Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 11
7
Оглавление22 Maart
Ek slaap langs my pa. Hy word verward wakker, in die vroegoggend, vervaard, sy hare en sy oë wild en deurmekaar. Dit neem hom ’n oomblik om my te herken. Hy lyk kleiner, skraler, hy lyk in hierdie blootgestelde oomblik wondbaar en breekbaar en feilbaar. Maar dit is asof ek dit nog nie kan sien nie. Nog nie wíl sien nie.
Ek gaan maak vir ons hawermoutpap. Pa eet in die bed. Dankbaar. Hy sê: “Eendag sal ons weer vars melk proe.”
Hy sê dit baie.
En: “Ek behoort darem môre gesond te wees, Nico.”
“Dan ry ons weer, Pa?”
Hy skud sy kop, stadig. “Nee. Dit is waar ons gaan kom bly.”
“Hier?”
“Nou nie hierdie huis spesifiek nie. Daar is baie om van te kies. Ek bedoel, hierdie plek, hierdie dorp.”
“Maar wat van daardie ooms?” Ek wys straat se kant toe, waar die Jeep gestaan het. Ons praat steeds gedemp, asof hulle baie naby is.
“Hulle is … ’n komplikasie.”
“’n Komplikasie?”
“Dit is ’n interessante woord. Ons kry dit uit die Latyn. ‘Complicare’ …” Pa haal eers ’n paar keer asem, asof hy sy kragte bymekaar maak. “Dit beteken om saam te vou. Jy weet, as jy iets vou, dan maak jy dit mos meer ingewikkeld.” Hy probeer om sy ou geesdrif te vind: “Oulik, nè, hoe taal werk. Kompliseer beteken om iets meer ingewikkeld …”
“Hoekom gaan ons nie net na ’n ander plek toe nie?”
“Want ek dink Vanderkloof is die beste plek in die hele land. Vir ’n nuwe begin.”
“Hoekom?”
Pa eet die laaste van sy pap. “Maslow … Al die basiese behoeftes. Hier is struktuur en tekstuur …” Hy sug. Hy is moeg. “Dis ’n lang storie. Ek sal vir jou mooi vertel, môre. Ek belowe. Reg so?”
“Okay.”
Hy gee sy leë papbord aan, en skud pille uit die botteltjie. “Ek gaan weer lê. Onthou om jou tande te borsel.”
* * *
In die middag hoor ek Pa praat. Ek gaan kyk in die slaapkamer waar hy lê. Hy het al die komberse afgegooi, hy sweet, hy yl, wilde woorde in ’n bang stem.
Dan word hy wakker. Hy kom meteens orent, hy draai sy lyf sodat hy nie op die bed mors nie. Hy gooi op oor die vloer.
Ek help hom om skoon te maak. “Jammer, Nico,” sê hy. “Jammer, jong.”
Ek maak die aand sop warm, maar Pa slaap deur alles.
Die Jeep kom nie terug nie.
Dit is verskriklik warm en benoud in die huis.