Читать книгу Bambaduze - Derick van der Walt - Страница 12

HOOFSTUK 8

Оглавление

En dan land jy per ongeluk in die skool se swembad, in die tweede kwartaal van graad 11 toe jy sestien jaar en nege maande oud was.

Net toe jy begin dink het dis nou verby: jy het nou die pogings om die bekers weg te dra, ontgroei.

Die gestoei op die rugbyveld, die gekreun op die tennisbaan, die simpel gehollery saam met die res van die landloopspan tussen die jakarandabome en blaffende honde in Pretoria se strate. Dis vir altyd verby, dis agter jou, jy het dit nie meer nodig nie. Jy gaan nie eendag geraam met ’n stralekransie bokant jou kop teen die skoolsaal se muur hang nie, en dis lankal nie meer vir jou ’n issue nie.

Die swemoefening so vroeg in die oggend was die nuwe modegier vir wanneer jou strafpunte by die skool kookpunt bereik het. Belaglik, soos baie dinge wat die powers that be in dié plek bedink.

Maar jy hou jou in. Whatever. Jy was baie lanklaas in die swembad by jou eie huis. Swembaddens is nie eintlik meer jou ding nie.

Bibberend staan julle in ’n ry op die rand van die swembad, die graad 11’s met die strafpunte wat so mooi aangeteel het. Hande oormekaar oor die crown jewels gevou, staar julle na die jong, fris onderwyser, die kampsersant wat swem afrig. As hy nie by die swembad rondhang nie, beman hy die IT-sentrum.

Al is dit nou eers April, is dit koud. Die eerste periode van die dag om presies te wees, en die son het nog nie die skaduwees agter die swembad se hoë muur verdryf nie.

Die jong Tarzan beduie soos ’n wafferse pro hoe die vryslag nou eintlik gedoen moet word. Hy was glo ’n stoeier, nie ’n swemmer nie, sê die ouens. Jy kan net sowel iets leer terwyl jy nou hier moet wees, sê Tarzan, al is jy ’n uitvaagsel wat jou pa se geld by hierdie plek mors – ’n hoogtepunt in die ontwikkeling van die samelewing.

Jy luister nie, want jy stel nie belang nie. En jy kry dit reg, daar is geen klank nie. Net Tarzan se lippe wat oop en toe gaan terwyl hy beduie, soos in ’n animated storietjie op televisie. Jy pers jou lippe opmekaar sodat die sot nie moet sien jy wil vir hom lag nie.

Maar toe jy die water tref, besef jy onmiddellik: dié slag is iets heeltemal anders.

Tot jou verbasing is die water nie so koud soos jy verwag het dit gaan wees nie. Jy duik diep en skielik is dit reg om nóú hier te wees. Jy hoef na niemand te kyk nie, jy hoef met niemand te praat nie, dis net jy en die water wat jou ingesluk het, diep en koel. Jy ruik chloor en jy sien net vaagweg beweging weerskante van jou.

Dan sien jy jy het die oorkantste rand van die swembad gehaal – ver voor die ander. Tarzan pluk jou uit die water uit en skree met sy gesig teen joune of jy dan nie een flippen woord gehoor het wat hy gesê het nie. Dis nie hoe jy vryslag doen nie. Maar dan kyk hy jou op en af en sê jy moet die volgende dag ná skool vir swemoefening aanmeld. Jy het potensiaal, sê hy. Waar was jy al die jare?

Jy weet nie hoe om daaroor te voel nie. Maar skielik wonder jy of jy nie dalk effens dieper by hierdie plek kan trap nie. Dalk net. Maar jy dink nie jy gee regtig om nie.

Bambaduze

Подняться наверх