Читать книгу Ikarus - Деон Мейер - Страница 15
12
ОглавлениеCupido sukkel om stil te sit. Hy wil beweeg, maar die vaalgeel lêer wat Stellenbosch in sy afwesigheid afgelewer het, is effens dikker as die tipiese verdwyningsdossier.
Daarom bly hy sit, trek dit nader, maak dit oop. Daar is ’n foto heel voor binne-in vasgekram, drie verklarings in Deel A en twee forensiese verslae in Deel B. Die volledigheid van die ondersoekdagboek in Deel C beïndruk hom, maar hy weet die media-aandag wat Stellenbosch gekry het, moes groot druk op die SB en sy speurders geplaas het om deeglike werk te doen.
Heel agter is ’n ondertekende SAPS 55(A) – die vorm wat die polisie vrywaar van bedrieglike aanmeldings en hulle die reg gee om die verdwene persoon se foto en beskrywing te sirkuleer en te publiseer.
Hy kyk na die foto. Dit stem ooreen met die gesig wat hy by die lykshuis gesien het. Dit wys Ernst Richter in ’n denim en blou T-hemp waarop staan HTML, en daaronder (expert in) How To Meet Ladies. Hy lyk jonk: dalk vroeë dertigs, hy lag, sy hande besig om iets te beduie toe die kamera hom vasgevang het. Skoongeskeer, dik, donker hare wat amper op die skouers hang, die lyf skraal. Hy het sy ma Bernadette se lang neus, maar sy wangbene is skerper en sy mond meer prominent.
Dis nie hoe hy ’n ou sou voorstel wat ’n alibi-webwerf operate nie, dink Cupido. Richter lyk decent. Normaal. The guy next door, soort van, as jy in ’n middle-class whitey suburb bly. Maar hy het deur die jare geleer: Met whiteys moet jy nie op looks gaan nie. Very deceiving.
Hy ontsyfer die eerste verklaring, deur ’n aanklagkantoor-konstabel met ’n byna onleesbare handskrif geboekstaaf. Dit is op 27 November afgelê deur ene Cindy Senekal, aangedui as “a friend of the missing person”.
Volgens haar het sy op Woensdag 26 November verskeie kere met Richter oor die telefoon gesels. Hy was opgeruimd en “normal”. Die laaste oproep was teen 16:00. Hulle het om 19:00 ’n afspraak vir aandete gehad by die Dorpstraat Deli op Stellenbosch. Toe hy vyftien minute laat was, het sy hom probeer skakel, maar net sy stempos bereik. Senekal het nog verskeie kere gebel, en twee stemboodskappe gelaat. Sy het tot 19:45 by die restaurant gewag, toe na haar meenthuis op die dorp teruggekeer. Sy het deur die loop van die aand hom weer telefonies probeer kontak, maar sonder sukses. Senekal sê Richter se selfoon het van ongeveer 20:30 direk na stempos gegaan en nie meer gelui nie. Haar laaste oproep na hom was om 00:24. “I called again this morning at approximately 06:50. At that time, I was still just getting his voicemail. So I drove to his house. The doors were locked. Nobody answered the door. Ernst was sometimes a little late for appointments, but he’s never disappeared like this,” lees die verklaring.
Sy selfoonnommer en ’n beskrywing van sy motor, ’n grys Audi TT, is ook neergeskryf.
Net ná agt het Senekal na die kantore van Alibi.co.za op Stellenbosch gery. Richter se motor was nie op sy gewone parkeerplek nie. Sy het by die kantore ingegaan en navraag gedoen. Die personeel het nie geweet waar Richter is nie. Ná ’n gesprek met die operasionele bestuurder van Alibi, ene Desiree Coetzee, is sy terug na haar eie werk. Senekal en Coetzee het verskeie kere gedurende die dag van Donderdag 27 November gekommunikeer, en nie een van hulle kon met Richter kontak maak nie. Hulle het ooreengekom dat Senekal polisie toe sou gaan as daar teen 17:00 nog geen nuus is nie, wat sy dan ook gedoen het.
