Читать книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray - Страница 5

2

Оглавление

“Is jy nog op? Ek het gedink jy het lankal gaan slaap.”

“Nee.” Sy vee moeg oor haar oë. Wel, sy kan dit ewe goed nou verbykry. “Louw, ek wil met jou praat …”

“Dis al baie laat, Pauli. Jy lyk moeg. Dit kan wag tot môre. Gaan rus eers.” Die frons is terug tussen sy wenkbroue.

Pauli voel weer iets hier binne-in haar ruk. Wel, hy kan haar beskou as ’n kind, maar sy gaan haar nie vanaand soos ’n kind kamer toe laat stuur voordat sy haar sê gesê het nie.

“Dis belangrik. Ek wil nóú met jou praat,” hou sy vol en selfs vir haarself klink sy kompleet soos ’n koppige kind. Louw se ongeduldige blou oë vertel haar dis presies wat hy ook dink.

“Nou goed dan. Eintlik is daar iets wat ek jou ook moet sê. Ek het eintlik nog nie tyd gehad nie …”

Sy swyg. Nee, hy het nog nie tyd gehad om sy vrou te vertel dat hy oor veertien dae weer vertrek nie, maar daar was wel genoeg tyd om dit vir Zelia Meyer te vertel … Maar dan … sy is nie regtig sy vrou nie, is sy? Eintlik is Zelia Meyer nader aan hom as sy.

“Wat is dit?” sê sy om tyd te wen, hoewel sy nie weet hoekom nie. Hoekom wil sy nog langer wegskram?

“O, dis nie so uiters belangrik nie. Dis maar net dat ek weer op ’n ekspedisie sal vertrek …”

“O.” Haar stem klink droog, sonder emosie. Nee, dis seker nie so belangrik vir ’n vrou om te weet dat haar man na die uithoek van die aardbol toe gaan nie.

“Waaroor wou jy my spreek?”

Sy dwing haar stem om ook onpersoonlik te klink.

“Ek wou jou nie juis oor iets spreek nie. Ek wou jou iets vra.”

“Wel?”

“Ek wil jou om ’n egskeiding vra.”

Hy kyk strak terug.

“Jy moet tog self besef dat dit sinloos is om so voort te gaan. Dit is nie iets vreesliks wat ek vra nie. Ons huwelik is tog nie werklik ’n huwelik nie. Daar was nog nooit sprake van liefde of … of sulke dinge nie, dus …”

Hy staan haar steeds net stilswyend en aankyk.

“Wel?” vra sy met ’n kalmte wat sy nie voel nie.

“Gaan slaap, Pauli. Ons praat môre verder.”

“Hou op om my soos ’n kind te behandel! Ek wil …” Iets breek in haar los.

“Ek kan jou nie soos ’n vrou behandel nie, dus het ek geen keuse nie! Ek weier om hierdie saak verder te bespreek …” Sy stem is beslis.

“Ek wil ’n egskeiding hê, Louw! Ek vra jou nie om een nie, ek sê jou dit! Gaan op jou ekspedisie, maar onthou … as jy terugkom, sal ek nie meer hier wees nie, verstaan jy?”

In die dae wat volg, voel Pauli hoe die spanning al hoër in haar oplaai. Sedert die aand van die partytjie het hulle niks vir mekaar te sê nie. Net die absoluut noodsaaklike en hoflike word tussen hulle gepraat. Verder doen albei hul bes om mekaar se oë te vermy en so min moontlik in mekaar se geselskap te wees.

Die verslaentheid in Pauli neem toe. Hulle was weliswaar nooit verliefdes nie, maar hulle was vriende … goeie vriende. Maar mettertyd het daar ’n subtiele verandering in hul verhouding gekom en het hulle al meer soos vreemdelinge teenoor mekaar begin optree. Louw se lang afwesigheid van die huis tydens sy onlangse ekspedisie het ook nie gehelp om die kloof tussen hulle te oorbrug nie, en nou het dit al so ver gevorder dat hulle kwalik beleefde vyande is! Wanneer het die verandering tussen hulle gekom? wonder sy telkens. Sy wéét egter instinktief dat dinge tussen hulle begin skeefloop het daardie aand toe Louw haar slaapkamer verbitter en gefrustreer verlaat het.

