Читать книгу Proteus - Деон Мейер - Страница 15

9

Оглавление

Mazibuko staan langs die aanloopbaan. Hy kan sy manne deur die venster daar binne sien. HuIle is nog vol vuur van die aksie wat hulle beleef het en praat oor niks anders nie, het dit al die pad terug na die lugmagbasis in fyn detail herleef, mekaar gespot, selfs vir hom, vir hul bevelvoerder gesmeek om hulle ook ’n beurt te gee om te skiet, waarom het hy vir Da Costa voorgetrek? Zweletini wat gesê het hy gaan ’n sterk bewoorde brief aan die Zoeloe-koning skryf, want selfs in die land se beste elite-eenheid is daar rassediskriminasie – net die koloniste mag skiet, die arme swartes mag net kyk. Die twaalf het gebulder van die lag. Maar nie Mazibuko nie.

“Dit is nie waarvoor ons opgelei is nie,” sê hy oor die selfoon.

“Ek weet, Tiger, maar dit was vir ons goud werd,” antwoord sy.

“Ons is nie SAPD nie. Gee ons iets ordentliks om te doen. Gee ons ’n uitdaging.”

“Klink ’n man wat bierbottels op 200 meter met ’n AK een vir een kan raak skiet na ’n uitdaging?”

“Een man?”

“Ongelukkig net een, Tiger.”

“Nee, dit klink nie na ’n uitdaging nie.”

“Dit is die beste wat ek kan doen. Staan by vir ’n Oryx van 23 Eskader. Ek gaan ons voorvlugtige aanjaag, julle gaan hom inwag.”

Hy laat stilte sy misnoeë te kenne gee.

As sy die strategie snap, het haar stem ’n ergerlike toon. “As die uitdaging nie groot genoeg is nie, kan julle altyd terug Tempe toe. Ek is seker ek kan ander alternatiewe oorweeg.”

“Wat weet ons nog van die bierbottelskieter?”

“Te min. Hy was MK of hy was nie, hy was ’n soort lyfwag vir georganiseerde misdaad, hy is deesdae handlanger by ’n motorfietswinkel.”

“Hy was MK of hy was nie?”

“Ons werk daaraan, Tiger. Ons werk daaraan.”

* * * * *

Om op die dak van die gebou te kom, moet sy eers na die parkeergarage stap, dan die hysbak neem tot op die tiende verdieping, nog ’n stel trappies klim voor sy kan uitstap en die stad voor haar sien ooplê. Geluide van die stad se ontluikende naglewe styg na haar toe op. ’n Vista van Groenpunt heel links, skepe in die hawe, kantoorblokke, woonstelle, huise, die flonkering van ’n honderdduisend niksvermoedendes, die helder verligte berg agter haar. Sy laat die skoonheid daarvan haar vlugtig raak en dan kyk sy af na die selfoon in haar hand.

Sy wil eers asem skep. Dan vir Van Rooyen bel. Daar is ’n sekere behae daarin. Dat sy hom kan beveel.

Hy was ’n brigadier toe hulle saam in die komitee gedien het, voor die direkteur en na haar egskeiding. ’n Stil man, met ’n soldaat se lenigheid, grys slape, byna kleurlose oë. Sy blou lugmaguniform met die snelskrif van medaljes op sy bors en die goue vleuels se oordadigheid. Lang vergaderings van luister en skryf en vrae vra. ’n Professionele verhouding, hoflik, op ’n afstand, asof hy effens verhewe was.

Tot daardie laat, sweetwarm someraand in haar kantoor. Hy in die stoel met die staanlamp agter hom, sy uniformbaadjie uitgetrek, die ligblou hemp se moue opgerol, maar die das nog netjies en styf, dokumente op sy skoot, goue pen in sy lang, byna vroulike vingers. Sy agter haar lessenaar, verdiep in haar herlees van die verslag wat hulle saam moet indien. Sy het die blik op haar gevoel en opgekyk. Sy gesig was strak.

