Читать книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray - Страница 10
7
ОглавлениеToe Pauli en Louw so vinnig van die ontbyttafel af padgee, is dit of die ander twee ook alle lus vir hul kos verloor en professor Islinger stoot sy bord met ’n bekommerde frons opsy.
Ook Zelia peusel net nog twee keer aan haar kos en vra dan die kok om vir haar ’n koppie tee te bring. Hulle praat nie en ontwyk mekaar se oë. Dan staan hulle op en stap in die teenoorgestelde rigting – die professor na die kantoortent en Zelia in die rigting van die slaaptente. Sy maak eers seker dat die professor in die kantoortent verdwyn het voordat sy weer uit haar tent te voorskyn kom en versigtig nader tree na Pauli se tent waar heftige woorde duidelik hoorbaar is. Aandagtig luister sy en skrik merkbaar toe ’n skaduwee meteens oor haar val. Sy ontmoet dokter Inaki se koel blou oë waar hy ongemerk op sy perd nader gekom het. ’n Oomblik lyk sy skuldig. Dan verkoel haar oë ook en kyk sy uitdagend terug.
Terwyl haar ore elke woord gretig opvang, hou sy die gesig voor haar soos ’n arend dop. Toe hy vraend na haar draai, is sy reg vir hom – terwyl hulle saam wegstap, speel sy rustig tolk. Inaki se gesig verstrak algaande, sy oë word yskoud.
En binne-in die tent het Louw Hattingh, gewoonlik ’n man van min woorde, baie te sê …
Ook sy oë is kliphard terwyl hy op sy vrou afkyk.
“Dink jy ek is blind, Pauli? Dink jy ek weet nie hoeveel keer jy en Inaki mekaar ‘toevallig’ raakloop nie? Maar ek wil jou waarsku, my vrou. Daar gaan ’n dag kom – en hy lê nie meer so ver in die toekoms nie – dat jy my net een keer te ver gaan dryf. Die Vader bewaar jou daardie dag as ek my selfbeheersing met jou verloor, want dan moet jy geen genade van my verwag nie. Dan gaan ek vat wat my toekom – met of sonder jou toestemming. Jy dink jy ken my, Pauli. Jy dink jy ken my so goed dat jy weet hoe ver jy my kan dryf, waartoe ek in staat is en waartoe nie. O, nee! Jy ken my nie! Jy ken Louw Hattingh glad nie! Ek was nog altyd ’n soort vaderfiguur vir jou. Ek was nog nooit ’n man vir jou nie, was ek? Maar jy gaan hom nog leer ken. Voordat ons van Paaseiland af anker lig, gaan jy jou man leer ken, Pauli. Jy sal jou egskeiding kry wanneer ons in Suid-Afrika terug is. Ek bly nog steeds ’n man van my woord. Maar voor dit … Voordat ek toekyk dat ’n vreemdeling wegloop met wat wetlik myne is, vat ek dit self! Verstaan jy my?”
Pauli se stem is skor, byna onverstaanbaar toe sy sê: “Hoe durf jy? Hoe durf jy my van sulke dinge …?”
“Dis waarvan jy mý beskuldig, is dit nie? Maar jy verwag dat ek dit gelate moet aanhoor. Verwag natuurlik nog boonop dat ek dit moet erken en jou om verskoning vra. Wel, jy kan daar staan en wag totdat elke ana op hierdie eiland leeg gedra is – en dan sal jy nog wag, want ek is nie van plan om dit te doen nie!”
Vir Pauli voel dit of die bodemlose put waarin sy haar sedert gisternag bevind, al dieper word. Hierdie man ken sy nie. Hy is heeltemal reg … Sy het hom nooit geken nie.
“Ek verwag nie dat jy my om verskoning moet vra nie. Maar jy het geen grond vir jou beskuldigings teen my nie. Ek het wel grond vir myne, want jy kan nie ontken dat daardie danseres gisternag in jou tent deurgebring het nie.”
“Ek ontken dit ten sterkste! Sy het nie die nag in my tent deurgebring nie.”
“Werklik? Wat het sy dan daar kom soek? Wat het julle in die donker tent gedoen – mekaar grappies vertel?”
