Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 13
9
Оглавление24 Maart
Dit reën vroegoggend, donder en blitse, ’n dreuning op die huis se sinkdak.
Daar is humiditeit in die lug, ’n drukking, soos iets wat broei of fermenteer. Binne my ook, want die kwaad en vrees het nie verdwyn nie, dit kruip net iewers in my agterkop weg.
Pa sê dis veilig om koffie te maak as dit reën, die geur sal nie ver geruik kan word nie. Maar ons moet steeds die vensters toehou. Ons drink in die kombuis. Hy vertel my van Abraham Maslow se hiërargie van behoeftes. Pa praat nooit af na my toe nie. Hy gee my feitelik al die inligting, ek moet self besluit wat ek nie verstaan nie. (Jare later besef ek hy het seks uitgelaat toe hy Maslow se fisiologiese behoeftes opnoem. Ek neem hom dit nie kwalik nie.) Hy verduidelik dat Vanderkloof op fisiologiese vlak ideaal is; al die water wat ons nodig het, en goeie potensiaal vir die belangrike vorme van boerdery. Want die klimaat is redelik goed, besproeiing is maklik, en daar is boonop hidro-elektriese krag wat ons sal kan herlei, as ons die regte mense met die regte kennis kan vind om die stelsel te verander en te onderhou.
Hy weet presies watter vraag op my tong lê. Hy sê natuurlik is daar ander plekke, ander damme en riviere, wat min of meer dieselfde bied. Maar hy ken hierdie wêreld so goed, hy was ’n paar jaar gelede hier. Hy weet: Vanderkloof is uniek as dit kom by Maslow se behoefte van veiligheid. Vanderkloof is ’n vesting, ’n burg, ’n natuurlike fort, danksy die heuwels met hul kranse, en die dam. Daar is net een maklik begaanbare pad in, teen die steil heuwel op. Daar is net een flank om te verdedig, tensy die vyand met ’n vloot skepe kom, wat darem baie onwaarskynlik is op die Oranjerivier, en Pa lag. Dit is wanneer ek kan sien hy het nog nie heeltemal herstel van sy koors nie. Die lag is so ’n bietjie hol. Dit is asof daar ’n deel van hom is wat nie teruggekom het nie.
“Maar wat van die twee ooms in die Jeep wat hier bly?”
“Ja. Die komplikasie … Ek dink nog daaroor.”
Die humiditeit in my kop is ’n voorbode. “Ek dink ons moet ry, Pa.”
Pa hoor nie.
* * *
“Hulle gaan nie met daardie oop Jeep rondry terwyl dit reën nie,” sê Pa. “Kom ons gaan haal die arsenaal.”
Ons luister en kyk eers mooi op die stoep voor ons na die Volvo toe draf om ons wapens en skoonmaakgoed te gaan haal. Ons noem dit ons “arsenaal” sedert Pa vir my verduidelik het waar dié woord vandaan kom – uit “pakhuis” in die oorspronklike Arabies, na Venesiese Italiaans, na Engels en eindelik Afrikaans.
Ons lê die paar pistole en die twee jaggewere op die kombuistoonbank uit. Ek vee die reëndruppels van die donkergrys staal af. Ons sit langs mekaar en maak die wapens een vir een ordentlik skoon, en olie hulle.
“Ons sal vanaand in die donker kyk of ons hulle lig kan sien,” sê Pa. “Dan sal ons weet hoe gerus hulle is, en hoe naby hulle is.”
Ek wonder waarom ek nie daaraan gedink het nie.
“Dan sal ons net ’n bietjie gaan verken.” Nadat hy gedink het: “Daar kan meer as net die twee mans en die vrou wees.”
“Wat maak ons dan?”
“Dan ry ons maar eers. Die risiko …”
“Hoekom ry ons nie net nie, Pa? Nou. Vanaand.”
Pa is so lank stil dat ek wonder of hy my vraag gehoor het. Dan sê hy: “Ons wil ’n nuwe begin hier kom maak. Ons wil ’n gemeenskap kom skep met moraliteit, met die regte beginsels, met omgee vir mekaar. Dan moet ons nou reg wegspring. Ons kan nie daardie tannie só los nie. As hulle net twee is, moet ons minstens probeer. Al is dit net ek en jy.”
