Читать книгу Proteus - Деон Мейер - Страница 9
3
ОглавлениеDie seun staan nie op die straathoek nie en daar kom ’n onrustigheid oor Tobela Mpayipheli.
Dan sien hy die huurmotor voor Miriam se huis. Nie ’n minibus nie – ’n sedan, ’n Toyota Cressida met die geel lig op die dak. “Peninsula Taxi’s”. Hopeloos onvanpas hier. Hy draai in by die stofoprit, klim af, meer ’n kwessie van die langsame onttrekking van sy ledemate van die motorfiets, maak die toutjies los wat sy trommeltjie en die pakkie met die bottel swamdoder op die sitplek agter hom vasgehou het, rol dit netjies op in sy hand, stap in. Die voordeur staan oop.
Miriam staan op uit die sitkamerstoel as hy inkom. Hy soen haar op die wang, maar daar is ’n styfheid in haar. Hy sien die ander vrou in die klein vertrek waar sy steeds sit in haar stoel.
“Juffrou Kleintjes is hier vir jou,” sê Miriam.
Hy plaas die bagasie op die tafeltjie, draai na haar, steek sy hand uit.
“Monica Kleintjes,” sê sy.
“Aangename kennis.” En dan kan hy nie langer wag nie. “Waar’s Pakamile?”
“In sy kamer. Ek het gesê hy moet daar wag.”
“Ek is jammer …” sê Monica Kleintjes.
“Waarmee kan ek help?” Hy kyk na haar, effens geset in haar los, duur klere, bloes, romp, sykouse en plathakskoene. Hy sukkel om die ergernis uit sy stem te hou.
“Ek is Johnny Kleintjes se dogter. Ek moet alleen met jou praat.”
Sy hart sink. Johnny Kleintjes. Na al die jare.
Miriam se rug verstyf. “Ek sal in die kombuis wees.”
“Nee,” sê hy. “Ek het nie geheime vir Miriam nie.”
Maar sy stap uit.
“Ek is jammer,” sê Monica Kleintjes weer.
“Wat wil Johnny Kleintjes hê?”
“Hy is in die moeilikheid.”
“Johnny Kleintjes,” sê hy, meganies as die herinneringe terugkom. Kleintjes sal hom kies. Dit maak sin.
“Asseblief,” sê sy.
Hy kom terug na die hede. “Ek moet eers vir Pakamile groet,” sê hy. “Ek is nou terug.”
Hy stap kombuis toe. Miriam staan voor die stoof, staar na buite. Hy vat aan haar skouer, maar sy reageer nie. Hy loop in die kort gang af, stoot die kind se deur oop. Hy lê op die bedjie met ’n skoolboek, kyk op. “Gaan ons nie vandag boer nie?”
“Middag, Pakamile.”
“Middag, Tobela.”
“Ons gaan netnou boer. Ek moet net eers met ’n gas praat.”
Die seun knik, ernstig.
“Het jy ’n lekker dag gehad?”
“Dit was okay. Ons het pouse sokker gespeel.”
“Het jy ’n doel geskop?”
“Nee. Die grotes skop die doele.”
“Maar jy ís al groot, ou grote.”
Pakamile glimlag.
“Ek gaan met die gas praat. Dan gaan ons boer.” Hy trek sy hand deur die kind se hare en stap terug, die ongemak in hom nou groot. Johnny Kleintjes. Dis moeilikheid. En hý het dit na hierdie huis toe gebring.
* * * * *
Hulle stap in pas oor Valskermbataljon se paradegrond, kaptein Christmas “Tiger” Mazibuko een tree voor Klein-Joe Moroka.
“Is dit hy?” vra Mazibuko en wys na die groepie. Vier Parabats sit onder die groot skadusambreel van die doringboom, die wolfhond lê met uithangende tong aan die voete van die bonkige luitenant, hygend in die Bloemfonteinse hitte, ’n groot, selfversekerde dier.
“Dis hy, kaptein.”
Mazibuko knik en versnel sy pas. Rooi stof walm op van sy voeteval. Die Bats, drie wittes en ’n bruine, is besig met ’n rugbygesprek, die luitenant wat die woord met gesag voer. Mazibuko is by hulle, loop tussen hulle in en skop die hond met die metaalpunt van sy gevegstewel teen die kop. Hy gee ’n enkele tjank, hard en hoog, en steier teen ’n sersant vas.
