Читать книгу Proteus - Деон Мейер - Страница 17

11

Оглавление

Die agent is van die Oos-Kaapse Buro in Bisho. Sy weet dit is operasioneel gesien die gatkant van Suid-Afrika; professioneel gesien ’n dryfsandput, want daar gebeur nooit iets wat jou die geleentheid bied om uit te styg, om jou op te dring aan Hoofkwartier nie. Hoe langer jy daar is, hoe dieper sink jy weg in die verstikking van middelmatigheid.

Wanneer Radebe van HK bel om te sê jy moet ’n onderwerp gaan ondervra in Alice, dan kla jy nie oor die gebrek aan inligting nie, jy sit ywer in jou stem en hou die dankbaarheid daaruit en jy klim in die vuil, stotterende wit Volkswagen Golf Chico met 174 000 km op die klok en jy omhels die geleentheid, want dit kan dalk net die paspoort tot hoër louere wees.

Dan fokus jy jou gedagtes op die vrae wat jy gaan vra, die stemtoon wat jy gaan handhaaf, jy berei jou voor tot jou gedagtes begin dwaal, tot jy begin dagdroom oor die moontlikhede van hierna, jy sien in jou geestesoog hoe mevrou die verslag sal lees en vir Radebe inroep (jy weet nie hoe haar kantoor lyk nie, maar jou verbeelding vul dit met meubels van chroom en glas) en sê: “Hierdie agent is briljant, Radebe. Wat maak sy in Bisho? Sy hoort hier by ons.”

En nog voor die fantasie behoorlik gestalte kan kry, voor sy haar droomwoonstel in Seepunt se uitsig en meublement vorm kan gee in haar gedagtes, is sy daar, hou sy voor die huis in Alice stil, net ’n kilometer of wat van die mooi nuwe geboue op die Fort Hare-kampus, sien sy daar brand nog ’n lig en klop sy aan, hoflik sag, haar opnemer en notaboek in haar handsak, haar vuurwapen teen die kuiltjie van haar rug in ’n leerskede.

Die man wat oopmaak, is silwergrys, die plooie op sy gelaat diep en menigvuldig, die lang liggaam reeds geboë in ouderdom, maar wanneer hy “Goeienaand” sê, is daar net geduld in die stem.

“Dominee Lawrence Mpayipheli?”

“Dit is reg.”

“My naam is Dalindyebo. Ek het u hulp nodig.”

“Dan het jy na die regte plek gekom, suster.” ’n Sterk stem. Die leraar staan terug en hou die deur oop. Sy kamerjas is wynrooi, met twee beaarde kaal voete wat onder uitsteek. Die agent stap in, laat haar oë oor die vertrek swiep, die boekrakke teen twee mure, honderde boeke, die ander mure behang met swart-wit en kleurfoto’s. Die voorkamer het ’n eenvoud – geen luukses nie, net ’n aura van rustigheid en warmte.

“Sit asseblief. Ek wil net vir my vrou sê sy kan maar slaap.”

“Ek is jammer oor die uur, dominee.”

“Moenie jammer wees nie.” Die dominee verdwyn in die gang, sy kaal voete geluidloos op die tapyt. Die agent probeer vanuit haar stoel na die foto’s kyk. Die dominee en sy vrou in die middel, by bruidspare, by kerkrade, by amorfe groepe mense. Eenkant ’n gesinsfoto, die dominee jonk, lank en regop. Voor hom staan ’n seuntjie van ses of sewe, ’n ernstige frons op sy gesig, ’n haasbek van verwisselende voortande. Die agent wonder of dit Tobela Mpayipheli is.

Die bejaarde man verskyn weer vanuit die gang. “Ek het die ketel aangesit. Wat bring u na my huis, juf. Dalindyebo?”

Sy huiwer vir ’n oomblik, skielike twyfel in die voorbereide frase wat op haar tong gehurk sit. Daar is iets wat uit die ou man straal. Liefde, deernis.

“Dominee, ek werk vir die Staat …”

Hy is reg om oorkant haar te gaan sit, sien haar twyfel. “Praat maar, my kind, moenie bang wees nie.”

“Dominee, ons het inligting nodig oor u seun. Oor Tobela Mpayipheli.”

