Читать книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеDie volgende dag en in die dae daarop kom die ekspedisie se bedrywighede in volle gang. Nie dat hulle veel sukses behaal nie. Die eerste paar dae probeer hulle die vertroue van die eilandbewoners wen sodat hulle kan vasstel waar die ingange tot die familiegrotte is. Almal is baie vriendelik, maar sodra hulle die woord “ana” hoor, word hulle stom en kan skielik niks verstaan van wat die vreemdelinge vra nie.
Deur middel van tolke vermaak hulle die ekspedisielede ure lank met verhale van hul voorvaders, van die Lang- en Kortore van toentertyd – die stam met die gewone kort ore en die stam wat hul oorbelle gekloof en swaar gewigte daarin vasgemaak het om dit lank te laat groei sodat dit soos flappe op die skouers gerus het.
Die Langore was die heersers en die Kortore moes hulle dien en help met die moai, waarvan ses honderd vandag nog op Paaseiland te siene is. Die Kortore het ’n opstand beplan teen hierdie dwingelandy. Die Langore het gehoor van die opstand en het vroegtydig onder die leiding van hul koning Iko gevlug na die oostelike kant van die eiland, die Poike-skiereiland, en daar ’n diep loopgraaf gemaak van meer as drie kilometer lank – so diep dat dit die Poike-plato byna heeltemal van die res van die eiland geskei het.
Toe het hulle die loopgraaf opgevul met alles wat hulle in die hande kon kry om aan die brand te steek. Op hierdie plato, met die vuurloopgraaf tussen hulle en die res van die eiland, sou hulle heeltemal veilig van enige vyandelike aanval wees. Maar een van die Langore was met ’n Kortoor-vrou getroud en sy was die verraaier. Toe die Langore nog rustig en in die waan van veiligheid geslaap het, het sy die teken aan haar stamgenote gegee en hulle het stilweg al met die duiselingwekkende afgronde aan die seekant langs die plato binnegedring en die Langore heeltemal omsingel, ’n Massamoord het gevolg. Net drie van die Langore het daarin geslaag om deur die gloeiende loopgraaf van Iko te ontsnap.
Twee van hulle is later in ’n grot doodgesteek. Die derde, Ororoina, is toegelaat om te bly leef, want hy was die enigste wat die vernuf besit het om die manjifieke beelde, die moai, te ontwerp wat vandag nog as monumente op die eiland staan. Die beelde is uit harde lawarots gemaak. Skerpgemaakte klippe was die enigste gereedskap. Die beelde is dan dwarsoor die eiland versprei – beelde wat tot tien ton weeg. En niemand weet vandag meer presies hoe dit gedoen is nie.
Ororoina het weer getrou en tot vandag toe kan sy afstammelinge hul verbintenis met die enigste oorlewende Langoor uitlê. Dokter Inaki is volgens bewering ’n direkte afstammeling van hom. Daarom noem baie van die eilandbewoners hom Arikipaka, ’n koninklike titel wat net aan ’n direkte afstammeling van Ororoina gegee word wat weer op sy beurt bloedverwantskap met Iko kon bewys.
Dae en dae lank luister hulle net; probeer hulle op hierdie wyse die eilandbewoners se vertroue wen. Maar sodra hulle die gesprek in die rigting van die familiegrotte stuur, raak die gretige vertellers meteens tjoepstil.
Hulle luister maar verder – hoe ’n Peruaanse vloot op ’n dag in 1862 by Paaseiland anker gegooi het. Vriendelik soos hulle is, het hulle in klompe na die vloot uitgevaar op hul pora, ’n soort rietvlot, wat vandag nog in gebruik is vir visvang. Toe hulle op die bote kom, het hulle soos kinders, omdat hulle nie eens kon lees of skryf nie, meegedoen aan die nuwe speletjie om strepies en kruisies op ’n stuk papier te trek. Eers toe almal kruisies en strepies getrek het, moes hulle uitvind dat hulle onwetend ’n kontrak onderteken het om op die Ghwano-eilandgroep, duisende kilometers ver, te gaan werk. Die res, wat nie na die bote uitgeroei het nie, is op land deur allerlei geskenke, soos rolle materiaal, aangelok. Dié wat onraad gemerk het en wou vlug, is summier platgeskiet.