“Fok,” sê die Bat-luitenant.
“Is dit jou hond?” vra Mazibuko. Daar is volkome ongeloof op die valskermsoldate se gesigte.
“Vir wat doen jy dít?” ’n Straaltjie bloed het by die wolfhond se neus gevorm. Hy staan-lê verdwaas teen die sersant se been. Mazibuko skop weer, dié keer teen die sy, die geluid van ribbes wat breek, verlore in die uitroepe van al vier valskermsoldate.
“Jou fokken …” skree die Bat-luitenant en slaan na Mazibuko, ’n wye swaaihou wat teen die agterkant van die nek tref. Mazibuko gee ’n tree terug. Hy glimlag. “Julle is almal getuies. Die luitenantjie het eerste geslaan.”
Dan beweeg hy, vloeiend en gemaklik, sonder haas. Reguit steekhou na die gesig om die aandag bo te kry, skop na die luitenant, tref sekuur en pynlik op die knieskyf en as die Parabat vooroor wil val, gebruik Mazibuko sy bobeen in ’n kort rukbeweging teen die gesig. Die wit man slaan agteroor, bloed stroom uit die gebreekte neus.
Mazibuko staan ’n tree terug, sy hande kalm langs sy sye. “Jy het vanoggend met een van my manne geneuk, luitenant.” Hy wys met sy duim oor sy skouer in die rigting van Klein-Joe. “Jy het jou fokken wolfhondjie op hom gesit.”
Die man se een hand is op die bloeiende neus, die ander op die grond soos hy probeer orent kom. Twee Bats staan nader, die sersant kniel by die hond, wat stil lê. “Ek …” sê die luitenant en kyk na die bloed op sy hand.
“Niemand fok met my mense nie,” sê Mazibuko.
“Hy wou nie salueer nie,” sê die luitenant verwytend en kom orent, onvas op sy voete, die bruin hemp nou donker gevlek van die bloed.
“En toe sit jy jou hond op hom?” Mazibuko tree vinnig vorentoe. Die Parabat se hande kom op in beskerming. Mazibuko gryp hom aan die kraag, ruk hom vorentoe en stamp sy voorkop teen die neus. Die man val weer agteroor. Rooi stof slaan op in die middagson.
Die selfoon in Mazibuko se bosak begin gedemp lui.
“Jissis,” sê die sersant. “Jy gaan hom doodmaak.” Hy kniel by sy makker.
“Nie vandag nie …”
Die lui verskerp in volume, deurdringend.
“Niemand fok met my mense nie.” Hy knoop die sak oop en aktiveer die instrument. “Kaptein Mazibuko.”
Dit is Janina Mentz se stem aan die ander kant.
“Aktiveringsoproep, kaptein. ’n Falcon 900 van 21 Eskader sal om 18:15 gereed staan by Bloemspruit. Bevestig asseblief.”
“Bevestig,” sê hy, sy oë op die twee staande Parabats. Maar daar is nie baklei in hulle nie, net verstomming.
“18:15. Bloemspruit,” sê Mentz.
“Bevestig,” sê hy weer.
Die verbinding word verbreek. Hy vou die selfoon behendig terug, plaas dit in sy sak. “Kom, Joe,” sê hy. “Ons het beter dinge om te doen.” Hy loop naby die sersant verby en trap op die wolfhond se agterbeen.
* * * * *
“My pa het gesê as iets ooit met hom moet … gebeur, moet ek vir jou kry.”
Tobela knik net. Sy praat moeilik. Hy kan sien sy is bitter ongemaklik, diep onder die indruk van die inbreuk wat sy maak, van die atmosfeer wat sy hier geskep het.
“En nou het hy ’n dom ding gedoen. Hy …”
Sy soek die regte woorde. Hy sien haar spanning, hy wil nie hê dit moet hom raak nie, wil nie hê dit moet sy bestaan kom verander nie.
“Weet jy waarmee hy besig was na ’94?”
“Ek het jou pa laas in 1986 gesien.”