’n Diepe emosie beweeg oor die ou man se gesig, oor sy oë en sy mond. Hy staan vir oomblikke lank by die stoel asof versteen, so lank dat sy bekommerd raak. Dan gaan sit hy stadig, asof daar pyn in sy ledemate is en sy sug is diep en swaar.

“My seun?” Sy een hand is teen die grys slaap, net die vingerpunte, en met die ander klem hy die leuning van die stoel vas. Sy oë sien haar nie. Dit is ’n reaksie wat sy nie verwag het nie en sy moet aanpas, haar tydsberekening en haar vrae hersien. Sy weet sy moet eers net stilbly.

“My seun,” sê hy, dié keer nie ’n vraag nie. Die hand op die stoel kom los en sweef na sy mond asof hy in ’n staat van gewigloosheid is. Sy kyk is êrens, maar nie in dié vertrek nie.

“Tobela,” sê hy asof hy homself aan die naam moet herinner.

Dit neem byna vyftien minute voor die ou man die storie begin vertel. Hy vra eers na die welstand van sy seun, waarop sy met vae leuens antwoord om hom wroeging te spaar. Hy verskoon homself en gaan maak koffie, sy tred soos dié van ’n slaapwandelaar. Hy bring ’n skinkbord waarop hy vir haar ’n bordjie met beskuit en koekies gerangskik het. Hy wik en weeg waar om vir haar die kronieke van Tobela Mpayipheli te begin en dan kom dit uit, eers sukkelend, hortend, op soek na die regte woorde, die gepaste trant, tot dit vloei, tot dit ’n stroom van sinne en emosies word, asof hy bieg, asof hy absolusie by haar soek.

Jy moet teruggaan na die vorige geslag om te verstaan. Na sy geslag. Na hom en sy broer. Lawrence en Senzeni. Die duif en die valk. Jakob en Esau, as hy vergewe sal word vir die vergelyking. Kinders van die Katrivier, van armoede, ja, eenvoud, maar trots, seuns van ’n stamkaptein wat beeswagterdiens moes doen, wat die Xhosa-kultuur in die vuurkring saans aangehoor het, wat die geskiedenis van die Mense aan die voete van die Gryskoppe geleer het, wat die Xhosa-inlywing moes deurloop in dié dae voor dit ’n uitbuiting van die armes geword het. Die verskil tussen hulle was van vroeg af daar. Lawrence die oudste, die dromer, die lang, skraal seun, die slim een wat by die Sendingskooltjie met sy enkele klaskamer altyd ’n akademiese tree of wat voor die ander was, die vredemaker. Senzeni, korter, gespierd, ’n vegter, ’n gebore soldaat, ongeduldig, kort van humeur, vurig, sy aandag net volkome vasgevang wanneer die veldslae oorvertel word, sy oë glinsterend van strydlus.

Daar was ’n definiërende oomblik, soveel jare gelede, toe hy wat Lawrence is sy eer moes verdedig, ’n sinnelose puberteitsvuisgeveg met ’n ander seun, ’n moeilikheidmaker, jaloers op die status van stamhoofsuigeling. Hy is uitgedaag met snedige verkleinering en hy moes binne die kring van jillende kinders sy waardigheid met sy vuiste verdedig. En dit was asof hy bo die twee seuns wat in kleiner wordende sirkels mekaar aandurf, verhewe was, asof hy gesweef het, asof hy nie regtig daar was nie. En toe die houe begin reën, kon hy nie seermaak nie. Hy kon nie sy hande in vuiste klem nie, kon nie die haat of die woede vind om vel te breek, bloed te trek nie. Dit was ’n goddelike oomblik, die wete dat hy sy opponent se pyn kon voel nog voor dit daar was, die drang om dit te heel, om dit te salwe.

Senzeni, sy kleinboet, het tot sy redding gekom terwyl hy steierend en bloeiend in die kring gestrompel het. Sy kop het gesing van die houe, met bloed om sy oë en aan sy neus en toe hy weer sien, was Senzeni daar, ’n swart tornado van woede wat die ander seun meedoënloos afransel. Sekuur, verskriklik.

En toe hy klaar was, het hy na Lawrence gedraai met minagting, met ’n soort haat ja, ’n onwillige aanvaarding van ’n nuwe verantwoordelikheid en ’n vraag, onuitgespreek, wat wil weet hoe hulle broers kon wees.

Lawrence het die Here gevind in die Sendingskool, het in Christus alles gesien wat hy in homself gevoel het. Senzeni het gesê dit is die wit man se godsdiens.

