Читать книгу Bambaduze - Derick van der Walt - Страница 8

HOOFSTUK 4

Оглавление

Dis seker hoe dit voel om oorsee te wees, dink Jurie terwyl hy op Hatfieldstasie vir die Gautrein wag. Die gevoel dat die trein hom na ’n vreemde land gaan neem vir ervarings wat sy nekhare sal laat rys en hom hoendervleis gaan gee.

Op sy selfoon sien hy dis amper seweuur. Dis die usual suspects op die perron dié tyd van die aand. Die moeës op pad huis toe, die enkelinge wat waarskynlik by Rosebank gaan fliek of eet of iets anders in Johannesburg gaan doen vir ’n bietjie opwinding.

Hy snork sag. Opwinding. Wat weet julle van opwinding?

Die trein is soos altyd betyds. Die deur glip oop. Hy gaan sit soos altyd op een van die sitplekke aan die agterkant, teen die venster. Die trein is saans nie vol nie; die gewoel neem gewoonlik teen halfsewe af. Nou is dit mense wat sonder uitdrukking voor hulle op die grond kyk of deur die treinvenster staar, op hulle selfone tik, of met ’n frons tussen die oë op ’n skootrekenaar of tablet vroetel.

Hy hou die mense ingedagte dop. Wat doen al hierdie mense as hulle saans die voordeur agter hulle toetrek?

Hy wonder nie lank daaroor nie. Haal sy oorfone uit sy windbreaker se sak en prop dit in sy ore. Soek iTunes op sy foon en druk die speelknoppie. Emeli Sandé sing “I’ll be your clown”.

Hy kan nie onthou dat hy dit afgelaai het nie en die song doen dit nie eintlik vir hom nie, maar hy hou van die idee: I’ll be your clown. Inderdaad. ’n Woord wat sy pa dikwels gebruik. Daar vir julle entertainment, mammie en pappie, inderdaad. Trek die toutjie, dan lag ek só en dan staan ek op my kop. Kyk, só.

“I guess it’s funnier from where you’re standing, cause from over here I’ve missed the joke … ”

Hy soek iets anders om te luister. Hulle is reeds by Pretoria-stasie verby. Die trein stop op Centurion, ’n paar moeës klim af en ’n paar ander op. Die deur skuif toe. Die stem oor die interkom kondig aan dat Midrand die volgende bestemming is.

Hy druk weer sy oorfone in sy ore en stop by Jack Parow se “Cooler as ekke”. Hy leun agteroor en maak sy oë toe.

Hy voel hoe die trein tot stilstand kom, maar hoef nie te kyk waar hulle is nie, hy weet. Ná Midrand is dit Marlboro en dan Sandton en dan sal hulle die einde van die roete bereik. Rosebank.

Hy raak verveeld met Jack Parow. Skakel iTunes af en bêre die oorfone en selfoon in sy sak. Oorkant hom sit ’n vrou en ’n dogtertjie; hy het hulle nie hoor inkom nie. Die dogtertjie kyk stip na hom terwyl sy ritmies teen die sitplek skop. Die geskop wil hom teen die mure uitdryf. Hy staan op en gaan sit op ’n ander plek. Die dogtertjie loer nou om die sitplek na hom. Hy kyk weg.

Rosebank se perron raak sigbaar deur die treinvenster. Hy staan op en gaan staan by die deur, kyk na die paar mense wat op die perron staan en wie se gesigte niks oor hulle lewe sê nie.

Soos gewoonlik slaan hy sy windbreaker se kraag op en trek sy pet laag oor sy oë. Dis ’n voorsorgmaatreël, waarskynlik onnodig. Geen veiligheidswag wat iewers in ’n bedompige hokkie verveeld na ’n televisiemonitor sit en staar, sal seker vermoed dat hy ’n mens met ’n missie is nie. Hy ril effens ten spyte van sy warm baadjie.

Johannesburg ruik anders as Pretoria, dink hy toe hy by die stasie uitstap. Hy steek die straat oor na die Rosebank-sentrum. Dis reeds donker en by die vele kuierplekke sit mense by buitelugtafeltjies en eet, gesigte naby mekaar. Tussen die gezoem van die stemme hoor hy soms iemand hard lag, of ’n verontwaardigde uitroep.

