Читать книгу Ikarus - Деон Мейер - Страница 16
13
ОглавлениеTranskripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: Ek dink oupa Jean het vir Shakespeare verkeerd bewys. The fault was in his stars, and in himself …
SP: Shakespeare het met ’n voet in elke kamp gestaan. In King Lear sê Kent: “The stars above us, govern our conditions.” En wat van “giddy Fortune’s furious fickle wheel” …
FdT: Jou Shakespeare is beter as myne.
SP: ’n Wynboer wat Shakespeare kan aanhaal, is ’n aangename verrassing.
FdT: Ouma Hettie het my Shakespeare laat lees. Ek en sy was die lesers in die familie … En my ma … Ek dink ek het dit al vir jou gesê. Ekskuus, dis die stres … Ouma Hettie was slim, sy het sulke stukkies uit Shakespeare aangehaal, sulke interessante stukkies, en as ek vra, dan het sy die boek gebring en gesê, lees, Shakespeare is beter lewensoriëntering as die lewe self. En toe lees ek. Julius Caesar was my gunsteling, dis hoekom ek dit beter onthou. En omdat daardie aanhaling my altyd aan oupa Jean laat dink. Want hy het nie heeltemal beheer gehad nie. As die beenbreuk nie gebeur het nie, of as dit later gebeur het … Almal sê hy sou Springbok geword het, selfs mense wat nie mal was oor hom nie. Drie maande voor die troue … As jy mooi kyk, kan jy die een kruk sien uitsteek op van hulle troufoto’s. En die gips aan sy onderbeen. En dalk sou dit nog orraait gewees het as hy betyds herstel het. Maar toe hulle die span kies vir die einde van die jaar se toer na Engeland in 1951, was hy nog nie reg nie. Toe kies hulle vir Fonnie du Toit, wat al amper dertig was, en Hansie Oelofse as die jonger skrumskakel …
As hy ’n ander soort mens was … As hy die terugslag kon verwerk het. Miskien was dit ’n kombinasie van goed, want dit was ’n groot klomp veranderinge. Skielik is hy getroud, daar’s ’n broodjie in die oond, hy word nie gekies vir die Bokke nie, hy is vasgekeer op die plaas met die gebreekte been, hy, wat so altyd aan die beweeg was … En vier maande ná die troue, toe kom my pa aan, en hy was ’n koliekbaba. Oupa Jean het glo al kwaai gekuier vóór al die teenspoed, dit was maar deel van die rugbykultuur in daardie dae. Maar toe slaan hy die bottel hard, en Ouma het vertel hy was nie ’n aangename ou in daardie tyd nie.
Hy was nooit weer regtig dieselfde speler nie. Daar’s mense wat sê die been het hom maar altyd gepla, dit het nie heeltemal reg aangegroei nie. Maar ouma Hettie sê dit was hoogmoed. En die feit dat alles so maklik vir hom gekom het, so baie natuurlike talent. Hy’t geglo hy’s baie beter as enigiemand anders, hy wou nie in daardie jare al die harde werk insit om sy plek weer van voor af oop te speel nie. En toe hy hier teen 1955 wakker skrik en ernstig begin oefen, was dit te laat. Want ’n outjie wat omtrent net halfpad so groot soos Oupa was, maar met twee keer die hart, het die WP- en die Bokspan gehaal. Tommy Gentles …