Lawrence het ’n beurs gekry deur die kerk en hul moeder het hom aangemoedig. Hy het studeer en getrou en die lang, eindelose reis as dissipel begin, hier, tussen sy eie mense, in die Katriviervallei. En sy broer was altyd daar, aan die rimpel, ’n teenwig, die volgende stamkaptein by verstek, die kryger wat die gerugte van ’n nuwe beweging vanuit die noorde aangegryp het, wat elke woord oor die Rivoniaverhoor oor en oor gelees het, wat ’n ander soort dissipel vir Vryheid geword het.

En toe kom Tobela.

Die Here het die seun gemaak met ’n doel, die Here het gaan kyk na die voorvaders en ’n stukkie hier en ’n deeltjie daar geneem en hierdie kind die wêreld ingestuur met die teenwoordigheid van sy oupa Mpayipheli, die vermoë om te lei, om te beslis, om deur die newels en hoeke en kante van ’n saak te sien en ’n oordeel te vel. Die Here het aan hom die liggaam van sy pa gegee. Lank. Dieselfde ledemate wat vir ure aaneen oor die heuwels van die Transkei kon draf met ’n kenmerkende, afgemete tred. Dieselfde gelaatstrekke, sodat baie mense, ook Tobela se pa, die fout moes maak om te dink daar is dieselfde vredemakersgeaardheid binne.

Die Here het ’n roofdier daarbinne geskep, ’n Xhosa-kryger. Die Here het ver teruggegaan in die voorgeslagte, na Phalo, Rharhabe, Ngqika en Maqoma, soos wat hy gemaak het met Senzeni, en vir Tobela Mpayipheli die hart van die jagter gegee.

In die eerste jare het die uiterlike almal geflous. “Hy is sy pa se seun,” het almal gesê. Maar die seun het ouer geword en die waarheid het na vore gekom. Sy pa was die eerste om te weet, want hy was die broer van Senzeni, hy het die tekens geken en hy het gebid, gevra vir genade, want hy het vermoed wat dit sou veroorsaak. Hy het die seun met liefde omhul, wou ’n kokon skep waarin hy hom beskermend kon toedraai, maar dit was nie die Here se wil nie. Te laat het hy besef dit was sy toets, hierdie kind, te laat, want hy het gefaal, sy wysheid en sy deernis het hom in die steek gelaat, sy diepe liefde vir die kind het hom blind gemaak.

Die struwelinge het klein begin, huishoudelike verskille tussen pa en seun. Van daar, soos die jare aangestap het, het dit uitgekring soos die rimpelinge van ’n klippie wat ’n stil poel tref.

En toe kom Senzeni om die vermoede te bevestig. Hul harte het mekaar herken, Tobela en sy oom. Hul monde het dieselfde taal gepraat, hul lywe het gedors na dieselfde slagvelde, hul koppe het dieselfde verwerping van vrede en liefde voorgestaan. En toe verloor Lawrence Mpayipheli sy enigste seun.

“In 1976, met die Soweto-opstande, was Tobela 14 jaar oud. Toe kom haal Senzeni hom in die nag. My broer was die huis verbied oor sy invloed en hy het soos ’n dief ingesluip en die kind kom haal en ons later gebel en gesê hy sal Tobela terugbring as hy ’n man geword het. Hy het hom laat inlyf, iewers, en toe het hy hom gevat na elke plek waar Xhosa-bloed lê. Hy het die seun se kop vol haat gemaak. Hulle was lank weg, by die drie maande, en toe hulle terugkom, het ek my seun nie meer geken nie. En hy nie vir my nie. Twee jaar lank het ons só geleef in die pastorie, soos vreemdelinge. Hy het sy eie paaie geloop, stil, geheimsinnig, asof hy my verdra, asof hy wag, voorberei.

“En in 1979 is hy weg. Hy het die vorige aand nag gesê, ’n rare gebeurtenis, en in die oggend was sy kamer leeg, sy bed nog opgemaak, ’n klompie klere weg uit die kas. Senzeni het hier aangekom en gesê my seun is slagveld toe. Daar was ’n groot rusie daardie dag. Harde woorde het geval. Ek het myself vergeet. Ek het seer gehad omdat ek nie ’n pa kon wees nie, omdat my broer my seun van my gesteel het. My woorde was aan Senzeni, maar ek het met God gepraat. Die Here het my kind van my laat weggaan, Hy het die meetsnoere van hierdie land en van hierdie familie op sulke vreemde plekke laat val, hy het my ’n man van vrede en liefde gemaak, vir my ’n herdersrol gegee en toe plaas hy ’n wolf in die kudde, sodat ek ’n bespotting was, sodat Hy deur die afvalliges gehoon kon word, en ek kon dit nie verstaan nie.

