Читать книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray - Страница 12

9

Оглавление

Louw volg woordeloos op Analola se spoor. Sy beweeg vinnig en hy moet uithaal om by te hou. Hierdie mense is danksy die suiwer lug wat hulle inasem en die goeie kos wat hulle eet uiters fiks.

Hy sien hulle beweeg in die rigting van San Juan-punt – reg aan die seekant waar duiselingwekkende basaltpieke en versteende lawarots oor afgronde waghou. Links van hulle, op die agtergrond, is die donker silhoeët van die krater Rano Ario. Dis ’n soel nag, die stilte byna tasbaar, afgesien van hul jaende asemhaling.

Analola gaan staan en Louw vra gedemp: “Is dit nog ver?”

“Nie te ver nie. Ons gaan verby Hanga Tea. ’n Entjie anderkant is ’n moai. Dis daar – een van hulle.”

Hy knik net en hulle begin weer aanstryk. Meteens verskyn die silhoeët van ’n moai voor hulle en weer kom Analola tot stilstand. Sy sit die sak wat sy oor haar skouer gedra het, neer. Louw kyk om hom, maar nêrens kan hy enigiets sien wat na die ingang tot ’n grot of grafkelder lyk nie. Aan die regterkant en van voor af pryk die rotsmuur aan die seekant, en om hulle is dit plat graswêreld, met net die moai om die eentonigheid te verbreek.

“Is dit hier?”

“Ja.” Sy gaan reg voor die moai staan, loop dan ses tree na regs, ses tree vorentoe, kyk om haar rond, buk af, kyk weer en wys dan met ’n vinger na waar ’n klomp los lawaklippe van middelmatige grootte effe versteek in die lang gras lê. Louw stap nader, en wonder by homself of hierdie nagtelike soektog nie ook maar op ’n mislukking gaan uitloop nie. Die rotse is kwalik bo die grassade sigbaar en toe sy blik om hom dwaal, sien hy oral om hulle die swart koppe van verspreide lawarotse uitsteek.

“Dis daardie een.” Analola wys na een spesifieke rots, maar vir Louw lyk hy nes al die ander. Hoe kan sy weet? Teen hierdie tyd is hy al baie skepties, maar laat die rol tou oor sy skouer val en sit die flits neer.

“Nee!” ’n Hand op sy skouer keer hom toe hy wil afbuk en die rots probeer wegrol. “Ons moet eers ’n umu maak.”

“’n Umu ? ” Hy kom verbaas orent.

“Ja. Net hier.” Sy maak die geheimsinnige sak wat sy die hele tyd saamgedra het oop, en tot Louw se algehele verbasing haal sy ’n hoender daaruit.

“Ons moet eers die hoender in ’n umu gaarmaak en die helfte daarvan eet. Dan kan ons ingaan.”

“Maar hoekom?” wil hy half ongeduldig weet. Vannag het hy nie tyd vir bygelowe nie. Maar hy besef dat hy noodgedwonge aan die ritueel sal moet deelneem, anders sal hy nie ’n enkele ana verder te siene kry nie.

Terwyl haar vingers geoefen ’n grondoond maak waarin die hoender eers gebak moet word, verduidelik sy ernstig: “Dis vir die aku-aku. In elke ana lewe die aku-aku van die voorgeslagte voort en hulle moet eers tevrede gestel word, anders sal iets vreesliks ons oorkom as ons ingaan. Wanneer ons uitkom, moet ons die ander helfte opeet, anders agtervolg die aku-aku ons.”

Louw neem op die grond plaas en terwyl die ongeduld in hom kook, is hy verplig om te wag. Niks op hierdie aarde sal Analola beweeg om by haar familie-ana in te gaan voordat die ritueel afgehandel is nie. Hulle praat min, want hulle is bang dat hul stemme in die aandstilte sal dra en ’n mens weet nooit of daar dalk iemand in die nabyheid is nie.

Soos Analola op fluistertoon vertel, is die ana ondergrondse grotte wat met nou tonnels verbind is. Dis ook die begraafplaas van die voorgeslagte. In die ou tyd, voordat ’n mate van beskawing saam met die sendelinge gekom het, was die gebruik dat die ou mense, sodra hulle ’n sekere ouderdom bereik het, self na die familie-ana gegaan en daar hul dood afgewag het – ’n dood wat waarskynlik ingetree het as gevolg van versmoring.