Só is byna duisend eilandbewoners weggevoer. Nege honderd het op die Ghwano-eilandgroep gesterf. Toe die biskop van Tahiti van hierdie grootskaalse onreg en slawerny hoor, het hy protes aangeteken. Die uiteinde van die saak was dat die vyf en tagtig oorlewendes teruggestuur is. Van hulle het vyftien die eiland weer bereik – saam met hulle het hulle pokke gebring. Toe die daaropvolgende epidemie hom onder die oorblywende vroue en kinders uitgewoed het, het ’n skamele honderd en elf ná die tragedie oorgebly.
Intussen het die eerste sendeling daar aangekom, maar hulle het hom rot en kaal besteel totdat hy op ’n dag selfs sonder sy broek gesit het. Hy het met die eerste skip wat daar aangekom het, vertrek, maar later weer teruggekeer, dié keer met helpers. ’n Mate van beskawing het begin intree toe ’n Franse avontuursoeker op ’n dag daar aankom en die eilandbewoners teen die sendelinge begin opmaak. Op die ou end is nie net die sendelinge nie, maar ook die opstoker vermoor.
En nou behoort Paaseiland aan Chili, want die Chilene het dit onmiddellik ná die ontdekking van sy groen grasvelde geannekseer, as ’n groot skaapplaas vir sy vloot.
’n Goewerneur is aangestel om die onderneming te administreer. Origens word die eilandbewoners in vrede gelaat met redelike vryheid, solank die Chileense vloot net sy kwota wol en vleis kry.
Maar die ekspedisie het nie halfpad om die aardbol gekom om na die geskiedenis van Paaseiland te luister nie. Die meeste van die feite het hulle reeds geken. Selfs die nawel van die wêreld se geskiedenis staan opgeteken in die annale van die wêreldgeskiedenis.
Vroeëre ekspedisies het reeds in groot mate die geheime van die moai en hoe hulle gemaak, vervoer en opgerig is, opgeklaar.
Maar daar is nog een geheim van Paaseiland wat steeds agter die sluiers van baie gisters verberg is – die vreemde hiëroglieftaal op die rongo-rongo en die ontsyfering daarvan. Dan nog, afgesien van die moai, is daar min oorblyfsels van werklike waarde uit die verre verlede ontdek, min wat Paaseiland se geskiedenis tot die dag van Hotu Matua en, soos die wetenskaplikes vermoed, nog vóór hom, kan belig.
En die antwoord op daardie tergende vrae lê verseël in die ana, of familiegrotte, waarvan die eiland vermoedelik ’n oorvloed het, maar waarvan niemand skynbaar weet waar die ingange is nie. Want dit was tradisie deur al die eeue heen, amper op die patroon van die Egiptiese grafkelders, om die dooies, en selfs dié wat nog nie heeltemal dood was nie, saam met die nodige gebruiksgoedere van daardie tyd in grotte diep in die ingewande van Paaseiland weg te seël.
As die wetenskaplikes van die twintigste eeu ’n insae in hierdie ana kan kry en daarin kan slaag om die geheimsinnige kliptafels, die rongo-rongo, te ontsyfer, sou die verlede van Paaseiland eindelik herontdek kon word. Maar om die ana op te spoor …
Ná drie weke van vrugtelose pogings is die groepie moedeloos.
“Ons maak geen vordering nie. Drie weke is nou al verby en ons is nog net waar ons die eerste dag was. Ons sal ’n ander plan moet maak. Dis baie duidelik dat ons geen tree met die eilandbewoners sal vorder nie,” laat professor Islinger een middag hoor toe die vier uit verskillende oorde in die kantoortent bymekaarkom om kajuitraad te hou nadat hulle die hele dag na stories moes luister sonder om ’n jota te vorder.