“Ek het eers baie later besef dit was my toets. Dit was die Here se manier om my nederig te maak, om my te stroop van die illusie dat ek beter was, heiliger as ander, om aan my te wys ons het almal voete van klei. Maar toe was dit te laat om my seun te red, om hom terug te kry. Ons het soms nuus gekry, soms het Senzeni ’n boodskap gestuur oor Tobela, dat dit goed met hom gaan, dat hy raak gesien is, dat die Struggle-leiers sy inbors herken het, dat hy in vreemde lande gaan leer het om vir sy land te veg.

“En toe kom die boodskap een aand. Die Veiligheidspolisie het vir Senzeni gevat, Grahamstad toe. Hulle het die lewe uit hom uitgeslaan vir agt dae lank. En sy liggaam soos rommel langs die pad gelaat. En toe hoor ons nooit weer van ons kind nie.”

* * * * *

Anderkant Touwsrivier skud die pad sy kronkels sorgeloos af en sy gedagtes dwaal vir ’n slag weg van die motorfiets. Hy neem bestek van waar hy is, van moontlikhede en implikasies. Die LCD-strepies van die brandstofmeter wys hy sal moet petrol ingooi. Op Laingsburg. Daarna is dit 200 kilometer tot op Beaufort-Wes, ’n dodelike stuk pad deur die Groot-Karoo, breed en reguit, snikheet in die dag, sieldodend in die nag. Verwagte tyd van aankoms min of meer middernag, miskien ’n bietjie later.

Van Beaufort-Wes is dit nog 500 of 550 Bloemfontein toe – te veel om voor sonop te haal? Miskien nie, as hy aanstoot, as hy sy petrolstoppe vinnig kan afhandel.

Hy sal slaap moet kry in Bloemfontein, in die swart woonbuurt inry en iewers rus wanneer die son skyn.

Die groot vraag bly: Weet hulle al hy het die motorfiets geneem? Het sy versuim om die alarm aan te skakel al implikasies gehad? As die antwoord “nee” is, het hy tyd tot agtuur, nege-uur môreoggend voor die boodskap sal uitgaan. En hulle sal nog moet raai oor sy roete.

Maar as hulle reeds weet …

Hy ken die spel. Hy weet hoe vinnig die moontlikhede vir die jagters en die prooi vermenigvuldig. Hy weet hoe hulle sal dink as hulle reeds weet. Sit jou geld op die hoofroete, die vinnigste, kortste pad, wend jou bronne daar aan, want dit is waar die hoogste persentasie van waarskynlikheid lê, al is dit nie veel meer as vyftig persent nie. Daar is te veel langer, mindere roetes, die moontlikhede kan jou van jou sinne af dryf.

As hulle weet, sal die N1 hul kandidaat wees. Daarom moet hy die donker gebruik. En sy voorsprong.

Hy klik die straal van die lig op hoog. Swart lint strek voor hom uit. Hy draai die versneller oop, die naald kruip aan, verby 140, teen die lang opdraande op, 150, sy oë meet die baan van lig voor hom, hoe vinnig is nog veilig in die nag?

Net oor die kruin van die volgende deining in die landskap, as ’n vallei voor hom oopmaak en die GS verby die 160 skuif, sien hy die blou en rooi draailigte van die gereg voor hom in die verte.

Hy gryp die voorrem, skop die agterrem, die ABS sidder, die drukking op sy arms groot. Hou die koppelaar in. Vir ’n oomblik dink hy hy gaan beheer verloor, en dan stop hy, in die middel van die pad en sy kop sê daar is nog iets wat hy moet doen, nog iets, die ligte, sit af, soek vervaard na die knoppie, kry dit, klik met sy regterduim. Skielik is hy nagblind, alles rondom hom swart. Dit is net hy en die wete dat hulle weet, dat hulle vir hom wag. Alles het verander.

Al weer.

Proteus

Подняться наверх