Louw Hattingh kners op sy tande. Pauli weet dit nie, maar sy was nog nooit so na aan ’n afgedankste loesing as nou nie! Hemel! Is die vroumens van haar verstand af? As hy haar al ooit rede gegee het om sulke gedagtes oor hom te koester … maar, ironies genoeg, het hy langer as ’n jaar ’n lewe van frustrasie en onthouding as getroude man gelei … en dit alles tevergeefs, besef hy nou. Hy kon ewe goed daardie aand toe hy haar kamer besoek het, gevat het wat hom wettig toekom. Haar dunk van hom sou nie vandag anders gewees het nie!
“Jy verbaas my, Pauli. Jy stel self nie belang nie, maar skreeu ten hemele as ’n ander vrou net na my kyk.”
Sy byt haar onderlip hard vas, en net ’n oomblik weifel haar oë voor syne. Dan lig die kennetjie weer parmantig.
“Jy is heeltemal reg. Ek stel nie belang nie. Nou nog minder as ooit tevore. Maar ek is nog jou vrou en dis ’n vernedering vir enige vrou as haar man ’n ander vrou met sy oë verslind, naarstiglik na haar in die geheim navraag doen en haar dan snags in sy tent ontvang. Dit … dit kan my nie traak of sy elke nag in jou tent deurbring nie, maar daar is ander ekspedisielede ook om in ag te neem. Wat meer is …” Sy aarsel. “Daar is ook nog ander mense op die eiland, buiten ons klompie, wat oë en ore en verstand het. Dokter Inaki was gister hier …”
“Dis nie vir my nuus nie. Hy lê by die kamp wanneer ons ander weg is.”
“Dis ’n leuen!”
“Dis die waarheid en jy weet dit. Ek stel ook nie belang in wat julle vir mekaar te sê het nie, maar julle moet dit liewer in die toekoms kortknip …”
“Ons het van jou gepraat …”
“Regtig? Wat het julle oor my te prate gehad? Hoe om van my ontslae te raak?”
“Louw, in hemelsnaam, dis nie nou die tyd vir sarkasme nie! Dis ernstige sake hierdie. Dokter Inaki het gesê ek moet jou waarsku …”
“O? Hý waarsku mý?” Hy lag kortaf. “My liewe mens, die skoen sit aan die verkeerde voet. Die waarskuwing moet van hierdie kant af kom, en dis presies wat nou gaan gebeur. Jy kan vir daardie liewe dokter Inaki van jou sê hy bly weg …”
“Louw! Hy was ernstig. Luister tog net ’n oomblik, asseblief! Hy het gewaarsku dat jy van daardie vroumens moet wegbly, of …”
“Of wat?”
“Of dit … dit kan gevaarlik vir jou word. Louw, asseblief!”
“Ag, so? En wie gaan dit vir my gevaarlik maak? Hý? Ek dog dan hy ken haar nie, weet nie eens wat haar naam is nie …”
“Ek weet …” Sy beduie moedeloos met haar hande, en met-eens verlaat al die woede haar. Sy voel ’n alleenheid in haar opstoot en die kankerende vrees begin opnuut in haar binneste vreet.
Al is haar teleurstelling in Louw so diep dat sy dit nie in woorde kan uitdruk nie, wil sy ook nie sien dat hy iets oorkom nie. “Ek verstaan niks hiervan nie, maar dit is wat hy gesê het ek vir jou moet sê. Dit kán lewensgevaarlik vir jou word. Hy het vasgestel dat jy in die geheim navraag na hierdie meisie gedoen het. Louw …” Nou pleit haar oë openlik, maar Louw is te kwaad om dit raak te sien. “Louw, asseblief, los hierdie ding. Ek vra dit nie ter wille van my nie. Ek besef dis seker nie die eerste keer dat jy sulke … e … episodes tydens jou ekspedisies raakloop nie. Ek veronderstel oral in die wêreld, selfs op die verste uithoeke, sal jy daardie soort vrou kry wat ’n man sal probeer verlei en …”
“Pauli! Sowaar, jy moenie dat ek my vandag te buite gaan nie!”