“En niks wat ons saamgebring het, kan hulle omkoop nie.” Daar is ’n verergde frons tussen Zelia se wenkbroue. “Ons het nou al rolle materiaal en duisende vishoeke weggegee en dit help alles niks nie. Ek is nou al so geïrriteer dat ek kan skree daarvan. Wat makeer die mense? ’n Mens sou sê ons wil hulle van kosbare skatte beroof, soos juwele en edelgesteentes, en eintlik …”
“Vir hulle ís dit kosbare skatte,” werp Pauli van die ander kant af tussenbeide.
Sy het, eintlik net om die tyd om te kry, ook so terloops begin navraag doen, maar ook sy kon geen hond haaraf maak nie. Nietemin het sy die afgelope dae al meer en meer geïnteresseer geraak in Paaseiland en sy bewoners. Sy is beslis meer gewild onder hulle as Zelia, omdat sy nie net altyd in die eiland se verlede bly rondkrap nie, maar persoonlike belangstelling ook toon – in hoe die vroue hul kos gaarmaak en in hul kinders, met wie sy ure lank speel. Hulle het reeds ’n naam vir haar in hul eie taal gegee – Ohutea.
Oral waar sy kom, word sy met breë glimlagte en handgeklap verwelkom en ’n sappige stuk waatlemoen of pynappelsap aangebied. Die kinders swerm altyd om haar, want teen hierdie tyd weet hulle al dat Ohutea nooit sonder ’n lekkertjie, êrens in ’n roksak versteek, rondloop nie. Sy het eienaardig geheg begin raak aan hierdie vriendelike natuurkinders van die afgesonderdste eilandjie op die aardbol. Sy tree nou, soos dit vir die ander drie voorkom, onnodig skerp in die bresse vir hulle.
“Dis vir hulle kosbaarder as al die juwele van die wêreld,” herhaal Pauli nou en kyk onverskrokke in Zelia se koel oë. “Dis hulle s’n; al wat hulle het. Hulle het so min ontvang – ’n klompie beelde uit lawarots gekap, ’n paar kliptafels en so meer. Ek kan byna verstaan dat hulle dit so naarstiglik wil wegsteek van die res van die wêreld. Hulle weet, as dit ontdek word, gaan die wêreld dit ook nog van hulle wegvat, en dan sal hulle regtig niks oorhê nie.”
Haar blik keer byna pleitend na Louw, wat haar met ’n diep frons sit en aanluister. “Kan julle dit nie verstaan nie? Hierdie goed, die rongo-rongo en dinge, is hul bewyse van hul menswees, dat hulle ook was, dat hulle ook iets bereik het met die min tot hul beskikking. Dis hul trots. Dis deel van hulle, soos wat die lawarots deel van die moai is. Maar julle wil dit op ’n skip laai en daarmee wegry, dit êrens in ’n museum agter ’n glaskas gaan ten toon stel sodat mense met skrapse belangstelling daarna sal kyk, sonder om te begryp dat hulle na die siel van ’n volk kyk. Of …” en haar blik draai na Zelia, “julle wil dit gebruik vir eie roem, om te kan sê: ek is die een wat die rongo-rongo ontsyfer het. Ja, dis net om jul naam in die wetenskaprol verewig te sien. En dan dink julle nie daaraan dat julle ’n volk se verlede gesteel het om dit te bereik nie.”
“In hemelsnaam, jy praat oor goed waarvan jy nie die vaagste begrip het nie,” kry Zelia ’n woord in en sy werp Pauli ’n vernietigende blik toe.
Professor Islinger sit haar net aandagtig en beskou, maar Louw se oë en stem is ook skerp, nes Zelia s’n, toe hy laat hoor: “Jy begryp nie mooi nie, Pauli. Ons wil juis die teenoorgestelde doen. Deur hierdie dinge te ontdek, te ontsyfer, te ontleed en op te klaar, gaan ons juis Paaseiland se verlede aan hom gee, nie van hom steel nie.” Sy blik is ondersoekend. “Ek het nie geweet jy voel só sterk oor Paaseiland en sy mense nie. Ek het gedink jy stel glad nie belang nie.”
