Читать книгу Proteus - Деон Мейер - Страница 14
8
ОглавлениеSy gaan bel vinnig uit haar kantoor uit. Haar huishulp sê Lizette slaap al. Sy bedank Suthu weer vir die ongerief van oorslaap en vra om met Lien te praat.
“Ek ken my werk, Ma, al was Ma nie hier om te help nie.”
“Ek het geweet jy gaan dit kan behartig.”
“Kan ek nou Big Brother op satelliet kyk, Ma? Tot tienuur?” Die kinders wil elke moontlike situasie tot ’n voordeel manipuleer. Sy wil terselfdertyd lag en haar vererg.
“Jy ken die reëls, Lien. Die ouderdomsbeperking is sestien.” As sy dit gesê het, weet sy presies wat die reaksie gaan wees.
“Al my vriende kyk, Ma. Ek is ámper sestien. Ek is nie meer ’n kind nie.” Al drie basiese argumente in een asemteug.
“Ek weet jy is nie meer ’n kind nie. Jy is ’n wonderlike, dierbare vyftienjarige wat nog net ’n paar maande moet wag, dan kan jy saam met jou ongedissiplineerde vriende kyk. Kry genoeg slaap, jy gaan dit nodig hê vir die eksamen.”
“Maaaa …”
“En sê vir Lizette ek was net te laat om vir haar ook nag te sê. Sê vir haar ek is baie lief vir julle al twee – en baie trots op julle.”
“Ma moenie te hard werk nie,”
“Ek sal nie.”
“Ons is lief vir Ma ook.”
“Ek weet, my kind. Lekker slaap.”
“Nag, Ma.”
En dan haas sy haarself terug na die Opskamer, die ongeduld wat knaag.
“Gaan soek weer, Rahjev. As hy MK was, moet daar iets wees,” sê sy as sy instap.
“Goed, mevrou,” maar die Indiër se liggaamstaal sê hy weet al wat die uitslag gaan wees.
“Jy dink nie ons gaan iets kry nie?”
“Mevrou, die metodologie waarmee ons die bekende data deursoek, is goed verfyn. En daar was niks. Ek kan dit weer laat loop, maar die resultaat sal dieselfde wees.”
“Hy kon vir Arendse gelieg het oor sy agtergrond,” sê Quinn. “Werk was skaars in die vroeë negentigerjare, mense was bereid om enigiets te sê.”
“Dinge verander ook nie veel nie,” sê Radebe droog.
“En nou het ons ’n voortvlugtige skerpskutter met twee pistole,” sê sy.
Rajkumar se kop werk soekend: “Die ANC het ’n papierliasseerstelsel ook gehad. Vir Umkhonto weSizwe. Is dit nie nou op Robbeneiland nie?”
“Pretoria,” sê Radebe. “Die MK-lêers is by Voortrekkerhoogte.”
“Wat weet jy daarvan?”
“Dit was nooit ’n goeie stelsel nie. Met die groot invloei van rekrute vanaf ’76 was daar te veel papier en te min administrateurs. Maar dit sal die moeite werd wees om te kyk.”
“En dan is daar die ou Nasionale Intelligensiediens se mikrofiche-biblioteek van dokumente. Die Boere het die indeks gerekenariseer, maar dit is ’n sekure, ongekoppelde stelsel. Dit is nog aktief, in Pretoria. Ons kan ’n versoek insit,” sê Rajkumar.
Dis Radebe wat ’n geluid van minagting maak en Mentz weet waarom. Hul kollegas by die nuwe Nasionale Intelligensie-agentskap dwing nie groot respek by haar en haar mense af nie. Maar sy hou van die idee.
“Hulle sal spring as die versoek van hoog genoeg af kom,” sê sy. “Ek gaan met die direkteur praat.”
“Mevrou,” sê Quinn en hou sy hand in die lug om haar te keer.
“Luister hier.” Hy selekteer sleutels en die elektroniese gesis van die sprekerfoon vul die vertrek.
“Sê weer, Nathan, van die begin af.”
“Ons het die eienaar van Mother City Motorrad opgespoor. Hy is Bodenstein en hy bly in Welgelegen. Hy sê Mpayipheli is nie ’n werktuigkundige nie, net ’n handlanger. Stil ou, harde werker, stiptelik en betroubaar. Maar hy weet niks van ’n militêre agtergrond nie.”
“Sê weer van die alarm, Nathan.”
“Terwyl ons besig was met die onderhoud, toe lui die telefoon. Bodenstein se sekuriteitsmaatskappy wat sê die motorfietsplek se alarm is meer as ’n uur gelede afgeskakel en nog nie weer geaktiveer nie. Hy het gesê hy moet dadelik ingaan en ons ry nou agter hom aan.”