Dit is die eerste keer dat Pa praat van “’n gemeenskap skep”. My gedagtes is op daardie oomblik te besig met ander dinge, dit registreer nie. Eers baie later sal ek besef hy het alles toe al deurdink. Hy het ’n visie gehad, vóór die dag met die honde, vóór ons hier aangekom het.
Teen vieruur klaar die reën op. “Dis jammer,” sê Pa. “Dit sou gehelp het.”
* * *
Pa behandel teen skemer sy hondbytwonde met salf en verbande en pleisters. Hy drink pynpille. Hy smeer swart strepe oor ons gesigte met skoenpolitoer uit die kombuiskas. Ons trek donker klere aan. Ons laai vir elkeen ’n Beretta en ’n geweer: die Tikka .222 met sy lang teleskoop vir my en die .300 CZ vir Pa.
“Die soort mense wat ’n vrou só behandel, hulle is … gevaarlik. Ons gaan net verken, Nico, dis al.”
“Okay,” sê ek en hoop Pa hoor nie die verligting nie, want ek voel net alles is nie reg nie, daar is slegte dinge in die lug.
Tienuur is dit pikdonker, die maan is nog nie op nie. Ons los eers die wapens, en klim van die agterstoep af op ons huis se sinkdak. Ons sien hulle dadelik. Hulle huis is hoog op teen die heuwel, so drie kilometer weg. Hulle moet ’n sterk kragopwekker hê, want dit is elektriese ligte wat so helder brand. ’n Groot huis, drie verdiepings.
“Houtgerus,” fluister Pa, al is hulle heeltemal te ver om te hoor.
Terug in die kombuis vra hy: “Jy het geen ander voertuie gehoor terwyl ek siek was nie?”
“Nee, Pa.”
Hy is diep ingedagte wanneer hy die pistool en geweer vir my aangee. Ons stap deur toe. “Kan hulle só onverskillig wees?” Ek weet Pa vra nie vir my nie.
* * *
Hy kry sy antwoord in die pad.
Vanderkloof, in die Jaar van die Hond, is ’n deurmekaar dorp, nog in sy voor-Koors-vorm – ’n klein, onvoltooide, ondeurdagte lappieskombers wat oor die heuwels gegooi is. Daar is net een padverbinding na die boonste woonbuurt en die Jeep-mense se kasteel van lig. Ons loop suutjies en versigtig in die donker, ek so ’n halwe tree links en agter Pa. Ons tekkies sag op die teer, ek kan Pa hoor asemhaal. Ons misgis ons eers met die roete, ons moet omdraai, weer probeer. Kry die regte teerstraat.
“Nico!” sê Pa sag maar dringend. Ek skrik. Hy hou sy arm uit om my te keer. Ek sien niks nie.
“Hulle het ’n draad gespan,” fluister hy.
Hy trek ’n vinger deur die lug om vir my die draad te wys. Ek moet nader staan, ek moet mooi kyk voor ek dit sien blink teen die lig van die huis daar bo, nog meer as ’n kilometer weg. Net hoër as my kop.
“Nee,” sê Pa, “dit lyk na vislyn.”
“Hoe het Pa dit gesien?”
“Ek het gedink, wat sou ek gedoen het as ek hulle was? As ek die ligte so aan het, soos ’n kers wat motte gaan lok.”
“Jinne,” sê ek in verwondering. “Maar hoe gaan vislyn iemand keer?”
“Kom,” sê Pa en beduie ek moet hom volg. Hy loop al met die vislyn langs, tot waar dit oor die noodreling langs die pad strek.
“Kyk.” Ek sien die vislyn is aan iets vasgemaak.
Pa hou sy mond hier by my oor. “Dis ’n ligfakkel. As mens die vislyn aanraak, skiet die fakkel in die lug in. Dan weet hulle jy kom.”
Hy gee my kans om te kyk. “Hierdie ouens … Ons moet baie versigtig wees. Maak seker jy klim onder die lyn deur.”
Ons loop verder, nou baie stadiger. Ek probeer ook nou waaksaam wees. Ek wonder wat maak die Jeep-mense as hulle na hulle huis toe ry? Lig hulle die vislyn op?