Pauli voel ’n ligte blos teen haar wange opstoot en sy keer haar blik weg van die priemende oë. Nee, sy is self ’n bietjie verbaas dat sy skielik so driftig geraak het. Paaseiland is maar net ’n tussenspel vir haar – of liewer, ’n sinnelose voorspel tot haar vryheid.
“Miskien het dokter Inaki iets daarmee te doen.” Zelia se oë vernou en haar mond trek smalend. Haar stem is uitdagend terwyl sy Pauli direk aanspreek. “Ek sien julle twee is nogal dikwels in gesprek. Dis baie duidelik dat hý hoop ons sal nie ’n enkele ana ontdek nie. Dis seker sy invloed wat nou deur Pauli praat.”
Pauli is bewus daarvan dat Louw se kop vinnig in haar rigting draai en sy verwens Zelia hartgrondelik. Die feit dat Zelia nie leuens vertel nie en dat Pauli en dokter Inaki mekaar dikwels toevallig raakloop, help nie om die verraderlike blos op haar wange te verlig nie.
Hoe toevallig hierdie ontmoetings is, weet Pauli nie. Hy het hom nog altyd soos ’n heer teenoor haar gedra en nog nie een keer het sy die gevoel gekry dat sy daaroor skuldig, skaam of geheimsinnig moet wees nie. Maar die intonasie in Zelia se stem laat haar onwillekeurig bloos, asof sy iets ongeoorloofs gedoen het deur ’n paar vriendelike woorde met die goewerneur te wissel wanneer sy hom soms raakloop.
Dapper keer haar blik na haar man. “Ek weet nie wat Zelia probeer insinueer nie, maar as my mening met dié van dokter Inaki ooreenstem, dan is dit toevallig, net so toevallig as wat ons mekaar soms raakloop en ’n paar woorde wissel. Die verskil is net dat ek en Paaseiland se mense met ander oë as die wetenskaplikes na hierdie saak kyk.”
Professor Islinger tree nou vinnig tussenbeide. “Pauli, ek dink nogal jy het ’n punt beet. Hierdie mense is bang dat ons die goed uit die ana sal verwyder en daarmee verdwyn. Dis hoekom hulle swyg. Maar as ons hulle belowe dat ons niks sal wegneem wat hulle nie gewillig aan ons sal afstaan nie …”
“Professor!” Zelia lyk werklik diep geskok en ontstoke. “U moet my verskoon. U is die baas hier, maar … ons moet die ontdekkings saamneem om dit in ’n veilige plek te laat bewaar, en om tyd te hê om dit te ontleed en op te klaar. Die rongo-rongo, byvoorbeeld, kan maande of jare neem, soos u self weet. Hoe kan dit anders geskied as om dit saam te neem? Tewens, ons het mos toestemming om dit wat ons vind, saam met ons na die beskawing terug te neem. Dis nie húl goed nie. Dit behoort aan Chili, en dié se toestemming –”
“Ja, ek weet, doktor Meyer,” val professor Islinger haar effens ongeduldig in die rede, en die eerste keer lyk dit asof hy hom ook ’n bietjie vererg. “Ek weet ons het Chili se vergunning, maar in der waarheid is dit nie vir Chili om goed weg te gee wat nie syne is nie. Hy het niks tot die totstandkoming van hierdie goed bygedra nie. Pauli is reg. Die inhoud van die ana is hierdie mense s’n. Dis die nalatenskap van hul voorvaders aan hulle, van die een geslag aan die ander. Dis nie vir ons, al is ons wetenskaplikes met die beste bedoelinge, om familiegrotte oop te breek en net te vat wat ons wil hê nie, al is dit in die naam van die wetenskap.”