“En wat sê hy van die sleutel, Nathan?”
“O ja. Hy sê Mpayipheli het ’n sleutel vir die winkel en hy ken die alarmkode, want hy is die een wat in die oggend oopsluit.”
* * * * *
Hy val amper voor hy behoorlik vertrek het. Die groot motorfiets se krag betrap hom heeltemal onkant; as hy in Oswald Pirow indraai en die versneller met sy hand oopmaak, is die resultaat só anders as sy Honda Benly dat hy byna beheer verloor. En die grootte – die GS voel massief, hoog en onhanteerbaar. Hy skrik, adrenalien bring bewing in sy hande. Sy asem laat die valhelm se skerm opwasem. Hy kry die fiets weer in ’n reguit lyn, draai dié keer die versneller met groot ontsag en vorder tot by die verkeerslig by die N1. Hy trek die voorrem en weer val hy amper, die ABS-remme wat hard en dringend inskop. Hy hou stil, sy asem jaag, sy knieë bewe ook nou, hy wil nie vrek op dié Duitse masjien nie. Die lig verander na groen en hy trek baie stadig weg, draai baie versigtig en met ’n te wye boog regs en versnel met oordadige versigtigheid. Hou die toere laag, deur die ratte, hel, maar die ding het krag … Hy is by 100 kilometer per uur voor hy behoorlik in derde rat is. Dit is omtrent die Benly by die huis se topspoed.
Die verkeer op die snelweg is lig, maar hy is oorbewus van die motors om hom. Hy ry stadiger as die verkeersvloei, hou in die linkerbaan, probeer ’n gevoel ontwikkel vir die GS; as jy eers aan die gang is, is die balans makliker, maar die handvatsels voel te wyd uitmekaar, die tenk hier voor hom onhanteerbaar breed.
Hy maak weer seker waar die flikkerligte is, waar die ligte verdoof en verhelder word. Sy oë flits tussen skakelaars en die pad voor hom, sy volgafstand baie groot, sy spoed net onder die honderd. Hy het ’n fout gemaak – hy het gedink dit is die manier om vinnig groot afstand tussen hom en Kaapstad te kry; as hy dit vannag tot by Bloemfontein kon maak, was sy kop deur, want hy kon ’n vliegtuig daar gehaal het, hulle sal nie Bloemfontein se lughawe dophou nie. Maar dié ding is omtrent onrybaar, dit sou vinniger gewees het om ’n minibustaxi te haal.
Dit is nog donker ook. Die ligte van Century City weerkaats teen die valhelm se skerm. Miskien moet hy net ry tot in Worcester, of sover as die Paarl, en die fokken motorfiets daar los. Wat het hom besiel?
By die N7-afrit moet hy van bane verwissel om ’n vragmotor verby te gaan en hy versnel stadig, gebruik die flikkerligte, verwissel bane, swaai terug in die linkerbaan, ontspan ’n bietjie. Deur die lang, opdraande draai by Parow, op teen die Tygerberg. Hy weet sy lyf neig na die verkeerde kant toe in die draai, maar die fiets is so swaar, die draai so ongemaklik. As daar net minder verkeer was. Wat maak al die mense dié tyd van die aand op die N1?
Afdraand na Bellville se afritte, en dan raak die straatligte van die snelweg minder, die verkeer neem af. Hy sien die borde wat die eenstop-vulstasie aandui en loer na die brandstofmeter. Die tenk is vol. Dank vader. Hoe ver kan hy ry met ’n tenk?
Sy oog vang die spoedmeter – hy ry 110. Hy draai die versneller weer toe, voel nie in beheer nie. Die masjien het ’n lewe van sy eie, soos ’n wilde perd. Al sy sintuie is intens betrokke.
Hy weet hy moet vooruit dink. Die tolhek is daar voor, nog ’n dertig kilometer. Wat gaan hy doen? Vermy die tolpad, Paarl toe, los die fiets daar, vat ’n taxi? Daar moet manne wees wat Worcester toe ry, maar dit is al laat. En as hy vasbyt met die GS? Die Du Toitskloofpas probeer aandurf met dié monster?
Die tolhek is ’n spoor wat hy gaan nalaat – mense sal ’n groot swart man op ’n motorfiets onthou. Of sál hulle? Here, hy sien nie kans vir die pas in die donker op dié ding nie. Maar anderkant lê nog passe, nog ’n donker pad met skerp draaie en groot vragmotors wat van voor af kom.
Wat het hom besiel? Wat gaan hy doen? Taxi’s gaan nie werk nie, nie dié tyd van die dag nie.