“My gewese vrou,” het hy gesê met ’n sagte stem waarin deernis verweef is met die wysheid van diepe retrospek, “was haar lewe lank die gevangene van haar selfbelang.”

Hy het getalm, ’n bruin leersakkie uit sy baadjiesak gehaal en sy pyp daaruit opgetower.

“Sy was manjifiek daarin. Haar vermoë om mense te manipuleer was verstommend.”

’n Blink instrument het die pyp se kop oopgekrap en die geur van tabak en pypolie het deur die vertrek uitgekring.

“Sy kon die situasie, die persoon bespeel met ’n skrikwekkende vaardigheid – sy het ’n spektrum van persoonlikhede gehad, soos ’n kas, nee, ’n huis van strooipoppe waardeur sy kon haas om die regte een vir die regte tyd te kry. Soms was sy ’n onbeholpe kind, ’n dogtertjie, soms ’n hulpelose en brose vrou. Sy kon sterk ook wees, onverbiddelik, hard. Of selfversekerd, of speels, of laf. Sy was ’n musikant wat ’n deuntjie gehad het vir elke situasie, vir elke gebeurlikheid, vir elke mens. Met elkeen het sy geweet wat sy wil hê en hoe om dit te kry.”

Sy vingers het twak uit die leersakkie na die pyp verplaas, maar sy oë was op háár gerig. Janina het geweet waarom hy dit vir haar vertel, van die eerste keer toe hy sy mond oopgemaak het.

“Die redding vir my was haar behoeftes. Sy kon haar talente vir baie dinge ingespan het. Gelukkig het sy dit net vir oorlewing gebruik. Haar grootste drang was om nie ontmasker te word nie.”

Hy het die leersakkie terug in sy baadjie geplaas en die pyp met sy reguit steel en donker, glimmende hout vasgehou.

“Ek het nooit geweet nie. Ek het die simptome gesien, maar dit was te verstrengel in die dinamika van ons huwelik. Ek kon dit nie uitmekaar haal nie. Dit was my gebrek aan verwysingsraamwerk. Onkunde. Te min verbeelding. Ek moes eers die afstand van egskeiding kry vir insig. Eers toe kon ek die somme maak.”

Hy het teruggeleun in die stoel, sy hande met die pyp vergete op sy skoot.

“Jy sien, sy was ’n buite-egtelike kind. En vir haar ouers was sy altyd die herinnering aan alles wat verkeerd was in hul huwelik, die oorsaak van hul onvervulde drome. Daar was ’n broer en ’n suster, binne die huwelik, en sy het instinktief geweet sy is anders. Kinders weet. Al hou die ouers die verwyte en pyn vir die binnekamer. Al is die suigelinge oënskynlik gelyk sover dit behandeling en liefde betref. Dit het haar gevorm, dit het die paaie van haar brein gebou. Sy het geweet haar geheim is veilig by hulle, maar sy het getwyfel of dit veilig was by haar. Daar is dinge wat ons nie weet ons weet nie, wat ons so diep vir onsself wegsteek. Ek dink nie sy het ooit bewustelik daaroor gefilosofeer nie – dit was net daar, onder, tussen soveel kamoeflering, dié ding wat haar aangedryf het.”

Hy het ’n beweging met sy hande gemaak, asof sy woorde leeg en nutteloos was.

“Sy is nou iewers daar buite in die wêreld, besig om aan haarself te dink, besig om iemand met haar lyftaal en haar woorde ’n doellose rat voor die oë te draai. Besig om te oorleef. Besig om die masker stywer en stywer teen haar vas te druk.”

Vir ’n oomblik het hy doodstil gesit, toe met ’n klein skud van die kop ’n dosie van iewers te voorskyn gebring, die pyp na sy mond gelig en die vuurhoutjie getrek. Hy het geteug en die vlam gemanipuleer, met die gryswit rook wat hom en die staanlamp omhul.

