Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 12

8

Оглавление

23 Maart

In die oggend word ek wakker, maar my pa slaap net.

Ek eet beskuit, ek drink water, ek kyk by die vensters uit, ek luister, ek kan nie stilsit nie, iets laat my drentel en dwaal, iets meer as verveling, meer as die vae bang wat ek gister gevoel het. Ek is dertien, ek het nie die vermoë om dit te prosesseer nie.

Ek staan voor die sitkamervenster. My hart begin klop, my hande sweet, die aarde sluk my, die lug druk swaar op my, die dag, en die mure. Ek verstaan nie mooi wat gebeur nie, ek wil nie vir Pa wakker maak nie, hy moet gesond word.

Ek gaan lê in ’n ander slaapkamer. Die vertrek krimp in. Ek maak my oë styf toe. Die honde, die aand van die honde is in my kop, ek sien dit alles weer. Die vernedering dat ek na my ma geroep het. Ek is dertien jaar oud. Ek is gróót. Die honde, Pa se koors, die twee mans hier voor die huis, die skote op ons deur geskiet, die vasgebinde vrou, ek herleef dit, die beelde, die reuke, die vrees. My pa, eergisteroggend, hy het uit die trok geklim met sy seer lyf, hy het bang gelyk, vir die eerste keer bang, die manier hoe hy gekyk het, die manier hoe hy teësinnig aan die stywe, grieselrige karkasse gevat het terwyl hy die honde weggesleep het. My hart wil uit my bors bars, my asem is nie genoeg nie, alles wil my oorweldig.

Ek wil skree. Ek het ’n kwaad in my, vir die wêreld. Vir die honde wat wil moor, wat ons so doelgerig wil doodmaak. Ons, wat ná Die Koors soveel wildplase en wildtuine se heinings gaan knip het, wat al die dieretuin-hokke in Bloemfontein gaan oopmaak het. Ons is dierevriende, hoekom wil die honde ons doodmaak? Die kwaad brand deur my, ’n redelose kwaad. Vir alles, vir Die Koors wat my hele bestaan verwoes het. Ek bal my vuiste, ek wil iemand of iets uitskel vir die onregverdigheid, terwyl die kamer, die wêreld, die heelal al hoe nouer en swaarder word, die druk groter en groter en groter.

“Nico!”

Pa is skielik by my, die drukking is weg.

Ek kyk vir hom. Hy kom sit langs my. “Jy het geskree. Ek dink jy ly aan skok.”

My hele lyf is gespan, oorgehaal soos ’n geweer.

“Ek is hier,” sê Pa.

Daar is niks wat ek verder kan sê nie.

“My koors het gebreek,” sê Pa.

Koors

Подняться наверх