Eindelik is die hoender gaar en word die umu oopgemaak. Tot Louw se verbasing is die hoender smaaklik en vind hy hierdie onverwagte middernagtelike fees baie lekker. Dan word die ander helfte weer teruggesit in die umu. Hulle is eindelik gereed om die ana in te gaan.

Meteens lig Louw en Analola gelyk hul koppe. Die Polinesiese meisie kyk onrustig rond en Louw se skerp oë probeer die nag om hulle deurpriem. Iets, ’n dowwe geluid of miskien blote instink, het meteens ’n waarskuwingsflits uitgestuur. Êrens in die nagstilte om hulle is daar ’n steurnis …

Louw sien dit eerste. ’n Oomblik staan hy verstom. Ongelowig staar hy na die lawarotse wat, asof vanself, uit die hoogte begin aftuimel, en in hul gang meer en meer rotspunte lossny sodat dit met ’n diep, onheilspellende gerammel na benede stort – reg op hulle af.

Selfs vir Louw, ’n wetenskaplike met sy voete vas op ’n feite-aarde, lyk dit in hierdie middernagtelike uur so onwerklik dat hy ’n oomblik nie in staat is om te beweeg nie. Langs hom het die Polinesiese meisie tot ’n standbeeld versteen.

Dis die vloek van die aku-aku! Niks kan hulle red nie!

“Kom!” Hy gryp haar hand en vlieg weg.

Die gedonder word al harder en harder. Soos twee besetenes hardloop hulle oor die grasveld met die dood kort op hul hakke.

“Hardloop dwars! Dwars!” skreeu Louw en Analola gehoorsaam instinktief. Met ’n geweldige stamp agter haar rug seil sy deur die lug en die volgende oomblik hoor sy Louw se swaar liggaam ook hard met moederaarde kennis maak. Agter hulle skiet die lawarotse teen ’n moordende vaart verby.

Meteens word dit stil, rol die laaste rotsblokke stadig ’n paar treë verder en kom dan tot stilstand. Swaar en intens sak die versteurde nagstilte weer toe …

Louw kyk na regs waar Analola moet lê, maar daar is geen teken van haar nie. Hy staan vinnig op en sy oë soek bekommerd rond, maar vergeefs. Analola het verdwyn.

Sy hemp voel klewerig oor sy rug en dan eers besef hy dat van die splinters diep genoeg ingedring het sodat bloed nou uit die snyplekke sypel.

Sover hy die geskiedenis van Paaseiland nagegaan het, is dit nêrens opgeteken dat daar stortings plaasvind nie. Al die kraters op die eiland is lankal uitgewerk en in almal se kern, waar daar eens lawa gekook het, lê nou stil lagunes. Bowendien, die stortings het van die basaltpieke aan die seekant gekom – pieke wat deur die eeue heen al rotsvas staan …

Sy lippe sluit stram op mekaar en sy oë vernou. Op ’n stil aand soos vannag stort daar nie sommer ’n klomp rotse asof vanself na benede nie.

Lank staan hy daar roerloos, wagtend … maar niks gebeur nie. Louw besef dat hy liewer kampwaarts moet keer. Hy het absoluut niks by hom nie. Selfs sy flits het in die slag gebly en daar bo, waar die rotse losgebreek het, is dit nagdonker. Hy het hierdie pieke al in die daglig beskou en weet dat selfs ’n ervare klimmer dit nie in die nag sal aandurf nie. Dit sal selfmoord wees. Teësinnig draai hy eindelik om en begin in die rigting van die kamp aanstap.

Versigtig kom Zelia uit haar skuilplek orent. Soekend gaan haar blik om haar. Sy buk en tel ’n halwe hoender op.

Dan gooi sy haar gewig teen die rots voor haar, voel dit beweeg. Baie versigtig, sodat die gewig op haar rug druk, haar bene styf in die aarde ingeplant as stutte, buk sy effens vooroor. ’n Donker gat skiet voor haar oë die aarde in.

Die ana!

Stadig laat sy die rotsblok weer in sy plek terugsak. Lank bestudeer sy haar omgewing, loop tot by die moai wat nog steeds, ongesteurd, die ewigheid met blinde oë instaar, stap dan weer terug, tel elke tree, bekyk die rigting baie goed.

Eindelik is sy oortuig. ’n Oomblik later volg sy in Louw se voetspore.

En terwyl hierdie drama hom in die nagtelike stilte ’n ent daarvandaan afspeel, is Pauli in haar eie drama gewikkel. Nog nooit in haar lewe het sy so toneelgespeel nie.