Louw is stil, maar die diep frons bly tussen sy wenkbroue. Zelia se gesig toon duidelik dat sy glad nie saamstem nie, en dink dat dit alles sentimentele snert is. Maar sy hou haar lippe op mekaar gepers. Professor Islinger is die baas hier, en dis vir hom om te besluit. Maar as hy hom aan sentimentele kinders gaan steur, het sy nie veel hoop op sukses vir hierdie ekspedisie nie!
Professor Islinger keer hom met ’n glimlag na Pauli en gee voor dat hy nie die twee stroewe gesigte van sy kollegas sien nie. Daar is selfs ’n vonkeling in sy oë terwyl hy na Louw se vrou kyk wat baie jonk en pragtig in haar geblomde strandrokkie vertoon. ’n Maand op Paaseiland het reeds ’n koperkleurige glans aan haar vel gegee en as dokter Inaki moeite doen om haar toevallig raak te loop en ’n paar woorde te wissel, kan die grys professor hom dit nie verkwalik nie. Dit sal maar net menslik wees.
“Pauli, ek wonder of ek jou nie ook in ons ekspedisie kan inspan nie. Dit lyk my jy kom nog die beste met hierdie mense oor die weg. Ek sien daar is gedurig ’n klomp kinders om jou. Jy moet ’n geheime betowering hê!”
Hulle lag saam, en Pauli bloos weer liggies. Professor Islinger moet agtergekom het dat daar ’n gereelde kuiergas by die lekkergoedkas is! Maar hy gee blykbaar nie om nie, en haar hart voel sommer weer ligter. Vlugtig kyk sy na die ander twee en draai dan haar oë weer vinnig weg van die suur gesigte af. Ag, laat hulle albei gaan doppies blaas!
“As ek tot hulp kan wees … ek moet u waarsku dat ek ook al op my manier probeer uitvis het oor die ana, maar ek kon nog niks uitvoer nie.”
“Tog is hulle baie erg oor jou. Ek hoor hulle het al ’n spesiale naam vir jou. Wat is dit?”
“Ohutea,” lag sy weer, intens bewus van Louw se skerp oë.
“Ohutea. Wat beteken dit?” wil die professor weet.
“Nee, ek weet nie …”
“Dit beteken die een met die ligte hare,” antwoord ’n stem vanuit die tentopening, en hulle draai om en gewaar dokter Inaki voor hulle staan. ’n Oomblik heers ’n ongemaklike stiltetjie. Hoe lank sou hy al daar staan en wat het hy alles gehoor? Pauli bid maar net dat hy nie Zelia se snedige aantygings gehoor het nie. Niks in sy gesig verraai egter dat hy iets gehoor het wat nie vir sy ore bedoel was nie, en hy kom met sy kenmerkende glimlaggie nader.
“Ek het toevallig hier verbygekom en gedink ek sal inloer en hoor hoe dit gaan. Het u al enige vordering gemaak, professor? ”
Almal weet dat hy baie deeglik bewus moet wees van die feit dat die afgelope weke se navrae op ’n nul uitgeloop het, maar professor Islinger bly beleef. Hy wil niks doen wat hierdie man se wrewel sal wek nie. Hy het ’n geweldige invloed onder sy mense. Die professor vermoed juis dat die goewerneur gedeeltelik verantwoordelik is vir die swye wat bewaar word. Hoe ongeërg hy hom ook oor die hele aangeleentheid voordoen, weet hulle dat dokter Inaki geensins die ontdekking van die ana voorstaan nie.
Die professor vertel die goewerneur van hul veranderde strategie, en dokter Inaki knik sy kop peinsend.
“Miskien sal dit help. Ek weet nie. Maar u het nou die aangewese persoon aangestel vir die oorredingswerk,” en dokter Inaki glimlag direk na Pauli. “Ek is seker as sy wil, sal mevrou Hattingh een van die moai kan beweeg om van sy troon af te klim.”
Net die professor en Pauli se lag klink op. Zelia se gesig bly nors. Louw maak kortaf verskoning en stap uit, met Zelia kort op sy hakke. Weer heers ’n ongemaklike stiltetjie, wat dan deur dokter Inaki verbreek word.