Die herinnering aan daardie aand laat die skaamte en skuldgevoel al groter afmetings in haar aanneem. Sy besef steeds beter dat sy daardie aand ’n onvergeeflike flater begaan het en dat sy Louw gefaal het. Soos Louw dan ook op bittere toon gesê het, is sy nie meer so jonk dat sy nie kon weet hulle kan nie vir altyd op so ’n platoniese wyse voortgaan nie. Maar soos ’n selfsugtige, onvolwasse kind het sy net geneem en nie daaraan gedink dat Louw ’n man van twee en dertig is en sekerlik ook iets sou terug verwag nie.

Geen wonder dat hy haar soos ’n kind begin behandel het nie; dat hy haar soos ’n kind bed toe stuur wanneer sy oor grootmenssake, soos egskeidings, wil praat nie; dat hy daardie aand sonder meer sy rug op haar gekeer en in sy slaapkamer verdwyn het sonder om op haar byna histeriese gegil ag te slaan nie.

Ook geen wonder dat hy doktor Zelia Meyer se geselskap so intens geniet nie, want afgesien daarvan dat sy ook die taal van die wetenskap met hom kan praat, is sy ’n volwasse, intelligente vrou van vyf en dertig wie se geselskap hy kan geniet sonder vrees vir kinderagtigheid.

Al hierdie dinge besef Pauli in die dae wat volg, maar sy voel magteloos om iets daaraan te verander. Sy het nie meer die vrymoedigheid om, soos lank gelede, na Louw te stap en haar hart aan hom bloot te lê nie. Hierdie stil, strak vreemdeling ken sy nie. Hoe kan sy aan daardie koel, blou oë vertel dat sy jammer is oor daardie aand, dat sy besef sy het ’n fout begaan, dat sy nou bereid is om met hul huwelikslewe te begin? Hoe kan sy hierdie vreemde mens vertel dat sy nie meer daardie kind is nie, dat sy grootgeword het en besef sy is ’n vrou, ’n getroude vrou? Sy kan nie by hierdie onbekende Louw smeek dat hulle weer moet probeer, dat hulle weer ’n poging moet aanwend om mekaar te begryp nie!

Daarom is dit beter dat sy maar by haar aanvanklike besluit bly. Hulle moet liewer skei, want Louw toon duidelik dat hy beslis nie veel erg aan hul huwelik het nie. In vergelyking met die volwasse Zelia vind hy haar seker baie kinderagtig. Hy was nog altyd ’n baie volwasse, gebalanseerde mens. Sy onthou dat haar pa hom selfs as student as baie volwasse vir sy ouderdomsgroep ervaar het. En sy was die bedorwe brokkie wat hy noodgedwonge geërf het en met wie hy nou opgeskeep sit nadat sy leermeester en vriend gesterf het. Hy vind haar so belaglik en kinderagtig dat hy nie eens die moeite doen om met haar te probeer redeneer nie.

Maar die een of ander tyd sal hulle hierdie saak moet uitpraat. Die vertrekdatum is oor vier dae. Hulle kan dit nie langer uitstel nie.

Met hierdie besef stap Pauli na die studeerkamer waar Louw hom die afgelope dae begrawe het onder al die voorbereidings vir die komende ekspedisie. Of hy die tyd het of nie, nou gaan hulle praat!

Sy kom voor die lessenaar tot stilstand en hy kyk vlugtig, effens vererg op. Maar sy byt op haar tande. Dis nou of nooit.

“Louw … Louw, ek en jy moet praat. Asseblief! Ons kan dit nie langer uitstel nie! Kan jy ’n paar minute van jou kosbare tyd afstaan, asseblief?”

Sy probeer om nie sarkasties te wees nie, maar teen wil en dank skemer dit deur. Hy sit sy pen neer, staan op en gaan leun teen die kaggel, sy oë stip op die houer vir die hout gerig.

“Sit, Pauli. Waaroor wil jy met my praat?”

Sy neem vinnig plaas en strengel haar vingers styf inmekaar. Sy gaan nie, sy sál nie weer haar humeur verloor nie. Sy gaan haar soos ’n volwasse vrou gedra, al sterf sy ook! Hy kyk vinnig op na haar wanneer haar stem koel, beheers na hom kom.

“Ons moet praat oor ons egskeiding. Ek is ernstig, Louw.”

“En ek weier om oor so iets ernstig te raak, want dit is twak,” kom sy kortaf antwoord. Haar oë blits, maar sy bly uiterlik kalm.