Sy draai op die bed om toe die tentklap oopgaan en vra met ’n slaperige stem: “Louw …?”

Toe daar nie antwoord kom nie, sit sy orent en weer klink haar stem vraend op: “Louw? Is dit jy? Hoe voel jou kop?”

“Nee, dis nie jou man nie. Dis ek, Ohutea,” antwoord ’n stem op Engels.

Pauli steek die lamp vinnig op en kyk dan verbaas na die man in die tentopening.

“Dokter Inaki! Maar …?”

“Waar is jou man, Ohutea?”

“Louw? Hy het ’n ent gaan stap.”

“Gaan stap? So laat?”

“Ja.” Sy frons liggies. “Hy ly aan slapeloosheid en al wat dan help, is om ’n vinnige ent te gaan stap. Ek het gedink dis hy wat teruggekom het …”

Hy kyk haar openlik skepties aan, en sy kyk ewe onskuldig terug.

“Hoekom soek jy hom? Het daar iets gebeur?”

“Ek weet nie … dis wat ek probeer vasstel …”

“Ek begryp nie. Waarvan praat jy?”

Hy beantwoord nie haar vraag nie, kyk vlugtig om hom rond. Alle tekens wys dat hierdie tent deur ’n man bewoon word – net deur ’n man. Nêrens lê daar ’n vroulike ietsie rond wat kan verraai dat man en vrou die tent deel nie. Sy blik keer na haar terug.

“Ek was altyd onder die indruk dat julle nie ’n tent deel nie.”

“Ja, dit is so. Die ou tentjies is te beknop vir twee mense. Ek hou al my goed in die tent langsaan.”

“Maar … jy slaap hier? Elke nag?”

Sy frons nou skerp, en haar oë word merkbaar koel.

“Hoekom nie? Ons is getroud. Dokter Inaki, ek dink nie ek hou van hierdie middernagtelike ondervraging nie. Wat beteken dit?”

Hy aarsel, en dit lyk asof hy iets wil sê, maar hom bedink. Hy draai om en verdwyn, en Pauli spring vinnig uit die bed en volg hom.

By die tenthoek draai hy weer om, kyk terug na haar en sy stem klink vreemd, nie vriendelik soos gewoonlik wanneer hy haar aanspreek nie.

“Nag, Ohutea. Ek hoop – ter wille van jou – dat jou man gou terugkeer.”

Hy wil aanstap, maar sy tree vinnig nader.

“Dokter Inaki, wat …?”

“Ja?” Sy stem is nou beslis koel en die band van vrees om Pauli se hart trek stywer vas. Hy het deur haar toneelspel gesien. Sy kan dit sweer.

“Wat is dit, dokter?”

Hy kyk lank op haar af, antwoord dan eindelik met ’n teenvraag: “Is jy gewoond daaraan om met jou japon te slaap?”

“My …” Sy kyk vinnig af en dan weer op. “Wat bedoel jy?”

“Ek het my opleiding in een van die grootste hospitale in Pennsilvanië in die Verenigde State gekry. Ek het honderde vroue in hul nagrokke en kamerjaponne gesien. Ek behoort die verskil tussen ’n nagrok en ’n japon te ken … en ek het nooit ’n vrou in haar japon gesien slaap nie … behalwe as sy baie haastig in die bed spring om die een of ander rede.”

Pauli kan hom net staan en aanstaar en terwyl sy nog naarstig in haar verwarde gedagtes rondsoek na ’n aanvaarbare rede wat sy kan aanvoer, vervolg hy: “Ek het gedink ons is vriende, Ohutea.”

“Maar ons is. Natuurlik is ons.”

“Nee, ons is nie. Vriende lieg nie vir mekaar nie.” Hy skud sy kop.

Dis ’n lang ruk later dat Pauli, met oë waarin die vrees lewe, en wawyd wakker, ’n geluid by die tent langsaan hoor. Sy spring op en loer versigtig uit, net betyds om te sien hoe ’n mansgestalte in Louw se tent verdwyn.

Hy is eindelik terug! Sy sluit haar oë in dankbaarheid. Sy het instinktief geweet dat dokter Inaki, toe hy van haar af weggedraai het, na Louw gaan soek het. Sy het ook geweet, as hy Louw vannag by die Polinesiese meisie moet vang, sal hy geen genade betoon nie.

