Читать книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray - Страница 13
10
ОглавлениеDokter Inaki is allermins vriendelik toe hy gewaar wie sy besoekster is. Tog nooi hy haar om te sit en hoewel sy bitter ongemaklik voel, neem Pauli vasberade plaas. Vlugtig dwaal haar blik deur die vertrek.
Dis duidelik sy kantoor. Sy merk die groot boekery wat hy besit en lees vlugtig van die titels wat bewys dat hy ’n uiters belese man met baie uiteenlopende belangstellings moet wees.
Weer voel sy ’n oomblik die ongeloof in haar en haar blik draai terug na die man wat agter die lessenaar plaasgeneem het en nou met geslote gesig geduldig wag dat sy eerste moet praat. Hy het blykbaar, anders as vorige kere, vandag niks vir haar te sê nie.
Kan hierdie man met ’n mediese graad agter sy naam, met sulke fyn maniere, ’n koelbloedige moordenaar wees – of liewer, potensiële moordenaar?
Sy aarsel terwyl sy in die blou oë kyk. Durf sy hom reguit daarvan beskuldig dat hy probeer het om haar man te vermoor? Wat weet sy werklik van hom af? Hy is immers nog een van ’n groep mense wat aan aku-aku’s en manas en bonatuurlike dinge glo, en deelneem aan primitiewe rituele. Die lewenskode waarvolgens hy grootgemaak is, is so heeltemal anders en so ver verwyder van hare. Op die oog af is daar geen verskille tussen hulle nie, maar gaan jy dieper as veldiep …
Tot hoe diep strek hierdie vernislaag om dokter Inaki? vra sy haarself bevrees af.
“Dokter, u moet my vrypostigheid verskoon, maar ná gisternag … Ek voel ons twee moet hierdie saak uitpraat. Daar is blykbaar êrens ’n misverstand en –”
Hy val haar kortaf in die rede en sy merk met sinkende hoop op dat hy haar nie meer op die eilandnaam aanspreek nie, maar baie formeel asof hy haar ook nou by die ander skaar. Hoewel hy nog altyd baie beleef was teenoor die res van die ekspedisielede, het hy hulle op baie formele wyse benader. Dit was net teenoor haar, Pauli, wat hy soms ontdooi het, en dan ook net wanneer hulle alleen was. Vandag, egter, is hy ook teenoor haar die stywe eilandgoewerneur wat die ekspedisie duld omdat hy nie anders kan nie.
“Ek dink tog nie so nie, mevrou. Ek dink ook dat ons liewer nie hierdie gesprek moet voortsit nie – as u my sal verskoon dat ek so reguit is. Hoe minder gesê word, hoe beter.”
“Maar jy slaan die bal mis!” roep sy uit. “Jou afleiding is heeltemal verkeerd.”
“Is dit?”
“Ja! Ek gaan nou reguit praat, want dit kan nie anders nie.” Sy kyk hom vas aan. Vandag móét hy haar glo. “Ek weet nie wat hierdie Polinesiese meisie vir jou is nie en hoe julle in verband met mekaar staan nie, maar jy is blykbaar onder die indruk dat my man ’n verhouding met haar het. Dis hoegenaamd nie die geval nie.”
Hy kyk haar stip aan.
“Hoe weet jy dit?”
“Ek behoort te weet, nie waar nie? Enige vrou weet onmiddellik as haar man ’n verhouding met ’n ander vrou aanknoop. Noem dit intuïsie, of net wat jy wil, maar dit is so. Dis baie, baie selde dat ’n vrou nie kan agterkom as haar man se belangstelling dwaal nie.”
Hy roer sy skouers ongeduldig en meteens is hy mensliker teenoor haar.
“Ohutea, jy weet so goed soos ek dat die teendeel eintlik waar is. Die vrou is altyd die laaste om daarvan te weet.”
“Maar dit is nie so nie! Jy wou my nie gisternag glo nie, maar dis waar wat ek jou vertel het. Ek slaap elke nag in daardie tent. Bedags is Louw altyd omring deur mense, professor Islinger en doktor Meyer en ook ek self. Wanneer kan hy dan sodanig met ’n ander vrou … e … flankeer?”
