Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 18

14

Оглавление

Ma

Ek kan onthou hoe my ma my vasgehou het.

Haar naam was Amelia, en haar nooiensvan was Foord. Ons het in ’n huis in Die Boord op Stellenbosch gebly, voor Die Koors.

Sy het my vasgehou wanneer ek gehuil het. Dan het ek heeltemal veilig gevoel. Dit was ’n warm en ’n welriekende vashou, en ek het jare lank gewens ek kan weet watter soort parfuum sy gedra het, wat haar só laat ruik het.

Pa het ’n foto van ons drie by hom gehad, sy lewe lank. Hy het dit in ’n sjokoladeblik gehou saam met twee ander foto’s wat hy met groot sorg bewaar het. Toe ons nog ’n kamer gedeel het, het hy dit soms saans uitgehaal en daarna gekyk. Hy het oor Ma getreur, maar hy het moeilik oor haar gepraat. Op die foto’s is sy ’n mooi vrou met dik bruin hare wat sy baie kort gedra het, en met ’n selfversekerde, breë glimlag asof sy daar tussen ons twee presies was waar sy wóú wees. Net so lank soos Pa. In ’n somersrok wat wys sy was fiks en gespierd.

Sy was ’n provinsiale hokkiespeler, amper vir die nasionale span gekies, maar sy moes kies tussen haar sport- en haar professionele loopbaan. Ek onthou die hokkiestok wat ek in ’n kas ontdek het, gehawend, ek onthou ek was agt of nege, en my ma het dit uit my hande kom neem en gesê, as jy hokkie wil speel, sal ek vir jou een koop. Maar hierdie is myne.

“Jou vrou?” sou mense vir Pa vra, soos almal maar gedoen het.

“Die Koors het haar gevat.”

Ek het geweet hy rou oor haar, en ek het dit probeer respekteer, selfs wanneer my eie verlange groot was, wanneer ek vir hom vrae wou vra om my geheue te verfris of my seer te verlig. Soms móés ek weet, en dan het Pa my geantwoord. Hy sou ook soms, in onbewaakte oomblikke, iets oor haar noem of onthou. Ek het dit alles versamel, soos stukkies van ’n legkaart, sodat ek die beeld van haar kon behou en bou.

Sy was ’n statistikus wat by die universiteit gewerk het, by ’n plek met die naam die Sentrum vir Kompleksiteitstudies.

My vrou was die slim een.

Pa sê sy het gewerk aan ’n projek wat armoede moes verlig, dit was vir haar baie belangrik.

Ek onthou sy was die stiller, ernstige een. Dalk onthou ek verkeerd. Dalk is dit net omdat sy meer afwesig was, die lang ure, die baie reis, haar fokus elders, op die groot taak voorhande. Pa was beskikbaar, Pa was teenwoordig, Pa was maar altyd daar, in oorvloed, sodat ek hom nooit na waarde geskat het nie. Ma was voor Die Koors skaars, soos ’n eksotiese edelsteen, sodat ek altyd ’n bietjie na haar verlang het. En die kollig van haar aandag en die towerkrag van haar aanraking so intens geniet het wanneer dit die slag wél daar was.

Ek het geluister en die woorde gebêre, elke keer as Pa iets oor haar gesê het:

Sy het ’n goeie hart gehad, ’n baie goeie hart.

Sy het ’n sterk persoonlikheid gehad.

En die opmerking waaroor ek die meeste gewonder het: Jy is jou ma se kind.

Pa het dit gesê toe ek daardie verskriklike winter my kos vir die kleintjies gegee het tydens die groot honger. En hy het dit gesê toe ek Die KTM van hulle motorfietse afgeskiet het in die Jaar van die Jakkals.

Koors

Подняться наверх