Op hierdie oomblik, terwyl sy aan die tentklap vashou en sien hoe die lamp in die tent langsaan opgesteek word, is die verligting en dankbaarheid dat hy lewe en niks oorgekom het nie, groter as die wete dat hy miskien nou van die arms van ’n ander vrou af kom.

Sy wil net omdraai om te probeer slaap, toe ’n beweging in die skaduwees haar oog trek.

Inaki! Hy het Louw gevolg!

Maar dan verstyf sy daar waar sy agter die tentklap verskuil staan. Dis Zelia – ’n ten volle geklede Zelia wat die kamp versigtig binnesluip en dan vinnig in haar tent verdwyn.

Toe Pauli weer terug in die bed is, weet sy nie wat om te dink nie. Het Louw vannag die Polinesiese meisie gaan ontmoet en het Zelia uit skone jaloesie hom gevolg en op hulle gaan spioeneer? Of het sy en Louw afgespreek om mekaar op ’n sekere plek weg van die kamp te kry omdat dit te gevaarlik in die kamp geraak het? Of is daar ’n heeltemal ander, en miskien onskuldige, verklaring vir hierdie middernagtelike rondsluipery van geleerde wetenskaplikes op ’n eensame Suidsee-eiland?

Daar kan nog ’n verklaring wees. Iemand kon Inaki gaan waarsku het dat die Polinesiese meisie Louw snags in sy tent besoek. Kan dit wees dat Zelia se jaloesie so diep strek dat sy Louw selfs sou gaan verraai?

Toe ’n moeë Pauli, wat reeds heelwat gewig verloor het sedert hulle op Paaseiland aangekom het, die volgende oggend die eettent binnestap, kan sy kwalik ’n uitroep keer. Dit lyk asof haar man in ’n ongeluk was. Sy gesig en hande is die ene skrape, en bokant sy een oog is daar ’n diep sny wat lelik vertoon. Die ander twee is ook reeds daar en ook hul gesigte is ernstig, bekommerd.

“Louw! Wat … wat het jou oorgekom?”

Sy is bewus van Zelia se vyandige oë wat vinnig na haar flits en dan weer na haar bord terugkeer. Louw se stem klink bot toe hy antwoord: “Net ’n ligte ongelukkie. Ek het geval en die lawapunte het my so geskraap.”

Pauli swyg, want dis duidelik dat Louw nie verder daarop wil ingaan nie. Sy wurg die kos af. Maar ondanks die besluit wat sy in die vroeë oggendure geneem het dat Louw self verantwoordelikheid vir sy dade moet aanvaar, keer sy hom voor toe hulle die tent uitstap.

“Louw, kan ek jou ’n oomblik privaat spreek, asseblief?”

Hy kyk haar kil aan. “Ja, sekerlik. Ek het ook iets met jou te bespreke.”

Hy stap aan na sy tent en Pauli volg hom bekommerd. Iets in sy houding vertel haar dat sy al weer in onguns is, maar sy kan nie dink wat sy gedoen het nie. Sy sien nie die tevrede glimlaggie waarmee Zelia hulle agternakyk nie.

Toe hulle in sy tent is, draai hy na haar.

“Ja? Wat wou jy sê?”

Sy lek oor haar droë lippe, innig spyt dat sy nie maar by haar besluit gebly het nie. Nou is dit te laat. Sy sal moet praat.

“Louw, asseblief, ek vra jou, asseblief, staak hierdie ding! Jy gaan net jouself aan onnodige gevaar blootstel …”

“Jou bekommernis oor my welsyn is roerend, Pauli. Ek het nooit kon droom jy dra my belange so op die hart nie.”

“Louw, asseblief! Jy is al weer sarkasties en dis ernstige sake hierdie. Kyk hoe lyk jy! Jy kon … dood gewees het.” Sy sluk.

“Jy kan dit weer sê.” Sy vuiste lê gebal in sy broeksakke. “Ek neem aan die ‘ding’ waarvan jy praat wat ek moet staak, is my vryery met Analola, nie waar nie?”

Dis of hy haar deur die gesig klap, en sy deins effens terug onder sy wreedheid. Haar stem is gedemp, dik van die spanning.

“Jy … jy weet waarvan ek praat. Dokter Inaki is ernstig, Louw! Dit moet jy tog ná … ná gisternag besef.”

“Ja. Dit wil so voorkom.” Sy blik rus peinsend op haar. “Maar van gisternag gepraat … In die toekoms hoef jy nie soveel moeite te doen om Inaki te waarsku dat ek Analola gaan ontmoet nie. Ek sal jou dit sê. Dan kan jy snags rustig slaap en nie jou nagrus opoffer om op my te spioeneer nie. Kyk hoe lyk jy al van snags waghou oor my.”