“Snags – wanneer hy gerieflik aan skeelhoofpyn en slapeloosheid ly – soos gisternag.” Sy mond trek ietwat smalend.
Koel, uitdagend kyk haar oë terug. “In daardie geval moet Louw Hattingh ’n supermens wees.”
Dokter Inaki se oë vernou. “Hoekom?”
“Omdat jy as medikus beter as ek behoort te weet dat dit fisiek onmoontlik is vir enige man van vlees en bloed om elke nag by twee vroue te slaap.”
Sy kan sien haar antwoord skok hom, maar sy is so desperaat dat sy nie omgee nie. Laat hom dink wat hy wil, solank hy haar net glo!
’n Oomblik is dit stil. Dan antwoord hy gedemp: “Ohutea, ek kan nie anders as om jou dapper pogings te bewonder nie, maar jy moenie my intelligensie onderskat nie. Ek is amper bereid om met jou ’n weddenskap aan te gaan vir die inhoud van elke ana op hierdie eiland dat jy en jou man nog nooit saamgeslaap het nie – altans nie sedert julle op hierdie eiland aangekom het nie.”
Sy sluk. Sy móét net verhoed dat hy agterkom dit was ’n kolskoot. Sy kry dit reg om geamuseerd te lag.
“My liewe mens, wat laat jou dit dink? Ken jy nie die menslike natuur nie? Lyk ek vir jou so … oninteressant?”
“Nee. Inteendeel. Maar jy lyk beslis onaangeraak. Ek is ’n fyn waarnemer, Ohutea. Ek sien baie meer raak as wat jy dink. Ek wéét baie meer as wat jy vermoed. Wat meer is – daardie man van jou is ’n dwaas. Hy sit met ’n skat in sy besit en hy soek daarna op ander plekke. Hy gaan dit waarna hy soek, nooit kry nie, en dit wat hy het, gaan hy verloor.”
“Is dit al weer ’n dreigement?”
“Nee. ’n Blote feit.”
Sy kyk hom skerp aan en die beskuldiging lê baie duidelik in haar stem.
“Dokter Inaki, Louw is gisternag aangerand …”
Sy mond trek agterdogtig, maar sy oë kyk kalm terug in hare.
“So? Is dit wat hy jou vertel het?”
“Dan weet jy daarvan? Dan was dit jy …?”
“Asseblief, Ohutea. Jy maak te vinnig gevolgtrekkings. Ek het niks gesê nie … of, soos jy dit vertolk, iets erken nie. Ek vra maar net of hý jou daardie storie vertel het. Hoe het hy gesê het dit gebeur?”
“Hy … hy het nie op besonderhede ingegaan nie, maar … die tekens is baie duidelik daar dat hy aangerand is.”
“Maar hy het jou nie die besonderhede gegee nie? Dis darem vreemd dat hy op ’n onskuldige wandelinkie so onnodig aangerand word. Die eilandbewoners het wel hul foute, maar hulle sal nie so iets doen nie.”
“Dit was nie ’n eilandbewoner, altans, ’n gewone een, wat dit gedoen het nie – en jy weet dit, dokter Inaki!”
“Dis ’n baie ernstige beskuldiging teen die goewerneur van die eiland, Ohutea.” Sy oë vernou. “As ek dan die man was wat hom aangerand het, hoekom dra alleen hy letsels van ons skermutselinkie? Hy is ’n veel frisser en sterker man as ek. Dit moes dan ek gewees het wat vandag gehawend daar uitgesien het, nie waar nie?”
“Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar ek wéét jy sit daaragter, dokter Inaki, en dit net omdat jy jaloers is op ’n onskuldige man!” Haar stem is skor.
“Onskuldig?” Ook sy stemtoon styg ietwat. “Ontken jy dat Analola een nag by hom in die tent was?”
“Ja! Dit was nie sy nie. Ek … ek weet nie hoe jy daarvan weet nie, maar dit was nie sy nie! Dit was … doktor Meyer.”
“O? Jou Louw word al meer van ’n supermens, kom dit voor, nie waar nie? Daar is nou al ’n derde vrou in die prentjie. Hoe het dit dan gebeur dat die ander vrou by jou man in sy tent is as jy veronderstel is om elke nag in sy arms te slaap?”
