Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 6

2

Оглавление

20 Maart

Ons onthou die oomblikke van vrees, verlies en vernedering die beste.

Ek is dertien jaar oud, op 20 Maart in die Jaar van die Hond.

Die dag verloop soos die vorige en die vorige. Daar is die dowwe dreun van die groot Volvo FH12 se dieselenjin, en die vae gedruis van sestien wiele onder die lang, toegeboude sleepwa agter. Buite skuif ’n voorspelbare, vergeetbare landskap verby. Ek onthou die kunsmatige koel van die lugversorging in die “perd” se kajuit. Die reuk van die vragmotor binne is nog nuut en vars. Daar is ’n skoolboek op my skoot, maar my gedagtes dwaal.

My pa verminder snelheid. Ek kyk op, en uit. Ek sien die wit letters op die padbord se swart agtergrond: WELKOM IN KOFFIEFONTEIN!

“Koffiefontein,” sê ek hardop, bekoor deur die naam, en die prentjie wat dit in my kinderverbeelding optower – ’n warm, aromatiese bron van pruttende, donker boeretroos.

Ons ry die dorp stadig binne. In die amper-skemer van die laatmiddag is dit spookagtig, sonder lewe, soos al die ander. Onkruid op die sypaadjies, grasperke agter heinings lank en dig vergroei. Op die horison, ver agter die plat geboue van die breë hoofstraat, speel weerlig kruis en dwars en skouspelagtig oor fantastiese wolkformasies. Die hele westerkim is bebloed in ’n vreemde, ontstellende dieprooi.

My pa wys daarna met sy vinger. “Cu-mu-lo-nim-bus,” sê hy elke lettergreep afgemete. “Dit is wat ’n mens daardie wolke noem. Ons kry dit uit die Latyn. ‘Cumulus’ beteken ‘stapel’. En ‘nimbus’ is ‘reënwolk’. Dit is wat vir ons donderstorms gee.”

“Cu-mu-lo-nim-bus,” durf ek die woord aan.

Hy knik, en draai die groot lorrie behendig by ’n vulstasie in, hou stil. Hy druk die skakelaar, wat hy self aangebring het, om die ligte teen die flank van die lang sleepwa aan te skakel. Die brandstofpompe werp meteens lang skaduwees wat na mensfigure lyk. Die enjin is af. Ons klim uit.

Só gewoond dat dit veilig is.

Die dag se laatsomerhitte slaan uit die teer op, die geruis van insekte dik. En ’n ander geluid, ’n dieper tapyt van klank.

“Wat raas só, Pappa?”

“Paddas. Die Rietrivier is net dáár.”

Ons loop langs die sleepwa af. Dit is wit, met drie groot, groen letters daarop wat lyk of hulle deur ’n vinnige wind skeefgewaai is: RFA. Dit word op die agterste deur van die wa verduidelik – Road Freight Africa. Ons het dit by ’n vragmotor-staanplek net buite Potchefstroom gekry, met die Volvo-perd aan, amper splinternuut, die tenk vol. Nou stap ons, pa en seun, langs mekaar. Sy hare lank en slordig en blond, myne ewe wild, en bruin. Ek is dertien, in die niemandsland tussen seuntjie en tiener, en gemaklik daar.

’n Vlermuis vlieg laag oor my kop.

“Hoe vang ’n vlermuis sy prooi?” vra my pa.

“Met eggo’s.”

“Watse dier is ’n vlermuis?”

“’n Soogdier, nie ’n voël nie.”

Hy vryf my hare nog meer deurmekaar. “Mooi.”

Ek hou daarvan.

Ons begin met die bekende ritueel, wat minstens een keer per dag gebeur, nou al weke lank: My pa dra die klein Honda-kragopwekker en elektriese pomp na die vulstasie se hervuldeksels, wat in ’n kleurgekodeerde ry langs mekaar sit. Dan kom haal hy die groot skuifsleutel om die swart dieseldeksel uit te lig. My verantwoordelikheid is om die lang tuinslang af te rol. Dit is aan die elektriese pomp gekoppel, en ek moet die ander punt in die bek van die Volvo se brandstoftenk druk, en dit daar hou.

