Читать книгу Ikarus - Деон Мейер - Страница 19

16

Оглавление

Cupido kry eers kans om alleen met Cindy Senekal te praat wanneer sy saam met hom kar toe stap.

Hy moet haar vra oor die dagga in Richter se Audi. En die seks in die kar, want die forensiese verslag sê die semen op die sitplek was minder as twee weke oud. Touchy subject, even in this day and age, jy kom nie net uit en jy vra: “Luister, het jy vir Richter in die kar genjaps?” nie, ’cause why da’s loss en grief, al is die helfte so bietjie geforce. As die njaps nie met haar was nie, gaan sy uitfreak. But then it’s important for the investigation, so vra moet hy vra.

As Benna hier was …

“Juffrou,” sê hy, dankbaar vir die halfdonkerte van die straat, “ek moet ’n klomp forensic goed probeer uitklaar. En van daai is so bietjie uncomfortable …”

Sy kyk vraend na hom. Help hom nie.

“Hulle het dagga da’ in sy glove box gekry …”

“Dagga?” Haar teenvraag kom te vinnig, en die verstywing van haar lyf gee haar weg.

“Ek is nie hier oor recreational drugs nie. Ek gee nie om wat hy gerook het en wie dit saam met hom gerook het nie. Daai moet jy mooi verstaan. Ma’ ek moet kyk of daar nie ’n drug deal iewers was nie …”

“Ek weet niks van dagga nie,” sê sy.

Hy weet sy lieg. Fair enough. As dit haar houding is, maak dit die volgende vraag so ’n bietjie makliker …

“Dan moet ek ook vra, het julle in November in sy kar gevry?”

“Gevry?” So half offended.

“Dis reg.”

“In sy kar?”

“Ja. Die Audi.”

“Hoekom wil jy dit weet?” Haar houding sê dat sy vrae nou grens aan teistering. En ’n oomblik lank vermoed hy dit is omdat hy ’n coloured cop is wat astrant raak met ’n whitey. Maybe is hy te sensitive, en Benna is nie nou hier om te red nie. Sy was tot nou toe glad nie racist nie, give her the benefit of the doubt.

Maar hy los die hoflikheid: “Dink jy ek sal vra as dit nie belangrik is vir die investigation nie?”

Die oë rek ’n bietjie, maar sy herstel vinnig. Sy vra: “Gevry soos in soen?”

“Ons praat van baie meer intense as daai.”

“Nee. Ons het nie.” Maar nou baie kil.

* * *

Om middernag moet hy stilhou by die Dorpstraat-verkeerslig. Hy gebruik die tyd om ’n SMS na Griessel se selnommer te stuur.

Julle nog wakker?

Vier minute later, toe hy uit Stellenbosch ry, kom die antwoord: Ek is – Alexa.

Hy druk sy HTC se handsfree in sy ore en bel.

“Hallo, Vaughn. Bennie slaap,” sê Alexa, maar sy klink kalm.

“Is jy okay?”

“Ja. Dok Barkhuizen was hier. Bennie se AA-borg. Hy het gehelp dat ons vir Bennie in die bed sit. Daar’s niks meer wat ons vanaand kan doen nie.”

“True. Ma’ ek het gedink dit sal baie help as Benna môreoggend gewone tyd by die werk kan wees. Net in case die Hase van die Fireman’s moeilikheid maak.”

“Ek gaan my bes doen …”

“En ek gaan sê Benna was saam met my op die case uit vanaand. Dan kan niemand sê hy was só stukkend dat hy nie kon werk nie, if you get my drift.”

“Dankie, Vaughn.”

“Daai’s niks. Ma’ nou moet ek jou brief, lat jy vir Benna in die môre kan prepare.”

“Ek sal.”

“Okay. Kan jy pen en papier kry?”

* * *

Hy ry met die Bottelarypad, want Polkadraai is so vrot van die padwerke dat jy dit tot elke prys moet vermy.

Hy dink aan Benna en Alexa.

Good people.

Oorlat hulle swaargekry het. Jy kan maar kyk, ’n whitey wat nog nie swaar gehad het nie, is basically ’n doos. Jy moet eers swaarkry voor jy kan connect, voor jy kan sien ons is maar almal human, irrespective of race, colour or creed.

