Читать книгу Ikarus - Деон Мейер - Страница 14
11
ОглавлениеDaar is foto’s van advokaat Susan Peires teen haar kantoormuur. Francois du Toit het dit met die inkomslag gesien. Een van hulle is by haar gradeplegtigheid geneem, ’n paar dekades gelede. En Du Toit het gedink sy is een van daardie vroue wat aantrekliker geword het met die ouderdom, die jare het haar voorkoms versag, sodat sy nou in haar middeljare aantreklik is. Sterk en statig.
Terwyl hy sy storie vertel, is hy vaagweg daarvan bewus dat iets aan haar vir hom ’n sekere gemoedsrus gee. Sy lýk na ’n instrument van geregtigheid. Dalk is dit haar kalmte, die innerlike krag wat sy uitstraal. Dalk is dit die feit dat sy nie haar hare kleur nie, die sout-en-peper van grys en donker wat aan haar ’n sofistikasie gee, ’n wysheid. Of haar gesig; daar is ’n forsheid in die suinige lyne, die haak van die neus, die mond wat iewers tussen dun en vol in die perfek neutrale, objektiewe teelaarde geval het, sodat dit nie oordeel óf goedkeur nie.
Hy praat met al hoe meer gemak. Hy raak meegevoer deur die geskiedenis, sy geesdrif vergroot vir die moontlikheid dat dit wél as versagting vir sy sondes kan dien. Dit maak hom vry genoeg om al vertellende op te kom uit die stoel – eers daaragter, met sy hande op die leer van die leuning, en dan stadigaan te begin rondbeweeg in die groot kantoor.
Hy vertel haar van die vrou wat deur sy oupa Jean swanger gemaak is.
Sy ouma Hettie was ’n Malherbe van Calitzdorp. Haar ouers was nederige mense. “Haar pa het ’n winkeltjie gehad, hy’t maar gesukkel, hy moes raap en skraap om haar universiteit toe te stuur. Sy het vertel dat die swangerskap vir haar ouers ’n verskriklike ding was, ’n baie groot skande, want sy was hulle paspoort tot respektabelheid, sy was die simbool van hulle vordering uit agterlikheid en armoede. Daardie tyd moes dit baie erg gewees het, negentien-een-en-vyftig … Maar sy’t altyd gesê die een ‘klein zegen’ was dat sy in September van haar finale jaar swanger geword het. Sy kon nog graad vang, sy’t onderwys geswot. En natuurlik die feit dat dit ’n wynboer was wat haar swanger gemaak het, ’n WP-skrumskakel. Dit het ’n bietjie gehelp.
“Ouma was ’n ongelooflike vrou. Ek dink dit was haar sin vir humor wat haar … en die plaas, en my pa gered het. Die humor en die aardsheid …
“Oupa Jean … Ouma het vertel dat hy soos ’n magneet was. Daardie oë, daardie glimlag, daardie kyk wat sê die hele wêreld behoort aan hom. Sy het altyd gesê sy was baie ordentlik, sy was konserwatief, sy’t nog skaars ’n man gesoen voor oupa Jean, maar toe hy daardie aand vir haar vra om te dans, en hy kón dans, hy het haar so goed op die dansvloer laat lyk, en sy ruik hom en sy gesig is hier teen haar en hy sê: ‘Jy is die mooiste nooi op die hele Stellenbosch,’ toe verloor sy al haar opvoeding.
“Sy wás mooi. Baie mooi. Oupa Jean het baie foute gehad, maar smaak in vrouens was nie een van hulle nie …
“My pa is daardie aand gemaak, in die opstal. Dit was omtrent die laaste goeie ding wat oupa Jean gedoen het, behalwe om natuurlik met Ouma te trou, maar hy’t nie regtig ’n keuse gehad in daardie jare nie.”