“Dis die enigste volwasse optrede wat daar vir ons is. Dit sal belaglik wees om voort te gaan met hierdie … klug. Ons moes ten eerste nooit getrou het nie. Ek verwyt jou nie. Dit is ek wat jou in ’n huwelik met my gedwing het en ek vra jou om verskoning.”

Nou het sy sy volle aandag, en dit verg al haar moed om kalm terug te kyk in die vernoude oë.

“Jy kon niks anders doen as om met my te trou nie. Ek weet dit help nie veel om dit nou te sê nie, maar ek herhaal dat ek jammer is dat ek jou in so ’n verleentheid gebring het.”

Sy aarsel, maar toe hy haar net staan en aankyk en blykbaar niks daarop te sê het nie, vervolg sy dapper: “Ek waardeer wat jy vir my gedoen en beteken het in die tyd net ná … Paps se dood. Ek sal dit nooit in woorde kan uitdruk of ooit daarvoor kan vergoed nie, maar nou …”

“Nou het jy my nie meer nodig nie. Dis wat jy eintlik wil sê, nie waar nie, Pauli?”

“Wel, as … as jy dit so wil stel, ja. Ek is nou … oor alles en ek besef daar is geen toekoms in ons huwelik nie. Dis ook nie regverdig teenoor jou nie.”

“Kom ons los my maar eers vir die oomblik uit,” laat hy kortaf hoor, sy stem heeltemal emosieloos. “Ek wil jou kant van die saak baie duidelik hoor, jou redes hoekom jy ’n egskeiding wil hê. Jy sê jy sien geen toekoms in ons huwelik nie.”

“Nee. Eerlik nie. Ek besef nou dat twee mense vir mekaar moet omgee om van ’n huwelik ’n sukses te maak. Ons twee was wel goeie vriende, maar … ons is nie eens meer dit nie. Ek verwyt jou nie, Louw. Ek dra net soveel, indien nie die meeste nie, skuld dat ons … verhouding in so ’n fiasko ontaard het. Ek erken ek was baie kinderagtig en onvolwasse en ek is jammer oor daardie …”

“Asseblief! Spaar my dit! Laat ons terugkeer tot jou redes. Is daar nie miskien nog ’n rede nie?”

“Nog ’n rede?”

“Ja. Is daar dalk … iemand anders? Nee, ek stel dit sleg. Om reguit te wees, het jy verlief geraak in die tyd dat ek weg was – op een van jou vriende, iemand van jou ouderdom miskien?”

“Nee, natuurlik nie!”

“Dis nie nodig om so geskok te lyk nie.” Sy wenkbroue lig. “Dis heeltemal moontlik en niemand sal jou kwalik neem nie. Ek is tog heelwat ouer as jy. Jy is skaars een en twintig. Die meeste meisies van jou ouderdom is verlief, of verloof. Dis ook natuurlik en normaal.”

“Dit mag wees, maar ek … ek is beslis nie verlief nie … op niemand nie.”

“O, ja? Daardie … e … Lionel, dink ek is sy naam, met wie jy nou die aand so gedans het …”

“Hy is ’n blote vriend. Louw, regtig, ek verseker jou daar is niemand nie. Hy is ’n ou skoolmaat van my, soos jy goed weet.”

“Nee, ek weet nie. Ek ken jou vriende maar sleg. Ek het nie juis kontak met die jonger klomp nie. Dan wil jy nie vry wees omdat jy op iemand verlief is nie?”

“Nee. Beslis nie!”

“Jy sien ook nie kans om ons huwelik nog ’n kans te gee nie?”

“Nee, daar is geen kans nie. Jy gaan al weer oor vier dae weg … vir hoeveel maande. Louw, ek weet jy wil nie regtig nog ’n kans hê nie en jy het net so min hoop vir ons huwelik as ek. Dis maar net omdat jy my nog verder wil beskerm teen al die gevolge wat ’n egskeiding meebring, maar … ek gaan jou nie toelaat om my weer ’n keer te beskerm nie. Jy het reeds genoeg gedoen vir my. Te veel. Ek gaan niks verder van jou neem nie.”

“Ek verstaan. Het jy baie goed nagedink oor die gevolge van ’n egskeiding? Jy is baie jonk om as ’n geskeide vrou aan die wêreld bekend te staan.”

Sy blik rus op haar en sy weet nie hoe jonk sy werklik op hierdie oomblik lyk nie. Sy lyk kwalik agttien met haar ligte rokkie, sagte krulle, groot blou oë, skraal, fyn gestaltetjie … Haar blik sak voor syne.