Die tweede verklaring is op Vrydag 28 November deur ’n speurder van die Stellenbosch-stasie afgeneem by Alibi se kantore, in ’n onderhoud met die operasionele bestuurder, Desiree Coetzee. Dit voeg net enkele nuwe stukkies inligting by: Richter is twee dae tevore laas, om ongeveer 17:15 op 26 November, gesien toe hy Alibi se kantore verlaat het. Hy was geklee in ’n denim, swart T-hemp met die woorde I refuse to engage in a battle of wits with an unarmed person in wit letters daarop, en “white sports shoes”. Hy was, soos gewoonlik, in ’n goeie luim. Daar was geen dagboekinskrywings op sy rekenaar vir die res van die dag nie. Sy grys Audi TT is sy enigste motor. Sy kollegas weet van geen werklike vyande nie, maar die maatskappy kry voortdurend dreigemente van veral godsdiensfanatici. Dit het al doodsdreigemente ingesluit, direk gerig aan Ernst Richter, maar dit was sonder uitsondering naamloos en gestuur van tydelike of gemaskeerde e-posbedieners.
Cupido sug. Dis waarvoor hy bang was. Elke dreigement sal nou opgevolg moet word.
Die Coetzee-verklaring sê ook dat Richter geen noemenswaardige rekord van afwesigheid gehad het nie, hoewel hy soms laat was vir afsprake, “maar nooit meer as ’n uur nie”.
Die derde verklaring is van Bernadette Richter, die slagoffer se ma, maar Cupido huiwer voor hy dit lees. Daar’s iets wat nie wil pas nie. Hy skuif die dossier ’n entjie terug op die lessenaar.
Iets wat Senekal of Coetzee in hul verklarings gesê het?
Nee, die fout lê nie daar nie.
Cupido staan op. Hy haat die gesit, hy kan nie só dink nie. Hy loop uit by sy kantoor, gangaf, sonder bestemming.
Fokken Benna wat gaan staan en suip het, waar’s sy partner noudat hy hom nodig het?
Want hy wil nou met Griessel praat oor dié saak. Hulle is ’n team, die yin en die yang van die Hawks, Batman en Robin. Hy dink dikwels hulle operate so goed, want hy wat Cupido is, is die danser: twinkle toes, pappie, lightning mental footwork, hy’s die investigative artist, with everything that goes with it – creative, eccentric, a little touchy at times. En Benna is die philosopher, the thinker, daai dude is methodical. And grounded, except for the drinking problem of course, ma’ dis oorlat Benna te veel dink. En te diep. In dié jop is daai dangerous.
So what usually happens, hy wat Cupido is, gooi die idees, duisend myl ’n minuut, en Benna is die screen, die filter, die gate guard. Sy sounding board.
En nou’s sy sounding board domdronk en hy sal eers self moet regkom.
So, something doesn’t make sense.
Dis nie in die verklarings nie.
Dis iets van vanmiddag, by die lykshuis.
Hy staan ’n oomblik stil in die halfdonker gang.
Dis die datums.
Hy draai om, draf geluidloos op sy Nike Air Pegasus Plus-tekkies terug na sy kantoor toe. Hy klik op sy rekenaarskerm om die Outlook-dagboek oop te maak en tel die dae vanaf 26 November, toe Richter verdwyn het.
Een-en-twintig tot vanoggend, toe Richter in Blouberg se duine gevind is.
Die probleem is, die liggaam wat hy vanmiddag in die lykshuis gesien het, was definitief nie twintig dae lank begrawe nie. Not enough decomposition. Hy’s maybe a week of so al dood.
So where was Ernst Richter for the first fourteen days after he went missing?
The plot thickens.
Hy wil vir dié Cindy Senekal bel en met haar gaan praat, nóú.
Hy onderdruk die impuls en trek die dossier weer nader. Hy skuif sy stoel, plaas sy tekkies op die blad en lê gemaklik terug. Hy balanseer die lêer op sy maag en hy lees.
Die derde verklaring is deur dieselfde speurder opgestel, tydens ’n onderhoud met Bernadette Richter. Dit lewer geen nuwe inligting op nie, behalwe dat sy haar diepe kommer uitspreek, want haar seun “het nog nooit weggeloop nie”.
Cupido blaai na die ondersoekdagboek in Deel C.
Dit wys dat twee speurders van Stellenbosch op die oggend van 28 November om 11:25 die deur van Richter se huis in Mont Blanc, Paradyskloof, oopgedwing en die plek deursoek het. Daar was geen teken van ’n struweling nie, geen leidrade wat kon aandui wat van die verdwene man geword het nie.
Navrae is by bure gedoen, maar het niks opgelewer nie.
Richter se grys Audi TT is op dieselfde dag om 16:42 in Stoffel Smitstraat, Plankenbrug, op Stellenbosch gevind, waar dit gesluit en geparkeer gestaan het.
Die kantore van die ligte industrieë in die omgewing is besoek. Niemand het vir Ernst Richter geken nie.
