Читать книгу Bambaduze - Derick van der Walt - Страница 7

HOOFSTUK 3

Оглавление

In die wolke bokant die boog by die hek waardeur jy die privaat skool se heilige grond betree, staan duidelik geskryf: Diep spore word hier getrap, maar nie sommer nie, my ou. T’s en C’s apply. LOL!

Jy sien dit nie sommer die eerste dag raak wanneer jy blink gewas met jou nuwe outfit die yellow brick road betree nie. Maar later sien jy dit tóg. Die woorde is eers vaag en jy dink no way, kan nie wees nie. Maar elke dag kan jy nog ’n woord duideliker uitmaak terwyl jy voor die hek na die wolke staan en kyk, totdat jy alles mooi kan lees. Jy wil wegkyk, maar jy gaan staan elke oggend voor daai hek en kyk in die lug op sonder dat jy dit kan help. Diep spore. Jy moet van Mars wees om dáárin te pas.

Wanneer jy Maandagoggende saam met 1 299 ander (meestal uitdrukkinglose) gesigte in die skoolsaal instap, kyk jy na die rye en rye geraamde foto’s teen die mure, dié wat met olifantpote diep kon trap. Jy kyk na die erelyste in kitscherige goue letters op die houtpanele. Die panele is met verspotte krulletjies versier, die lyste lank.

Na die groot, geraamde foto aan jou linkerkant, die een vyfde van voor, kyk jy ’n paar sekondes langer. Die swart krulhare en die donker oë sonder uitdrukking. Geen trotse glimlag soos by die ander geraamdes nie. Dís miskien hoekom jy langer na hierdie dieptrapper kyk. Die sonstrale wat dié tyd van die oggend net-net op die portretglas reflekteer, laat dit lyk asof hy ’n stralekransie op sy kop het. Jy kyk vinnig weg.

Jy staan op aandag saam met die 1 299 ander uitdrukkinglose gesigte en sing die skoollied so hard as wat jy kan, sodat selfs die mense in die straat moet hoor hoe klink die toekoms in aantog. Partymaal skree jy die skoollied.

Jy kyk na die groepies op die verhoog terwyl die predikant (spesiaal genooi vir die geleentheid) vertel van geloof en genade en hoe jy nog gaan vlieg in hierdie lewe as jy dit of dat. Jy probeer hom glo. Jy kyk in die selfversekerde oë van die uit­verkorenes teen die muur en probeer moed skep uit die glimlagte.

Die groepie links op die verhoog is die Kundiges. Hulle gee klas in stokou klaskamers waarin vele bekendes op hul dag gesit het, hoor jy gereeld. Daai ou wat vir die Springbokke gespeel het, die ou wat nou die rektor van ’n universiteit is, die beroemde navorser oorsee. Dis nie sommer elke dag se skool hierdie nie, my maat.

Die groepie regs op die verhoog is die Leiers. Hulle het dit gemaak. Beloon vir vyf jaar se mooi en reg trap sit hulle daar. Uitdrukkingloos is húlle nie. Daar word geglimlag vir elke onsnaakse grappie van die nar agter die podium. Verontwaardig word daar gefrons oor ’n oortreding wat ’n onbesonnene gepleeg het. Deel van die span is hulle. Diep spore vol getrap.

Op nou trappe skuur jy by ander verby na die volgende klas. Gereeld hoor jy hoe bevoorreg jy is om elke dag hiér rond te hang.

En jy bid elke dag om, sodat jy op jou motorfiets kan klim en ver, ver weg kan ry.

Bambaduze

Подняться наверх