Hervulling in ’n wêreld sonder petroljoggies en elektrisiteit.

Ek doen my deel, en staan verveeld, besig om die letters teen die wit muur van die verlengde vulstasie-gebou te lees. Myburgh Elektries. Myburgh Bande. Ek dink ek moet my pa daarna vra, want ek weet “burg” beteken fort – dit het hy vir my verduidelik toe ons deur plekke soos Trompsburg en Reddersburg gery het – maar hierdie is ’n vreemde spelling, en nie die naam van hierdie dorp nie.

Meteens is die gons van die insekte stil.

Iets trek my aandag, agter my pa, in die straat af. Ek roep na hom, verbaas oor die onverwagse teken van lewe, en ek skrik ’n bietjie vir die sluwe aard van die beweging. My pa sit gehurk, besig om die pomppyp in die gat te skuif. Hy kyk op na my, volg die rigting van my blik, en sien die skimme in die skemer.

“Klim in!” roep hy. Hy kom orent, met die groot skuifsleutel in sy hande. Hy hardloop na die vragmotor se kajuit.

Ek staan verstar. Die skande daarvan sal maande daarna nog aan my vreet, die onverklaarbaarheid, die onbesonnenheid. Ek is botstil, my oë op die skuiwende skadu’s. Hulle kry gestalte.

Honde. Soepel, snel.

“Nico,” skree my pa, met verskriklike dringendheid. Hy staan stil om die doelgerigte diere van sy kind weg te keer.

Die desperaatheid in my pa se stem skok en ruk deur my, breek die vrees oop. Skiet die eerste vonk van selfverwyt. Ek snik, ek hardloop langs die lang sleepwa af. Ek sien deur die trane hoe die voorste hond in die ligkol insweef, na my pa se keel spring, bek wyd gesper, lang, skerp tande ontbloot. Die swaai van die groot sleutel, die vlietende skaduwee van dié beweging. Ek hoor die dowwe slag toe dit die kop tref, en die kort tjankgeluid. By die vragmotor se trappie, ek gryp die silwer reling, die bang dryf my aan tot bo in die kajuit. ’n Hond pyl op my af, ek ruk die deur toe. Dit spring op, hoog, tot amper by die oop venster, naels krappend op die metaal van die deur, geel tande glimmend in die ligte teen die lorrie. Ek gil. Die hond val terug. My pa staan daar onder. Vyf, ses honde wat hurkend, sluipend om hom sirkel. En nog wat die ligkol binnegalop, lenig, meedoënloos.

Daarna, alles so vinnig, maar asof die tyd stilstaan. Ek onthou die fyn detail. Die wanhoop op my pa se gesig toe die honde hom afsny van die veiligheid van die lorrie, net drie meter weg. Die woer-geluid toe hy die massiewe skuifsleutel swaai en swaai. Die elektrisiteit in die lug, die reuk van osoon, die reuk van die honde. Hulle deins terug van die skuifsleutel se dodelike momentum, so behendig, net buite bereik. Maar hulle bly tussen hom en die vragmotordeur, grommend, happend.

“Kry die pistool, Nico. Skiet.” Dit is nie ’n bevel nie, maar ’n angstige pleidooi, asof my pa in daardie oomblik die dood sien, en die implikasies daarvan: sy seun wat alleen hier oorleef, gestrand, gedoem.

Sy gesig vertrek van pyn, ’n hond wat hom van agter bespring, sy tande diep in my pa se skouer slaan. Dit ruk my uit my angsbeswyming, my hande vat na die Beretta in die vakkie op die wye instrumentpaneel, my duim druk die veiligheidsknip met groot moeite af, soos Pa my oor en oor geleer het. Nog ’n hond byt in my pa se kerende voorarm, en hang daar. Al twee my hande op die wapen. Twee vingers om die sneller se eerste, moeilike dubbelaksie te trek, die skoot by die venster uit die lug in, wild, die knal oorverdowend in die binneruim, sodat my ore suis, alle klank verdoof. Kordiet skerp in my neus. Die diere verstar ’n oomblik lank. My pa slaan met die skuifsleutel, die hond aan sy arm syg neer, hy tree nader aan die deur. Die trop roer, en spring. Ek mik na een se flank. Skiet. Die hond val skuins. Ek skiet weer, en weer. Die diere maak hoë, skaars hoorbare pyngeluide, die ander begin terugval, vir die eerste keer.