“Ons het rusie gemaak daardie dag. Ek het toe daardie nag in die ander tent gaan slaap, en doktor Meyer sou nie so ’n kans laat verbygaan om Louw te probeer … e … beïndruk nie. Sy is verlief op hom.”
“Ja. Dit weet ek ook. Enigeen kan dit sien.” Hy sit haar ’n oomblik in stilte en beskou, maar die pleitende blou oë doen niks aan sy hart nie.
“Dokter Inaki, as jy my nie wil glo nie, kan jy self kom kyk.”
“Kom … kyk?”
“Ja. Ek gee jou toestemming om vannag by Louw se tent te kom inloer. Jy kan ons die hele nag afloer ook as jy wil. Miskien … as jy met jou eie oë sien … sal jy glo dat Louw Hattingh geen belangstelling hoegenaamd in hierdie Analola het nie, of kan hê nie.”
“En hoe gaan jy jou vervreemde man oorhaal om hierdie stukkie drama op die planke te bring?”
Sy trek haar asem skerp in. Net die feit dat Louw se lewe op die spel is, verhoed dat sy opspring en hom na sy peetjie stuur.
“Dit verg nie veel aanmoediging van ’n vrou om ’n verliefde man te oorreed om haar te liefkoos nie.”
“Nee, natuurlik nie. En professor Hattingh is juis so verlief op sy blonde vrou.”
“Presies. Hy was dit nog altyd. Ek is die vrou in Louw Hattingh se lewe, dokter Inaki – of jy dit wil glo of nie. Daar is nie plek vir ’n geleerde doktor nie en nog minder vir ’n danseres. Jy, as ’n geleerde man, behoort darem te weet dat jou Analola beslis nie ’n man soos Louw Hattingh se maat is nie. Jy oorskat haar aantrekkingskrag en jy onderskat myne.”
Sy staan op en hy volg haar voorbeeld. Hul oë ontmoet toe sy uitdagend laat hoor: “Kom gerus vannag kamp toe en kom oortuig jouself dat jy belaglik is. En wat jy gaan sien, gaan niks meer wees as wat elke nag – of so te sê elke nag – in daardie tent gebeur nie.”
Sy sien die verstilling in sy oë en die effense, baie effense twyfel. Sy sê niks verder nie, stap net uit en sy weet, sonder dat hy haar dit in soveel woorde hoef te sê, dat hy hierdie vreemde uitnodiging gaan aanneem. Dokter Inaki gaan vannag kamp toe kom … Daarvan is sy seker.
Toe sy by die kamp kom, sien sy tot haar ontsteltenis dat die ander drie reeds terug is. Haar hoop dat sy ongesiens die kamp kan binnesluip en dat niemand tot dusver haar afwesigheid agtergekom het nie, sterf ’n vinnige dood.
Zelia is die eerste wat haar gewaar en haar mond is smalend toe sy by Pauli verbystap op pad na haar tent.
“Ek wonder soms watter soort mens jy is, Pauli. Selfs nie die feit dat Louw gisternag byna deur jou minnaar vermoor is, hou jou van hom af weg nie.”
“Ek is nie so seker dat dokter Inaki die enigste verdagte op die lys is nie, doktor Meyer. Waar was jý gisternag?” Pauli lig haar ken op en kyk vas terug.
Zelia ruk merkbaar, maar met ’n bewonderenswaardige poging behou sy ’n Stoïsynse gesigsuitdrukking. Net haar oë skiet vuur.
“Jy moet mal wees! Ek was in my tent, natuurlik! En dink jy werklik ék sal Louw wil vermoor?”
“Nee, nie vir Louw nie – maar miskien die een wat by hom was.”
“Jy is van jou verstand af! Ek het gisternag nooit ’n voet buite die tent gesit nie.”
“Jy lieg, Zelia – en ons albei weet dit.” Sy stap dadelik aan en voel hoe Zelia se blik in haar rug boor. Sy voel bewerig. Hoe meer sy oor hierdie moontlikheid dink, hoe aanvaarbaarder klink dit dat Zelia agter gisternag se gebeure kan sit. Zelia word opgevreet deur jaloesie. Sy sal van enige mens, veral enige vrou, wat in die pad van haar toekomsplanne staan, korte mette maak.
