Читать книгу Proteus - Деон Мейер - Страница 13

7

Оглавление

Hy vra vir die taxibestuurder om hom voor die Media 24-gebou in die Heerengracht af te laai. Hy kies koers, oos, deur die Nico Malan, draai links in Hertzog, die verkeer dié tyd van die aand uitgedun. Hy loop doelbewus sonder dringendheid, soos ’n man wat nêrens heen op pad is nie. Weer links in Oswald Pirow. As hy tussen die vulstasie se pompe deurstap en die petroljoggies in hul nagkamer deur die venster groet, sien hy die voertuig voor Mother City Motorrad staan, die ligte aan. En hy sien die Spoke voor, langs mekaar. Sy hart sink.

Hulle hou die plek dop.

Hy maak die joggies se nagkamerdeur oop en gaan in, weet as hy buite staan, gaan hy gesien word.

Hul enjin luier. Goeie teken, as hulle op observasiediens was, sou hulle verder terug in die dwarsstraat gestaan het, ligte af, enjin af. Die joggies is bly om hom te sien – enige afleiding dié tyd van die aand is welkom. Wat maak hy hier, wat is in die sak? Hy fabriseer ’n antwoord – ’n kliënt se gedienste motorfiets is nie afgelewer nie en nou moet hy wat Mpayipheli is die Whiteys se kastaiings uit die vuur kom krap. Maar uit die hoek van sy oog hou hy die motor in die straat dop. Hy sien dit trek weg, probeer dit dophou sonder om agterdog by die joggies te wek.

Moet hy die kliënt se motorfiets dié tyd van die nag gaan aflewer?

Ja, die man is kwaad, hy het die fiets môreoggend nodig en die Whitey-baas is te lui om in die aand uit te kom, daarom dat die Xhosa uitgeroep is, dit is mos maar dieselfde ou storie; wat kyk julle op televisie, ’n wedstrydspeletjie?

Ja, elke ou moet uit drie meisies kies, maar hy kan hulle nie sien nie, hy mag hulle net vrae vra …

Die motor is weg, hy luister nog hoflik vir ’n minuut of twee, verskoon homself, loop uit, kyk in die strate op en af. Daar’s niks. Hy stap oor, agter, in die dienssteeg in. Hy haal sy beursie uit die blou sak, soek deur die voue van die leer. Die houtdeur se silwer sleutel lê blink en plat waar hy dit altyd bêre, want hy is soggens eerste hier om uit te vee, ’n halfuur voor die meganici – dan moet hy die ketel en die ligte aansit en seker maak die vertoonvensters is skoon.

Hy sluit oop, tik die kode op die alarmpaneeltjie in. Hy moet besluit – sit hy die ligte aan? Die joggies sal wonder as hy dit nie aansit nie. Maar hy besluit daarteen, hy moet nie aandag trek nie.

Volgende besluit: Watter motorfiets? Here, die goed is groot. Sal hy met sy Honda 200-kennis kan bo bly? Nog nooit is hy toegelaat om een te ry nie – hy moet hulle na buite stoot, dan was, poleer en blinkvryf. En weer terugstoot.

En vanaand moet hy op een klim en Johannesburg toe ry. Maar watter een?

Hy voel die gewig van die sak in sy hand.

Die 1200 RS is die vinnigste, maar wat van die sak? Die LT het pakplek, maar dit is reusagtig. Die GS-demonstrasiemodel in die vertoonlokaal het die vaste bagasiesakke weerskante van die agterwiel, die motorfiets staan daar, bonkig en gehurk, oranje-geel; die sleutel, weet hy, hang in die onderdelekamer.

Here, die goed is so groot.

* * * * *

Ondanks die doringdraadbekroonde betonmure en hoë hek, ondanks die menslike waarskuwingstelsel van oë af in die straat en die agt man met hul versameling van vuurwapens binne, neem dit Tiger Mazibuko en sy Reaksie-eenheid slegs sewe minute om die huis te oorrompel.

