Читать книгу Onsigbaar - Деон Мейер - Страница 12

8

Оглавление

Emma se kreet dring deur die dik sand van die slaap: “Lemmer!”

Ek is op my voete en in die sitkamer voor ek heeltemal wakker is, nog nie doodseker haar roep is werklikheid nie.

“Lemmer!” Suiwer, hoë angs.

Ek storm na haar deur, loop my vas daarteen. Gesluit. “Ek is hier,” sê ek, my stem hees van slaap en frustrasie.

“Daar’s iets in die kamer!” skree sy.

“Maak oop die deur.”

“Nee!”

Ek stamp die deur met my skouer, ’n dowwe slag, maar dit bly toe. Ek hoor ’n vreemde, vae geluid daar binne.

“Ek dink dis ’n … Lemmer!” My naam is ’n benoude gil.

Ek tree terug en skop die deur, dit splinter oop, haar kamer is stikdonker. Sy skree weer, ek stamp met my palm waar die ligskakelaar moet wees en dit is meteens helder en die slang pik na my, ’n groot, grys, sissende oopmondverskrikking, die bek se binnekant swart soos die dood. Ek ruk weg, agtertoe, sitkamer toe, Emma skree my naam weer, ek sien haar vir ’n flitsende oomblik in die dubbelbed, kussing en duvet, alles voor haar bymekaar gemaak in beskerming en vrees. Die slang kom vir my, pik keer op keer, die hol sisgeluid suiwer woede. Ek val oor ’n stoel, die slang se tande slaan millimeters van my been af vas in die materiaal. As dit loskom, spat die gif in ’n blink sproeireën, ek rol van die stoel af, oor die vloer. Ek moet ’n wapen kry, ’n slaanding. Ek gryp die staanlamp van die hoektafeltjie af, swaai dit, mis.

Die slang is onmoontlik lank, drie meter, dalk meer, vaartbelyn soos ’n spies, so verskriklik doeltreffend. Ek spring agter die ander sitkamerstoel in, probeer dit tussen ons hou, die slang kom bo-oor, die voorlyf hoog opgetel. Die staanlamp is te swaar, te lomp, ek slaan dit teen die muur om van die skerm ontslae te raak, tref ’n skildery, glas en hout wat breek, Emma skree. Die slang pik en ek slaan, tref dit skrams teen die nek. Ek spring na regs om verder weg te kom. Vinnig kom dit weer, onhanteerbaar, skrikwekkend doelgerig, asof my hou ’n groter woede daarin losgelaat het, ’n lang, dik, veerkragtige projektiel, die swart oë onverbiddelik, die bek aggressief oop.

Adrenalien laat my bewe. Hy pik, skerp pyn in my voet, ek slaan met die lampstaander, die metaal waar die gloeilamp was, tref die reptiel se nek, kap die kop teen die muur, vir ’n oomblik, net ’n breukdeel, is hy van balans, ek slaan weer, die staander te lank en swaar. Tref sy lyf waar dit op die teëlvloer seil, maar hard, breek iets onder die metaalgrys skubbe. Die slang krioel, draai om homself. Ek slaan en slaan en slaan, sy kop ontwyk my, ek sien ’n bloedstreep op die vloer. Dit is my voet. Die gif gaan my bedwelm, nou, ek moet klaarmaak. Hier kom hy weer.

Ek lig die lamp hoog bo my skouers, bring dit met geweld op die dier af. Mis. Vat dit soos ’n bofbalkolf vas, swaai, slaan, swaai, slaan, tref die kop skrams. Swaai, slaan. Mis, hy is nou aan die terugval. Hou die lampsteel soos ’n swaard, wil sy kop teen die vloer vasdruk. Een, twee keer onsuksesvol, die derde steek van die punt is agter sy nek, ek boor dit teen die teëls. Sy lang lyf krul teen die staander op, om my arm. Ek trap met my bloeiende regtervoet die nek vas, lig die lampsteel, steek die kop met al die vrees en weersin in my. Die slang se kartels is om my been, laaste sametrekkings van kragtige, soepel spiere. As dit verslap, ruk ek my voet weg en slaan een laaste keer met mag en mening om die doodskiskop heeltemal te verbrysel.

* * *

Sy sit op die badrand. Ek sit op die vloer, nog steeds net in die kortbroek waarin ek slaap, my voet op haar skoot.

“Ek gaan op jou bloei.”

“Hou net stil,” antwoord sy streng, soos die skooljuffrou wat netnou gesê het: “Kom sit, Lemmer.” Ek sien daar is nog ’n sterk bewing in haar hande. Sy trek die skerp skerf uit met haar vingers en sy sit dit versigtig op die vensterbank neer. Dit was toe nie die slang se giftande nie. Sy rol toiletpapier af en hou die bondel styf teen die sny. Die bloed dam uit daarin.