Alexa, die famous music star wat so kwaai gefade het van die drank. Toe is haar man ook nog geskiet. Ma’ sy try nou opstaan.

En Benna. Hy moes nou groephoof by Violent Crimes gewees het. Hy moes dit lankal gewees het, hel, hy moes al ’n brigadier gewees het, ma’ Benna se moeilikheid is, he doesn’t see himself there. Benna het ’n chip die size van Tafelberg op die skouer, en Cupido kon nog nooit heeltemal uitwerk hoekom nie.

Net omdat hy booze? Daai maak nie sense nie, da’s baie senior lede wat drink soos visse, ma’ hulle het nie daai self-loathing wat hy partykeer by Benna sien nie. Van waar? Almal weet hy’s a great detective, op sý manier. En Benna kan met mense werk. Met Mbali, met hom wat Vaughn is, met getuies, met suspects. Dis asof Benna net plugged in is, hy’t daai sixth sense met mense, hy respect almal, hy weet watter knoppies om te druk.

But he hates himself …

Ours not to reason why, dink Cupido. Even as Benna al die regte moves gemaak het, genetwork het, gebelieve het, so bietjie gat gekruip het, he’s white in a world of affirmative action. Basically fucked. Even the constitutional court says so.

Hy dink aan Alexa, wat nou nog wakker is daar by Bennie se bed. Kan nie maklik wees nie, jy soek ook maar ’n doppie, nou moet jy sit en kyk hoe jou ander helfte gesuip is.

Strange couple, daai twee alkies.

But at least they’re a couple. En hy is nie eens in ’n relationship of any kind nie.

Omdat hy nie goed soos Tinder wil gebruik nie. Die eerste probleem is, daar is twintig ouens vir elke girl. Die tweede probleem is, if you want to stand out, moet jy lieg soos ’n tannetrekker. Die hele online dating-ding is een massive fraud – jy kan 200 kilogram weeg en lyk soos Dracula se ouma, maar jy Photoshop jou pic, of jy steel ’n supermodel s’n. Skryf allerhande oulike goedjies in jou profile, en da’ gaat jy. So there is no credibility, en hy wat Vaughn Cupido is, het personality. Hoe kry jy personality oor op ’n dating website?

Die regte ding om te doen is, you just go out and meet someone. Hy het plenty to offer.

Maar waar kry die top detective van die Hawks nog tyd vir going out and meeting someone?

* * *

In sy kantoor maak hy sy aantekeninge oor die ondervraging van Cindy Senekal. Hy lieg, daar, op swart-en-wit, dat Bennie Griessel ook by was.

Dan draai hy na sy rekenaarskerm en lees verder aan die Rapport-artikel van Isabeau Bekker.

Hy lyk nie na die baas van ’n liegplaas nie, hierdie oopgesig-klong, die enkelkind uit die Kaap se noordelike voorstede wat eens drome van kunstenaar wees gekoester het. Hoe op aarde het hy tot hiér gekom?

“Aag, jong, die lewe is mos maar wonderlik …”

Hóé wonderlik?

“Nee, dat mens dié geleenthede gekry het. My pa is dood toe ek veertien was. My ma was ’n huisvrou, toe moet sy instaan, dit was nie maklik gewees nie. My pa het ’n makelary gehad, korttermyn-versekering, dit is nie die soort van ding wat sy net kon oorneem nie. Dit moes verkoop word, en toe is daar nie baie geld nie, toe moet sy gaan werk, met ’n kind wat net in die hoërskool was. Ons het swaar gekry, by tye, maar sy het net altyd gesê ons het ’n dak oor ons koppe en ons het kos om te eet, en dis meer as wat baie mense in dié land kan sê. Ons sal ’n plan maak …”

Ek vra hom wat sy ma nou sê van die Alibi-plan wat hy gemaak het. Die glimlag huiwer vir die eerste keer.

“Nee, sy’t gevra of dit regtig is wat ek wil doen.”

Ís dit?

“Ek is ’n entrepreneur. Entrepreneurs sien geleenthede raak en benut dit. Dit is nie my eerste besigheid nie, en dit sal ook nie my laaste wees nie. Alibi is ’n stepping stone … My ma verstaan dit.” En dan is die glimlag terug.