Hulle kom in drie spanne van vier, vier en vyf deur die donker. Die twee ongemerkte motors laai hulle een blok suid van die huis af en hulle beweeg sekuur deur tuine en oor muurtjies, tot hulle teen drie kante van die erf die muur kan oorsteek. Die roesende doringdraad knip sag en maklik, handgebare in die straatlampverligte donker gee instruksies.

Die vensters het diefwering voor, maar die groot ruite is onbeskermd en dit is waar hulle deurgaan, met geoefende, gladde bewegings van breek, induik en rol, op drie plekke, binne sekondes van mekaar. Wanneer die inwoners binne reageer, paniekbevange begin reik na wapens, is dit te laat. Vreesaanjaende figure met dik strepe kamoefleerverf, geklee in gevegsdrag, dwing hulle met groot behendigheid teen die vloer, druk bonkige Heckler & Koch masjienpistole teen hul slape. Oomblikke van chaos en verwarring word skielik stil, tot net een man se selfversekerde stem opklink, helder en in volle beheer.

Mazibuko laat hulle almal na ’n voorkamer bring, arms agter die koppe lê.

“Weyers, Zongu, hou die straat dop,” sê hy. Dan wend hy hom tot die bondel van lywe op die vloer. “Wie’s in bevel hier?”

Hulle lê met hul gesigte na die vloer. Een of twee wat fyn bewe.

Sekondes wat verbygaan sonder reaksie.

“Skiet een, Da Costa,” sê Mazibuko.

“Watter een, kaptein?”

“Begin daar. Skiet hom in die knie. Fok sy been op.”

“Goed, kaptein.”

Da Costa wat die H&K se slotmeganisme luid terugtrek en die loop teen ’n been druk.

“Julle kan nie net skiet nie,” sê een in die middel van die bondel.

“Hoekom nie?”

“Daar is rules vir die SAPD.”

Mazibuko lag. “Skiet, Da Costa.”

Die skoot is ’n donderslag in die vertrek en die man maak ’n diep, ontstellende geluid. Kordietreuk vul die kamer.

“Hier’s ’n brokkie slegte nuus: Ons is nie SAPD nie,” sê Mazibuko. “Ek vra weer: Wie is die Chief Gangsta hier?”

“Ek,” sê die middelste man, sy gesig beangs.

“Staan op.”

“Gaan jy my ook skiet?”

“Dit hang af, Gangsta, dit hang af.”

* * * * *

Sy het haar beleid oor transkripsies stelselmatig ontwikkel.

Die uitdaging was om inligting te beveilig, want in dié land lek dit soos water uit ’n gronddam, deur die krake van ou lojaliteite en nuwe aspirasies, syfer dit weg deur ’n sandbodem van korrupsie en kleinlike gierigheid. In dié land snuffel almal soos honger honde op soek na die groot betaaldag en as iets die reuk van geld afgee, lok dit aasdiere uit die vreemdste gate.

Daarom was haar siening van die begin af om niemand te veel te vertrou nie, om niemand in die versoeking te lei nie, om die reuke te bekamp.

Rajkumar het haar ingelig oor die onveiligheid van elektroniese inligting. Maklik om te dupliseer, maklik om te versprei: stiffie-skywe, zip-skywe, CD-ROM, FTP, hardeskywe kleiner as ’n halwe sigaretdosie, e-pos, kuberkraking. As dit gekoppel is, is dit deurdringbaar. As hulle in ander databasisse kan inkom, kan ander hulle s’n bekom, die een of ander tyd met die een of ander nuwe, vindingryke metodes of programmatuur.

Daar is net een manier om inligting veilig te hou: een afskrif, op papier. Liasseerbaar, beheerbaar, beperkbaar.

Daarom het Rajkumar ’n bykomende afdeling bygekry om te bestuur. Die tiksters. Vier vroue wat met ysingwekkende spoed, met die vaardigheid van ’n virtuoos, hul outydse, elektriese IBM-tikmasjiene se klawers kan bespeel. Wat hul dagtaak in ’n videogemoniteerde vertrek op die sesde verdieping verrig. Wat elke digitale en magnetiese klankopname uitteken, transkribeer en saam met die enkele afskrif weer inteken, getik op papier wat nie sal vergeel of vergaan nie. Sodat Radebe en sy span analiseerders dit kan ontleed en daarna in die toegangs- en temperatuurbeheerde dokumentbiblioteek liasseer saam met die magnetiese bandjies – as dit digitaal opgeneem is, word die oorspronklike opname uitgewis.