“Dit is ’n leë bestaan. En sy weet dit nie.”

Sy het lank gesit en na hom gekyk. En gesê: “Ek sou verkies as jy nie rook nie.”

* * * * *

Transkripsie van onderhoud deur A.J.M. Williams met mev. Miriam Nzululwazi, 23 Oktober, 22:51, Govan Mbekilaan 21, Guguletu.

W: Ek verteenwoordig die Staat, mev. Nzululwazi. Ek het ’n paar vrae oor ’n mnr. Tobela Mpayipheli en ’n mej. Monica Kleintjes …

N: Ek ken haar nie.

W: Maar u ken mnr. Mpayipheli.

N: Ja. Hy is ’n goeie man.

W: Hoe lank ken u hom al?

N: Twee jaar.

W: Hoe het u hom ontmoet?

N: By my werk.

W: Wat is u beroep, mev. Nzululwazi?

N: Ek is ’n teemaker by Absa.

W: Watter tak van Absa?

N: Die Heerengracht.

W: En hoe het dit gebeur dat u hom ontmoet het?

N: Hy is ’n kliënt.

W: Ja?

N: Hy het een van die konsultante kom sien, en ek het tee gebring. Toe hy klaar was, het hy my kom opsoek.

W: En gevra vir ’n afspraak?

N: Ja.

W: En u het ‘ja’ gesê.

N: Nee. Eers later.

W: Hy het dus weer teruggekom na die eerste keer?

N: Ja.

W: Waarom het u eers nee gesê?

N: Ek verstaan nie waarom jy my kom wakker maak om vir my sulke vrae te vra nie.

W: Mnr. Mpayipheli is in die moeilikheid, mevrou, en u kan hom help deur die vrae te beantwoord.

N: Watse moeilikheid?

W: Hy het ’n artikel wat aan die Staat behoort wederregtelik geneem en …

N: Hy het niks geneem nie. Daardie vrou het dit vir hom kom gee.

W: Mej. Kleintjes?

N: Ja.

W: Waarom het sy dit vir hom gegee?

N: Sodat hy dit vir haar pa moet neem.

W: Maar waarom het sy hom gekies om dit te doen?

N: Want hy skuld haar pa ’n guns.

W: Watse soort guns?

N: Ek weet nie.

W: Hy het nie gesê nie?

N: Ek het nie gevra nie.

W: U en mnr. Mpayipheli bly saam?

N: Ja.

W: Soos man en vrou?

N: Ja.

W: En u vra hom nie waarom hy gesteelde goedere in ontvangs neem en homself bereid verklaar om dit Lusaka toe te vat nie?

N: Hoe weet jy hy gaan Lusaka toe?

W: Ons weet alles, mevrou.

N: As jy alles weet, hoekom kom sit jy hier in die middel van die nag en vra my vrae?

W: Weet u waarby mnr. Mpayipheli betrokke was voor sy huidige betrekking?

N: Ek dog julle weet alles.

W: Mevrou, dit is so dat daar gapings in ons kennis is. Ek het vir u reeds om verskoning gevra vir die feit dat ek u so laat pla. Ek het reeds verduidelik dat dit ’n krisis is en mnr. Mpayipheli in groot moeilikheid is. En u kan help deur die gapings vir ons met inligting te vul.

N: Ek weet nie wat hy gedoen het nie.

W: Weet u dat hy vir georganiseerde misdaad …

N: Ek wil nie weet nie. Hy het gesê hy het ’n ander lewe gehad. Hy het gesê hy het dinge gedoen wat hy wil vergeet. In dié land is dit nie baie moeilik nie. Hy sou my vertel het as ek hom gevra het, maar ek het nie. Hy is ’n goeie man. Daar is liefde in hierdie huis. Hy is goed vir my en vir my seun. Dit is al wat ek nodig het om te weet.

W: Weet u of hy ’n lid van Umkhonto weSizwe was?