Audi Centre in Somerset-Wes se hulp is ingeroep om die voertuig oop te sluit. Daarna is die kar geprosesseer. Die speurder het ook op dieselfde datum ’n forensiese verslag oor Richter se selfoonnommer aangevra en ’n amptelike vermistepersoon-bulletin uitgereik, wat ’n verklaring aan die media ingesluit het.
In die daaropvolgende week is daar inskrywings oor vrugtelose pogings om die dreigemente wat Richter en Alibi ontvang het, na te spoor. Ook die nommers wat uit Richter se selfoonrekords verkry is, is nagegaan en het niks opgelewer nie.
Vaughn lees die twee verslae wat die dossier se Deel B oplewer. Die eerste is ’n forensiese verslag van die Audi TT Coupé. Net Richter se vingerafdrukke, soos herwin in sy kantoor, en dié van Cindy Senekal is geïdentifiseer. Twee ander vingerafdrukke is gevind, maar die SAPD se databasis het niks opgelewer nie. Dit beteken dié mens of mense het nie misdaadrekords nie. Semen is op die passasiersitplek gevind. Die verslag sê dit was bes moontlik nie ouer as veertien dae nie. Geen bloedspatsels is opgemerk nie. Richter se leerbeursie is in die paneelkissie gevind. Daarin was drie Premier-bankkaarte, sy bestuurslisensie, ’n herlaaibare Gautrein-kaartjie, ’n Makro-kaart, sy mediesefonds-kaart, negentien van sy eie visitekaartjies, R786.75 kontant, en sewe kontantstrokies van algemene inkope. Ook in die paneelkissie was een daggasigaret en ’n klein plastieksakkie met sowat negentig gram dagga, ’n pakkie sigaretpapiere, twee dosies vuurhoutjies, ’n balpuntpen, ’n driekwart pakkie kougom en dokumentasie van die motor.
Die ander verslag is oor Richter se selfoon. Dit was op die aand van sy verdwyning in verbinding met sowel die Papegaaiberg- as die Gholfbaanseltorings op Stellenbosch tot 20:17, waarna alle kontak verbreek is. Die lys van oproepe wat gemaak en ontvang is, wys dat Richter die laaste keer om 16:08 met Cindy Senekal gepraat het.
Hy het ook op dié dag vir twee kollegas en sy ma gebel, of oproepe van hulle ontvang.
Cupido swaai sy voete van die lessenaar af, plaas die dossier op die blad.
Hy kry Cindy Senekal se nommer en bel.
“Haai, dis Cindy. Jy weet wat om te doen ná die biep.”
Hy los ’n boodskap, net sy naam en nommer, want hy weet nie of Richter se ma dalk al vir haar laat weet het nie. Hy soek na die nommer van Alibi.co.za se operasionele bestuurder, Desiree Coetzee.
Dis nie in die dossier nie.
Hy swets sag, al weet hy dit gebeur: Die speurder het die nommer seker in sy sakboekie of op sy selfoon. Hy’t nie gedink die docket gaan aangepass word Hawks toe nie.
Hy draai na sy rekenaar en klik op die skakel van Alibi.co.za wat sê Contact Us. Hy kry ’n lys van skakels na gereelde vrae, medianavrae, en “Client Service”. Laasgenoemde lewer drie e-posadresse en ’n tolvrye nommer op.
Daar is geen fisieke adres nie.
Hy bel die tolvrye nommer. Dit lui lank.
“Alibi dot co dot za, Ashley speaking, I’d love to craft your alibi.”
’n Vrou se stem, ewe verleidelik.
Hy identifiseer homself, gebruik die Valke se amptelike benaming, want hy het nie lus om vir ’n jong girltjie te moet verduidelik nie, en hy sê: “I’m working on an investigation concerning one of your staff members. I need a physical address for your premises.”
“I am not at liberty to give you that information, sir.”
“I am a Hawks detective.”
“I understand that, sir,” sê sy vreeslik hoflik. “But we get a number of similar calls from people who say they are from the police. I am under instructions not to give out our address.”
“You can call me back. Just go to the website of the Directorate and call the number you see there, for the Cape Town office …”
“Sir, I’m sorry, but you will have to call our office number tomorrow, after eight-thirty.”
“What is your office number?”
Sy gee dit, ’n 880-landlyn op Stellenbosch. Cupido skryf dit neer.
“Now, is there anything else I can help you with?”
“I want to speak to your operations manager, Desiree Coetzee. Could you call her and ask her to contact me?”
“I don’t have her number, sir.”
“Do you have a supervisor or a manager or something?”
“I’ll see what I can do, sir.” Hy kan hoor sy is nie lus nie. “Anything else?”
Hy sê nee, dankie, en hy lui af.