Soos dokter Inaki, moet sy Zelia Meyer ook nie op haar baadjie takseer of aan haar indrukwekkende grade beoordeel nie. Pauli weet dat daar veel meer onder die uiterlike voorkoms skuil as waarvan ’n mens ooit kan droom. Dit kan ook wees, besef sy, dat Zelia en dokter Inaki kop in een mus is. Albei is mal van jaloesie en albei is tot enigiets in staat …
Toe sy die kantoortent binnekom, kyk sy teen Louw se streng gesig en professor Islinger se bekommerde een vas. Louw staan met iets in sy hand.
“Wat is dit daardie?”
“’n Koevoet – deel van ons ekspedisiegereedskap.”
Pauli frons en kyk Louw vraend aan.
“Hoekom staan en kyk julle daarna asof dit iets vreemds is? Wat is so snaaks daaraan?”
“Nee. Dit lyk maar soos enige koevoet. Daar is niks snaaks daaraan nie, behalwe … behalwe dat dit verlore was en weer gevind is.”
Haar gesig lyk al meer verward.
“Hoekom … sê jy dit so snaaks? Was dit gesteel?”
“Ja. Uit ons gereedskapkis dáár,” en hy beduie met sy hand na die hoek van die tent waar al die ekspedisiegereedskap opgestapel lê.
Pauli se blik gaan vraend na professor Islinger, wie se oë afgewend bly, dan terugdraai na Louw.
“Waar kry jy dit toe?”
“Waar dit gebruik is … om ’n rotsstorting te veroorsaak.”
“’n Rotsstorting?”
Nou is sy heeltemal verward, en Louw se oë bly uitdrukkingloos, so ook sy stem toe hy ongeërg na sy voorkop wys.
“Ja. Hierdie rotsstorting.”
Sy kyk hom met ontsetting aan. Dan was dit nooit ’n aanranding nie! Op hierdie oomblik besef sy eers werklik hoe naby haar man aan sy dood was! En iemand het daardie rotsstorting doelbewus veroorsaak. Die koevoet in Louw se hande is die dodelike bewys daarvan. En dit is die koevoet wat uit die ekspedisie se eie gereedskapkis gesteel is.
Haar stem is skor, verwese. “Louw,” sy het vergeet dat professor Islinger ook nog daar is, “Louw, jy … jy kan tog nie werklik dink dis … dis ek … wat so iets sou doen nie!”
Hy laat die koevoet met ’n harde slag eenkant toe val.
“Nee. Ek dink darem nie dat jy so ver sal gaan om in die nag daardie pieke uit te klim om ’n koevoet onder ’n rots in te druk en dit dan los te wikkel om my te verpletter nie.” Stil keer sy blik na hare. “Maar jy kon die koevoet gesteel het vir iemand anders …”
“Louw!”
“Louw, my vriend, jy sê gevaarlike goed,” tree professor Islinger tussenbeide, diep bekommerd. Dinge begin nou ’n lelike wending neem. Louw Hattingh beskuldig sy eie vrou doelbewus daarvan dat sy medepligtig was aan ’n poging tot moord op hom! Waar gaan alles nog eindig?
Hy kyk na die vasbeslote jonger man wat stil na sy vrou staan en staar en vervolg beslis: “As sake nie baie gou verbeter nie, gaan ek die ekspedisie kanselleer en keer ons terug.”
Louw se blik vlieg ontsteld na sy leier.
“Professor! Maar ons het dan nog absoluut niks uitgerig gekry nie! Ons kan nie nou al teruggaan nie!”
Professor Islinger bewys nou dat hy nie net ’n geleerde van naam is nie, maar ook ’n man wat baie beslis kan optree as omstandighede dit vereis.
