agtiende green.”

Dan bly hulle stil, en die geluide van die diere in die hokke buite syfer deur die gordyne soos ’n beamende koor.

Emma le Roux staar lank na die oorkantste muur voor sy haar identiteitsboekie vat en in haar handsak sit. Sy laat die visitekaartjie op die lessenaar lê. “Waar is Jacobus nou?” vra sy.

Wolhuter se ergernis is nou uitgewoed, sy stem rustig. “Ek kan nie vir jou sê nie.”

“Kan jy vir hom ’n boodskap gee?”

“Nee, ek bedoel ek weet nie waar hy is nie. Niémand weet waar hy is nie.”

“Miskien is hy terug Swaziland toe,” sê Donnie Branca.

“Dis waar hy vandaan kom,” sê Wolhuter. “Kom jy ook van Swaziland af?”

“Nee,” sê Emma.

Wolhuter lig sy hande, ’n gebaar wat sê: Daar het jy dit.

“Hoe lank ken julle al vir Jacobus?”

“Laat ek sien … Vyf … nee, ses jaar.”

“En jy is seker hy kom definitief van Swaziland af?”

“Dis wat hy gesê het.”

“Het hy nog familie daar?”

Wolhuter sak verder terug in die stoel. “Nie wat ek van weet nie. Ek het so half die idee gekry hy was wees. Donnie, het hy ooit gepraat van sy mense?”

“Gee, I don’t know … Jy ken vir Cobie. Not a great talker.”

“Waar in Swaziland?” vra Emma.

Wolhuter skud sy kop. “Jy moet probeer verstaan … Ons vra nie mense se CV’s as hulle hier kom werk nie, want die meerderheid is tydelik. Ons … daar’s altyd ’n ooraanbod van vrywilligers. Hulle doen die toer en dan blink die ogies, veral die jonges en die uitlanders. Dis ’n snaakse ding, ek dink die kerke kry dit ook baie. Wat ek doen, van die begin af, is ek sê board en lodging is op die huis, maar daar’s nie salaris nie. Jy werk eers vir die saak en ons kyk hoe dit gaan. Ons het die hande nodig, maar hulle hou nie. So twee maande van voëlmis uit die hokke uitvee en stinkende karkasse uitsleep na die aasvoëlrestaurant toe, dan blink die oë nie meer nie, dan begin hulle met die verskonings en dan beweeg hulle aan. Maar nie Cobie nie. Hy was drie, vier dae hier, toe weet ek hy gaan bly.”

“Het jy toe ’n CV gevra …?”

“Vir ’n jop wat niks betaal nie?”

“Het hy vir ses jaar gewerk sonder ’n salaris?”

Wolhuter lag. “Natuurlik nie. Maar teen die tyd dat hy op die payroll gekom het, het ek hom geken. ’n Man se karakter sê baie meer as sy CV.”

“Waar was hy voor hy hier begin werk het?”

“Hy’t vir ’n ou gewerk naby die Swazi-grens.

Heuningrand …”

“Heuningklip,” sê Branca. “By Stef Moller. Multi-millionaire, maar hy doen fantastiese werk.”

“Watse werk?”

Wolhuter kyk na Branca. “Jy weet meer as ek, Donnie.”

Branca trek sy skouers op. “There was this article in Africa Geographic … Van Moller wat drie of vier plase langs die Songimvelo Game Reserve gekoop het. Abused land, overgrazed, overploughed, erosion, baie scrap wat rondgelê het. Toe het Moller baie geld ingesit om dit reg te maak. He called it ‘healing of the land’, something like that. Dis nou ’n private game reserve.”

“En Jacobus het hom gehelp?”

“Dis wat ek afgelei het. Cobie …” Branca haal sy skouers op. “Hy was ’n broad strokes guy. Hy’t net gesê hy was daar.”

“Wat het hy nog gesê?”

Dis Wolhuter wat ná ’n ongemaklike stilte probeer verduidelik. “Emma, ek weet nie hoe julle dinge in die Kaap doen nie, maar hier respekteer ons nog ’n man se reg om sy besigheid vir homself te hou. Of nie. Ek en Donnie is anders. Ons is praters. Partykeer word ek moeg vir my eie stories. Ek was my lewe lank ’n wildbewaarder by die Natalse Parkeraad en as jy vanaand om die vuur saam met my kom sit, dan sal ek vir jou stories vertel tot die son opkom. Donnie se mense kom uit Portugese Mosambiek uit en dis ’n interessante geskiedenis en Donnie vertel dit mooi. Maar Cobie … Hy’s anders. Hy sal daar sit, en as ek dierestories vertel, dan sal hy só aandagtig luister, dit maak my partykeer ongemaklik. En dan vra hy vrae daaroor, aanhoudend, amper ongeskik. Dis asof hy my wil leegtap, asof hy elke ding wil hoor, wil leer. En as ons oor ander goed begin praat, dan skakel hy af, dan staan hy op en hy loop. Want hy stel net nie belang nie. Dit het my lank gevat om daaraan gewoond te raak. Ons vertel almal stories oor onsself – die meeste van ons. Dis die manier hoe ons vir die wêreld sê wie ons is … of wie ons graag wil wees. Maar nie Cobie nie. Hy gee nie regtig om hoe mense hom sien, of nie sien nie. Hy leef in ’n enger wêreld ... eendimensioneel … en mense is nie deel van daardie dimensie nie.”

“Cobie doesn’t like the concept of people …” sê Branca.

Emma wag vir hom om te verduidelik.

“He calls humanity the greatest plague the planet has ever known. Hy sê daar’s te veel mense, but that’s not the real problem. Hy sê as ’n man moet kies tussen … my Afrikaans los my patykeer … wat is wealth …?”

“Rykdom,” sê Wolhuter.

“Rykdom, as mense moet kies tussen rykdom en konservasie, dan wen rykdom altyd. We will always overexploit, we will never be cured.”

“Dis hoekom ons so min weet van Cobie. Ek kan vir jou sê hy’t in Swaziland iewers grootgeword, ek dink sy pa was ’n boer, want hy het nou en dan van ’n plaas gepraat. Ek weet hy’t net matriek. En hy het by Stef Moller gewerk voor hy hiernatoe gekom het. Dis wat ek weet van sy geskiedenis.”

“En daar was ’n girlfriend …” sê Branca.

Dit laat Emma regop sit. “’n Girlfriend? Waar?”

“Toe hy by Stef gewerk het. Hy’t net eendag iets gesê …”

“Hoe kom ek by Stef Moller uit?”

Onsigbaar

Подняться наверх