Haar kop ruk op, en weer styg die hartseer en woede in haar op.
“Dis nie meer vir my ’n raaisel hoekom jy altyd so gretig is om weg van die huis af te wees nie – die een ekspedisie na die ander sedert ons getroud is. Dis soveel interessanter weg van die huis, nie waar nie? Selfs al was daar nie altyd ’n Polinesiese godin in die omtrek nie, was doktor Zelia Meyer altyd byderhand om die tydjie interessant te hou.”
“Liewe hemel! Waarmee sal jy nog vorendag kom? Ek begin regtig dink jy is nie meer heeltemal normaal nie, my vrou.”
“Miskien is ek nie.” Sy swyg ’n oomblik. Louw is seker reg. Geen normale mens kan nog iemand liefhê wat haar so verneder het nie, wat sulke dinge doen soos wat Louw gedoen het nie. Ja, sy moet mal wees! “Maar dit het niks met die feit te doen dat dokter Inaki baie ernstig is en sy waarskuwing bedoel het nie. Dis nou vir jou om te besluit wat om daarmee te doen.”
“Ja, en ek sal jou sommer dadelik sê wat ek daarmee gaan doen. Jy kan vir jou dokter Inaki sê ek sê hy kan met sy dreigemente en al na sy aku-aku toe vlieg! En ek het vir hom ook ’n waarskuwing. Sê vir hom as ek hom weer naby jou vang, foeter ek hom totdat daar nie ’n heel plek aan sy liggaam is nie – en ek is óók ernstig!”
“Louw!”
“Ja! En vir jou, dametjie, het ek ook ’n waarskuwing.” Hy druk sy wysvinger byna teen haar neus se punt. “Jy sorg dat Inaki na my waarskuwing luister, want nadat ek hom gefoeter het, sal ek met jou kom afreken. Jy lei my nou al lank genoeg rond asof ek ’n mak aap is. My vrou het nie nodig om elders te gaan soek nie. Ek is mans genoeg om haar gelukkig en tevrede te hou.”
Die soveelste keer ruk Pauli se asem in haar keel vas.
“Jy … jy sal nie aan my raak nie!”
“Nie? En wie gaan my keer? Inaki?”
Sy staar verstom na hom op, skud haar kop heen en weer in verdwasing. Daar is niks wat sy sedert gisternag meer begeer as om Louw se vrou te wees nie, maar … nie op dáárdie manier nie, nie solank sy hom moet deel nie en nie solank hy haar neem net om sy gesag of woede uit te stort nie.
Meteens is die geproes van ’n perd en dan die geluid van perdepote hoorbaar. Met ’n onheilspellende lig in sy oë swaai Louw in sy spore om en is met een tree buite. Hy staar die verdwynende ruiter agterna …
Dan kom Zelia ongeërg uit die rigting van haar eie tent gestap en Louw kyk haar skerp aan, maar ontspan toe sy onskuldig en reguit in sy oë opkyk.
“Dokter Inaki was hier.”
“So sien ek. Wat wou hy gehad het?”
“O, hy … e … nie juis iets besonders nie. So terloops verneem of ons vordering maak en toe gery.”
“Ek verstaan.” Sy gesig is soos graniet en hy stap blindelings weg.
Zelia aarsel. Dan volg sy hom stadig, gaan sit langs hom op die platform van ’n moai. Dit lyk asof hy glad nie van haar bewus is nie. Dis eers toe sy huiwerig begin praat dat hy sy blik wegskeur van die niks waarna hy gestaar het.
“Louw, ek wil my nie inmeng nie. Jou … e … huweliksake was nog altyd net joune, maar … as ’n goeie vriendin en iemand wat die wêreld se respek vir jou het …” Sy kyk hom onseker aan. “Moet ek liewer stilbly?”
“Nee, gaan voort. Wat wil jy sê?”
“Pauli se optrede vanoggend aan die ontbyttafel … Dis nie die eerste keer dat sy vreemd optree nie. Ek ken haar weliswaar nie goed nie, maar sy tree tog sedert ons op die eiland aangekom het, vreemd op. Of … of verbeel ek my dit?”