“Ek weet, maar … dit sal ook oorwaai.” Daar heers ’n kort stilte. Dan kyk sy hom weer pleitend aan. “Asseblief, Louw!”

Sy blik dwaal weg, rus ’n oomblik op die portret van die man teen die muur. Hy frons.

“Goed, Pauli. Ek sal jou ’n egskeiding gee – maar op een voorwaarde.”

“Ja?”

“Jy gaan eers saam met my op hierdie ekspedisie. Wanneer ons terugkeer en jy voel nog soos jy vandag voel, sal ek jou jou egskeiding gee.”

“Saam?” Sy kyk hom fronsend aan. “Maar hoekom? Watter sin sal dit hê? Wat moet ek daar gaan maak?”

“Dis my voorwaarde. As jy nie kans sien nie, is dit jou saak, maar dan kry jy nie ’n egskeiding van my nie. Ek bedoel dit.”

Sy spring op. Net sy weet hoe pynlik die afgelope paar minute vir haar was en hoe sy moes uithaal om kalm en bedaard te bly. Maar nou … Soos hy hulle al so dikwels gesien het, flits die blou oë weer kwaai.

“Ek wonder wie is nou kinderagtig? Natuurlik sal ek beslis nie saamgaan nie …”

“In daardie geval is daar niks om verder te bespreek nie. As jy my nou sal verskoon … Ek het nog geweldig baie om in orde te kry.”

Sy neem parmantig stelling voor die lessenaar in.

“Louw Hattingh, ek weet nie of dit jou idee van ’n grap is nie …”

“Geensins. ’n Egskeiding het ek nog nooit as ’n grap beskou nie. Jy het vier dae om na te dink oor my voorwaarde.”

“Daar is niks om oor na te dink nie. Dis belaglik! Wat moet ek daar op die uithoek van die aardbol gaan soek? As dit geselskap is wat jy soek … Jou bekwame en interessante doktor Meyer gaan mos saam!”

Hy kyk op van waar hy weer begin skryf het, sy stem en oë yskoud.

“Ja, jy het gelyk. Dit sal my beslis nie aan aangename en volwasse geselskap ontbreek nie.”

“Presies! Waarom moet ek dan …?”

“Dis jy wat ’n egskeiding wil hê – en dis my voorreg om die voorwaardes te stel. Die saak is afgehandel, Pauli.”

Hierdie keer is sy stem so beslis, sy oë so waarskuwend dat sy nie anders kan as om stil te bly nie. Hy begin weer skryf, maar dis of hy haar gedagtes kan lees en die begeerte in haar aanvoel om een van die dik, geleerde boeke te gryp wat op die lessenaar rondlê en hom daarmee te gooi, want hy laat kalm hoor: “Gaan pak liewer in, Pauli. Jy sal tog saamgaan.”

“Jy klink baie seker van jou saak, professor Hattingh!”

“Ja, ek is … want ek weet hoe bitter graag jy van my ontslae wil wees. Daarom sal jy saamgaan, want dis die enigste manier waarop jy ’n egskeiding sal kry.”

Pauli storm by die deur uit en klap dit met min ontsag agter haar toe. In haar slaapkamer gooi sy haar huilend op die bed neer. Wat gaan met Louw aan? Hy was altyd so inskiklik, altyd so begrypend, die een wat alles vir haar gedoen het, altyd so geduldig was. Sy kan nie glo dat ’n man so kan verander nie!

In die studeerkamer kyk Louw Hattingh ’n rukkie roerloos na die toe deur en strek dan sy hand na die telefoon uit.

“Dis professor Hattingh wat praat. Ek wil asseblief nog ’n plek bespreek op die vlug na Panama op die vyftiende …”

Dis ’n stil groepie van drie wat vier dae later die vliegtuig bestyg wat hulle regstreeks na Suid-Amerika sal neem en van daar na Panama waar professor Islinger en die res van die geselskap by hulle sal aansluit.

Tot op die bitter end het Pauli haar probeer losmaak van hierdie onverwagte en onwelkome wending, maar dit het niks gehelp nie. Louw was so onbeweeglik soos die Rots van Gibraltar. Toe sy haar voet op die eerste treetjie sit om die vliegtuig te bestyg, het sy haar weer, bykans desperaat, na hom gekeer.

