Читать книгу Bambaduze - Derick van der Walt - Страница 15

HOOFSTUK 11

Оглавление

Jurie koop ’n hot dog by die kiosk langs die swembad. Hy geniet die high fives en die grappies. Dit voel goed, want met Tarzan-styl het hy nie ’n plek in die vryslag gekry nie. Hoe’s daai, ou koning van die bos? ’n Punt vir Boetie en nie eers een vir jou nie.

Hy is tog teleurgesteld dat die aflosspan vierde gekom het.

“My ou,” sê Ivan in die tou voor hom, “my ou, wát sal ek sê? Jy’t ou Tarzan se dag gemaak, en myne ook. Jy maak toe eintlik ou Henning se naam gat en sommer ou Tarzan s’n ook.”

Jurie kyk pawiljoen toe. Sy pa sit saam met die ander toe­skouers wat agtergebly het en vir hulle kinders wag. Hy huiwer, voel na die medalje in sy sak. Wag jy sowaar vir mý, Pa?

Hy gooi die leë polistireenhouer in ’n asblik en stap na sy motor­fiets wat aan die agterkant van die kleedkamers staan. Huggies en kisses gaan dit nie vandag wees nie, Pa. Dit sal fake wees.

Hy WhatsApp vir Belinda: Ek sit actually met ’n medalje. ’n Goue. Is j b di huis? Wil draai maak. Hy wil skielik vrek graag hê sy moet daar wees. Haar antwoord kom gou deur: Ha ha, lieg jy? KOM ek maak pasta!! Boring dag heeltyd op Fbk. Niks anders hi te doen ni!!!

Hy is dankbaar. Hy het nie krag om nou by die huis in sy kamer op sy bed te gaan lê en Macbeth te lees nie. Hy wil nie hê sy pa moet sy hand skud en ’n paar mooi woordjies sê nie. Mooi so, Boetie, altyd geweet jy het dit in jou, dat jy darem nog iewers ’n ding gaan wegdra. Kom ons hang jou foto teen die gangmuur.

Belinda wag vir hom by die tuinhekkie.

“Het jy genuine ’n medalje gewen?” vra sy opgewonde.

Hy haal die medalje uit sy sweetpakbroek se sak en hang dit om haar nek. “The real thing, Dolla. Jy mag maar vat.”

Sy lig die medalje op en kyk aandagtig daarna. Draai dit om. Sy omhels hom en sê tot sy verbasing niks, hou hom net vas. Haar hare ruik lekker. Hy voel skielik tranerig.

“Dolla, jy gaan my laat huil,” probeer hy spot terwyl hy haar wegdruk. Sy vat hom weer vas en druk hom styf teen haar.

“Ek’s ernstig. Los my nou,” sê hy benoud.

Sy staan weg en kyk ernstig na hom, skud haar blonde hare oor haar skouer. “Het jy al ooit gehuil, JV?”

Hy antwoord nie, maak asof hy nie weet wat sy bedoel nie.

“Kom,” sê sy sag. “Die pasta is al by al dente verby.”

“Waar’s Louis?” vra hy toe hulle binnetoe loop. Hy druk die medalje wat sy teruggegee het weer in sy sak.

Sy haal haar skouers op. “Awie se ma-hulle is in Praag en Awie pas die huis op. Jakkals is nou skaapwagter en Louis boer daar. Ek dink hulle suip net, as jy my vra.”

“Waar’s jou ma-hulle?”

“Tennis toe.”

In die kombuis trek hy sy sweetpakbaadjie uit en hang dit oor ’n stoel. “Right, sjef, wat doen ek?”

“Die uie. Braai dit tot dit deursigtig is.” Sy beduie na ’n hoop uie eenkant op ’n bord.

“Deursigtig? Jy bedoel ’n mens moet hulle nie meer kan sien nie?”

“Man, moenie simpel wees nie,” lag sy. “Tot hulle gaar is, ek sal sê.”

Dis lekker hier, besef Jurie. Hy voel vir die eerste keer in ’n lang tyd asof hy iewers wil wees. Die uie en die knoffel ruik lekker en Belinda het musiek opgesit en koeldrank geskink en hulle lag sommer oor simpel goed soos in die ou dae. Sy’s anders as Louis nie by is nie. Sy chill meer, asof sy nie iets anders moet wees as wanneer sy by Louis is nie. Die eerstespansenter se meisie. Bietjie wild, ou Louis, maar hy’s almal se pel en mense kyk anders na jou as jy Louis se meisie óf sy pel is. Jy’s nie sommer net nie.

Hulle kyk ’n fliek op televisie terwyl hulle eet. Jurie hou vir Belinda onderlangs dop. Die fyn neusie, die mooi blonde hare, die klein blink dingetjie in haar neusvleuel. Sy pas by Louis, sy lyk asof sy die meisie van ’n eerstespansenter moet wees.

“En jy en Louis?” vra hy voor hy homself kan keer. “Ek bedoel … ”

Sy kou voort, haar oë op die televisieskerm. Hy hoop sy het nie gehoor nie.

Ná ’n ruk sê sy: “Ek weet nie van my en Louis nie.” Sy vat weer ’n hap, kou rustig. “Ek dink nie dinge is te ernstig nie. Ek gaan volgende jaar Tukkies toe. Louis weet nog nie wat hy wil doen nie. Hy wil kyk hoe werk sy rugby uit.”

Sy draai na Jurie. “So, ek’s nie te serious oor my en Louis nie. Sal maar sien wat gebeur. Ek dink ook nie hy vat dinge te ernstig nie.”

Sy sit haar leë bord op die koffietafel neer, druk ’n kussing agter haar in. “En jy, Jurie Viljoen? Hoe gaan dinge volgende jaar vir jou lyk? Gaan jy movies maak waarvan ons in die koerant gaan lees?”

Hy vermy haar oë. “Sal maar sien. Ek weet absoluut glad nie hoe volgende jaar vir my gaan lyk nie.”

“Jy sal moet rigting kry, tjomma. Die son stap aan. Jy sal seker moet aansoek doen by ’n filmskool of iets.”

“Whatever,” sê hy en gaan lê op die bank, drapeer sy bene oor die armleuning.

Hy moes aan die slaap geraak het, want hy word wakker van stemme in die gang. Belinda se ma-hulle is terug van die tennis. Die tannie is een van die mense wat met ag-shame-oë na jou kyk. Dit laat hom ongemaklik voel. Hy maak vir ’n paar minute geselsies en toe maak hy dat hy wegkom.

Hy ry die paar blokke huis toe en wonder oor Belinda, en oor Louis en oor volgende jaar. Hy sal soort van ’n plan vir sy lewe moet bedink.

Hy wonder wat sal Belinda sê as sy moet weet hy’s ’n sleg donner wat in die tronk hoort.

Bambaduze

Подняться наверх