Sy lippe vorm weer ’n strak lyn, sy blik dwaal na die kamp en bly dan op ’n tent rus.
“Nee, jy het heeltemal gelyk. Ek moes haar dwing om saam te kom.”
“Maar hoekom het jy? Toemaar, jy hoef nie te antwoord nie. Maar jy moet tog geweet het dat sy haar sou verveel. Sy het niks waarmee sy haar kan besig hou nie, en dis miskien juis daarom dat sy … e … dink …”
“Dat die son uit dokter Inaki straal?” vul hy self met ’n bitter grynslag aan.
“Ja, as jy dit so wil stel. Ek … het nie geweet jy het dit reeds agtergekom nie. Ek het maar net gedink om jou te waarsku dat dinge nie so onpersoonlik tussen hulle is nie, maar as jy dit reeds weet … Ek is jammer ek het my ingemeng, Louw.”
“Nee, jy het maar net bevestig wat ek lankal vermoed. As jý dit ook al opgemerk het, is dit nie net verbeelding aan my kant soos ek soms dink nie. Het jy … het jy hulle al saam gesien?”
“Ja … dikwels al. ’n Paar keer sonder dat hulle van my bewus was.”
“Ja?”
Sy lyk nou regtig bekommerd en selfbewus en selfs spyt dat sy die onderwerp aangeroer het.
“Asseblief, Louw, moenie van my verwag om te antwoord nie. Ek … ek is nie ’n mens vir stories aandra nie. Jy …”
“Ja, ek weet, maar …” Hy sug. Dit gaan teen sy grein om sy vrou met Zelia te bespreek. Maar op stuk van sake is hy ’n mens. Hy draai sy kop vinnig weg. Eintlik is dit nie vir Zelia nodig om iets meer te sê nie. Haar openlike onwilligheid om te praat, vertel hom genoeg en hy bal sy vuiste.
“Goed. Ons laat dit daar.”
Sy stem en gesig vertel haar die gesprek is afgehandel, maar Zelia het nog nie alles gesê wat sy wou nie. Sy weet dat haar woorde vandag op ryp teelaarde val. Die saadjie wat sy wil saai, moet nou gesaai word.
“Louw … hoekom laat jy haar nie liewer gaan nie?”
Sy kop swaai na haar terug, en sy oë skiet vuur.
“Bedoel jy ek moet my vrou op ’n skinkbord vir Inaki gee, vir ’n skelm hier op die uithoek van die aardbol?”
“Nee, natuurlik nie. Maar hoekom skei jy Pauli nie wanneer ons weer terug is nie? Louw, jou huwelik was ’n fout en jy weet dit. Dis net jou trots wat jou daarmee laat voortgaan. Dis menslik om ’n fout te begaan, maar dis absoluut dwaas om met ’n fout te wil saamleef. Jy, ’n briljante wetenskaplike, wil die res van jou lewe ’n vrou met jou saamsleep wat net skande oor jou bring.”
“Jy praat van my vrou, Zelia!”
“Ja, ek praat van haar!” Sy bedwing met moeite haar humeur. “Ek is jammer. Ek het seker nie die reg om hierdie dinge te sê nie, maar as ek daaraan dink dat ’n man soos jy deur ’n vrou verneder word …”
Haar oë flits vurig na hom. “Besef jy dat Pauli hierdie hele ekspedisie gaan verongeluk? Wat dink jy sal gebeur as jy en Inaki openlik slaags raak? Hy is en bly die leier van hierdie mense. Hy is een van hulle. Ons sal nie ’n enkele ana te siene kry as hy en sy mense teen ons draai nie. En dis presies wat reeds gebeur! Ons sit al ’n maand hier en het nog nie ’n tree gevorder nie. En as ons dan met leë hande moet terugkeer – al die geld wat die borge aan hierdie ekspedisie geskenk het, vermors – en dan nog moet gaan erken dat dit ’n volslae mislukking was omdat professor Louw Hattingh se vrou ’n verhouding met ’n eilandbewoner aangeknoop het … Hemel, Louw, gebruik jou verstand! Besef jy dat sy jou kan breek? Watter groep dink jy sal ooit weer droom om jou by hul ekspedisie in te sluit, veral as jy haar weer gaan saamsleep? Het jy al daaraan gedink wat alles agter jou rug aangegaan het terwyl jy maande lank weg was? As sy onder jou neus so … so te kere kan gaan, wat dink jy doen sy tuis wanneer jy nie daar is nie?”