Kyk na die positiewe. Hy beweeg. Hy is op pad. Onderdruk die impuls om van die fiets ontslae te raak. Gebruik die donker. Gebruik die voorsprong. Gebruik die verrassingsfaktor. Hulle weet nie, al was daar twee Spoke in ’n kar by die motorfietswinkel, sal iemand eers môreoggend besef die GS is weg. Hy het …
Hy het nie weer die alarm aangeskakel nie. Die wete kom soos ’n hamerhou van iewers uit sy agterkop. In sy haas en met die gestoei met die GS het hy vergeet om weer die alarm aan te skakel.
Jissis, maar hy het sleg geword.
Wanneer hy verby die Stellenbosch-afrit ry, is die kwaad vir Johnny Kleintjes en die Spoke en vir sy eie agtelosigheid groter as sy vrees vir die motorfiets, en hy swets binne die valhelm in al die tale wat hy ken.
* * * * *
“Ek glo dit nie,” sê Bodenstein. “Ek glo dit eenvoudig nie.” Die twee agente en die eienaar staan in die verkoopslokaal van Mother City Motorrad. Bodenstein hou die stukkie papier uit. “Lees wat skryf hy. Kan jy dit glo?”
Nathan neem die briefie.
Mnr. Bodenstein
Ek leen die GS demonstrasiemodel vir twee of drie dae. Ek het ook ’n rypak en valhelm en handskoene geneem, dit is waarvoor die geld is wat ek in jou lessenaarlaai gelaat het. Ek moet ongelukkig dringend vir ’n vriend gaan help en het geen ander keuse gehad nie. Slytasie en enige skade aan die motorfiets sal ten volle betaal word.
Tobela Mpayipheli
“Jy dink jy ken mense. Jy dink jy weet wie om te vertrou,” sê Bodenstein.
“Watter een is die GS?” vra Johnny.
“Dis daardie moerse ding, net ’n gele” sê Bodenstein en wys na ’n nuwe silwer motorfiets op die vertoonlokaal se vloer. “Hy gaan sy gat afval. Dis nie ’n speelding nie. Kan jy dit glo?”
* * * * *
Sien die werklikheid soos dit is, nie soos jy dit wil hê nie – dit is een van die beginsels waarvolgens sy werk. Daarom aanvaar sy die verwikkelinge met kalmte.
Sy deurdink die gebeurde terwyl die Opskamer om haar gons. Sy staan stil by die punt van die lang tafel met haar hand op haar ken, haar elmboog gestut, haar kop na onder, ’n studie van nadenkendheid. Daarvan bewus dat die direkteur elke woord sal hoor, daarvan bewus dat die manier waarop sy reageer en besluit, haar stemtoon en liggaamshouding by haar span ’n indruk sal skep.
Visie: Sy sien die pad wat die ontwykende persona van Tobela Mpayipheli moet reis in haar geestesoog. Sy koers is noord en die N1 lê soos ’n vet, kronkelende slagaar voor hom uitgestrek na die hart van Afrika. Die redes vir sy vasberadenheid, die bron van sy motivering is nog onpeilbaar en vir eers irrelevant. Sy fokus op die roete, die implikasies, die teenmaatreëls, die voorkomende en beperkende stappe.
Sy laat die groot kaart van die land teen die muur aanbring, haar stem sag en egalig.
Sy trek in dik rooi ink die vermeende roete na. Sy bepaal die Reaction Unit se rol: hulle sal haar vangnet wees, haar verwelkomingsparty sewe-en-sewentig kilometer noord van Beaufort-Wes, waar die moontlikhede verdubbel en die pad vurk – Kimberley na Johannesburg links en Bloemfontein na Johannesburg regs.
Sy vra die spanne van Quinn en Radebe om die polisiekantore en verkeersowerhede langs die roete bewus te maak, te maan tot bloot inligtingverskaffing en nie optrede nie, want hul gewapende voortvlugtige is nog grootliks ’n onbekende faktor. Maar hulle weet hy kan skiet.
Die onbekendheid van die faktor lê swaar op haar en die tweede rondte opdragte moet dit regstel: ondersoekspanne na Miriam Nzululwazi, na Monica Kleintjes. Die handskoene is nou uitgetrek. Spoor die voortvlugtige se familie op. Sy ouers. Sy vriende. Kry inligting. Wie? Wat? Waar? Waarom? Hoe? Sy wil hom ken, hierdie skim met die vae gesig.
Sy het mag. Sy moet dit gebruik.
* * * * *
Uittreksel uit transkripsie van onderhoud deur J. Wilkinson met mnr. André Bodenstein, eienaar van Mother City Motorrad, 23 Oktober, 21:55, Oswald Pirowrylaan, Kaapstad.
W: Weet u enigiets van mnr. Mpayipheli se vorige betrekkings?
B: Hy was ’n handlanger.
W: Handlanger?
B: Ja. By ’n karverkoper op Somerset-Wes.
W: Hoe weet u dit?
B: Hy het my gesê.