N: Ek weet.

W: Was hy?

N: Ja.

W: Het hy so gesê?

N: Op ’n manier.

W: Weet u waar hy gedien het?

N: Hy was in Tanzanië en Angola en in Europa en Rusland.

W: Weet u wanneer hy …

N: Dit is al wat ek weet.

W: Maar hy het u vertel dat hy as lid van MK daar ge…

N: Nee. Hy het nooit vertel nie. Ek het my afleidings gemaak.

W: Afleidings?

N: Ja.

W: Soos wat?

N: Soos wanneer hy met Pakamile gesels en van ander lande vertel.

W: U seun?

N: Ja.

W: U het u afleidings net daarop gebaseer?

N: Ja.

W: Hy het nooit pertinent gesê hy was by MK nie?

N: Nee.

[stilte – 8 sekondes]

W: Mev. Nzululwazi, die guns wat hy geskuld het aan Johnny Kleintjes …

N: Ek het jou al gesê ek weet nie.

W: U vind dit nie eienaardig dat mej. Kleintjes hier inkom en mnr. Mpayipheli onmiddellik instem om ’n lang en gevaarlike reis te onderneem nie?

N: Hoekom is dit gevaarlik om Lusaka toe te gaan?

W: U ken nie agtergrond van die data nie?

N: Watter data?

W: Die gesteelde data in sy besit.

N: Hoekom is dit gevaarlik?

W: Daar is mense wat hom wil keer. En daar is …

N: Soos julle?

W: Nee, mevrou …

N: Julle wil hom keer.

W: Ons wil hom help, mevrou. Ons het by die lughawe probeer, toe hardloop hy weg.

N: Julle wou help?

W: Ons wou.

N: Jy moet loop. Nou.

W: Mevrou …

N: Uit.

W: Mevrou …

N: Jy moet my huis nou verlaat.

* * * * *

By die ingang van die Lugmagbasis Bloemspruit is daar ’n plaket aangebring. Dit is in militêre terme ’n nuwe een, skaars drie jaar oud. Daarop staan die syfers en letters “16 Eskader”, en onder dit “Hlaselani”. Swart inwoners van Bloemfontein weet wat dié woord beteken, maar net om seker te maak dat begrip wyer strek, staan daar tussen hakies heel onderaan “Attack”.

Dit is veral die vlieëniers van 16 Eskader wat met selftevredenheid na die woorde kyk wanneer hulle vir diens kom aanmeld, want dit definieer wat hulle doen, dit onderskei hulle van die gevleuelde busdrywers en transportryers van ander eskaders, veral ander helikopterjokkies. Hulle is ’n aanvalseenheid. Vir die eerste keer in die byna 65-jarige bestaan van die eskader, as jy tegnies wil wees. Vergeet maar van die kwasibomwerpers soos Marylands, Beauforts en Beaufighters van die Tweede Wêreldoorlog. Vergeet veral van die Alouette III helikopters van die bose jare tagtig.

’n Groot deel van hul selftevredenheid het te doene met die inhoud van die reuseloodse: 12 amper nuwe Rooivalk AH-2A aanvalshelikopters, indrukwekkende lugplatforms met ’n neusgemonteerde 20 mm-kanon wat 740 rondes per sekonde kan vuur, en die kapasiteit om tot 16 lug-tot-grond-missiele soos die ZT-35, lasergestuurde teentenkmissiel te dra. En op die vlerkpunte is daar plekkies waar die Darter lug-tot-lug-missiele knus kan gaan lê. Voeg hierby die Rooivalk se elektroniese oorlogvoeringsuite, die ten volle geïntegreerde HEWSPS (Helicopter Electronic Warfare Self-protection Suite) met radarwaarskuwing, laserwaarskuwing en teenmaatreëlstelsel en die vlieëniers meen hulle is die enigstes in die SALM met 2lste-eeuse tegnologie tussen hulle bene, soos hulle dikwels in die offisiersklub oor ’n glasie Red Heart en Coke sal sê.