Wanneer die transkripsie van die onderhoud met Orlando Arendse by haar uitkom, sewe-en-veertig minute nadat dit mondelings in Milnertonrif gevoer is, ken sy al die belangrikste inhoud daarvan.

Transkripsie van onderhoud deur A.M. Williams met mnr. Orlando Arendse, 23 Oktober, 21:25, Milnertonrylaan 55, Milnertonrif.

W: Ek verteenwoordig die Staat, mnr. Arendse. Ek het ’n paar vrae oor ’n mnr. Tobela Mpayipheli en ’n mej. Monica Kleintjes …

A: Ek werk nie by die huis nie. Come see me at my office in the morning.

W: Ek is bevrees dit kan nie so lank wag nie, mnr. Arendse.

A: Waar’s jou credentials?

W: Hier is dit, mnr. Arendse.

A: Los maar die ge-menerery. I can see you don’t mean it. Hierdie kaartjie sê niks. Come see me in the morning, baie dankie.

W: Miskien moet u …

A: Miskien moet ek niks. Dis buite my kantoorure en jy het nie ’n warrant nie.

W: Ek het.

A: Waar?

W: Hier.

A: Dis ’n cellular phone.

W: Miskien moet u die oproep neem.

A: Totsiens, my broer.

W: Dit is van ’n huis in Mitchells Plain wat aan u behoort.

A: Julle …

W: Neem dit gerus.

A: Hallo. Ja … Ja … The bastards … Ja … Williams, wie die fok is julle?

W: Is daar iewers waar ons privaat kan gesels, Arendse?

A: Wat wil jy hê?

W: Net ’n bietjie inligting.

A: Said the spider to the fly. Kom deur, laat ons agter gaan sit.

W: Dankie.

A: Julle het my man geskiet, Williams.

W: Ons wou u aandag kry.

A: Julle kan nie net skiet nie. Daar’s tog rules of engagement.

W: Ek is seker die meeste staatsdepartemente sal met u saamstem.

A: Wie is julle?

W: Ons het inligting nodig oor ’n mnr. Tobela Mpayipheli en ’n mej. Monica Kleintjes.

A: Ek ken nie die juffrou nie.

W: En mnr. Mpayipheli?

A: Hy werk nie meer vir my nie. Al lank nie meer nie. Twee jaar.

W: Watse werk het hy vir u gedoen?

A: Nou’s die tyd dat ek gaan vra jy moet my verskoon, ek wil my prokureur gaan bel.

W: Ek is bevrees dit is nie moontlik nie.

A: Dink jy, my bruin broer, ek gaan hier sit en vir jou incriminating evidence gee because you hold a barrel to my troops’ head? My mense ken die score, hulle weet hulle kan seerkry in onse soort werk.

W: Mnr. Arendse, ons weet u is betrokke by georganiseerde misdaad en die feit van die saak is, ons stel nie daarin belang nie. Dit is die SAPD se probleem. Dink u werklik ons optrede in Mitchells Plain, so lynreg in stryd met die strafproseswet, is deel van ’n poging om u aan die pen te laat ry?

A: Vir wat praat jy soos ’n Whitey? Waar’s jou roots, my broer?

W: Mpayipheli. Wat het hy vir u gedoen?

A: Go fuck yourself.

W: Mnr. Arendse, my mense by u huis in Mitchells Plain sê daar is 200 kg kokaïen in verskillende stadia van prosessering. Ek is seker dit is vir u iets werd, as die ledemate van u personeel dan nie waarde het nie. Kyk asb. hier na die linkerkantste kantlyn – ek kan dit nie self regstel nie.

[Onhoorbaar.]

W: Mnr. Arendse?