“Louw …”

“Die keuse is steeds joune, Pauli. Ek keer jou nie. Jy kan omdraai as jy wil, maar …”

Hy het ongeërg die treetjies agter Zelia begin opklim en nie eens omgekyk of sy volg nie. Hy en Zelia het reeds gesit toe sy eindelik onder die laastes haar verskyning in die ruim maak en net een blik met die paadjie af het haar na die lugwaardin laat keer.

“Kan ek en daardie dame nie plekke ruil nie, asseblief?”

“Ja, seker, as sy wil,” antwoord die lugwaardin vriendelik, en Pauli se glimlag verbreed.

“O, ek is seker sy sal met my ruil.” Sy kom langs Zelia tot stilstand en laat kortaf hoor: “Jy sit op my plek. Jou plek is daar langs Louw. Ek is seker julle twee het baie om oor te gesels.”

Zelia lyk verbaas en aangenaam verras en laat haar nie twee keer nooi nie.

“Dis baie gaaf van jou, Pauli. Ek kan jou seker maar so noem, nè? As Louw nie liewer …”

“Louw sal jou beslis langs hom wil hê eerder as vir my.” Sy plak haar in die sitplek neer en ’n oomblik lank ontmoet man en vrou se oë. Dan skuif Zelia langs hom in aan die oorkant van die paadjie en Pauli draai haar kop weg. ’n Ruk later, toe hulle reeds in die lug is, loer sy weer vlugtig na daardie kant toe. Soos sy verwag het, is hulle diep in gesprek en sy hoor net van “rongo-rongo” en ander vreemde woorde wat sy ook die afgelope twee weke telkens in haar eie huis gehoor het en waarvan sy tot nou toe nie kop of stert verstaan nie.

Sy keer haar blik weer vinnig weg en wonder wat in hemelsnaam sy die volgende paar maande met haarself gaan aanvang. Sy is wel ’n opgeleide onderwyseres, maar tussen al die geleerdheid van Louw en Zelia en die res, sal sy voel soos ’n analfabeet tussen gegradueerdes. As sy nie gaan beswyk aan ’n minderwaardigheidskompleks voordat hulle terugkeer nie, sal dit ’n wonderwerk wees. Waarom moes Louw haar tog saamsleep!

Oorkant die paadjie is doktor Meyer se aandag nie heeltemal so ten volle by die geleerde gesprek, soos Pauli daaraan dink nie. Sy het geensins ingenome gevoel toe sy verneem dat Pauli hierdie keer saamgaan nie. Die vriendskap tussen haar en Louw dateer ’n hele paar jaar terug en dit was vir haar ’n groot skok toe Louw destyds met Pauli getroud is. Dit het haar nie lank geneem om te besef dat daar nie veel van ’n huwelik tussen dié twee is nie en haar hoop het weer opgevlam. Louw het hom maar soos alle mansmense laat vang deur ’n mooi gesiggie en patetiese blou ogies. Maar hy is te intelligent om lank met net ’n mooi gesiggie en lyfie tevrede te wees en sy weet dat die tuig begin skawe.

Dat die tuig die afgelope tyd sommer lelik geskawe het, is waar, want Pauli veral het geen geheim meer daarvan gemaak dat sy en Louw bitter min gemeen het nie. Veral sedert hulle van die laaste ekspedisie teruggekeer het, kon jy maar net ’n paar minute in hul geselskap wees om agter te kom dat man en vrou nie juis kontak het nie.

Zelia het groot drome oor die toekoms begin droom, en al haar hoop was op die komende ekspedisie gevestig. Sy weet dat sy Louw Hattingh se respek en bewondering as wetenskaplike het. Daar is ook ’n mooi vriendskap tussen hulle. Maar op hierdie ekspedisie sou sy sorg dat hy haar nie net as wetenskaplike nie maar ook as vrou opmerk. Dit het tyd geword dat Louw ook die vrou in haar begin raaksien … en waardeer.

Niemand sou kon droom dat daar onder die bekwame, besadigde uiterlike voorkoms van doktor Zelia Meyer ’n warm, polsende vrou lê en wag nie. Louw Hattingh veral sou uiters verbaas gewees het as hy moes weet watter gedagtes soms deur haar suiwer wetenskaplike verstand gegaan het wanneer haar blik op hom rus.

