Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 16
12
Оглавление“Here, Nico,” sê Pa. Hy bring sy hand van agter sy nek en kyk verdwaas na die bloed op sy vingers. Sy knieë knak. Hy gaan sit. “Ek sal nou reg wees,” sê hy apologeties.
Ek kyk na sy wond. Ek kan die klein, wit punt van ’n stukkie nekwerwelbeen in die lig van die huis op die rant sien, voor die bloed daaroor syfer. Maar Pa was onmeetlik gelukkig. Die rewolwerskoot het hom skrams agter sy kop getref, ’n skeur deur die dun vel en sagte vleis aan die bopunt van sy nek. Millimeters van sy breinstam.
“Pa is net kwaai gekwes,” sê ek.
Hy knik.
Ek sien vir Spiere daar op die sypaadjie lê, sy oë oop, sy kop stukkend agter. Ek wil ook gaan sit. Ek staan weg van Pa af. Hy kyk besorg na my. Ek gooi op, op die teerpad. Aanhoudend.
Pa staan op van sy knieë af en kom hou my vas. Dis meer ’n gebaar van dank as van troos, dink ek vandag.
* * *
Ons ruik die drank aan Spiere en Langhaar toe ons verbyloop. Dis seker hoekom Spiere misgeskiet het.
Die Lighuis was net hulle lokaas. Hulle het in ’n ander huis aan die linkerkant van die straat gebly, die een waaruit hulle gekom het toe Pa ’n amper onsigbare waarskuwingsdraad afgetrap het en ’n liggie daar binne aangegaan het.
Die huis ruik suur binne. Daar is leë bottels en blikkies en kartonne en papier-rommel oral. Vuil klere, vuil borde, vuil glase.
Pa roep na die vrou. Niemand antwoord nie. Ons hoor hoe sy saggies huil. Pa loop voor, hy gaan staan in die kamerdeur. Hy sê: “Wag, Nico, die tannie het nie klere aan nie.” Ek bly in die gang, ek hoor hoe Pa sag en mooi praat met haar daar binne. Sy antwoord nie. Hulle kom uit. Pa het haar toegemaak met ’n laken. Haar kop hang en haar lyf bewe fyn en daar is blou en pers kolle op haar gesig. Haar hare is vuil en olierig, sy ruik baie sleg.
Pa lei haar uit, straataf.