Pa sien die volgende een ook eerste raak. Net ’n blok van hulle huis af, skaars tweehonderd meter ver. Dit is laag gespan, laer as my knieë. Hy keer met sy hand, hy beduie, hy praat nie. Ek sien ’n paar reëndruppels aan die vislyn hang. Dis hoe Pa dit raakgesien het. Ek het nie ondertoe gekyk nie, ek het gedink al die ligfakkel-lyne word hoog gespan.
Ons klim oor. Gee drie, vier treë. Pa staan, hou sy hand om te wys ek moet ook. Hy kyk na die Huis van Ligte teen die rant, wat so helder skyn. Dit lyk vrolik, verwelkomend. Maar daar is nie beweging of menslike geluide nie, geen ander teken van lewe nie.
Pa trek die geweer van sy skouer af, hou dit in sy hande. Hy loop nie vorentoe nie, hy kyk net, stip, na die Jeep-mense se huis. Dan links, na die ry kleiner, donker huise wat daar ingeryg is. En regs, waar daar net oop veld is.
Iets pla vir Pa.
’n Jakkals huil, sommer hier anderkant, teen een van die heuwels.
Ek wil omdraai. Ek wil Volvo toe gaan, ek wil ry. Die drukking, die humiditeit, die ding van gister roer in my soos ’n ondier in donker water.
Ek haal my geweer ook van my skouer af.
Pa buk effe vooroor, asof hy homself kleiner wil maak. Hy begin weer loop, nog stadiger. Kort-kort gaan hy staan. Honderd-en-vyftig meter van die Lighuis af. ’n Uil roep uit die veld uit, bo die sagte geruis van insekte.
Ons het net kom verken, hoekom hou hy aan met loop?
Op amper honderd meter van die huis af vlieg ’n vlakhaas meteens uit die struike links van ons. Die skrik laat my na my asem snak. Hard. Pa versteen net, kyk stadig na my. Ek wil ekskuus sê, maar hy druk my skouer om te sê hy verstaan.
Hy draai na my toe, druk sy mond tot teen my oor. “Sien jy die rots?” vra hy saggies en wys na regs. ’n Klip so groot soos ’n yskas het met die heuwel afgerol en lê op die sypaadjie.
Ek knik.
“Wag daar by hom. Ek gaan nog net so ’n entjie vorentoe.”
Toe ek huiwer, sê hy: “Jy sal my heeltyd kan sien.”
Ek knik.
Hy wag. Ek loop na die rots toe. Ek kyk mooi waar ek trap toe ek van die teer afgaan. Die rots is so hoog soos my bors. Ek sit my geweer daarop neer, sodat ek deur my teleskoop kan kyk as dit nodig is. Ek lê teen die klip. Dit voel koud.
Pa gee ’n tree vorentoe. Staan stil. Nog ’n tree. Stil. Tree, staan. Die gloed van die huis se lig strek tot hier. Ek kan Pa sien, sy lyf so effens krom, sy hare lank en deurmekaar.
Hy tree, hy staan, hy luister en kyk. Tree, staan, luister, kyk. Verder en verder vorentoe, weg van my af. Hoekom so stadig en so versigtig? Daar is geen beweging, geen geluide, niks nie, behalwe die helder fort voor ons. Hy sal vislyn maklik kan sien, so naby aan die lig. Miskien is die Jeep-mense en die geslaande vrou lankal weg, miskien het hulle vergeet om alles af te sit, miskien was die ligfakkels net ’n grap, ’n poets. ’n Ewigheid, die tyd staan stil, hy is tien treë weg, dan vyftien, dan twintig, ek sien sy rug, al hoe kleiner, ons het net kom verken, Pa, ons het genoeg gesien, daardie tannie is nie meer hier nie, kom ons gaan terug, kom ons ry, vyf-en-twintig treë, Pa is ver, naby aan die ligkol, hy lyk klein.
Ek wil nie vir Pa so sien nie, ek wil nie nou hier wees nie, iets eet my van binne af.
“Hei,” sê ’n stem. Pa skrik en swaai na links. Ek sien die man daar staan. Dit is Spiere. Hy het die groot rewolwer in sy hand, besig om dit te lig. Sy stem klink verbaas.
Pa het die geweer reg. Hy skiet nie.
Spiere lig die rewolwer.
My pa skiet nie.
’n Skoot wat klap en galm, Pa wat val.