“Ek is die leier van hierdie ekspedisie, professor Hattingh, en dis vir my om te besluit of ons daarmee voortgaan of nie. Ons kry in elk geval niks uitgevoer nie, dus kan ons maar terugkeer voordat ons almal uitgemoor of van ons verstand af is, want …” Louw probeer nog iets inkry, maar die ouer man se stem is nou so driftig soos hulle dit nog nie tevore gehoor het nie. “… want wat jy so pas kwytgeraak het, kan net die gedagtes van ’n mal mens wees. As jy weer lus voel om jou vrou van medepligtigheid aan poging tot moord op jou te beskuldig, dan moet jy dit asseblief doen waar niemand anders daardie sotlikheid kan aanhoor nie, en beslis nie weer in my teenwoordigheid nie. Ek gee hierdie ekspedisie nog ’n week tyd. As ons dan nog nie ’n begin gemaak het nie, lig ons anker. Dis finaal.”
Hy draai om en stap uit. Hulle staar hom verbaas agterna.
“Dis wat jy baie graag wil hê moet gebeur, nè, Pauli?” hoor sy haar man se verbitterde stem skuins agter haar. “Dit sal jou uitstekend pas om vroeër as die vasgestelde tyd terug te keer sodat jy jou begeerde egskeiding kan kry. Die feit dat daar duisende rande in hierdie ekspedisie gesteek is en dat drie wetenskaplikes gekke van hulself maak, kan jou nie ’n bloue duit skeel nie.”
Sy kan hom nie antwoord nie, want sy kan nie haar stem vertrou nie. Met ’n seer hart en swemmende oë kyk sy stilswyend toe hoe hy by haar verbystap … reguit na Zelia se tent waarin hy ’n oomblik later verdwyn. En vannag sal dokter Inaki na Louw se tent kom om al haar leuens te ontmasker … en dan het hy nog ’n hele week tyd om hom op Louw te wreek.
Stadig sak die son na die westerkim om dan skielik, asof in een beweging, heeltemal te verdwyn. Die nag sak vinnig toe in die Suidsee.
Pauli gaan stort eers by die primitiewe buitestort wat vir die kamp opgerig is, en keer dan na haar tent terug. Sy krap in haar tasse rond en trek dan ’n nuwe nagrokkie aan wat sy nog nie gedra het nie. Sy kam die goue hare totdat dit soos ’n wuiwende ryp gerf oor haar skouers val en bekyk haarself krities in die spieël wat Louw vir haar teen die een tentpaal vasgemaak het. Agter in haar oë lees sy paniek.
Ek kan nie! Sy druk haar gesig in haar hande. Dis nie haar geaardheid om haar soos ’n goedkoop slet doelbewus aan ’n man te gaan opdring nie, al is die man ook wettig hare. Haar trots as vrou deins terug by hierdie gedagte. As die verhouding tussen hulle anders was … as hulle vriende was, maar … met die dunk wat haar man blykbaar van haar het, is dit ’n saak van onmoontlikheid dat sy vannag met voorbedagte rade na sy tent sal gaan.
En wat as hy haar uitlag, dit wat sy gekom het om aan te bied met minagting en veragting van die hand wys, haar miskien nog hardhandig uit sy tent verwilder?
En wat gaan sy vir hom sê? Hoe gaan sy haar skielike ommeswaai verduidelik? En waar sal sy begin? Hoe begin ’n vrou om ’n man te verlei? Weer eens besef Pauli dat sy werklik nog onnosel is in baie opsigte. Geen wonder nie dat ’n ervare man soos dokter Inaki sommer met die blote oog kan sien dat sy nog onaangeraak is! Hoe kan sy Louw vanaand onwetend laat deelneem aan ’n “drama”, soos dokter Inaki dit gestel het, en nog ’n stukkie trots oorhou? En môre … môre as alles verby is … hoe gaan sy Louw in die oë kyk?
Dan is daar nog iets wat haar nou hinder, iets waaraan sy nooit gedink het nie. Sy het net aan hierdie nag gedink, hierdie nag waarin sy dokter Inaki daarvan moet oortuig dat Louw aan haar behoort en sy aan hom en dat hy geen vrese oor Analola hoef te hê nie. Maar wat van môrenag … en al die nagte wat nog sal volg? Hoe sal sy aan Louw kan verduidelik dat sy een nag bereid was om in sy arms te lê en dan die nag daarop en al die ander nagte niks met hom te doen wil hê nie? Wat gaan sy doen ás Louw vannag te vinde gaan wees vir wat sy beoog en dan dink dat dit ook sy reg gaan wees in die nagte wat nog moet kom?