“Hou vas hier,” sê sy en druk my voet na my toe. Sy staan op en loop uit. Ek kan nie help om die afdruk van haar tepels te sien teen die te groot T-hemp wat haar slaapklere is nie. Dit hang tot bo haar knieë. Haar kuite is mooi. Ek hou die toiletpapier teen die sny. My hande is stil. Sy is vir ’n rukkie weg en dan hoor ek haar kaal voete aankom deur die deurmekaar sitkamer met die omgekeerde stoel, die gebreekte kunswerk en die stukke van die staanlamp. Die slang lê buite op die stoep. Die lang lyf was nog warm toe ek dit daarheen gesleep het, die geskubde vel soepel en glad. Ondanks die omstandighede was daar ’n skuldgevoel in my – oor die onwaardigheid, die skrille teenstelling tussen die doodsgevaarlike veer en hierdie lewelose lint.

Emma het ’n klein leersakkie in haar hande. Sy gaan sit weer op die badrand en rits dit oop. Sy haal ’n skêrtjie uit, vat een van die wit waslappe en begin sny.

“Iemand het die slang in my kamer gesit, Lemmer,” sê sy, in ’n beredeneerde dit-is-hoe-dit-is-stemtoon.

Ek kyk na die skêr en die waslap.

“Dit is wat my wakker gemaak het. Die venster … toe hy dit toegestamp het. Of iets. Ek het nou gaan kyk. Die venster is toe, maar dit is nie op knip nie.”

Sy sny ’n lang spiraal uit die waslap, sekuur en behendig. “Gee my jou voet.” Ek sit die ledemaat weer op haar skoot. Sy vat die bebloede toiletpapier weg en inspekteer die sny. “Dit lyk darem of dit ophou bloei het.” Sy neem die waslapverband en begin dit om die bal van my voet draai. “Hulle moes gisteraand die venster se knip van binne af kom draai het. Toe ons geëet het. Dit is die enigste manier, want jy kan nie die venster van buite af oopmaak nie.”

Ek sê niks. Sy sal nie wil hoor hoe onwaarskynlik haar teorie is nie. Hoe hanteer jy só ’n reptiel, hoe glip jy dit deur die skreef van ’n halfoop venster? Hoe het “hulle” geweet ons gaan hier oornag?

Hoe het hulle van die grootpad tot hier in die nag gekom met ’n sissende, giftige slang van drie meter lank en presies geweet waar Emma se kamervenster is?

Emma het ’n klein silwer haakspeld uit die leersakkie gehaal en steek die verband vas. Sy tik met haar palm op my tone. “Daar’s hy,” sê sy, tevrede met haar handewerk. Ek haal my voet van haar skoot af. Ons staan op. By die badkamerdeur gaan staan sy en draai na my toe, kyk op na my met ’n ernstige gesig.

“Dankie, Lemmer. Ek weet nie wat ek sonder jou sou gedoen het nie.”

Ek antwoord nie, wag dat sy moet uitgaan.

“Hoe doen jy dit, Lemmer? Draf jy?”

“Hoe bedoel jy?”

“Jy het nie ’n ons vet aan jou nie.”

“O.” Ek is onkant betrap “Ja, … ek draf. En so …”

“Jy moet my eendag van die ‘en so’ vertel,” sê sy en loop met ’n effense glimlag om die mond uit.

* * *

Wanneer ek weer in die donker in my bed lê en wag vir ontwykende slaap, verwonder ek my aan die sekerheid en kalmte waarmee sy die sogenaamde sameswering beskou. Dit is volkome werklik vir haar, ’n voldonge feit, ’n ongelukkige realiteit waarmee sy moet saamleef. Dit maak haar nie histeries nie, maar bloot pragmaties.

Mense wil my doodmaak – ek huur ’n lyfwag. Probleem opgelos.

Dit is vleiend, op ’n manier, haar kinderlike vertroue, haar geloof in my vermoëns. Maar ek kry nie veel genoegdoening daaruit nie, want dit kom van dieselfde vrou wat verstrengel is in verbeelde komplotte. Waar ek aanvanklik vermoed het sy lieg, begin ek haar nou verdink van fantasie, verlange-gedrewe illusies.

Ek lê lank in die donker, luister na die geluide van die bos, die nagvoëls, ’n hiëna. Een keer verbeel ek my ek hoor ’n leeu brul. En net wanneer ek begin afdaal na die slaap is daar ’n ander geluid: Die sagte tred van Emma se kaal voete deur die sitkamer, verby my, tot by die ander enkelbed hier langs my. Daar is die geritsel van beddegoed en dan is dit stil.

Ek hoor hoe sy haar asem stadig uitblaas, ’n sug van behaaglikheid. Of verligting.

Onsigbaar

Подняться наверх