Sy kyk hom verdwaas aan.

“Jy bedoel ek … ék het hom …?”

“Wie anders? Staak hierdie voorgeëry, Pauli! Jy bluf niemand meer nie. Jy kan nie ontken dat jy op my spioeneer nie. Jy het Analola daardie eerste nag in my tent gesien – en natuurlik vir jou dierbare dokter Inaki daarvan vertel. Hoe sou hy anders daarvan geweet het? En gisternag weer … Jy weet dat ek uit die kamp was en jy sal my seker ook kan vertel presies wanneer ek teruggekeer het …”

“Ek het nie vir dokter Inaki laat weet nie. Hoe kon ek, Louw? Wees asseblief redelik! Hoe kon ek hom laat weet het dat jy Analola gisternag sou ontmoet as ek daar niks van geweet het nie?”

“Maar jy het. Jy het tog geweet dat ek haar gisternag sou ontmoet …”

“Ek het nie! Waar sou ek dit gehoor het? Ek is die laaste mens wat vooraf daarvan sou kennis dra.”

“Omdat ek jou uitdaging om my intrek by jou tent te neem, nie aanvaar het nie. Jy is nie regtig onnosel nie, is jy, my vrou? Jy het die nodige afleidings gemaak – en toe vir Inaki laat weet.”

Sy skud haar kop verdwaas, ’n gevoel van verydeling in haar binneste. Sy kan maar ophou probeer. Dis futiel om met hom te redeneer. Hoe meer sy redeneer, hoe hoër stapel sy blykbaar die agterdog teen haarself op. Louw glo wat hy wil – en klaar.

Toe sy met moedelose skouertjies wil omdraai, ruk sy stem haar tot stilstand.

“Ek is nog nie klaar nie, Pauli. Net om jou daarvan te oortuig dat dit nie sal help om langer voor my toneel te speel en jou onskuldig voor te doen nie … Hier!” Hy hou ’n ligroos sneesdoekie op. “Ek het dit vanoggend in hierdie tent gekry. Ek besit nie sulke goed nie. Dis joune, nie waar nie? Jy was gisternag in my tent, en nie net jý nie …” Sy onderkaak staan vierkantig uit en sy oë blink kliphard. “Voor die tent en om die tent lê eienaardige voetspore wat nie aan een van ons in die kamp behoort nie. Ons dra almal plat rubbersoolskoene. Maar die spoor om my tent wys ’n halwe kapstewelskoen – van die soort wat die geagte goewerneur van hierdie eiland dra. Julle twee was dus gisternag saam en jy kon hom natuurlik presies vertel in watter rigting ek verdwyn het …”

“Nee!”

“Ja! Die vuilgoed het my amper gehad, want hy het my onverhoeds oorval. Maar volgende keer kan die bordjies dalk verhang wees. Nou is ek gewaarsku.”

Pauli verbleek en swaai dan weg. Sy moet hier wegkom voordat … voordat …

Weer skuil ’n baie tevrede glinstering in Zelia se oë toe sy ’n hewig ontstelde Pauli in haar tent sien verdwyn. Daar is ’n oorwinnaarsgevoel in haar binneste. Sy is daarvan oortuig dat niks hierdie huwelik meer kan red nie. Die saadjies wat sy gesaai het, ontkiem nou pragtig. Sy kan nou al byna sien hoe sy en Louw saam op ekspedisies werk, skouer aan skouer, en tot wonderlike nuwe ontdekkings vir die wetenskap kom.

En snags, wanneer hulle die kakieklere van die ekspedisie uittrek, sal sy die bril afhaal, haar hare losmaak sodat dit oor haar skouers val … en sal hulle man en vrou wees.

Terwyl Zelia haar drome droom, besef Pauli dat sy iets des-peraats sal moet doen om haar man se lewe te red. Eers sou sy dit as ongelooflik beskou het dat Louw se lewe werklik in gevaar verkeer. Maar nie meer nie …

Sy sal verplig wees om Louw teen homself te beskerm – en daar is net een manier om dit te doen. Maar voordat sy tot iets so drasties oorgaan, moet sy en dokter Inaki ’n privaat gesprek hê …

Toe sy ’n ruk later sien hoe die drie wetenskaplikes op hul perde verdwyn, is sy ook gereed om te vertrek.

Ena Murray Keur 2

Подняться наверх