Читать книгу Bambaduze - Derick van der Walt - Страница 9

HOOFSTUK 5

Оглавление

Dié huis is ’n eensame plek, al is die tuin mooi en die meubels duur, dink Jurie terwyl hy na die oranje-rooi lug deur sy kamervenster staan en kyk.

Dalk is dit omdat dit net ’n huis met ’n pappie is, sonder ’n mammie of ’n hondjie of ’n katjie. Net die enkele debatable point of interest wat gereeld met ’n motorfiets iewers heen vlug.

Die tuin lyk verlate in die laaste bietjie daglig. Hope sê die herfs is op pad.

Hy trek sy skoolklere uit. Sy skoolskoene het een of ander tyd ’n swart streep op die duvet gelaat. Hy staan gedagteloos daarna en kyk. Trek dan sy skoene en klere uit en gaan staan in sy onderbroek voor die venster. Hy skuif die houtraam op en ruik aan die aandlug. Dis ’n sad tyd van die dag. Hy weet nie hoekom hy gewoonlik só oor dié tyd van die dag voel nie. Enige tyd van die dag is waarskynlik ewe sad.

Buite is dit nog effens lig. Hy hoor karre in die straat verby ry, mense wat geselsend op die sypaadjie agter die hoë muur verby stap. Die bure se vervlakste hond se geblaf. Uit die kombuis hoor hy vaagweg die gerinkel van potte en panne. Hope se bekende klanke.

Sy pa sit seker in die televisiekamer met whiskey wat soos goue water lyk en waarin ys nou en dan sag soos klokkies klingel. In een van die kristalglase wat sy ma by Nataniël se winkel in Brooklyn gekoop het, sal dit wees. Hysbakmusiek soos Mantovani op die agtergrond, ’n geblaai in die koerant wat soms die stilte verbreek.

Jurie kry skielik koud voor die oop venster. Hy trek die houtraam af en maak die gordyne toe sodat die kamer donker is. Hy kruip onder die duvet in, krul hom op en draai na die muur. Hoe werk dinge vir jou, Pa? Hoe het dinge vir jou gewerk, Ma? Hoe wérk dinge?

Hy sal nie vanaand eet nie. Sy pa sal hom los. Hulle is lankal verby ’n rondhangery in mekaar se sop. Het hulle ooit? Hy kan nie meer onthou nie.

Die huis is stil toe hy wakker word. Hy voel goor geslaap. Hy skakel die bedlampie aan en kyk op sy selfoon. Negeuur. Hy dink aan Macbeth en scene whatever wat hy vir môre moet ontleed. Hy trek weer die duvet oor hom en lê en luister na die stilte.

Later staan hy op en maak die kamerdeur oop, stadig en versigtig om nie ’n geluid te maak nie. Dis net die ganglig wat brand, die res van die huis is donker. Sy pa se deur is toe. Daar is nêrens ’n geluid nie.

Hy stap met net sy onderbroek aan kombuis toe. In die gang stop hy voor die groot geraamde foto van sy ma en pa op hulle troudag. Dis by die Uniegebou geneem, met die son wat op die agtergrond sak. Kitscherig. Hy kan nie glo sy ma het daarvan gehou nie.

Sou sy pa na sy ma verlang?

Hy wonder wanneer sy die reis begin beplan het. Het sy lank daaroor gedink of het sy skielik besluit? Een aand terwyl sy en sy pa ná werk in die televisiekamer ontspan het?

So al teugend aan haar sjerrie, skoene uitgeskop, bene onder haar op die bank ingetrek. Nog met die dag se swart werkpakkie aan, die twee boonste knopies van die wit bloes darem nou losgeknoop. Sy wat deur ’n finansiële tydskrif blaai, hy wat koerant lees. ’n CD met tjellomusiek sag op die agtergrond om die regte atmosfeer te skep.

Sy pa sou nooit op so ’n reis gaan nie, het Jurie agterna besef, maar hy moes eintlik so ’n verrassing van sy ma verwag het. ’n Ware “mover and shaker”, het daardie Engelse koerant haar in ’n artikel genoem. Sou die joernalis kon raai hóé sy kan move?

Jurie loop verder. Hy loer eers by die televisiekamer in, soms sit sy pa in die donker. Hy skakel die hooflig aan. Die koerant wat op die mat langs sy pa se leunstoel lê, is die enigste getuienis dat hier vroeër vanaand ’n asem in die vertrek was. Hy skakel die lig af.

Hope het vir hom ’n bord kos onder ’n deksel bo-op die mikro­golf gelos. Hy druk dit in die oond sonder om te kyk wat op die bord is. Gaan sit by die kombuistafel en vat ’n paar happe. Besef dan hy is honger en eet die bord leeg. Hy gaan sit die bord in die opwasbak in die waskamer. Vat ’n paar vet slukke uit die Coke-bottel in die yskas en skakel die kombuislig af.

Hy sluip in die gang af badkamer toe. ’n Mot fladder geluidloos om die ganglig. Terwyl hy sy tande borsel, kyk hy na homself in die spieël. Hy kan aan niks dink om oor die gesig in die spieël te voel nie.

Hy skakel die ganglig af en trek sy kamerdeur agter hom op knip. Sit die bedlampie aan, gaan sit by sy lessenaar en stel sy selfoon se wekker vir vyfuur. Hy sal môre vroeg opstaan en miskien iets aan Macbeth vir juffrou Sadie doen, hang af hoe hy dan oor haar en haar ou Engelse lover gaan voel.

Sy vinger gaan na sy rekenaar se skakelaar sonder dat hy dit beplan het. Hy maak Outlook oop en sit ’n ruk na die skerm en staar. ’n Paar e-posse laai af, maar hy kyk nie daarna nie. Hy het dit reeds deur die loop van die dag op sy foon gelees.

Dan tik hy:

Moeder

Jou man is ’n wimp. Maar dit weet jy seker. Ek dink dís eintlik hoekom jy na die crown jewels op ’n beter plek gaan soek het. Stry!

Wimp het effens opgewonde geraak oor die bure se hond wat op ’n manier oor die muur gekom het en ’n klont op “sy” gras gelos het. Ek wou my eers skeur, maar toe skop dit in: dis eintlik so sad. ’n Klont op die gras is eintlik al wat hy het. (Het hy ooit crown jewels gehad? Komaan!)

Die liefhebbende,

Jurie

Hy delete die mail.

Bambaduze

Подняться наверх