“Ek sal nou moet gaan. Alle sukses, professor.”
“Dankie, dokter.”
“Ek sal saamstap,” laat Pauli hoor en vergesel die dokter tot by sy perd. Hy huiwer voordat hy hom in die saal swaai en keer dan sy blik direk na Pauli.
“Dankie vir jou mooi woorde, Ohutea. Jy is die enigste een wat werklik begryp.”
Haar kop ruk op en dan bloos sy die hoeveelste keer terwyl sy haar blik vinnig laat sak. Sy oë bly op haar gerig, en dit voel vir Pauli of sy kan huil van skaamte. Dan moes hy seker Zelia se insinuasies ook gehoor het! Net baie vlugtig lê hy sy hand oor hare voordat hy in die saai spring.
“Daar is iets wat ek jou moet sê, Ohutea. Ek doen dit net ter wille van jou.”
Sy kyk vraend op. Sy het hom nog nooit so ernstig gesien nie.
“Ja?”
“Jou man is besig om navraag te doen na … na daardie danseres. Waarsku hom asseblief vriendelik maar dringend dat hy daarmee moet ophou. Onmiddellik! Dis van lewensbelang.”
Pauli voel iets soos ’n koue staalband om haar hart slaan en sy kyk hom ongelowig aan. Hy knik sy kop.
“Dit is so, Ohutea. Ek sou jou dit liewer nie wou vertel het nie, maar aangesien hy daarmee voortgaan, is ek verplig. Ek wou die saak nie persoonlik teenoor hom opper nie. Jou man … ons kan mekaar miskien misverstaan. Ek moet jou dus vra om die waarskuwing oor te dra. Ek wil herhaal, dis van lewensbelang.”
“Jy bedoel hy …” Haar stem sterf weg en dan dwing sy haarself om te vra: “Maar wie is sy? Ek het dan gedink jy weet nie wie sy is nie, en nou … nou kom jy met ’n waarskuwing …”
“Wat maak dit saak wat haar naam is? Jy sal niks wyser wees as ek jou haar naam sê nie. En die feit dat ek weet of nie weet wie sy is nie, het ook niks met die saak te doen nie. Wat van belang is, is dat jy jou man moet waarsku om sy navrae na haar onmiddellik te staak, en dat hy met sy lewe speel as hy haar enigsins probeer opspoor.”
Sy gesig is meteens somber, so ook die blou oë wat in haar verskriktes afkyk.
“Ter wille van jou, Ohutea, hoop ek hy sal ag slaan op my waarskuwing.”
Weer eens, terwyl haar blik sy krimpende silhoeët volg, voel Pauli ’n rilling deur haar gaan. Daar is meteens koue angssweet in haar handpalms en ’n koue band van vrees om haar hart. Want iets in die vreemde blou oë van dokter Inaki het haar vertel dat hy nie grappies maak of oordryf nie; dat hy presies bedoel wat hy gesê het …
Daar is verbystering en teleurstelling in haar toe sy stadig omdraai en na haar tent terugstap. Sy hoop en bid dat sy niemand raakloop nie. Sy wil nou niemand sien nie, nie eens vir professor Islinger vir wie sy reeds so lief soos vir ’n pa is nie; nog minder vir Zelia Meyer en … beslis nie vir Louw nie … Louw wat al weke lank naarstiglik navraag doen na ’n Polinesiese danseres.
Genadiglik bereik sy haar tent sonder dat sy iemand teëkom en sak op die kampbedjie neer. Sy kán dit nie glo nie! Louw Hattingh van alle mans! En tog … hy is ’n man, ’n volwaardige man. Dit weet sy self. Dit het sy besef daardie aand toe hy na haar slaapkamer gekom het. En daarna … nie so lank terug nie, het hy dit weer vir haar gesê … daardie aand ná dokter Inaki se ontvangs … toe het hy haar reguit gesê hy is maar net ’n man.
