Читать книгу Bambaduze - Derick van der Walt - Страница 10

HOOFSTUK 6

Оглавление

Jurie wag vir Belinda en Louis by die kuierplek voor die flieks in die Brooklyn-sentrum. Hy teug aan die Coke wat die kelner voor hom neergesit het.

Hy ken dié sentrum byna so goed soos sy eie huis. Hy hou die spul dop wat voor die fliek se ingang saamdrom en wonder of dit Bradley Cooper of Jessica Biel vanaand gaan wees. Onthou die popcorn, pel.

Hoeveel keer het hy nie ook so na die posters gestaan en kyk nie? Deeglik deur grafiese kunstenaars en slim bemarkingsmense bedink, die ene drama om jou mooi te laat verstaan dat jy dié een nie kan mis nie.

Jonk is die meeste, die ouens en meisies wat in die tou voor die kaartjiekantoor aan mekaar hang. Ai, vir die lekker tydjie. Jonk is cool, sê die outfits en die haarstyle en die selfone waarop almal gedurig besig is om te tik.

Vele middae in sy lewe is daar ná skool saam met die ma na hierdie sentrum getros. Die broodjie en slaai by die koffieplek op die boonste vloer. Elke keer die vinnige draai by Woolies Foods. As sy ma haar naels of haar hare of haar wat ook al by dit, dié en die ander laat doen het, kon hy op Mammie se kaart gaan fliek. Met skoolklere en al. Kouend in die donker saam met die nuwe 3D of die jongste blockbuster. Só het sy ma dit genoem. “Daar is darem seker ’n blockbuster wat wys?”

Dié tyd van die aand is die sentrum ook vol van mense wat geselsies by kersverligte tafeltjies maak terwyl hulle diep in mekaar se oë kyk. Gelukkige gesigte wat deur die sentrum dwaal en kyk na die duur goedjies in die vensters, die toppies in dieselfde pastelle. Dalk in skakerings van bloos hierdie seisoen, soos sy ma eenkeer gesê het. Die vrolike gesinnetjies. Hand aan hand.

Weet julle nie dat dit nie vir altyd gaan hou nie? wil hy dikwels vir die happy-happies skree. Kom by! Daar is toe nie ’n tandmuis en ’n krismisvader nie.

Sy selfoon piep. Belinda.

Biki laat soos altyd! Koop solank kaartjies. Maak later reg. Louis soek sy belt!

Jurie lees weer haar boodskap van vroeër vanmiddag: Ons sien jou nooit, jy raak ’n kluisenaar! Fliek 8h no excuses!! Jy kan kies. Louis het gisteraand weer te veel gekuier. Wens jy was daar om hom biki kalm te hou, jy het goeie invloed op hom!! Hy gaan nie deurkom as hy so kuier nie!!!

Hy glimlag. Jy kan Belinda se stem hoor as jy haar bood­skappe lees. In vyfde rat.

Daar was ’n tyd toe hy gedink het … Eintlik het hy gehoop. Maar Louis was vinniger as hy, soos gewoonlik met alles. Eerste geskeer, eerste keer alleen saam met ’n meisie in die donker verdwyn. Dit was by een van die baie paarties by Awie-hulle, onthou Jurie. Louis het ook eerste gesuip geraak, eerste sy lisensie gekry.

Hy het begin rook omdat Louis toe alreeds lang skywe getrek het. En sy danige goeie invloed op Louis … Wat sal Belinda sê as sy moet weet wat Jurie Viljoen snags alleen in die strate aanvang?

Dis nie dat hy nie meer saam met hulle wil uithang nie, dis net … Hy voel op ’n manier ouer as hulle, en dit kan seker nie nét verlede jaar se drama wees nie.

Hy voel nêrens meer of hy dáár wil wees nie. By die huis wil hy nie wees nie, veral nie as sy pa daar is nie. by die skool wou hy nog nooit gewees het nie. Om saam met mense soos Belinda of Louis of ’n paar ander in sy klas rond te hang, werk nie meer vir hom nie. Hy sal soms uitsien om saam met iemand iets te doen en sodra hy daar is, weet hy dis nie waar hy nou wil wees nie.

Dis net wanneer hy vir ’n rukkie met iemand anders se kar rondjaag dat dit voel asof hy nog lewe. Veral in Johannesburg.

