Читать книгу Ikarus - Деон Мейер - Страница 12
9
ОглавлениеTranskripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: Daar is ’n geraamde knipsel uit die Huisgenoot van 1950 oor my oupa Jean. Dit het al die jare in die voorhuis gehang … San het dit nou onlangs afgehaal. Dit is so half, ek weet nie, daar is iets tragies daarin. Hoe die artikel en die werklikheid … Die opskrif sê Groot oesjaar wag vir jong Jean du Toit. Daar is ’n foto van hom. Hy staan so in die wingerd, in sy WP-rugbytrui, met ’n rugbybal in sy hande. Toe San dit die eerste keer sien, toe vra sy: “Wat het van daardie gene geword?” Sy sê as hy vandag geleef het, sou hy ’n paparazzi-droom gewees het. Hy was blond en baie aantreklik, met hierdie potblou oë, hy was ’n fantastiese rugbyspeler, maar op daardie foto kan jy die ander ding ook sien. Dis … ’n soort selfvertroue wat grens aan vermetelheid, ’n houding wat sê hy gaan maak net wat hy wil, die wêreld behoort aan hom. San sê daar’s ’n soort gevaar aan daardie look, ’n onweerstaanbaarheid, daar’s vrouens wat daarvoor gaan, al weet hulle dis net moeilikheid.
Die foto is geneem twee jaar ná my grootjie se dood. Oupa Jean het op twee-en-twintig die plaas geërf. In daardie jare was dit niks snaaks nie, daar’s ouens wat op agttien al die plaas oorgevat het, dis anders vandag … Die probleem was, Klein Zegen was ’n wynplaas. Met alles wat daarmee saam kom. Die mistiek van wyn, die prestige, die geskiedenis, die kultuur … My ouma Hettie het gesê daardie jare, die vroeë vyftigs, was wynboere regtig iémand gewees. Daar was die persepsie dat hulle almal skatryk was. En hulle was nie … Maar jy kan dink, twee-en-twintig, handsome, sportster, en ’n wynboer van ’n plaas waar die opstal tweehonderd-en-twintig jaar oud was. Dis soos om vandag ’n rock star te wees. En die een of ander tyd moet dit na jou kop toe gaan …
Oupa Jean was nie net die enigste seun nie, hy was die enigste kind. Hy was van kleins af daarvan bewus dat alles syne sou word. En hy was ook maar lekker bederf, dink ek. Die goue seun, die talentvolle, mooi kind wat ’n toekoms gehad het sonder om eens te probeer.
Nou moet jy ook verstaan, dié tyd toe oupa Jean die plaas oorgeneem het, was die goue jare van die KWV. Die Koöperatieve Wijnbouwers Vereniging Beperkt, wat eintlik maar die staat was wat beheer gehad het oor die hele wynbedryf. Tot in 1956 het die KWV in elk geval sy hele oes gekoop. In 1957 het die KWV die kwotastelsel ingevoer, en met oupa Jean se rugbykontakte het hy seker gemaak Klein Zegen kry ’n groot kwota. Sy enigste doelwit was om elke jaar daardie kwota te vul, want Big Brother KWV sou alles koop. Baie min van die boere van daardie tyd het geworry oor gehalte. Daar was nie baie wat hulle eie wyn op die plaas gemaak het nie, dit was nie eintlik finansieel lonend nie … So dan kan jy deeltyds boer, jy moet net met oestyd en snoeityd so ’n bietjie fokus. Wat vir oupa Jean tyd gegee het vir rugby en vroumense en drank. Nie noodwendig in daardie volgorde nie.
En dis wat hy gedoen het. Almal het gedink hy gaan Springbok word, maar toe gebeur daar twee goed. Oupa Jean het die volgende jaar vir ouma Hettie swanger gemaak, en hy’t sy been gebreek, net voor die Springbokke se toer Engeland en Frankryk toe …