Daardie aand kon sy dit lees in sy oë terwyl sy blik op die pragtige, wringende liggaam van die danseres gerus het. Hy staan nie koud teenoor die instinktiewe sy van die lewe nie. Ten spyte daarvan dat hy ’n ontwikkelde, beskaafde, intellektuele mens is, dra hy tog ook in hom die drange en drifte van ’n normale man rond, drange wat baie jare lank sterk in bedwang gehou is; drange wat veral sedert sy huwelik ’n vuurproef moes ondergaan, maar waarvan hy tot op hede ten volle meester was. Miskien … miskien was dit net omdat daar geen aanmoediging gekom het nie. Maar nou …
Sy druk haar gesig in haar hande. Aangesien sy wettige vrou nie belangstel nie, nog nooit enige teken getoon het dat sy belangstel nie, eintlik op ’n egskeiding aandring … Die uitnodiging was so openlik daar, die bedoeling só helder … hoekom nie? Diep in haar hart weet Pauli dat Louw nie die soort man is wat doelbewus daarna sal gaan soek nie, maar … as dit op ’n skinkbord verbykom …
Bo die verslaentheid en teleurstelling styg daar ’n verblindende pyn in haar op. Onmiskenbaar, onmoontlik om te ignoreer, kom dié wete ook – dis háár skuld, grotendeels haar skuld dat Louw Hattingh die beeldskone meisie probeer opspoor … en dit sal op haar gewete lê as hy as gevolg daarvan iets gaan oorkom. Want noudat sy weer elke woord, elke intonasie, elke gesigsuitdrukking van die spreker nagaan, besef Pauli dat dokter Inaki nie ’n waarskuwing geuiter het nie, maar ’n dreigement. Bly weg van die Polinesiese danseres af, of …!
Die eerste keer sedert sy dokter Inaki ontmoet het, voel Pauli bang vir hom. Tot op hede was hy nog altyd vir haar ’n beskaafde, opgevoede heer, ’n man om te respekteer en te bewonder vir wat hy in die lewe bereik het. Maar ná vanmiddag weet sy, nes Louw lankal besef het, dat daar veel meer in die goewerneur van Paaseiland skuil as wat ’n mens met die eerste ontmoeting kan waarneem. Haar effense agterdog oor dokter Inaki se verskuilde drifte word nou sterk vermoedens.
Sy besef nog iets. Sy beskaafde maniere en sagte stemtoon is misleidend. Êrens in hierdie man se skraal, byna te skraal en fyn liggaam vir ’n man, skuil ’n verbete hardheid, ’n … roekelose vasberadenheid. Die kern van sy voorvaderlike primitiwiteit lê nog onbeïnvloed. Dokter Inaki is allermins ’n man om te ignoreer of te onderskat – en sy sag uitgesproke waarskuwings mag nie verontagsaam word nie …
Daardie aand is dit net professor Islinger en Zelia wat in die eettent verskyn. Niemand het Louw weer gesien nadat hy so skielik ná dokter Inaki se verskyning padgegee het nie. Daar is ook geen teken van Pauli nie, hoewel die lamplig in haar tent verraai dat sy wel daar is. Die twee wetenskaplikes het nie veel vir mekaar te sê aan tafel nie, en albei is bly toe die ete verby is en hulle hul ook kan terugtrek in hul onderskeie tente.
Dis reeds laataand toe Pauli eindelik voetstappe in die rigting van Louw se tent hoor beweeg. Sy slaak innerlik ’n sug van verligting. Hy is eindelik terug! Maar sy wag nog ’n hele ruk voordat sy opstaan. Ná ure lange bepeinsing weet sy nou nog nie hoe sy dokter Inaki se waarskuwing aan Louw moet oordra nie. Maar sy weet sy moet, want as Louw voortgaan hiermee, is hy in lewensgevaar. Daaraan twyfel sy geen oomblik nie.
Pauli stap saggies nader. Die ander tente is reeds donker. Dan snak sy na asem, verstyf tot ’n standbeeld.
Onmiskenbaar is dit vroulike buitelyne wat van die binnekant af teen Louw se tentseil val!