Hy hoor musiek om hom. Iets met ’n Oosterse klankie, dan die nuwe radiotreffer by die restaurant langsaan. Kelners met voorskote beweeg flink tussen die tafels deur, afdroogdoek oor die skouer, glase wat rinkel en kosgeure wat van die borde opstyg.

By ’n stalletjie koop hy ’n hamburger en tjips. Hy gaan sit eenkant op ’n muurtjie en hou die mense dop terwyl hy kou. Johannesburg voel vir hom soos ’n ander land. ’n Plek waarin jy kan wegsak soos in ’n diep dam. En as jou gesig weer stadig deur die oppervlak breek, saggies, sonder om ’n rimpeling te veroorsaak, is jy iemand wat mense nog nie voorheen gesien het nie. Jy is vir jouself ook vreemd. Iemand vir wie die lewe voorlê, oop en skoon. No strings attached.

Hy gooi die leë boksie en papierservet in ’n vullisdrom, vee sy hande aan sy denim af en stap eers ’n draai deur die sentrum. Hy kyk na die uitstallings in die vensters. Boetieks waarin die jongste modes aan dooie lywe met starende oë hang. Plekke waarin sy ma gereeld gekom het en die verkoopsassistent op die naam sou noem. Daar is gedruk en op die wang gesoen wanneer sy ma met hoëhakskoene die sagte matte van die luukse winkels betree het.

Hy kyk na die T-hemde en tekkies wat hulle handelsname trots verkondig. Diesel, Nike, Cats. Daar was ’n tyd toe dié goed ook vir hom belangrik was. Nou is dit nie meer ’n issue nie.

Hy gaan staan, kyk op sy iPhone hoe laat dit is. Hy sal moet wikkel. As hy die negeuurtrein terug na Pretoria mis, sal hy weer ’n taxi moet kry om hom uit hierdie verre land huis toe te vat – vir baie geld. Hy twyfel of hy genoeg vir ’n taxi in sy bankrekening oorhet.

By die oostelike uitgang op die grondvloer stap hy uit en steek die straat oor. Hy ken dié wêreld. Hy stap ’n paar blokke oos na waar hy nog nie voorheen was nie. Hou die sypaadjies dop. Hoe verder hy van die sentrum af wegloop, hoe stiller is die strate. Hy lees die straatname uit ’n vorige leeftyd: Melrose, Oxford, Tottenham, Cecil. Daar is byna niemand in die buurt te sien nie. Hoë bome staan op die sypaadjies aan weerskante van die nou strate. Woonstelblokke wat oud lyk, maar hulle is groot, met balkonne wat op die straat uitkyk. Blyplek vir mense met vet bankrekenings. Daar skyn lig deur die vensters. Hier en daar is die gordyne oopgetrek en kan hy ’n televisiestel sien flikker.

Hy gaan staan in die skadu van ’n muur. Rook bakhand ’n sigaret sodat die kooltjie onsigbaar sal wees vir oë wat in sy rigting kyk. Hy hou die klompie karre dop wat voor die woonstelblok op die sypaadjie geparkeer staan. Hy weet waarna om te kyk. Voel hoe sy asemhaling vinniger raak. Die hare op sy arms kriewel. Chill, Jurie Viljoen, sê hy vir homself. Hou dit nice en easy. Wag ’n bietjie. Vat jou tyd.

Sy oë steek vas by ’n ouerige Honda. In die donker kan hy nie die kleur van die kar uitmaak nie. Dit lyk gryserig, ’n ouer model wat maklik gaan oopmaak. Hy staan vyf minute lank doodstil op die sypaadjie. Die muur is begroei met ’n rankplant. Hy ruik die plant; dis ’n vreemde reuk. Hy onderdruk die behoefte om nog ’n sigaret aan te steek. Iemand lag hard vanuit een van die woonstelle, ’n ander stem skree iets.

Hy voel na die Allen key in die binnesak van sy windbreaker. Staan ’n rukkie met sy hand daarom gevou. Hy bekyk die straat weer op en af. Haal diep asem en loop kop onderstebo na die oorkant. Met sy baadjie styf om sy lyf getrek staan hy in die skadu van ’n boom na die Honda en kyk.

