Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 17

13

Оглавление

Die eerste vrou

Pa bied vir die vrou kos aan, eers in Afrikaans. Sy hoor nie, of sy verstaan nie. Pa probeer Engels, dan die Frans en Duits wat hy bymekaar kan skraap. Dit help ook nie. Sy sit net op die rusbank met die vuil laken om haar en sy bewe en sy kyk vir die tapyt.

Ons maak vir haar water op die gasstoof warm in ’n groot kastrol en dra dit badkamer toe, waar ons die bad volmaak. Pa vat haar en maak die deur agter hom toe wanneer hy uitkom.

’n Uur later gaan hy weer in. Hy kom uit en sê: “Sy sit nog net só, op die vloer.” Daar is net jammerte in sy stem.

Ons maak weer water warm. Pa gaan was haar, ek wag in die kombuis. Hy help haar om klere aan te trek wat hy in ’n kas in die hoofslaapkamer kry. Hy lei haar na die kleiner slaapkamer. Die klere is effens te groot. Hy sit haar in die bed.

Sy sê nie ’n woord nie.

25 Maart

Dit is die eerste keer in baie maande dat ons nie net twee in ’n huis of ’n kar of ’n vragmotor is nie. Dit is ’n snaakse gevoel, om te weet die vrou lê daar.

Ek en Pa eet ontbyt. Die vrou roer nie.

Pa lyk soos ’n mummie, want die wond agter sy kop is op ’n ongemaklike plek, die verband moet om sy voorkop gaan. En daar is verbande en pleisters aan die hondewonde van sy arms en sy skouer en sy rug.

Ek was die skottelgoed, Pa gaan kyk na die vrou. “Sy slaap,” fluister hy toe hy uitkom.

Ons praat nie oor gisteraand nie. Pa is anders. Hy gesels met my oor sy planne. En vroeër sou hy alleen vir Spiere en Langhaar gaan begrawe het, om my die skade te spaar. Maar vanoggend neem hy my saam om te help. Dit neem ure, want die grond teen Vanderkloof se koppies is hard en baie klipperig.

Ek gooi weer op toe ons die lyke na die grafte toe sleep en hulle toegooi. Pa sê net: “Toemaar, Nico, toemaar.”

Ons gaan terug huis toe, natgesweet en vuil en naar. Sy slaap nog steeds.

Pa vat vir haar kos kamer toe. Hy maak haar wakker. Ek staan by die deur en kyk. Hy moet haar met ’n lepel voer terwyl sy met leë oë na die muur kyk en haar mond oopmaak, en sluk, en oopmaak en sluk.

In die laatmiddag gaan verken ons die dorp. Ons kry ’n groot kobra in die OK Value-supermark. Pa sê hy is seker agter die muise en rotte aan wat die meel en graankos geëet het. Die slang seil tot in die hoek van die winkel en maak dan bakkop. “Sjoe, dis ’n mooi dier,” sê Pa. Ons loop versigtig terug na die voordeur toe.

Pa kan nie slange doodmaak nie.

Die OK Value se rakke is maar leeg, Spiere en Langhaar moes die meeste van die blikkieskos weggevat het.

Die Alpha Pharm-apteek is gesluit, die Renosterberg-drankwinkel is amper leeggedra, daar is die muwwe reuk van ou, vermorste bier agter, en die duisende glasskerwe van gebreekte bottels. “Daar is ’n storie hier,” sê Pa. “Ek kry dit net nie ontsyfer nie.”

Die poskantoor is oop, daar is onafgelewerde briewe en pakkies. Die polisiestasie se vensters is gebreek, duiwe het hulle binne tuisgemaak.

Op die hoek is die Midas-motoronderdele en -vulstasie ongeskonde. Ons kry ’n uitgedroogde lyk agter in die kantoor. Dit was ’n man. Die beanie is nog op sy kop. Pa sê hy bied geen gesondheidsgevaar nie, ons sal hom anderdag begrawe.

Buite beduie hy vir my om langs hom op die randsteen te sit. Ek sien hoe hy soek na woorde. Pa soek omtrent nooit na woorde nie. Ek sien hoe hy vinnig oor sy oë vee. Hy sê: “Ek is jammer. Oor gisteraand. Ek …”

“Dis okay, Pa.”

“Ek wou jou dit nog langer spaar.”