A: Wat is julle storie met Tiny?

W: Wie?

A: Mpayipheli.

W: Ons soek bloot agtergrondsinligting.

A: Why?

W: Roetineondersoek, mnr. Arendse.

A: Ten o’clock at night? Pull the other one.

W: Ek is nie in ’n posisie om ons belangstelling in mnr. Mpayipheli met u te bespreek nie.

A: Did he go into business for himself?

W: Wat bedoel u?

A: Hy moet iets gedoen het om julle aandag te kry.

W: Wat het hy vir u gedoen?

A: Hy was my enforcer.

W: Enforcer?

A: Ja.

W: Kan u dit meer volledig omskryf?

A: Jirre, jy praat hoog. Die Staat het jou mooi geleer.

W: Mnr. Arendse …

A: Okay, okay, but don’t expect a saga, dis meer van ’n short story dié. Tiny was firepower en physical intimidation, dis al. Hy’t shotgun gery. Sharpshooter, like you won’t believe. En hy was groot en sterk en hy was ’n mean bastard, jy kon dit in sy oë sien, there was always a hawk there, hy het jou gewatch en vir weakness gesoek.

W: Hoe lank het hy vir u gewerk?

A: Ses jaar? Ek dink dit was ses jaar gewees.

W: En voor dit?

A: Julle behoort te weet. Hy was ’n Struggle soldier.

W: Umkhonto weSizwe?

A: Net so.

W: Met respek, mnr. Arendse: Daar is nie baie MK-soldate in Mitchells Plain nie.

A: Too true, my broer, they stick to their own. Maar ek het lucky geraak. Daar was destyds ’n vacancy en jy weet hoe dit is – word gets out en die volgende wat ek weet, staan hierdie moerse Xhosa in die deur en sê the vacancy is now filled. Best appointment I ever made.

W: En toe sê hy hy is oud-MK?

A: Exactly. Ek was so bietjie skepties, toe ry ons Strandfontein toe vir ’n proper job interview en ons gee hom ’n ou AK47 en ’n klomp Castle dumpies op two hundred yards, wat nie ver klink nie, my broer, maar daai botteltjies was maar klein, en hy skiet hulle stukkend met sulke monotonous regularity dat die ander troepe hom ’n standing ovation gee, verstaan jy?

W: Het hy ooit sy talente in u diens gebruik?

A: Praat tog Afrikaans, my broer. Wil jy weet of hy iemand geskiet het?

W: Ja.

A: It was never necessary. Sy hawk eye was genoeg. His mother loved him, but everybody else feared him.

W: Waar het hy as MK-soldaat gedien?

A: How should I know? Hy het nooit daaroor gepraat nie.

W: Nooit?

A: Hardly a word. Ses jaar en ek het hom nie geken nie. Kept to himself, altyd so bietjie eenkant soos Colin Wilson se Outsider, but who cares, he was a jewel in my crown.

W: Colin wie?

A: Literary reference, my broer. Jy sal nie verstaan nie.

W: En toe verlaat hy u diens?

A: Twee jaar gelede, toe kom hy in en sê hy is klaar, hy gaan loop. Ek dog eers hy speel my vir ’n increase, maar hy wou niks hoor nie. Next thing we know work hy by ’n motorbike shop, dogsbody and general cleaner, can you believe it? Werk hy vir peanuts – by my het hy ’n small fortune verdien. Maar nou klink dit vir my hy is besig met iets op die side.

W: U het dus geen kontak met hom gehad die afgelope twee jaar nie?

A: Sweet Fanny Adams.

W: Ek sal nie u tyd verder in beslag neem nie, mnr. Arendse.

A: Now there’s a relief.

W: U kan maar mediese dienste uitstuur Mitchells Plain toe, ons sal ons onttrek van u eiendom.

A: Mister Williams, julle weet niks van Tiny Mpayipheli nie. Is ek reg?

W: Waarom, meneer Arendse?

A: Noem dit ’n sneaking suspicion. En laat ek nou vir jou sê: Julle moet solank body bags order.

Proteus

Подняться наверх