“Bly stil, Zelia, ek wil nie ’n enkele woord verder hoor nie!”
“Omdat dit die waarheid is en jy weet dit!” Dan sluk sy en sug, staan op en lê ’n sagte hand op die een breë skouer. “Ek is jammer, my vriend. Dis maar net – daar lê so ’n wonderlike toekoms vir jou voor. Jy is so briljant! Dis maar net vir my ’n sonde dat iemand soos jy vermors word op ’n vrou wat jou nie werd is nie. Ek vra om verskoning as ek te veel gesê het. Ek beloof ek sal nie weer daaroor praat nie. Wel, ek loop nou maar.”
Sy is reeds ’n hele paar tree weg toe sy stem haar tot stilstand bring. ’n Fyn vonkie van tevredenheid skiet op in die oë agter die bril. Dan draai sy met ’n sedige gesig om.
“Ja?”
“Wag eers. Daar is iets wat ek jou wil vertel.” Hy kom nader. “Daar is ’n moontlikheid dat ons binnekort tog ’n begin sal kan maak.”
“O?” Sy kyk hom belangstellend aan, hoewel sy goed weet waarvan hy praat. Maar natuurlik weet hy nie dat nog iemand na die gesprek tussen hom en Analola geluister het nie.
“Onthou jy daardie danseres?”
“Danseres? O, ja! Daardie een wat die aand gedans het toe dokter Inaki …”
“Ja. Ek het haar probeer opspoor in die hoop dat sy ons miskien sal kan help. Gisternag het sy skielik in my tent opgedaag.” Hy sug. “Pauli het haar daar gesien ingaan en die duiwel was netnou daaroor los. Sy het natuurlik net een ding in haar kop.”
Zelia se oë is wyd gerek van skok.
“Ken sy jou dan so sleg? Dis ’n belediging!”
“Jy kan dit weer sê. Ek was so woedend dat ek nie eens probeer het om te verduidelik nie. Maar dis nie wat ek wou vertel nie. Kort en klaar kom dit daarop neer dat sy wel bereid is om my na ’n paar ana te neem – maar teen ’n prys. Sy wil saam met ons vertrek wanneer ons die dag weggaan.”
“Wat wil sy in die buitewêreld gaan maak?”
“Ek weet nie. Sy kom my egter baie desperaat voor. Ek kon haar natuurlik nie ’n vaste belofte gee nie, maar ek het belowe dat ek haar sal help sover moontlik. Daar is iets geheimsinnigs omtrent haar. Ek sal egter die kans moet waag, want as sy ons nie na die ana neem nie, kan ons maar môre terug vertrek. Met die res maak ons geen hond haaraf nie.”
“Wanneer sal sy ons wys?”
“Nee. Net vir my. Dit moes ek ook plegtig belowe. Niemand behalwe ek mag hiervan weet nie. Sy sal my ook in die nag gaan wys, maar sy kon nie sê watter nag nie. Ek moet nou maar wag en sien wat gebeur. As ek net eers weet waar die ingange is, kan ons maar voorgee dat ons toevallig daarop afgekom het en aan die werk spring. Maar intussen het dokter Inaki my deur middel van Pauli gewaarsku om van Analola af weg te bly. Daar moet die een of ander verband tussen die twee wees.”
“Wat gaan jy doen?”
“Wat dink jy? Ek dink hy is besig om te bluf, maar al is hy ook ernstig, kan dit my nie skeel nie. Jy weet, Zelia, daar is iets vreemds omtrent hom. Die res van die eilandbewoners se houding kan ek nog in ’n mate verstaan. Soos Pauli gesê het, dit is hul erfenis en vir hulle byna heilig. Maar dokter Inaki … Hy is ’n geleerde, beskaafde man. Hoekom probeer hy so naarstiglik om die ekspedisie in die wiele te ry?”