Pa vat my hand. Dit was die laaste keer in sy lewe dat hy my hand gevat het asof ek ’n kind is, weet ek nou. Hy vat dit tussen al twee sy hande, druk dit teen sy wang, en hy sit so. Dit maak my ongemaklik, maar ek roer nie.

Pa laat my hand weer sak.

“Die wêreld is nou … Ons sal dit regmaak, Nico, dit heelmaak. Ek en jy.”

“Ja, Pa.”

Ons staan op. Ons gaan huis toe.

“Ek wil nie hê ons moet in hierdie huis bly nie,” sê ek vir Pa en beduie na die plek waar ons slaap. Want dit is waar hy siek en swak was.

Pa vryf deur my lang, deurmekaar hare. “Ons sal ’n ander plek kry. Ons gaan in elk geval binne ’n dag of twee ry.”

Die vrou lê nog in die kamer. Sy praat nie. Pa vat vir haar kos. Sy eet net ’n bietjie, sonder sy hulp.

In die nag skree sy. Pa kry haar later kalm.

26 Maart

Pa is nog in die kamer, ek maak die oggendkoffie, so hier by halfsewe. Ek dink dit is die reuk wat haar wakker maak. Sy kom uit die kamer, loop badkamer toe en kom dan na ’n paar minute kombuis toe. Sy gaan sit in die voorkamer-gedeelte, regop, op die punt van die stoel. Sy kyk nie vir my nie.

“Wil tannie koffie hê?”

Sy knik.

Ek steek my verbasing weg. “Met suiker?”

Sy knik weer.

“En Cremora?”

Sy kyk op na my. Haar oë is donkergroen. Die merke om haar oë lyk nog nie beter nie. Sy is nie ’n mooi tannie nie. Sy het ’n lang gesig wat my so ’n bietjie aan ’n perd laat dink, ek kan dit nie help nie. Sy knik weer, en kyk af.

“Eendag sal ons weer vars melk proe,” probeer ek my pa se sêding, maar sy reageer nie.

Ek maak haar koffie en ek gaan sit dit voor haar. Sy kyk weer na my. Ek dink dit is om dankie te sê.

Pa kom in en sê: “Môre, almal,” asof alles normaal is. Hy vat sy koffie, sit met sy rug na haar toe en sê: “Vanoggend sny ons hare, Nico Storm, jy lyk soos ’n weerwolf.”

Sy staan op, vat die groot kastrol en maak dit vol water, gaan sit dit op die stoof. Ek wil opstaan om te help, maar Pa hou sy hand op my arm. Hy sê: “Ons maak vanoggend werwingspamflette. Jy moet die rekenaar en die drukker inbring. Ek het die bewoording omtrent reg, ons sal dit sommer net in Engels skryf. Ek weet nog net nie wat om dit te noem nie. ‘Settlement’ en ‘colony’ is sulke gelade woorde in hierdie land. Gewese land … Miskien maak dit nie nou meer saak nie. Tog, mens wil alle goeie mense hierheen lok …”

Pa praat voort terwyl die vrou water warm maak en die kastrol op haar eie badkamer toe dra. Weer wil ek help. Pa skud net sy kop klein om te sê ek moet sit. Ek verstaan nie heeltemal waarom nie.

* * *

Ek sit op ’n stoeltjie op die gras. Kaalbolyf. Pa het ’n kam en ’n skêr in sy hand. Hy begin knip.

Die vrou kom by die deur uit en loop na ons toe. Sy neem die skêr uit Pa se hand, dan die kam. Pa gee dit, en hy staan weg. Sy begin my hare knip. Jy kan dadelik sien sy weet wat sy doen.

Pa sê: “Miskien kan jy hom tog weer mens maak. Nico, kom roep my as julle klaar is, ek het ook ’n goeie sny nodig. Ek gaan daai pamflet begin skryf.”

Sy vat aan my kop. Sy is die eerste vrou sedert Ma wat aan my vat. Ek sit daar, en ek verlang op daardie oomblik so sterk na my ma. Ek verlang na haar vashou. Ek wens hierdie vrou wil my styf vashou, net vir ’n rukkie.

Dit is ’n bekende verlange. Ek onthou dit uit die tyd voor Die Koors, maar dit is nou amper ondraaglik, soos ’n groot holte in my.

Die vrou sny net my hare.

Koors

Подняться наверх