W: Watse soort handlanger?
B: Handlanger is handlanger. Dit beteken jy doen al die kak jobs wat niemand anders wil doen nie.
W: Dis al wat u weet?
B: Luister, ek het nie ’n man met ’n graad nodig om die fokken motorfietse te was nie.
W: En u het ’n sleutel aan hom toevertrou?
B: Nie die eerste dag nie – ek is nie ’n moroon nie.
W: Maar later wel.
B: Hel, hy was elke oggend hier voor die deur as ek aankom. Elke fokken oggend. Hy was nooit siek nie, hy was nooit laat nie, hy was nooit astrant nie, hy werk, hel, daardie man kan werk. Verlede winter toe sê ek hy moet oopsluit, hy kan nie so in die reën staan nie, hy kan solank uitvee en die water aansit; as ons hier kom, staan die koffie reg, elke fokken oggend, die plek blink soos ’n nuwe sikspens, jy dink jy kan mense vertrou. Jy dink jy ken mense …
* * * * *
Twee keer was hy handlanger by Killarney toe die BMW Rider Academy wit, middeljarige, welgestelde mans geskool het in die kuns van motorfiets ry. Nou verwyt hy homself dat hy nie geluister het nie, dat hy nie die kennis ingedrink het nie.
Die Du Toitskloofpas in die donker, en hy besef hy is die toonbeeld van hoe dit nié gedoen moet word nie. Hortend ry hy, remme en versneller en remme en versneller en die ligte wat hy voortdurend op helder en domp skakel in ’n stryd tussen beter visie en aankomende verkeer. Massiewe, snorkende vragmotors wat die tolgeld wil vryspring en die langer roete gebruik, wat die skerp draaie wyd vat of voor hom voortsukkel teen ’n slakkepas. Hy sweet binne die duur, doeltreffende rypak, sy liggaamshitte wat die skerm voortdurend met waterdamp vul sodat hy dit kort-kort moet oopknip, bewus van die afgronde aan sy linkerkant, die liggies daar ver onder.
Rem, draai, ry, rem, draai, ry. Sukkelend en swetsend tot bo, en dan draai die pad skerp oos en die liggies is weg en vir die eerste keer is die donkerte volmaak en die pad skielik stil. Hy word bewus van die geweldige spanning in sy torso – sy spiere is snaarstyf. Hy trek af, bring die motorfiets tot stilstand. Hy maak die valhelm se skerm oop, sit die ratkas in neutraal, haal sy hande van die stuurstang af en strek. Haal diep asem.
Hy moet ontspan, hy sal móét, hy is al klaar moeg en daar lê nog honderde donker kilometer voor. Hy het gevorder. Hy het tot hier gekom, hy het ’n pas halfpad in die donker genavigeer. Die reusefiets is nie onhanteerbaar nie, ondanks sy swaarhandigheid. Dit is geduldig, asof dit vir hom wag om ’n ligter aanslag te probeer.
Diep asem, in en uit, ’n sekere genoegdoening. Hy het ’n mylpaal bereik, hy is bo. Hy het ’n storie om vir Pakamile te vertel, vir Miriam. Hy wonder of sy al slaap. Die digitale horlosie op die instrumentpaneel sê sy het die kind se skoolgoed reggesit, klere en kospakkie; as hy daar was, was sy kostrommel gepak, die huis netjies, die lakens van hul bed teruggevou. Sy sal met die heerlike vrugtige reuke van die olies en sepe aan haar kom lê, die wekker gestel vir vyfuur, die lig af en haar asemhaling onmiddellik diep en rustig. Die slaap van die onskuldiges, die slaap van die werker.
Agter hom hoor hy ’n vragmotor die draai benader en hy strek ’n laaste keer, teug die naglug, knip die skerm toe en trek weg met die wete dat hy minstens al die versneller baasgeraak het. Hy draai dit berekend oop, voel die krag onder hom. In die volgende draai konsentreer hy om sy lyf ontspanne te hou, om soos met die Benly in die draai in te leun. Versigtig, onbehendig, maar dit voel effens beter, meer gemaklik, meer natuurlik. Hy versnel stadig uit die draai, pyl af op die volgende, deur die ou tonnel, nog ’n draai en nog een, af, af na die kloof van die Meulenaarsrivier, af. Hy veg teen die instink om te verstyf, hou homself los en lig, voel met sy ledemate na die fiets se natuur, draai en pylvak, oor en oor, sluit aan by die tolpad, skielik onmoontlik luuks en driebaan-breed, die draaie wyd. Die verligting wat oor hom kom, is groot.
As hy afkyk na die naald van die snelheidsmeter, lees dit 130. Hy glimlag binne die valhelm vir die sensasie, vir die verstommende ding wat hy nou net vermag het.