“Hulle het hom … Dit was chaos, daardie tyd, na die verkiesing. Hulle het hom gekry om te help … die integrasie van die Intelligensiedienste was moeilik. Ons het twee, drie vertakkinge gehad en die regime het nog meer gehad en die mense wou nie saamwerk nie en hulle het gelieg en bedrieg en gewedywer, oor en weer. Alles het tyd gemors, veel meer gekos as wat hulle voorsien het. Hulle moes konsolideer. Orde skep. En die enigste manier was om alles in projekte op te deel, te kompartementaliseer. Toe maak hulle hom hoof van die projek om al die rekenaardata te integreer. Dit was omtrent onmoontlik, want daar was so baie: Net dié by Infoplan in Pretoria sou jare neem om deur te werk, om nie te praat van Denel en die Veiligheidspolisie en die Geheime Diens en Militêre Intelligensie en die ANC se stelsels in Lusaka en Londen nie. Vierhonderd, vyfhonderd gigagrepe se inligting, enigiets van persoonlike rekords oor die publiek tot wapenstelsels tot informante en dubbelagente. Hy moes dit alles hanteer, die goed wat kon moeilikheid maak, uitwis en die nuttige materiaal berg en ’n sentrale, eenvormige enkelplatform-databasis op die been bring. Hy … ek het vir hom huisgehou daardie tyd – my ma was siek. Hy het gesê dit het hom baie ontstel, die inligting op die stelsels …”
Sy talm, maak haar groot swart leerhandsak oop vir ’n sneesdoekie, asof sy haar wil voorberei. “Hy het gesê daar was eienaardige opdragte, goed wat Mandela en Nzo nie sou goedkeur nie en hy was bekommerd. Hy het eers nie geweet wat om te doen nie. En toe maak hy rugsteun van sekere materiaal. Hy was bang, meneer Mpayipheli, dit was ’n deurmekaar tyd, jy moet verstaan, daar was nog baie onsekerhede en daar was mense wat hom probeer dwarsboom het en daar was ander wat hul loopbane wou red en dié wat hul loopbane wou maak. ANC en wittes, al twee kante van die draad. Toe bring hy goed huis toe, data, op hardeskywe. Hy het soms deur die nag daaraan gewerk. Ek wou nie weet nie. Ek het vermoed hy …”
Sy vee met ’n sneesdoekie onder haar neus. “Ek weet nie wat daarop was nie en ek weet nie wat hy daarmee gedoen het nie. Maar nou lyk dit of hy dit nooit ingehandig het nie. Nou lyk dit of hy die data wil verkoop. En toe bel hulle my en ek het gelieg, want …”
“Verkoop?”
“Ek …”
“Aan wie?”
“Ek weet nie.” Daar is wanhoop in haar stem, hy weet nie of dit vir die daad of vir haar pa is nie.
“Waarom?”
“Waarom het hy dit probeer verkoop? Ek weet nie.”
Hy lig sy wenkbroue.
“Hulle het hom uitgestoot, toe die projek klaar was. Gesê hy moet sy pensioen vat. Ek dink nie dit is wat hy wou gehad het nie. Ek dink nie hy was reg daarvoor nie.”
Hy skud sy kop. Daar moet meer wees.
“Meneer Mpayipheli, ek weet nie waarom hy dit gedoen het nie. Na my ma se dood … Ek het by hom gebly, maar ek het my eie lewe, en ek dink hy het vereensaam. Wie weet wat in ’n ou man se kop aangaan wanneer hy elke dag by die huis sit en die wittes se koerante lees. Hy, wat so ’n groot rol in die Struggle gehad het en nou gemarginaliseer is. Hy, wat ’n speler was. Hy was gereken in Europa. Hy was iemand en nou is hy niks – miskien wou hy nog net één keer ’n speler wees. Ek was daarvan bewus dat hy bitter is. En moeg. Maar ek het nie gedink … Miskien is dit aandag soek? Ek weet nie. Ek weet net nie.”
“Die inligting. Hy het nooit gesê wat hom ontstel het nie?”
Sy skuif vir ’n oomblik in haar stoel, haar oë wat syne ontwyk. “Nee. Net gesê daar’s onheilige goed …”
“Hoe onheilig?”
“Baie.”
“En nou?” vra hy.
“Hulle het gebel. Ek dink uit Lusaka uit. Hulle het van die skywe, maar dit is nie wat hulle soek nie. Ek moes ’n ander skyf uit my pa se kluis haal.”
Hy kyk stip vir haar. Hier kom dit nou.