Sy was nie baie vroulik nie. Nie dat sy lelik is nie, maar sy het haar nog altyd streng soos ’n wetenskaplike gedra en gesorg dat haar uiterlike voorkoms by haar status pas. Die hare word glad agteroor gekam en netjies agter in die nek saamgevat. ’n Dikraambril sorg vir ’n verdere vertoon van geleerdheid en die kleurskakerings in haar kleredrag is altyd besadig, nooit uitspattig nie. Sy gebruik ook baie selde grimering. Indien Zelia Meyer wou, kon sy met behulp van slim grimeerkunsies sekerlik tot ’n baie aantreklike vrou ontluik het. Maar Zelia het nog altyd weggeskram van daardie dinge, ten eerste omdat dit nie in haar geaardheid is nie, en ten tweede omdat sy dink Louw Hattingh is nie ’n man wat van sulke dinge hou nie. Nee, sy sal eers sy aandag en respek wen met haar bekwaamheid en intelligensie en dán sal dit kinderspeletjies wees om hom van haar as vrou bewus te maak, het sy gedink.

Sy was baie teleurgesteld toe sy hoor dat Pauli saamgaan, maar haar teleurstelling het gou verdwyn toe sy besef dat hierdie twee beslis nie op goeie voet is nie. Miskien, dink sy by haarself terwyl sy met die een oor na Louw luister, is dit beter dat Pauli hierdie keer saamkom. As hy hulle elke dag saam sien en vergelykings kan tref, des te beter. En as Pauli voortgaan om haar plek as Louw se vrou so gewillig aan ’n ander af te staan soos so pas met die sitplekke … Pauli is ’n kinderagtige jong dwaas – maar sy gaan haar dit nie sê nie. Beslis nie!

Twee dae later staan Pauli en die res van die geselskap op die kaai en kyk na die treiler wat vir die ekspedisie beskikbaar gestel is. Op die romp pryk in swierige letters De Afrikaansche Galei – ter verering van sy naamgenoot waarmee die Hollander Roggeveen in 1722 op Paassondag Paaseiland ontdek het.

Benewens die treiler se bemanning, is dit net professor Islinger wat bygekom het. Dié kort, fris en vriendelike man in sy middeljare het met ’n glinstering in sy oë met die bekendstelling van Louw se vrou opgemerk: “Ek kan begryp hoekom jy verkies dat jou vrou jou op ekspedisies vergesel, Louw. Ek sal ook nie so ’n pragtige mensie maande lank alleen agterlaat nie.”

Pauli het hom met ’n soetsuur glimlaggie aangekyk en dit liewer nie gewaag om in haar man se rigting te kyk nie. Van daardie oomblik af het sy geweet dat sy ’n vriend in Keith Islinger het. As jy na hom kyk, sou jy nooit sê dat hy ’n wêreldbekende wetenskaplike is nie. Maar dan, alle werklik gróót mense lyk nie beroemd nie. Hulle het nie nodig om op uiterlike vertoon staat te maak om hul grootheid te toon nie.

Vanaf Panama vaar die boot suidwes en doen baie vlugtig by die eilandgroep Galápagos aan, want die eindbestemming lê ver, duisende kilometers ver, in die hart van die Stille Oseaan by Te Pitoo te Henua – die Nawel van die Wêreld, soos die eerste bewoners van Paaseiland dit gedoop het. En nog steeds, ná eeue, bly dit ’n misterie vir die wetenskaplikes van die twintigste eeu.

Gedurende die seereis kry Pauli genoeg tyd om teen wil en dank meer van hul eindbestemming te wete te kom. Die lang gesprekke waarmee die tyd verwyl word, draai noodwendig net om Paaseiland, sy geskiedenis en sy misterie. Algaande begin die vreemde name en woorde, eers so betekenisloos, al bekender word en verstaan sy meer as wat sy self, en so ook die geleerdes aan boord, sou kon raai.

Toe Paaseiland eindelik uit die blougroen deining van die Stille Oseaan voor hulle opdoem, is hy amper soos ’n ou bekende vir haar. Sy weet dat hierdie stukkie aarde die toneel was van bloedige oorloë; eweneens van briljante vakmanskap. Dit was die bakermat van een van die oudste beskawings in Polinesië, en meer nog, van ’n beskawing eksklusief tot hierdie eiland beperk.

En die geheimenisse van sy verlede lê opgesluit in sy hiëroglieftablette, die rongo-rongo, wat geen hedendaagse geleerde nog ooit kon ontsyfer nie.

Dis ook die enigste plek op aarde wat bewaak word deur wagte soos die moai – mensbeelde van sowat een en twintig meter hoog uit soliede lawarots gekap en wat nou soos sfinkse die geheim van die eiland se roemryke verlede verswyg.

Ena Murray Keur 2

Подняться наверх