Wanneer die oproep om 21:59 van genl. Ben van Rooyen by Lugmaghoofkwartier kom vir twee Rooivalke om, met bykomende brandstoftenks wat die reikafstand tot 1 260 km verhoog, op te styg en na Beaufort-Wes te vlieg as deel van ’n werklike operasie (en nie die gesimuleerde oorlogvoering van die afgelope 36 maande nie), is die bevelvoerder van 16 Eskader se grootste probleem hoe hy aan die nie-verkose vlieëniers en kanonniers gaan verduidelik hoe hy sy keuse gemaak het.

* * * * *

“Hoe is dit moontlik dat die MK-rekords hom nie wys nie, Rahjev? As sy reg is en hy was in Rusland en Angola. Hoe is dit moontlik?”

“Mevrou, ons weet nie. Ons kan net kyk na wat daar in die databasisse is. Ons kan dit analiseer, dis al.”

“Gee vir my ’n persentasie van waarskynlikheid dat ’n MK-lid nie op rekord is nie.”

Rajkumar trek met ’n pofferhand aan die lang swart poniestert wat oor sy skouer hang. “Hel, mevrou … vyftien persent.”

“Vyftien persent.”

“As daar tienduisend MK-soldate was, is soveel as eenduisend vyfhonderd nie op rekord nie.”

“Nie op elektroniese rekord nie.”

“As daar vyftigduisend was, is vyftienduisend net weg?”’

“Ja, mevrou.”

“Maar hulle kan in Voortrekkerhoogte se lêers wees?”

Radebe antwoord: “Ek dink die kanse is groter dat hulle hom in die Voortrekkerhoogte-lêers gaan kry.”

“Hoe lank nog voor ons hoor?”

“’n Uur of twee. Daar is drie mense in die argief besig.”

“En die Boere se mikrofiche-biblioteek?”

Radebe haal sy skouers op. “Dit hang af hoe hard van bo af gepraat is.”

Sy loop ’n draai deur die vertrek. Om van ander afhanklik te wees, is haar groot frustrasie. Sy skud dit af.

“Wat maak ’n motorfietswinkel-handlanger by ’n konsultant van Absa?” vra Janina vir die Opskamer in die algemeen.

“Sê vir my ek kan in Absa se stelsels gaan rondkrap, mevrou. Asseblief.” Rajkumar strek sy saamgevlegte hande voor hom uit en die litte kraak in antisipasie.

“Hoeveel tyd het jy nodig?”

“Gee my ’n uur.”

“Jy het dit.”

“Dankie, dankie, dankie.”

“Wat is die situasie op die pad?” vra sy vir Radebe.

“Die tolhek sê geen groot motorfietse is vanaand deur na die noorde nie – ’n paar het suid ingekom, maar nie ’n swart man nie. Ons werk deur die polisie se streekhoofkantoor. Hulle sê die plaaslike wetstoepassers en vulstasies tot by Touwsrivier is reeds laat weet. Hulle gaan nou Laingsburg, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes bel. Maar as hy nie die N1 vat nie …”

“Hy sal.”

Hy knik.

Sy kyk na hulle. Ywerig. Om tevrede te stel.

“Maak ons vordering met die mense wat Kleintjes se kollegas was, wat gehelp het met die rekenaarintegrasie?”

“Daar kom ’n transkripsie, mevrou.”

“Dankie.”

Dit is die een, dink sy. Dit is die een waarop sy wag. Sy kyk oor die vertrek heen. Hulle weet nie alles nie. Net sy het al die stukke van die legkaart.

Soveel fynbeplande werk. Soveel uitsonderingsbestuur. Die ratjies van dié horlosie oor versigtige, geheime maande een vir een op sy plek gesit. Opgewen. En nou moet sy dit verstel, danksy ’n middeljarige motorfietshandlanger.

Proteus

Подняться наверх