Hy het op skool in kuns uitgeblink, kompetisies gewen. Hy het gedink heeltydse skilder gaan eendag sy beroep word. Sy ma het geraap en geskraap om vir hom ekstra klasse te laat neem “by oom Werner van Heerden”, die noordelike voorstede se gesiene kunstenaar. “Maar as jy in die middag alleen by die huis is en jy het ’n rekenaar, dan ontdek jy gaming. En die internet. Dit word die plek waar jy leef. Jy sien die kuns in die games, en die estetika van websites, en jy begin besef hoe die hele wêreld na jou toe kom op ’n skerm – ’n PC-skerm, ’n iPad-skerm, ’n foon se skerm – en baie van die design is suiwer kuns, en baie is suiwer … twak.”

In die Stellenbosch-sonskyn, by ’n tafeltjie buite Häzz, vertel Ernst Richter, die Groot Sondaar van Alibi.co.za, met ’n evangeliese gloed van sy bekering tot grafiese ontwerp. “Dit was soos ’n donderslag, in die Julie-vakansie van my graad elf-jaar, toe wéét ek net: Dit is wat ek wil doen. Ek wil games design. Ek wil die world wide web ’n mooier plek maak. Graphic design is die toekoms, alles gaan eindelik graphic design wees, soos wat ons lewens al hoe meer digitaal word, soos wat ons al hoe meer online leef.”

Toe gaan studeer hy vir ’n diploma in grafiese ontwerp aan die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie. “Dit was baie hard op my én my ma. Daar was net-net genoeg geld om vir die klasse te betaal. Ek het treingery stad toe, ek het naweke en vakansies gewaiter, my ma het oortyd gewerk sodat ons die boeke en alles kon bekostig.

“In my tweede jaar, toe begin ek en twee van my maats so ’n klein web design-maatskappy, ons het die varsity se rekenaars gebruik vir die eerste ses maande, maar ons kon goedkoper quote as enigiemand anders, en ons designs was cool, en ek het besef ek kan verkoop, ek kan by ’n ou gaan sit en vir hom sê useability en estetika is twee kante van dieselfde munt, die kombinasie is ’n competitive advantage.

“Toe kon ek ophou waiter. Ons het nogal goed geld gemaak.

“En toe maak ons klaar by die varsity en ons gaan aan met die maatskappy. Dit was tough, want toe is ons nie meer studente nie, en ons moet ’n kantoor huur en ons moet ons eie hardware en software koop, en ons moet hoër quote. Maar ons het bly glo. Ons het hierdie groot plakkaat van ’n Steve Jobs quote teen die muur gehad: ‘If you keep your eye on the profit, you’re going to skimp on the product. But if you focus on making really great products, then the profits will follow.’

“Toe kom die iPhone en die iPad, en omdat ons sulke totale nerds was, het ons al vroeg agtergekom dat app design die volgende groot golf gaan wees. Toe is ons proaktief. Ons het met al die tydskrifte gaan praat. Die helfte van die tydskrif-apps wat jy nou op ’n iPad sien, het ons ontwerp. Ons het okay gedoen … Maar so twee jaar gelede, toe raak ek onrustig. Toe voel ek ek het ’n nuwe challenge nodig. Toe verkoop ek my aandeel, en ek gaan kyk wat is daar wat nog nie gedoen is nie. Dis hoe Alibi gebore is.”

En die game design?

Hy lag weer. Hy sê hy het Alibi.co.za se webwerf ontwerp. Dit is baie mooi én funksioneel. “Hoeveel websites in die online dating-industrie kan dieselfde sê?”

Game design sal ’n droom bly, want daar is nie groot geleenthede daarvoor hier aan die suidpunt van die Donker Kontinent nie.

Maar egbreuk bied klaarblyklik groot geleenthede?

Hy sê met groot erns(t): “Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be trapped by dogma – which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.”

“Steve Jobs?” vra ek.

“Ja,” sê hy.

“Voel jy ’n konneksie?”

“Absoluut.”

Oor die geld? Vyftienduisend kliënte teen R62.50 per maand is byna ’n miljoen, net aan basiese inkomste. En dis maar die begin. Baie geld vir ’n jong man.

Die glimlag verdamp. “Ons maak nog lank nie wins nie. Daar is nog harde werk wat voorlê. Ek sal nooit so ryk soos Steve Jobs wees nie. Maar ek sal altyd my hart volg.”

Ikarus

Подняться наверх