My pa is by die deur, ruk dit oop, spring in, ’n hond aan sy been, hy slaan daarna. Dit val. Bloed aan sy arms, bloed oor sy rug, hy stamp my van die sitplek af, slaan die deur toe.

Ek sien my pa se gesig, die weersin, die verbetenheid, vrees, afsku, woede. Ek voel hoe hy die pistool uit my hande gryp. Ek sien hoe hy die magasyn laat uitval, ’n nuwe een indruk. Hy hou die pistool by die venster uit. Hy skiet en skiet en skiet en skiet. Die skote is dof in my ruisende ore, die doppies spat geluidloos teen die voorruit, die instrumentpaneel, die stuurwiel, en val op die vloer langs my, oral. Ek kyk op na my pa se geskeurde hemp, en die diep rugwond, dieselfde donkerrooi as die wolke.

Die pistool is leeg, maar steeds trek Pa die sneller. Rook in die kajuit.

20 Maart in die Jaar van die Hond. Elf maande ná Die Koors.

* * *

My pa sit geboë, met die pistool op sy skoot. Hy sit doodstil. Ek kan nie sien of sy oë toe is nie.

Die klank van buite kom mettertyd terug in sagte golwe wat oor ons spoel.

Die paddas, die vroegaand se krieke. Ver in die weste verdoof die bloedhorison tot swart, en steeds sit hy.

Iemand snik sag. Dit neem ’n rukkie voor ek besef dit is ek. Ek wil nie nou nie, dit voel onvanpas. Ondankbaar, op ’n manier. Maar ek het nie beheer daaroor nie, die snikke harder, dringender. My pa draai na my toe, lê die pistool neer, sit sy arms om my. My hele lyf begin ruk, my hart hamer oorverdowend in my ore. Ek ruik die bloed en die sweet aan my pa, ek klou aan hom.

My oor teen sy bors, ek hoor sy hart wat so verskriklik vinnig klop.

“Toemaar,” sê hy. Ek hoor nie die woorde nie, voel net die vibrasies daarvan. Toemaar. Toemaar, toemaar, toemaar.

Hy hou my stywer vas. Ek bedaar langsaam.

“Jy is my held, Nico,” sê hy. “Jy het goed gedoen, hoor jy?”

Ek kry eindelik die woord uit wat hier binne vassit, al so lank. “Mamma.”

En wanneer dit my ore bereik, brand die vernedering deur my.

“Ai, Here,” sê my pa en druk my stywer. Dan skakel hy die ligte aan die kant van die vragmotor af.

* * *

My pa se naam is Willem Storm.

In die lig van ’n sissende gaslamp maak ek die wonde op sy rug skoon. My hande bewe. Die ontsmetmiddel moet brand soos vuur in die lang rooi skeure oor sy vel, maar hy maak geen geluid nie. Dit is ongewoon. Dit maak my bang, versterk die vrees dat ek hom in die steek gelaat het.

Later maak hy twee blikkies Enterprise Spaghetti & Meatballs oop. Ons eet in stilte. Ek staar na die blou-en-rooi blikkie en wonder wat verkeerd is met “pork”. Want daar is ’n geel ster op die blikkie met vet rooi letters wat sê: NO PORK.

“Ek het nie gedink dit sal so gou gebeur nie,” sê my pa eindelik.

“Wat, Pappa?”

“Die honde,” sê hy en maak ’n vae gebaar met die vurk in sy hand.

En dan bly hy weer stil.

Koors

Подняться наверх