“Ja, sy houding is beslis vreemd.” Zelia frons ook.
“Ons dokter Inaki is vol geheime. Daarvan is ek seker.” Sy oë trek peinsend saam. “En hy is ’n gladde kalant.”
Zelia kyk hom bekommerd aan. “Louw, jy moet dit liewer nie waag om Pauli hiervan te vertel nie, ek bedoel nou die werklike rede hoekom Analola – dis haar naam, nè? – na jou tent gekom het. Sy sal reguit na Inaki gaan en hom daarvan vertel.”
“Ek besef dit. Dokter Inaki is die laaste mens wat hiervan moet weet. Pauli moet maar dink wat sy wil, daar is te veel op die spel om ’n kans te waag.”
“Ja, en …” met ’n slinkse sydelingse blik na die strak gesig, “sy verdien nie om reggehelp te word nie. As sy dan sulke goed van haar man dink …”
Sy swyg en glimlag fyn by haarself. Arme Pauli! Sy kry haar amper jammer! Die feit bly dat sy, Zelia, daardie selfde gedagtes gekry het toe sy gisternag ’n gestalte voor haar oop tentklap gesien verbysluip het. Daar is geen ongediertes op Paaseiland nie, en dis heeltemal veilig om met ’n oop tentklap te slaap. Sy het suutjies opgespring en gesien hoe die Polinesiese meisie in Louw se tent verdwyn. Sy was ook ’n oomblik lank te verslae om te beweeg. Maar later kon sy haarself nie keer nie en het versigtig agter om Louw se tent gesluip. Binne-in haar het die jaloesie gegloei. Dis erg genoeg dat sy Louw van ’n leë pop, soos sy Pauli nog altyd beskou het, moet probeer afrokkel. Maar dis ’n belediging dat sy nog verdere kompetisie van ’n Polinesiese meisie ook moes kry!
Gelukkig het die gesprek die vrees in haar besweer. Nou kan sy lag oor Pauli se jaloesie! Daar is niks om op jaloers te wees nie. Louw Hattingh is weliswaar ’n man – dit weet sy – maar hy is nie dáárdie soort man nie. Sy kon Pauli ook gerusstel dat Louw, wat hoeveel kanse al op die vorige ekspedisies gehad het om sy vrou te verkul, dit nog nooit gedoen het nie. Sy behoort te weet. Maar laat Pauli maar voortgaan om hierdie dinge te dink. Dit pas haar. Tewens – en die oë agter die brillense trek peinsend saam – sy kan haar gerus nog verder daarin aanhelp!
Hulle stap saam terug na die kamp en Zelia hou die gesprek doelbewus lig, sodat Louw se gespanne gesig ietwat ligter word en hy selfs een keer glimlag.
Pauli sien hulle so aankom deur haar halfoop tentklap en weer is dit of sy ’n fisieke pyn ondervind. En sy vra haarself die hoeveelste keer af: Waarvoor, wáárvoor het hy my na hierdie uithoek saamgesleep? Om my te verneder? Maar hoekom? Dis nie Louw Hattingh nie. Maar dan … dié Louw wat sy geken het, is dood. Hy het eintlik nooit werklik bestaan nie! Hy was ’n droombeeld wat sy in ’n tyd van smart vir haarself geskep het.
Maar die vreeslikste van alles is dat sy nie op haar volmaakte droomheld verlief geraak het nie, maar juis op hierdie man, hierdie Louw wat snags ’n meisie in sy tent ontvang en nou so ewe gemoedelik en, soos dit vir haar jaloerse oë lyk, so intiem met Zelia glimlag!
Haar hart en verstand is in ’n geweldige tweestryd gewikkel. Haar verstand vertel haar dat sy besete is om op so ’n man verlief te wees! Sy kán nie wees nie. Dis net nie moontlik nie! Maar haar hart praat ewe hard terug en die jaloesie daarin vertel haar dat dit wel so is. Aan die “ander” Louw kon sy ewe kalm sê dat sy van hom wil skei. Van hierdie een wil sy nie. Sy wil hom vir haarself behou!