“Ek moet binne 72 uur ’n ander hardeskyf in Lusaka hê. Dit is al tyd wat hulle my wou gee.”
“Dit is nie baie tyd nie.”
“Nee.”
“Waarom dit hier sit en mors?”
“Ek wil jou vra om te help. Om die data te vat. Om my pa te red, want hulle gaan hom in elk geval doodmaak. En ek …” Sy trek die soom van haar lang, wye romp op. “… is ’n bietjie stadig,” sê sy. Hy sien die kunsbene, die metaal en hout. “En ondoeltreffend.”
* * * * *
Mazibuko staan onder die vlerk van die Falcon in sy kamoefleeruniform en die swart beret, sy oë op die twaalf wat wapenkiste inlaai. Sy voete is wyd geplant, sy hande agter die rug.
Agt-en-dertig maande wag hy vir dié oomblik. Meer as drie jaar vandat Mentz, dossier in die hand, hom as eenpip-luitenantjie by die Recces kom haal het.
“Jy’s ’n harde man, Mazibuko. Maar is jy hard genoeg?”
Fok, hy’t gesukkel om haar ernstig op te neem. ’n Vrou. ’n Wit vrou wat by die Recces instap en hiet en gebied met ’n sagte stem en ’n oormaat selfvertroue. En die vermoë om met sy kop te smokkel. “Is dit nie tyd om uit jou pa se skaduwee te beweeg nie?”
Mazibuko was al reg vir die ding na haar eerste vraag. Met die tweede wou Mentz wys sy kan tussen die dossier se amptelike woorde lees.
“Hoekom ek?” het hy in elk geval gevra op die vliegtuig Kaap toe.
Mentz het met daardie indringende oë na hom gekyk en gesê: “Jy weet, Mazibuko.”
Hy het stilgebly, maar het bly wonder. Was dit oor sy … talente? Of oor sy pa? Die antwoord het hy stelselmatig gevind in die stapel lêers (vier-en-veertig, om presies te wees) waaruit hy die vier-en-twintig lede van die Reaction Unit moes kies. Toe het hy begin raak sien wat Mentz skynbaar van meet af aan geweet het. Toe hy die verslae gelees het en die onderhoude gevoer het, in die kandidate se oë gekyk het en die meedoënloosheid gesien het. En die honger.
Die bande wat hulle bind.
Die selfhaat wat maar altyd daar was, het ’n vorm, ’n gestalte gekry.
“Ons is reg, kaptein,” sê Da Costa.
Mazibuko beweeg onder die vliegtuig se vlerk uit. “Klim op. Ons moet gaan werk.”
Hulle is reg, ja. So reg soos wat die byna drie jaar se slyp hulle kon kry, die vier maande om die span saam te stel, om hulle een vir een met die hand te gaan uitsoek. Keer op keer is die koring van die kaf geskei tot hy 24 oorgehad het, twee spanne van twaalf elk, sy perfekte syfer vir “my RU”, soos die direkteur besitlik na hulle verwys. Aar-Joe, die boggelrug se Engelse afkorting vir Reaction Unit. Toe het die skaafwerk in alle erns begin.
En nou trek hy die Condor se deur agter die helfte van die Dirty Double Dozen toe. Die Twenty-four Blackbirds, die Ama-kill-kill. En nog ander name wat hulle vir hulself uitgedink het in die 26 maande sedert die beste instrukteurs wat geld en diplomatieke welwillendheid kon koop hulle onder hande geneem en omvorm het, gedryf het tot uiterstes wat hulle liggaamlik en psigies nie veronderstel was om te kon deurstaan nie. Die helfte, want daar is twee spanne van twaalf elk, een altyd op bystand vir twee ononderbroke weke as span Alpha, die ander – span Bravo – besig om hul vaardighede te slyp. Dan word Alpha weer Bravo. Die lede wissel en skommel, maar hulle is ’n eenheid. ’n Eenheid. Die bande wat hulle bind. Die sweet en die bloed, die intensiteit van fisieke swaarkry. En daardie bykomende dimensie – daardie psigiese juk, daardie gemeenskaplike sielsiekte, daardie gedeelde vloek.
Hulle sit al, die gesigte wat met opgewonde verwagting na hom opkyk, met totale vertroue, met volkome bewondering.
“Tyd om te gaan gat skop,” sê hy.
Hulle brul.