Dan is dit asof hy opkom uit ’n diep dam, asof ’n ander mens na die kar staan en kyk. Hy raak rustig. Haal weer ’n paar maal diep asem en trek die Allen key uit sy sak. Hy stap doelgerig na die Honda en haal die rubberhandskoene uit sy ander sak, glip dit aan. Hy werk vinnig. Druk die sleutel in die slot aan die bestuurskant van die motor. Draai die Allen key 30 grade, liggies, jy hoef nie krag te gebruik nie, die deur sal oopklik.

Hy hoor die slot breek. Die deur klik oop.

Weer kyk hy vlugtig op en af in die straat. Iewers hoor hy vaagweg die kenwysie van ’n TV-reeks wat hy nie kan plaas nie. Hy probeer die musiek ignoreer. Hy moet kophou. Hy klim in en vat die drade onder die stuurwiel vas. Sy vingers weet wat hulle doen, hy kry die regte drade maklik. Hy skuur hulle vinnig teen mekaar en die Honda kry lewe.

Hy sit die kar in trurat. Sien in die spieëltjie die kar wat agter hom geparkeer staan, is vrek naby. Hy ry versigtig agteruit.

Dan sien hy uit die hoek van sy oog die man met sy Great Dane op die oorkantste sypaadjie. Hy trap rem en hou die man in die spieëltjie dop.

Die hond snuffel aan elke boom. Lig kort-kort sy been. Jurie sien die man kyk na hom. Hy trek sy pet laer oor sy oë, skuif effens af op die sitplek. Toe die twee verby is, trek hy die Honda versigtig uit sy staanplek. Hy sit die kar in eerste rat en ry stadig om die hoek. Die volgende blok doen hy stadig, ook die blok daarna, en toe laat waai hy.

Hy bewe en sy vel kriewel. Sy asem jaag. Toe hy by Oxfordstraat regs draai, lag hy hard. Hy draai die Honda se ruit af en ruik diep aan Johannesburg, die vreemde land.

Aan wie sou die Honda behoort? Hy probeer die eienaar in sy gedagtes oproep. Hy ruik niks spesifieks nie. Nie ’n roker nie, niks ruik na blomme nie, dalk ’n man se kar.

Hy kyk vinnig in die kar rond terwyl hy by ’n rooi verkeerslig wag. Op die agtersitplek lê ’n Garden & Home. Maar nêrens is daar ’n paar skoene of ’n leë Liqui-Fruit-boksie of ’n Checkers-sak of iets wat sê die Honda behoort aan iemand spesifiek nie.

Hy skakel die radio aan. Highveld Stereo. So neutraal soos die kar. Nie ’n poppie wat aan ’n kettinkie hang of ’n ander ding wat onder die spieëltjie heen en weer swaai nie. Hy is te­leurgesteld.

Op die horlosie links van die spoedmeter sien hy dis vyf-en-twintig oor agt. Hy ry te ver. Hy sal moet omdraai, anders gaan hy die trein Pretoria toe mis.

By die volgende verkeerslig draai hy links, effens onseker of dit die regte pad is. Hy huiwer. Moet hy nie liewer terugry soos hy gekom het nie? Hy trek langs die sypaadjie af en dink terwyl die kar luier. Links, ja. Dit kan net links wees. Hy ry verder. Raak benoud toe die omgewing skielik vreemd lyk. Toe sien hy die Rosebank-sentrum in die verte.

Hy soek ’n helder verligte area waar die kar veilig sal wees onder vele oë en nie sommer weer gesteel sal word nie. Daar is nie parkeerplek aan die sentrum se westekant nie. Hy stop op ’n geel streep by ’n voetgangeroorgang. Kyk rond of daar nie iets van hom in die kar agtergebly het nie, voel of die Allen key in sy binnesak is.

In die truspieëltjie sien hy ’n groep jonges op die sypaadjie aankom. Vrolik en luidrugtig. Hy sit roerloos totdat die groepie verby is. Ek het dié meneer gesteel, sê hy in sy gedagtes vir hulle. Dan is dit stil. ’n Kar ry nou en dan in die groot straat langs hom verby.

Hy kyk vir oulaas in die kar rond voordat hy uitklim, stroop die handskoene af en druk dit in sy binnesak. Hy stap tot by die verkeerslig op die hoek, steek die straat oor toe die groen mannetjie wys en word ingesluk deur die stasie se ingang. Na die trein wat hom sal terugvat na die stil huis agter hoë mure in Pretoria.

Bambaduze

Подняться наверх