Pauli voel die sweet op haar handpalms uitslaan. Waarin het sy haar begewe? Maar daar is geen ander plan nie! Dis die enigste manier. En dis nou te laat om oor sulke dinge te dink. Enige oomblik kan Inaki die kamp binnestap – en sien dat sy gelieg het, soos hy vermoed het.
Met moed wat uit desperaatheid gebore is, lig sy haar tentklap op. Voordat haar verstand nog verdere struikelblokke kan optower, stap sy beslis die paar treë af en voordat haar moed haar heeltemal begeef, druk sy die tentklap oop en stap binne.
Die twee mense kyk verbaas op na die visioen in deurskynende rooi materiaal wat uit die donker nag te voorskyn tree. Dan vernou Zelia se oë vinnig terwyl haar blik oor Pauli dwaal, en haar wenkbroue lig. Skaamteloos! sê daardie kykers. Heeltemal skaamteloos om sonder ’n japon en met so ’n kabaai in die kamp rond te loop!
Maar Pauli sien haar skaars raak. Sy kyk ontsteld na die breë rug wat lyk asof dit met ’n skerp mes fyntjies gekerf is. Daar is ook twee plekke wat diep en rooi vertoon en Zelia se hand met die watte huiwer bokant hulle.
“Daardie plekke lyk nie mooi nie, Louw. Ook nie die een bokant jou oog nie. Ek moet dit ontsmet en verbind,” begin Pauli huiwerig.
“Dis presies wat ek besig is om te doen,” laat Zelia sarkasties hoor, keer haar rug doelbewus op Pauli en begin weer versigtig oor die wond vee.
Pauli se lippe sluit op mekaar. Sy stap vasbeslote verby Zelia, en voordat die verdwaasde vrou nog reg besef wat gebeur, word die watte uit haar hand geneem.
Ongeërg en biddend dat Louw nie die bewing in haar vingerpunte moet agterkom nie, begin Pauli die plek bokant sy oog behandel en vra op gelykmatige toon: “Is dit seer, my skat?”
’n Oomblik lank is dit net die getik van die wekker op die kassie langs die bed wat gehoor word. Fronsende oë bekyk haar vinnig en dan kom sy antwoord ewe gelykmatig: “Net effens irriterend, dankie, my skat. Niks om jou oor te ontstel nie.”
Sy glimlag na hom af en dis net Louw, wie se oë naby genoeg aan haar mond is, wat die senuweeagtige bewing in die mondhoeke gewaar en sy frons nog verder laat verdiep.
“Ek is bly om dit te hoor. Maar ’n mens kan natuurlik nie versigtig genoeg wees nie …”
“As jy klaar is, sal ek bly wees om die watte terug te kry sodat ek met sy rug kan aangaan,” kom Zelia se stem snydend tussenbeide en Pauli kyk op asof sy heeltemal van die ander vrou se teenwoordigheid vergeet het.
“O! Dis nie nodig nie, Zelia, dankie. Jy kan maar gaan. Ek sal self verder na my man omsien.”
“Werklik?” Dis duidelik dat sy net met die grootste inspanning haar humeur behou. “Moenie belaglik wees nie. Jy weet nie hoe …”
“O, ja, ek weet. Ek weet beslis hoe om na my eie man te kyk. Ek het nie jou hulp nodig nie.” ’n Stille kragmeting vind tussen die twee vroue plaas, terwyl ’n uiters verbaasde, en dan uiters geamuseerde Louw Hattingh geïnteresseerd toekyk. “Goeienag, Zelia. Slaap gerus.”
Dis as ’n vriendelike naggroet uitgespreek – maar dis eintlik ’n besliste bevel en – tot Pauli se grootste verligting en heimlike verbasing – werp Zelia haar net een moordende blik toe en stap dan vinnig uit. Haar verwoede voetstappe klink duidelik in die aandstilte op.
’n Gespanne stilswye volg ná Zelia se vertrek en hoewel Pauli, skynbaar met al haar aandag op die wonde toegespits, voortgaan met haar selfopgelegde taak, trek Louw se oë peinsend saam. Wat de duiwel beteken dit?