Hy kyk na die nuwe fliekadvertensies op die platskerm wat jou roep om hulle raak te sien. Hy wil hulle nie eintlik raaksien nie. Daarin het hy ook belangstelling verloor. Daar was ’n tyd toe hy presies geweet het watter flieks wys, dat hy nie kon wag om dit of dat te sien nie. Toe hy op die internet geboer het en alles gegoogle het wat hy oor flieks te lese kon kry. Dalk kan hy eendag ’n fliekregisseur word, het hy nog vroeër gedroom, of dalk ’n redigeerder wat ’n hele storie opbou uit ’n klomp individuele skote. Hy dink die redigeerder is eintlik die ware kunstenaar as dit by flieks kom, hy sou eerder die redigeerder wou wees as die regisseur.

Maar alles het vir hom geword soos wat hy dink die lewe vir sy pa moet wees. Soos water. Dis deurskynend. Daar is eintlik niks nie.

Hy koop kaartjies vir ’n fliek waarvan hy nog nooit gehoor het nie en gaan sit weer by die tafeltjies en wag. Hy sien hulle by die roltrappe afgery kom. Louis se arm is om Belinda se lyf geslaan. Hy dra ’n swart beanie en sy blonde hare wat uitsteek, is duidelik ook nie heeltemal graad 12-standaard nie. En sy T-hemp het al beter dae geken. Ook nie vanoggend die skeermes in die badkamerkassie raakgesien nie. Rubberplakkies.

Belinda praat soos gewoonlik asof iets vreesliks met haar gaan gebeur as sy ’n paar sekondes moet ophou om asem te skep. Haar “gebabbel” (soos Jurie se ma dit altyd genoem het) is vir hom en Louis nogal cute, hulle terg haar daaroor.

“Baby, jy babbel nogal baie,” sal Louis sê en Belinda sal maak asof sy hom nie hoor nie en voortstoom sonder om asem te haal.

Jurie stamp sy vuis teen Louis s’n en gee vir Belinda ’n drukkie.

“Sien jou bietjie min. Jy’s skaars, té skaars,” fluister sy in sy oor.

“Swot jy baie sodat jy nooit meer jou gesig iewers wys nie?” vra Louis terwyl hy die beanie effens agteroor skuif.

Jurie trek sy skouers op.

“Nee, jy lieg as jy sê jy swot baie. Ek ken jou te lank, JV. Jy’t nog nooit vir die eerste span geswot nie.”

“Ons moet in,” sê Jurie verleë. “Jy moet nog Belinda se toring snacks gaan koop en kyk hoe lank is die tou.”

“Popcorn en ’n Slush Puppy en iets soets om te eet,” sê Belinda. “Ek het ure laas geëet.”

“Jy’s baie expensive, Baby,” glimlag Louis voordat hy na die lang ry mense loop wat geduldig wag om iets te koop. Pakke vol goed waarmee hulle jou gaan irriteer met ’n geritsel en ’n gevroetel, dink Jurie, maar hy sê niks.

“Ek gaan piepie,” sê Belinda. “Jy word maer, koop vir jou ook ietsie soets. Jy kan doen met ’n homp kalorieë as jy my vra.”

Jurie hou haar dop terwyl sy wegstap. Die mooi lyfie in ’n nou denim en wit toppie en die bos lang blonde hare. Klein maar alles in proporsie, sê Louis altyd.

Sou hulle al saamgeslaap het? wonder Jurie. Hy wonder of Louis sal sê. Louis sal. Dis soos hy vir Louis ken: sê as iets met hom gebeur in hierdie lewe. No secrets.

Hy dink nie Belinda sal sommer nie. Maar hy wil liewer nie weet nie.

Hy konsentreer nie op die fliek nie en sukkel om die storie te volg. Die spul in die ry agter hulle wat kliphard girts-girts aan hulle popcorn help ook nie. Louis en Belinda hou handjies vas.

“Ek gaan ’n draai loop,” fluister Jurie vir Belinda.

Sy wil iets sê, maar hy glip vinnig uit. Hy ry met die roltrappe af en stap by die sentrum se sydeur uit, verby die mense wat sit en eet by die string restaurante in die stegie.

Op die sypaadjie gaan staan hy en steek ’n sigaret op. Trek diep in en blaas die rook lank en stadig uit. Hy staar na die motors wat by die parkade inry. Almal lyk reg vir die aandjie se pret.

Hy kyk op sy selfoon hoe laat dit is. Die fliek moet darem nou einde se kant toe staan. Hy stap terug. Hy gaan sê hy het maagpyn of iets en dat hy die burger-etery gaan oorslaan. Miskien sal hy sê hy moet gaan leer, maar hy twyfel of hulle hom sal glo. Hy gee nie om nie.

Miskien kan hy nog vanaand met iemand se kar gaan ry. Dit sal hom laat chill, weet hy.

Bambaduze

Подняться наверх